Die troepesametrekkings
Vanaf Junie 1899 het Brittanje begin om troepe-sametrekkings op strategiese punte aan die Transvaalse grens te stasioneer. Die vernaamste daarvan was dié van sir George White, wat met 12 000 man hom in Ladysmith gevestig het. Daar was nog ander afdelings in Noord-Natal by Charlestown, Mount-aux-Sources en Rorkesdrift. Die res van die Britse magte was yl versprei oor Kaapland se spoorwegsleutelpunte, by Stormberg, Noupoort, De Aar en die Oranjerivierstasie (naby Hopetown), terwyl daar ook sametrekkings in Mafeking en Kimberley was. Altesaam was daar reeds 27 000 man slaggereed om die Republiek binne te val.
Die ultimatum
Die Republieke het reeds vanaf September al die nodige voorbereidings vir die komende stryd getref en wou verhoed dat Engeland nog meer troepe na die grense aankarwei. Daarom het Kruger op 11 Oktober 1899 die ultimatum gestel waarin geëis word dat die troepe teruggetrek moes word en dat dié wat op see nog in aantog was, nie moes land nie. As antwoord op die ulti-matum, het die Republieke die volgende oorlogs-verklaring ontvang: Haar majesteit se regering vind die eise en voorstelle belaglik en ag dit nie die moeite werd om dit te bespreek nie.
Die Boeremagte
Die Tweede Vryheidsoorlog het begin, tot groot vreugde van Joseph Chamberlain, Alfred Milner en ander aarts-imperialiste, as beloning vir hulle volgehoue pogings om Groot-Brittanje aan te vuur om hierdie onregverdige wapenstryd teen die twee Republieke te voer. Hulle het met die uitbreek van die oorlog gesament-lik oor 54 667 burgers beskik wat vir krygsdiens opgeroep kon word, maar daar is net 32 000 tot 35 000 van hulle gemobiliseer. Dié wat nie opgeroep is nie, moes noodsaaklike dienste verrig.
Eerste veldslae
Die Boerekommando’s het na die verskillende punte wat deur die Engelse beset was, opgeruk. Generaal PA Cronjé het vir kolonel Baden-Powell in Mafeking beleër. Van die Vrystaatse kommando’s het die Engelse garni-soen in Kimberley beleër. Die hoofmag van Transvaal is onder aanvoering van generaal Piet Joubert na Natal om die Engelse by Ladysmith en ander besette punte aan te val. Daar is ook ‘n Transvaalse mag na Norvalspont in die Kaapkolonie gestuur, om saam met die Vrystaters in die omgewing van Colesberg te opereer.
Die Natalse front
Die Engelse magte in Natal is vroeg in November versterk deur die aankoms van sir Redvers Buller met ‘n leërkorps van 50 000 man. In die veldslae wat hier in Natal gedurende die eerste maande van die oorlog gelewer is, het die Boere by Elandslaagte ‘n nederlaag gely, maar in groot veldslae soos dié by Talana, Modderspruit en Nicholsonsnek, is die vyand met aansienlike verliese teruggeslaan. Die Boere se suksesvolle offensief in Natal het egter teen die einde van November geëindig met hul onaktiewe beleg van Ladysmith, terwyl die vyand besig was om met versterkte magte terug te keer om die beleërde dorp te ontset.
Die wesfront
Aan Transvaal se wesgrens het generaal PA Cronjé ewe onaktief gelê en wag dat Baden-Powell moes oorgee, totdat president Kruger hom met 4 000 man suidwaarts gestuur het om die oprukkende Engelse magte op pad na Kimberley te probeer stuit.
Die suidfront
Aan die suidfront het generaal De le Rey die pad van die oprukkende magte van lord Methuen versper. Generaal Cronjé het met die kommando Potchefstroom by hom aangesluit. Onder aanvoering van De la Rey is Methuen se magte by Modderrivier ‘n gedugte neerlaag besorg. Die Engelse het hul daarop by Modderrivier vasgegrawe en op die aankoms van lord Roberts se hoofmag gelê en wag. Generaal French het met sy ruitery by die Boeremagte verbygeglip en Kimberley op 15 Februarie ontset.
Cronjé se oorgawe
Generaal Cronjé het hom met sy hoofmag op die oewer van die rivier by Paardenberg ingegrawe. Generaal De Wet, wat die bevel oor die Vrystaatse kommando’s kom oorneem het, het Cronjé tevergeefs gewaarsku dat sy groot laer in gevaar verkeer het. Hy is daar deur die aanrukkende hoofmag van Roberts omsingel en gebombardeer totdat hy op 27 Februarie 1900 met 4 000 man moes oorgee. Dit was ‘n geweldige terugslag vir die Republieke se oorlogspoging.
Inname van Bloemfontein
Daarna kon De Wet en De la Rey se kommando’s die aanrukkende oormag van Roberts en sy duisende Tom-mies en honderde kanonne nie meer stuit nie. Kimberley is op 15 Februarie ontset en Bloemfontein op 13 Maart 1900 ingeneem.
Intussen het die Engelse leër groot versterkings ontvang. Daar het maandeliks 30 000 vars troepe die land binnegestroom. Teen die einde van April was die sterkte van die leër byna 200 000 man. Aan infanterie het Roberts, insluitende die mag in Natal, oor nie minder as elf divisies beskik nie.
Ontset van Lydysmith
In Natal het Buller verbete pogings aangewend om Ladysmith te ontset. Louis Botha, wat oor generaal Piet Joubert se kommando’s op daardie stadium die bevel gevoer het, het 5 000 man en enkele veldstukke tot sy beskikking gehad. Daarmee het hy op 15 Desember 1899 vir Buller, met sy 30 000 man en 46 veld- en skeeps-kanonne, teruggeslaan en hom ‘n verlies van 2 000 man besorg. Buller het op 23 Januarie 1900 Spioenkop beset, waar hy weer die onderspit moes delf met ‘n verdere verlies van byna 1 000 man. Op 6 Februarie moes hy weer by Vaalkrans met aansienlike verliese die terrein ontruim. Hy het egter op 27 Februarie daarin geslaag om met 40 000 man in ‘n stormloop, Botha se 5 000 man uit hul stellings te verdryf, na ‘n ongeëwenaarde bombar-dering met 72 kanonne. Buller het ‘n totale verlies gely van byna 4 000 man, maar daarmee het hy daarin geslaag om Ladysmith te ontset. Joubert het na Pretoria vertrek, waar hy kort daarna oorlede is. Louis Botha het sy plek ingeneem as bevelhebber van die Boeremagte in Natal.
Pretoria en Johannesburg word ingeneem
Na die inname van Bloemfontein op 13 Maart 1900, het Roberts eers op 1 Mei daarvandaan met sy hoofmag noordwaarts vertrek. Teenoor sy oorweldigende oormag van meer as 100 000 man, het die Republikeinse leër-leiding toe nog skaars 25 000 man in die veld gehad.
Die twee Republieke het op 20 Maart 1900 te Kroonstad ‘n krygsraadvergadering gehou onder voor-sitterskap van president Steyn. Hy het die Vrystaatse regering vanaf Bloemfontein na Kroonstad verskuif. Daar was 40 tot 50 offisiere teenwoordig, verskeie lede van die twee regerings en ook president Kruger. Hulle het besluit om die stryd kragdadiglik voort te sit, om die walaers af te skaf en die oorlog verder met perdekommando’s te voer.
Op 5 Mei het Winburg en ‘n week later ook Kroon-stad in Britse hande geval. Op 24 Mei het Roberts ongehinderd by Vereeniging die Vaalrivier oorgesteek. ‘n Aparte mag onder kolonel Mahon het al met die Rhodesiese spoorlyn langs opgeruk en op 17 Mei 1900 Mafeking ontset.
Die Transvaalse volksraad het op 7 Mei 1900 vir die laaste keer vergader. Die verdere oorlogsvoering is opge-dra aan die Uitvoerende Raad. Hulle het besluit om Pretoria nie te verdedig nie, maar al vegtend ooswaarts langs die Delagoabaai-spoorlyn terug te val en soveel krygsmateriaal en goud as moontlik met die spoorlyn ooswaarts te vervoer.
Johannesburg het op 31 Mei in Britse hande geval en Roberts het Pretoria op 4 Junie ingeneem. President Kruger en die lede van sy regering het ‘n week tevore per trein na die ooste vertrek en uit Machadodorp die bewind verder gevoer.
Die bewegingsoorlog begin
Daarna het die stryd van die twee Republieke se handjievol burgers wat nog in die veld was, teen die Britse oormag van 240 000 man met 300 tot 400 kanonne begin.
Sonder die lomp waens het die Boeremagte nou “vlieënde kommando’s” geword, wat met ‘n bewegings-oorlog ‘n vinnige guerrillastryd teen die vyand se oormag begin voer het. In die Vrystaat het generaal Christiaan de Wet met sy georganiseerde kommando’s die vyand met verrassingsaanvalle onnoembare skade en verliese berok-ken. Op die hoëveld en Oos-Transvaal het generaal Louis Botha, met generaal Ben Viljoen en generaal Chris Muller, afdelings van die vyand aangeval en groot suksesse behaal. In Wes-Transvaal het generaal De la Rey, gesteun deur Kemp, die een na die ander oorwinning behaal oor die groot mag van lord Methuen. In Noord-Transvaal is die bevel onder generaal CF Beyers geplaas, om die burgers tot kragdadige verset te organiseer.
President Kruger in Europa
President Kruger het op 11 September 1900 Nelspruit verlaat op pad na Delagoabaai, van waar hy op 19 Oktober met ‘n Nederlandse kruiser, De Gelderland, na Marseille gebring is. Hy is in Frankryk en Nederland met groot geesdrif ontvang, maar hy kon nie daarin slaag om enige hulp vir die Boere in hul stryd teen Groot-Brittanje te verkry nie. Die Duitse keiser, Wilhelm, wat hom vier jaar vantevore nog gelukgewens het met sy hantering van die Jameson-strooptog, wou hom nie eers te woord staan nie. Die ou bejaarde President se reaksie was: “Ja, ek het in Europa vir my volk kom brood soek, maar in plaas daarvan net blomme gekry.”
De Wet en Steyn in die Vrystaat
Na president Kruger se vertrek na Europa, het president Steyn die politieke mondstuk van die Repu-blieke geword. Nadat Bloemfontein deur die Engelse beset is, was Steyn genoodsaak om die Vrystaatse rege-ring kort-kort te verskuif. Hulle het tussen Kroonstad, Brandfort, Lindley, Heilbron, Reitz en Bethlehem geswerf. Bekwame heliografiste en telegrafiste het gesorg dat Steyn en sy raadslede altyd geweet het waar die kommando’s en die Engelse hulle bevind het. Sy klein laer was deurgaans onder generaal De Wet se sorg en het gewoonlik die kommando’s vergesel. Die Engelse het begeer om vir generaal De Wet en die President gevange te neem. Hulle het nie daarin geslaag nie. Daar het by tye ‘n troepemag van meer as 60 000 manskappe verbete pogings aangewend om generaal De Wet en sy kommando te omsingel en vas te keer. Hulle kon nie daarin slaag nie. De Wet het verskeie kere met verras-singsaanvalle die vyand groot skade en verliese berokken. Op 7 Junie 1900 het hy ‘n Engelse mag wat ‘n baie groot konvooi met voorrade begelei het, naby Heilbron aange-val en die hele voorraad ter waarde van ‘n driekwart miljoen pond gebuit.
Afdelings van die verskillende kommando’s het hulle daarop toegespits om die Engelse se verbindigslinies te vernietig. Hulle het treinspore opgebreek, brue opgeblaas en konvooie wat voedsel, klere en ammunisie vervoer het, gebuit. Aan die einde van die oorlog het die bittereinders nie meer met Mauser-gewere geveg nie, maar met Lee- Metfords wat hulle van die Engelse afgeneem het.
Die Engelse wou die burgers omhaal om die wapens neer te lê deur valse beloftes van beskerming wat hulle daarna op hulle plase sou geniet. Vir generaal De la Rey het hulle ‘n jaarlikse som van £10 000 aangebied indien hy die stryd sou gewonne gee! In plaas daarvan het De la Rey in Suid- en Wes-Transvaal die Engelse meer as kopseer besorg met sy verrassings-aanvalle op kwesbare punte. Hy het groot oorwinnings behaal by Silkaatsnek, by Rooipoeierspruit, by Swartruggens en by Buffelspoort, waar hy ook ‘n groot konvooi met voorrade verower het. Hy het vir lord Methuen, wat met ‘n groot mag by Lichtenburg opereer het, gedugte neerlae by Ysterspruit en Tweebos besorg. Methuen self was swaar gewond. Generaal De la Rey het hom met sy eie waentjie na Klerksdorp gestuur om daar versorg te word.
Die blokhuise
Om die Boere se bewegings aan bande te lê en die spoorlyn te versterk, het die Engelse ‘n reeks blokhuise op kort afstand van mekaar opgerig, met doringdraadver-sperring tussenin. Dit het hulle nie veel gebaat nie, want wanner ‘n Boerekommando ‘n blokhuislinie wou kruis, het hulle die soldate in die blokhuis waar hulle wou deurbreek, met geweervuur wat op die skietgate gerig is, stilgemaak, die drade geknip en deurgejaag.
Die verdelgingsoorlog
Lord Roberts het op 29 November 1900 na Engeland teruggekeer. Sy opvolger, lord Kitchener, het as opper-bevelhebber van die Britse troepe in Suid-Afrika, die oorlog met hart en siel teen die Republieke voortgesit. Toe die Boere in die veld nie tot oorgawe gedwing kon word nie, het Kitchener met sy nie-militêre oorlogvoering teen die burgerlike bevolking van die Republieke begin. Die land is gestroop van alle bestaansmiddele, deur nie net die veestapel te vernietig nie, maar ook die verbranding van talle plaaswonings. Hy het in Desember 1900 besluit om die vroue en kinders in konsentrasie-kampe saam te bring. Daarna kon die Boere nie meer voedsel en klere gaan haal van hulle afgebrande plase, waar die vroue die boerderye vroeër aan die gang gehou het nie.
Die vyandelike oormag
Die Britse leërsterkte is maar gedurig uit die moederland en sy kolonies aangevul. Teen Mei 1901 was daar in Suid-Afrika byna 250 000 man, met honderde veldstukke en snelvuurgeskut. Oorloper-Boere het vir die Britte gewerk as wadrywers, gidse en selfs as spioene. Die Swartes is ingespan vir hulpdienste, verkenning , spioenasie en in aktiewe gevegte teen die Boere.
Die moordkampe
Die oorlog het in 1901 al hoe swaarder op die bevolking begin druk . In Mei van daardie jaar was daar reeds 80 000 vroue en kinders in die konsentrasiekampe. In Oktober het dit aangegroei tot bykans 120 000. Die administrasie, huisvesting en voeding was allertreurigs. Siekte-epidemies het die sterftesyfer geweldig laat styg. Eers teen die einde van die oorlog het dit effens beter gegaan, nadat daar ‘n geringe mate van aandag aan Emily Hobhouse se bemoeiinge en aanbevelings gegee is.
Pogings om die oorlog te beëindig
Die ontvolking en verwoesting is stelselmatig voort-gesit. Die kommando’s kon skaars meer in hulle daaglikse behoeftes voorsien. Hulle het krygsgevange Tommies “geskud” (hulle klere geneem) en hulle dan nakend vrygelaat. Al voedsel wat nog beskikbaar was om van te leef, was vleis en mieliepap.
In Mei 1901 wou die Transvaalse regering onder leiding van Schalk Burger, uit moedeloosheid die oorlog staak, maar president Steyn het hulle gemaan om te volhard.
Op 7 Augustus 1901 het Kitchener in ‘n proklamasie die Boere opgeroep om voor 15 September oor te gee, of anders sou hulle uit die land verban word. Hierdie “papierbom” het geen uitwerking gehad nie. Dit was buitendien ‘n teken van die vyand se onmag om die Boere tot oorgawe te dwing. Hulle het dwarsdeur die somer tot April 1902 die een dryfjag na die ander gemaak om De Wet onskadelik te maak en die Vrystaatse regering te vang. In Transvaal het hulle nagtelike strooptogte, gelei deur Swartes en verraaier-Boere (National Scouts) op die oorblywende kommando’s gemaak.
Haglike toestande
Teen April 1902 was die militêre toestand donker. Daar was darem nog saam met die Kaapse rebelle, byna 20 000 man in die veld, maar die land was geheel en al verwoes. Die burgerlike bevolking was besig om in die konsentrasiekampe te sterf. Altesaam 26 000 vroue en kinders het die lewe gelaat, teenoor minder as 4 000 burgers wat gesneuwel het. ‘n Paar duisend verraaiers het selfs in Britse uniforms aan die kant van die vyand geveg. Baie burgers het nie meer perde gehad nie, voedsel-voorrade was feitlik uitgeput en die moonlikheid van Europese tussenkoms het nie bestaan nie.
Vredesonderhandelings
Sestig verteenwoordigers van die twee Republieke het vanaf 15 Mei tot 29 Mei in Vereeniging beraadslaag en besluit om aan Alfred Milner en lord Kitchener se eise van oorgawe te voldoen. Die Vrede van Vereeniging is op 31 Mei in Pretoria onderteken. Daarvolgens moes alle burgers die wapens neerlê. Krygsgevangenes sou na hulle tuistes teruggebring word. Hulle sou hulle persoonlike vryheid en eiendom behou. Alle burgers ontvang am-nestie vir vermeende oorlogsdade. Nederlands sou in die skole onderrig word en in die geregshowe toegelaat word. Gewere mag vir persoonlike beskerming aangehou word. Militêre bestuur sal so gou doenlik met burgerlike bestuur vervang word . Bantoe-stemreg sal eers na selfbestuur aan-geroer word. Geen belastings sal gehef word om oorlogskostes te dek nie. Plaaslike kommissies sal met die repatriasie van die bevolking help en om in behoeftes van voedsel, herberg, saad, vee en gereedskap te voorsien.
Die Tweede Vryheidsoorlog was verby. Die Repub-lieke het opgehou om te bestaan, maar onder die puinhope het die as bly gloei. Groot-Brittanje wou die Boerevolk uitwis. Maar hy kon ter nouernood in 1902 daarin slaag om hulle hul vryheid te ontneem. Hulle het uit die gloeiende as van vernedering weer opgestaan om die oorlog wat hulle eers verloor het, uiteindelik te wen.