ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 15

Transvaal en die Vrystaat word vry


Toestande in Transoranje
Toe die Natalse Trekkers in 1844 in die Vrystaat aankom, het daar alreeds verskeie groepe mense gewoon.  In die suidelike deel het die Griekwas onder hulle hoofman, Adam Kok, gewoon  Die oostelike Transoranje was beset deur die Barolong, Moroka en op ‘n deel daarvan het Mosjes aanspraak gemaak.  Die Trekkers wat nie na Transvaal verhuis het nie, het in die Republiek Winburg gewoon.  Dit is die gebied tussen die Vet- en die Vaalrivier, wat Potgieter van die Batuang-kaptein vir 49 beeste gekoop het.  Die Boere se vernaamste leiers daar was Jan Mocke en Jan Kock.  In die suidelike deel tot aan die Oranje, was daar hier en daar nog Afrikaner-Trekkers wat nie Winburg toe is nie.  Tussen hulle het ‘n klompie gewone trekboere gewoon en ook ‘n groep Engelse wat  oor die Oranje getrek het en hulle daar gevestig het.  Hulle leier was die verengelste Michiel Oberholzer.
Hierdie Engelse  en die trekboere het hul owerheid gesmeek om die hele Vrystaatse gebied vir Engeland te annekseer.  Die Britse owerheid was egter nog nie bereid om dit te doen nie, maar hulle het al die inwoners van Transoranje duidelik laat verstaan dat hulle almal Britse onderdane is, alhoewel hulle nie op Britse grondgebied woon nie, want waar hulle ook al gaan, bly hulle onder die jurisdiksie van die Cape of Good Hope Punishment Act.


Verdrae met die inboorlinge
Om die Britse gesag in Transoranje te demonstreer, het die Kaapse goewerneur Napier verdrae gesluit met Adam Kok, die Griekwa-hoof en met Mosjes van die Basoeto’s.  In hoofsaak het die verdrae bepaal dat hulle die orde in hul onderskeie gebiede moes handhaaf en misdadigers moes uitlewer.  Kok kry daarvoor wapens en ammunisie en R200 per jaar.  Mosjes kry R150 óf wapens en ammunisie.  (R200 of £100 was in daardie tyd baie geld).
Die verdrag met Kok het feitlik die onafhanklikheid van die Griekwas erken.  Hy kon nou namens die Engelse oor die Afrikaners baasspeel, want hulle het nou sy onderdane geword.  Hy het sy pasverkreë gesag ook probeer handhaaf deur hulle te hiet en gebied en selfs te laat arresteer en vir vermeende misdrywe hof toe te sleep.  Dit kon die Winburgers nie sluk nie.  Jan Mocke het ‘n klein kommando op die been gekry en noord van Philippolis laer getrek.  Na enkele skermutselinge is die Boere deur ‘n Engelse afdeling verdryf.  Mocke het toe oor die Vaalriver getrek en Kock het na Winburg gegaan.  Kort daarna is ‘n Britse resident in Griekwa-gebied  ge-plaas.  Majoor Warden het hom in 1846 met ‘n militêre mag in Bloemfontein gevestig.

 

Die Oranjerivier-Soewereiniteit
Dit was duidelik dat die Engelse van plan was om die hele Vrystaatse gebied te annekseer . Die Kaapse goewer-neur, sir Harry Smith, het vir Andries Pretorius gesê die meeste inwoners van die Vrystaat is ten gunste van Britse anneksasie van die gebied.  Pretorius het vir hom gesê die Afrikaners gaan vir hulle vryheid veg, of nog verder noordwaarts trek as die Engelse grypsug die Vrystaat ook gaan inpalm.  Smith het ingestem om met sy anneksasie te wag tot Pretorius bewys lewer dat die Vrystaters teen die anneksasie gekant is.  Pretorius het vyftien vergaderings in Transoranje en die Winburggebied gehou, waar almal voor die voet daarteen gestem het. Goewerneur Harry Smith het egter nie op die uitslag gewag nie., maar op 3 Augustus 1848 sy voornemens uitgevoer en die hele Vrystaatse gebied, vanaf die Oranje tot aan die Vaal, vir Engeland geannekseer onder die naam Orangeriver Sovereignty.

 

Die Slag van Boomplaas
Na die anneksasie het die onrus in hierdie gebied toegeneem.  In Winburg is die Afrikaner-landdros Jacobs deur ‘n Engelse magistraat Biddulph vervang.  Die Winburgers het hom ‘n maand lank verdra en toe aangesê om die dorp te verlaat.  Biddulph het na Bloemfontein die wyk geneem.
Die Winburgers het herhaaldelik boodskappe aan Pretorius gestuur om hulle te kom help om die Engelse juk af te gooi.  Pretorius het aan hulle versoek gehoor gegee.  Hy het sy plaas by die Magaliesberg verlaat en so ver as wat hy gegaan het, manskappe versamel om teen Smith op te tree.  Sir Harry het van sy koms verneem en ‘n prys van £1 000 op sy kop gesit as beloning vir die persoon wat hom gevange neem.  Smith het dadelik met ‘n sterk mag van 850 man na Winburg opgeruk.  Sy geledere is langs die pad versterk met nog 250 berede Griekwas wat by hom aangesluit het.  Pretorius het hulle by Boomplaas ingewag met ongeveer 750 man.  Die botsing het op 29 Augustus 1848 plaasgevind.  Na ‘n kort maar warm geveg het Pretorius sy kommando opgebreek en die slagveld ontruim.  Sy voorlaaiers kon nie teen Smith se kanonne standhou nie.
Vir sir Harry Smith was hierdie manne nie Afrikaners wat vasberade vir hul vryheid geveg het nie, maar slegs ‘n klompie rebelle wat teen die “wettige” Engelse gesag wat oor hulle gestel is, in opstand gekom het.  Hy het die prys op Pretorius se kop verdubbel na £2 000 en ‘n jong seun, Thomas Dreyer, wat tydens die slag krygsgevange geneem is, voor ‘n vuurpeleton tereggestel.
Na die Slag van Boomplaas het Andries Pretorius ontmoedig na sy plaas by Magaliesberg teruggekeer. Die Afrikaner-Trekkers noord van die Vaalrivier het nou in ylverspreide groepe vanaf Potchefstroom, Magaliesberg-Rustenburg, Ohrigstad-Lydenburg en Soutpansberg-Schoemansdal gewoon.  Daarby kom nog die Winburgers in die Noord-Vrystaat en die Afrikaners in die suidelike deel  van die Oranjerivier-Soewereiniteit.
Toe Hendrik Potgieter hoor dat Andries Pretorius die Engelse by Boomplaas gepak het, het hy hom dit kwalik geneem, want hy was bang Pretorius maak slapende honde wakker en aktiveer die Engelse om ook die gebied noord van die Vaal te kom annekseer.  Daarom het Potgieter homself met sy volgelinge by die Soutpansberg geïsoleer.  In die ooste het die Volksraadparty hulself af-geskei van die res en Lydenburg beskou as die hoofstad van die Voortrekkerrepubliek wat tot stand moes kom.

 

Bührmann die tweedragsaaier
Smellekamp het in 1848, tydens sy besoek aan die Portugese hawe in Delagoabaai met die skip, die Animo, vir HT Bührmann daar afgelaai.  Smellekamp het hierdie Bührmann, ‘n kantoorkneg van Amsterdam, aanbeveel as skoolmeester vir die Trekkers te Ohrigstad, maar Bühr-mann het voorgegee dat hy namens Smellekamp kom om arbiter te speel tussen die strydende groepe.  Hy was die wortel van baie kwaad.  Hy het weens sy versoenings-pogings naderhand oorhoops gelê met al die leiers.  Hy het die Volksraad van Lydenburg se teenkanting verder aangeblaas, vir Potgieter beskinder en vir Pretorius sleg-gemaak, totdat Potgieter naderhand in Desember 1849 vir Pretorius geskryf het:  “Waarom moeten wy ons nog langer van een dolsinnige Hollander by de neus laten leiden en (zo) veel insolentien van hem verdragen?”

 

Troebel toestande in die Vrystaat
Maar intussen was Pretorius nog nie klaar met die Engelse nie.  Hulle verdragstaat-vennoot, Mosjes, het dit vir die Britse resident in Bloemfontein onmoontlik gemaak om die vrede onder die stamme te handhaaf. Ook die Blankes het die slagoffers van Basoeto-rooftogte geword.  Warden was verplig om in die middel van 1851 met ‘n gewapende mag teen die rusverstoorders op te tree.  Die Boere wou hom nie help nie en sy troepemag was nie teen die taak opgewasse nie, met die gevolg dat hy met ‘n aansienlike verlies by Viervoet deur die Basoeto’s verslaan is en in aller yl na Bloemfontein moes vlug.
Die land was in ‘n verwarring.  Almal het in ‘n toestand van vrees en onsekerheid geleef.  Warden was bang dat die Boere Mosjes sou help en dat hulle weer Andries Pretorius se hulp sou inroep.  Ook Mosjes het vir Pretorius hulp gevra.  Dit was natuurlik ondenkbaar dat ‘n Boereleier daartoe sou oorgaan om inboorlinge in ‘n oor-log teen witmense te gebruik.

 

Die Sandrivierse Konvensie
Maar die tyd vir onderhandeling was ryp.  In die Soewereiniteit was Wit en Swart teen Britse gesag gekant.  Die Kaapkolonie was sedert 1850 in die bloedige Agste Grensoorlog vasgevang.  Die Britse belastingbetalers  het  ernstig begin protesteer teen nuttelose gebiedsuitbreiding en die koste aan inboorling-oorloë in Suid-Afrika.  Graaf Grey, minister van kolonies, het sy wantroue in sir Harry Smith se goewerneurskap laat deurskemer, toe hy twee assistent-kommissarisse, majoor WS Hogge en Charles Mostyn Owen, benoem het om die nodige skikkinge aan die oos- en noordoosgrens van die Kaapkolonie te tref.
Pretorius het op 8 September 1851 op ‘n vergadering van die publiek en die krygsraad opdrag ontvang om met die Britse owerheid tot ‘n goeie verstandhouding te kom.  Hy het met ‘n afvaardiging na die Vrystaat afgereis en op 16 en 17 Januarie 1852 met die Britse verteenwoordigers onderhandel. Dit het uitgeloop op die ondertekening van die Sandrivier-konvensie.  Die ooreenkoms bestaan uit nege artikels.
In die eerste artikel van die traktaat word die onaf-hanklikheid van die Trekkers noord van die Vaalrivier erken.  Die Vaalrivier sou die grens tussen die Soewe-reiniteit en Transvaal wees.  In die derde artikel onderneem die Britse regering om geen traktate met die inboorlinge noord van die Vaalrivier te sluit nie.  Die volgende artikel verbied slawerny.  Voorsiening is ge-maak vir wedersydse handelsgeriewe.  Die handel in vuurwapens en ammunisie sou slegs aan Blankes in die Britse gebiede wees.  Misdadigers sou wedersyds uitge-lewer word.  Wettige huweliksertifikate sou wedersyds erken word.  Dit staan elkeen op Britse grondgebied vry om hom in Transvaal te vestig.
Pretorius se groot werk is eers nie deur almal in Transvaal goed begryp nie, maar op 16 Maart 1852 het die afgevaardigdes na Sandrivier by ‘n volksvergadering op Rustenburg verslag gelewer.  Potgieter is deur kom-mandant GJ Kruger per brief uitgenooi om die ver-gadering te kom bywoon sodat hy self kon sien de vreyheid die wey alle bekomen heeft aan deze zeyde van de Vaalrivier.  Potgieter het reeds op 11 Maart op Rustenburg aangekom.  Pretorius het op 15 Maart opge-daag en dagbreek die volgende dag het die aandoenlike algehele versoening tussen die twee leiers plaasgevind, waarvan Stuart sê:  Dit is een der heerlyke toneelen,  die ik in dit land mogen bywonen.
Maar die Trekkers tussen die Oranje- en die Vaalrivier het nog onder Britse gesag gestaan.  Pretorius wou die gebied by Transvaal insluit, maar die kommissarisse het nie kans gesien om dit te laat ontruim nie. Daar het nog groot verwarring geheers na Warden se neerlaag teen Mosjes, wat eers gewreek moes word om die Britse prestige te herstel.

 

Die Bloemfonteinse Konvensie
Graaf Grey het in Januarie 1852 vir Harry Smith teruggeroep.  Sy opvolger, sir George Cathcart, het al die Bantoes aan die Kaapkolonie se grens onderwerp en daarna met ‘n leër van 2 500 man na die Soewereiniteit gehaas om die vrede te herstel en om skadevergoeding van 10 000 beeste van Mosjes te eis, maar  Mosjes het toe net 3 500 gelewer . Cathcart was ontevrede en het tot die aanval oorgegaan, dog Mosjes se Basoeto’s het die Britse mag weer ‘n tweede keer by Berea verslaan.  Die geslepe Mosjes het egter voorgegee dat hy die neerlaag gely het en om vrede gesmeek.  Cathcart het dit aangeneem en haastig na die Kaapkolonie teruggekeer.  Daarna het die minister van kolonies beveel dat die gebied van die Soe-wereiniteit ontruim moes word.  Sir George Clerk is as kommissaris benoem om die proses deur te voer.  Die Engelse inwoners van die Soewereiniteit het kwaai geprotesteer., maar op 23 Februarie 1854 was die onder-handelinge afgeloop en is die Bloemfonteinse Konvensie onderteken.  Daarin is die staatkundige onafhanklikheid van die gebied tussen die Oranje- en die Vaalrivier deur Brittanje erken . Die Republiek van die Oranje-Vrystaat het tot stand gekom.  Die bepalings van die Konvensie stem in hoofsaak ooreen met dié van die Sandrivierse traktaat . Daarin is egter ‘n meer ingrypende beginsel op-gesluit . Brittanje het grondgebied waaroor sy vlag ge-wapper het, ontruim en sy onderdane van hulle trou aan die Britse troon onthef, terwyl hy met die Sandrivierse Konvensie die onafhanklikheid erken van ‘n gebied wat hy nie besit het nie.

 

Wordingsjare van die Suid-Afrikaanse Republiek
In die eerste jare na die verkreë onafhanklikheid van Transvaal, is die Republiek geteister deur onderlinge onenigheid.  Daar was nog nie eenwording van die verskillende klein nedersettings noord van die Vaal nie en die nuwe staat het nog geen behoorlike grondwet gehad nie en die klein blanke gemeenskap is gedurig bedreig deur woeste Bantoestamme.  In Soutpansberg, of Schoe-mansdal, het die mense onder persoonlike leiding van Andries Hendrik Potgieter gestaan, tot sy dood in Desember 1852 en daarna onder bevel van sy seun Piet, wat in 1854 in die stryd teen Makapaan gesneuwel het.
In Oos-Transvaal by Lydenburg, het die mense die bevele van die Volksraadparty gehoorsaam en ook in die skadu geleef van magtige en onbeskaafde Bantoestamme.  Hulle is geteister deur periodieke malaria-epidemies.  Verder suid het daar ‘n klein aantal Blankes aan die Buffelsrivier gewoon, waar later die dorp Utrecht ontstaan het.  Hulle het hulle lot by Lydenburg ingewerp.
In die weste was die land bewoon van Potchefstroom tot by Rustenburg en Marico. Hulle het die gesag van Andries Pretorius erken tot sy dood in 1853 en daarna dié van sy seun, Marthinus Wessel.
In die hele gebied tussen die Vaal en die Limpopo, was daar vyf dorpe:  Schoemansdal (aangelê in 1848), Lydenburg (1850), Potchefstroom (1839), Rustenburg (1851) en Pretoria (1855).
In 1854 het die opperhoof Makapaan ‘n aantal Blan-kes op gruwelike wyse om die lewe gebring.  ‘n Strafkommando onder MW Pretorius en Piet Potgieter het Makapaan in sy grotte ‘n gedugte les geleer, maar Potgieter self het die lewe daarby ingeskiet.  Stephanus Schoeman het hom opgevolg as Kommandant-generaal vir Soutpansberg.

Kerklike probleme
Die jong Republiek het kerklike probleme ondervind.  Omdat die Kaapse kerk ‘n onsimpatieke houding jeens die Trekkers ingeneem het en geen predikant sy gemeentelede op die trek vergesel het nie, het die Trekkers uit Nederland deur bemiddeling van professor Lauts ‘n predikant bekom, ds Dirk van der Hoff.  In Augustus 1853 het die Algemene Kerkvergadering in Rustenburg onder voorsitterskap van ds Van der Hoff  besluit om net die Nederduits Hervormde Kerk in die Republiek te erken en inlywing by die Kaape sinode te verwerp.

 

Smellekamp se rol
Bührmann en Lydenbug wou nie vir ds Van der Hoff as predikant aanvaar nie en was ten gunste van inlywing van die kerk by die Kaapse sinode.  Hulle kry toe die steun van Smellekamp, wat aan die begin van 1854 uit Holland in Lydenburg aankom en vir ds Van der Hoff daar ontmoet.  Daar was onmiddellik onenigheid tussen die twee, want Smellekamp wou sonder bemiddeling van professor Lauts ‘n predikant vir Lydenburg alleen kry.  Smellekamp het na Rustenburg gegaan en daar rondvertel dat ds Van der Hoff geen geordende leraar was nie en dat hy en die hele kerkraad Godverloogchenaars was.  Die kerkraad het Smellekamp voor die Volksraad wat op Rustenburg in sitting was, aangekla, maar laasgenoemde was huiwerig om ‘n beslissing te vel en wou die saak liewer deur die hof beslis hê.  Hulle het Smellekamp egter voor die raad gebring, waar hy ontken het dat hy sou beweer het dat ds Van der Hoff nie georden was nie.
Daarop het die Kerkraad by die Krygsraad om hulp gaan aanklop, waarop laasgenoemde vir veldkornet Paul Kruger na die Volksraad gestuur het om te gaan verneem waarom die Kerkraad niet na behooren zyn beschermd geworden.  Die Volksraad het die verskoning aangebied dat hulle nie oor genoegsame getuienis in die saak beskik het nie.  Die Krygsraad lewer toe twee persone om getuienis af te lê en eis dat ‘n besluit wat die vorige jaar geneem is, uitgevoer moes word, naamlik om persone wat die kerk belaster, met 500 Rds te beboet en by ‘n tweede oortreding te verban.
Daarop het die Volksraad Smellekamp met 500 Rds beboet en hom gevra om hom stil en rustig te gedra en hom nie met kerklike of politieke sake te bemoei nie of anders sou hy verban word . ‘n Rukkie daarna het Smelle-kamp op Potchefstroom aangekom.  Sy gramskap het nou ook teen MW Pretorius, as voorsitter van die Krygsraad, ontvlam.  Nadat hy ‘n beledigende brief aan Pretorius gerig het, het die landdros van Potchefstroom hom gelas om die Republiek te verlaat.  Hy is dus verban en het ‘n dag of wat later na Bloemfontein vertrek.

 

Lydenburg skei af
Die Lydenburgers was oor hierdie gebeurtenisse baie ontevrede. Hulle het net soveel wrewel as Smellekamp teenoor ds Van der Hoff en MW Pretorius gekoester.  Die verskille en twis het so groot geword dat Lydenburg op 16 Desember 1856 in ‘n aparte republiek afgeskei het.  Maar MW Pretorius het weer die vriendskapshand aan hulle gereik.  Die verskille is uit die weg geruim en hulle is in 1860 weer met die Suid-Afrikaanse Republiek verenig.

 

Twis en tweedrag
Maar daarna was die onderlinge geskarrel van onenigheid en twis nog glad nie hokgeslaan nie.  Die grondwet wat in 1855 vir die Republiek opgetrek is, is nie net deur Lydenburg verwerp nie, maar is ook nie deur Soutpansberg aanvaar nie.  Nietemin is MW Pretorius as president benoem en Stephanus Schoeman van Sout-pansberg as kommandant-generaal.
Pretorius wou graag die twee republieke verenig en wend in 1857 met wapengeweld ‘n poging aan om dit te doen.  Pretorius se kommando het by Renosterrivier teen kommandant Senekal van die Vrystaat te staan gekom.  Kommandant Paul Kruger het haastiglik daarheen afgesit en ‘n dreigende botsing voorkom.  Toe president Boshof van die Vrystaat in 1859 uit diens tree, neem Pretorius by sy volksraad sewe maande verlof en laat hom as president van die Vrystaat kies.  Die Transvaalse Volksraad kon dit nie toelaat nie en dwing hom toe om as president van Transvaal te bedank en kies toe vir W Grobbelaar as waarnemende president.  Stephanus Schoeman was daar-oor bitter ontevrede en kom toe met ‘n kommando vanaf Soutpansberg om vir Grobbelaar te kom verdryf.  Kruger het met ‘n kommando vanaf Rustenburg teen hom opgeruk . MW Pretorius het as vredemaker uit die Vry-staat gekom en die struweling ontlont.
In 1862 is ‘n nuwe volksraad gekies, wat toe vir Willem van Rensburg as waarnemde staatspresident gekies het.  Schoeman was weer erg ontevrede.  Hy het weer sy burgers opgeroep en Pretoria binnegedring . Maar Kruger het hom verdryf en tot by Potchefstroom agtervolg.  Hy is die Vaalrivier oor en kom toe met ‘n versterkte leër uit die Vrystaat terug.  MW Pretorius het weer daarin geslaag om die twee partye om te haal om die vyandelikhede te staak en op ‘n nuwe verkiesing te wag.  Maar die volksraad het weer vir Van Rensburg gekies en vir Kruger as kommandant-generaal aangestel.  Hierdie keer was kommandant Viljoen van Marico so ontstoke dat ook hy met ‘n sterk leërmag na Pretoria opgeruk het.  Kruger se kommando was nie sterk genoeg om hom huis toe te dryf nie.  Na ‘n kort skermutseling ‘n endjie noord van Silkaatsnek, het hulle weer vir MW Pretorius as bemiddelaar laat kom en besluit om tot ‘n volgende verkiesing te wag.  In 1864 is Pretorius weer tot staatspresident gekies en is die broedertwiste beëindig.
Die Republiek het na twaalf jaar van onafhanklikheid sy kinderskoene ontgroei en begin om as één sterk verenigde staat te gedy tot ‘n toonaangewende mag in die rei van Suid-Afrikaanse state en kolonies.