ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 12

Die Groot Trek begin


Die Groot Trek is een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van Suid-Afrika.  ‘n Klein blanke bevolking het binne bestek van een geslag, groot nuwe gebiede in die kring van die Westerse beskawing gebring.  Nuwe state het ontstaan.  Deur die Trek is ‘n rassuiwere blanke gemeenskap in Suid-Afrika gehandhaaf en ‘n Hollands-Afrikaanse kultuur ontwikkel.  Dit het uit eie bodem gegroei tot ‘n staatkundig vrye en selfstandige Afrikanernasie.
Die Groot Trek het niks te make met die 18e eeuse trek van die veeboere na die binneland nie.  Hierdie proses het maar net uit suiwer ekonomiese oorwegings plaasgevind, terwyl die Groot Trek hoofsaaklik ‘n staatkundige beweging was.
Reeds van 1819 af het boere met hul vee af en toe oor die Oranjerivier getrek om tydelik weiveld te soek in tye van droogte.  Later het hulle heen en weer oor die rivier getrek.  Na 1830 het meer en meer boere hulle in die suidelike deel van Transoranje gevestig.  Toe die Groot Trek plaasvind, het sommige van hierdie boere, soos die Krugers, by die georganiseerde trekke aangesluit.  Maar die meerderheid het hulle afsydig gehou en verkies om getrou aan die Kaapse regering te bly.
Aan die ander kant was die Groot Trek ‘n geor-ganiseerde beweging in groepe, wat onder erkende leiers plaasgevind het.  Hulle het nie in die trekboere se gebied belang gestel nie.  Hulle het maar net daar deurgetrek na gebiede, ver anderkant die koloniale grense.

 

Waarom hulle getrek het
Piet Retief, veldkornet en veldkommandant, het in sy manifes die oorsake van hul ontevredenheid met die Britse beleid aangetoon:  Hulle wanhoop daaraan om die kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlike gedrag van vabonde wat toegelaat word om die land in alle dele te verontrus; en hulle sien geen vooruitsig op vrede vir hulle kinders in ‘n land wat op dié manier deur inwendige beroeringe gekwel word nie.
Hulle kla oor die gevoelige verliese wat hulle ly deur die vryverklaring van hulle slawe en die ergerlike wette wat oor hulle gemaak is.
Hulle kla oor die stelselmatige en aanhoudende plundering wat hulle moet verduur van die Swartes en ander kleurlinge, en veral oor die laaste inval in die Kolonie, wat die grensdistrikte verwoes en die meeste inwoners geruïneer het.
Hulle kla oor die onregverdige blaam wat daar op hulle gelê is deur belanghebbende en oneerlike persone, onder die dekmantel van godsdiens, persone wie se getuienis in Engeland geglo word, tot uitsluiting van alle bewysmiddele in hulle voordeel; en hulle voorsien as gevolg van hierdie vooroordeel niks anders as die totale ondergang van die land nie.
Voorbereidings vir die trek kon eers in 1836, na die vorige jaar se verwoestende grensoorlog, getref word.  Plase moes verkoop word, meesal ver onder die waarde, of vir waens verruil word.  Kosvoorrade moes aangevul word, genoeg kledingstowwe aangekoop word, tente aangeskaf word en agterstallige belastings betaal word.

 
Pogings om die Trek te verongeluk
Toe die Kaapse regering bewus word van die feit dat sy Afrikaneronderdane besig was om in georganiseerde trekgeselskappe die Kolonie te verlaat, het hierdie burgers van die oostelike distrikte, vir wie se welsyn maar min omgegee is, skielik vir die Kolonie baie waardevol geword.  Goewerneur Benjamin D’Urban, het vir lord Glenelg, koloniale sekretaris in Londen, geskryf dat hulle die oudste en fatsoenlikste inwoners van die oostelike distrikte is.  Hulle is onverskrokke, geduldig, arbeidsaam, ordeliewend en godsdienstig.  Hulle is die bebouers van die grond en die verdedigers en die belastingbetalers van die land.  Sulke waardevolle burgers moet belet word om die land te verlaat.  Maar die prokureur-generaal het die regering meegedeel dat hy geen reg of mag besit om sy onderdane te verbied om te verhuis nie.
Die regering het dit egter vir die Trekkers so moeilik as moontlik gemaak om weg te kom.  In 1834 het ‘n ordonnansie bepaal dat niemand meer as 4½ kg kruit mag besit of vervoer nie.  Die voornemende Trekkers het egter voorsorgmaatreëls getref en met genoeg kruit en lood die Kolonie verlaat.  Met hulle uittog is hulle waens daagliks deur spesiale kommissarisse deursoek.  Daarom het hulle elke aand hulle voorraad kruit en lood op perde gepak en dit in die nag ver vooruit gestuur en dit gaan versteek onder ‘n beesvelbeskutting teen reën.
Om hulle nog verder te ontmoedig om te trek, het die regering in 1836 ‘n wet gemaak,  The Cape of Good Hope Punishment Act, wat sogenaamd die Britse gesag oor sy onderdane proklameer het tot aan die 25e graad suider-breedte.  Dit was om vir die Trekkers te sê dat hulle trekkery ‘n nodelose onderneming is, want waarheen hulle ook al trek, bly hulle nog steeds Britse “onderdane”  Op die Trekkers se navraag waar hierdie 25e graad loop, sodat hulle kon weet wanneer hulle tot noord van hom getrek het, was die antwoord: “Wanneer julle saans uitspan en die jukke en die trekkettings neerlê vir die volgende dag, dan lê die 25e graad net so’n paar tree verder as die voorste juk.”

 

Tsjaka bevoordeel die Trekkers
Die Groot Trek het op ‘n uiters geskikte tydstip in ons geskiedenis plaasgevind.  Op hul pad na die noorde het die Trekkers feitlik geen vyandiggesinde Swart stamme aangetref wat hul vordering enigsins kon belemmer of stuit nie.  Hierdie gunstige toestand wat die Trekkers beleef het, was te danke aan die opkoms van die krygs-man-tiran, Tsjaka.  As hoof van die Amazoeloe, oorkant die Tugelarivier, het hy vanaf 1817 al die kleiner stamme na die noorde en die suide uitgeroei.  Die Amahlubi is in 1821 uit hulle stamlande aan die Tugela gestoot.  Hulle het oor die berge gevlug en op hulle beurt weer die Batlôkwa by Harrismith aangeval en heeltemal verdryf.  Hulle leidster, Mantatisi, het dood en verwoesting gesaai onder talryke vreedsame Bakwena-stamme oorkant die Vaalrivier.  Nadat ongeveer agt-en-twintig sulke stam-metjies vernietig is, het die Bangwaketse-stam hulle gestuit en gedwing om suidwaarts te swenk.  Op hulle pad het hulle nog die Barolong en die Batlapin verdryf.  Maar toe het ‘n bende Griekwas hulle in Junie 1823 naby Kuruman verslaan.  Daarna is die oorblyfsel van die Batlôkwa onder Mantatisi en haar seun, Sekonyela, terug na die Bo-Caledon.  Daar het hulle die stammetjies wat nog aan die westelike helling oorgebly het, begin verwoes.  Duisende is met knopkieries en assegaaie afgemaak.  Dié wat in skuilplekke ontkom het, het kannibale geword.  Die hele noordelike Transoranje is ontvolk, met uitsondering van die Batlôkwa in die noordooste, en ‘n armoedige oorblyfsel van die Bataung onder Makwana aan die Vetrivier en die Barolong onder Moroka by Thaba Nchu. Verder was dit ‘n woeste wildernis.

 

Die Matebeles van Silkaats
Daar is nog groter verwoesting aangerig deur Silkaats, toe hy van Tsjaka af weggevlug het en die Matebele-stam gestig het.  Hy het in Oos-Transvaal die Bapedi aangeval. Doodsbeendere het oor die vlaktes verspreid gelê.  Hy het vanaf sy krale, Mosega en Kapain in die distrik Marico, alles in die omringende land verwoes.  Van die Bapedi- en Bakwena-stamme was daar net klein verhongerde oorblyf-seltjies in die klowe, bosse en grotte, waar hulle geskuil het.
Daar was dus in die binneland groot onbewoonde gebiede.  Die Voortrekkers het nie te doen gekry met honderde klein stamme nie, maar net met ‘n paar magtige militêre heersers, soos die Matebeles en die Zoeloes.  Vir die onderdrukte stamme was die Trekkers se koms ‘n seën, want hulle het kos en werk en ‘n nuwe lewens-bestaan gekry.

 

Waarheen hulle getrek het
Louis Trichardt is al in 1833 vanaf die oosgrens met ‘n klompie volgelinge oor die Swart Kei en in 1835 oor die Grootrivier.  Langhans van Rensburg het omtrent dieselfde tyd die Kolonie verlaat met 8 huisgesinne en by Trichardt aangesluit.  Hulle is by Suikerbosrant verby, deur Trichardtspoort, Olifantsrivier en Strydpoort, op pad na die noorde, met die plan om kontak met die Portugese hawens te maak.  By die Soutpansberg het Trichardt halt geroep.  Van Rensburg is verder oor die Limpopo, waar sy trekgeselskappie deur die Knopneuse aangeval en almal vermoor is.
Trichardt het ‘n jaar lank by die Soutpansberg tevergeefs op die Potgietertrek gewag en toe na Delagoa-baai getrek, waar hulle op 13 April 1838 aangekom het.  Hy en die meeste van sy mense is daar aan Malaria dood.  Later is die oorblywendes per skip na Port Natal, na die Natalse Voortrekkers geneem.
Die tweede trek het plaasgevind onder leierskap van Andries Hendrik Potgieter.  Hy was ‘n man van aansien in die Tarka, godsdienstig, konserwatief en sekuur in sy handelinge.  Hy het hoë agting en trou by sy volgelinge afgedwing, maar is soms deur sy teenstanders van koppigheid beskuldig.  Hy wou so ver as moontlik van die Engelse af wegtrek in ‘n noordwaartse rigting en kontak met die buitewêreld oor die Portugese hawens soek.  Hy wou nie Natal toe gaan nie, want “waar die see is, is die Engelse.”
Hy het vanaf die Tarka die Kolonie aan die einde van 1835 met 35  weerbare manne verlaat.  Sarel Celliers het by Smithfield by hom aangesluit en in die omgewing van Colesberg ook die Krugers, met die tienjarige Paul daarby.  Hulle is by Thaba Nchu verby tot by Winburg.  Die trekgeselskap het toe al 200 siele getel.  Potgieter het van Makwana, die Batuang-kaptein, die stuk grond tussen die Vet- en die Vaalrivier vir 49 beeste geruil, met die plan om die Republiek Winburg daar te stig.
Op 30 April 1836 het hy met ‘n kommissie van elf man en vergesel van Sarel Celliers, by Louis Trichardt  aan die Soutpansberg aangekom en vir hom gevra om daar te wag totdat sy trek wat aan die Vaalrivier gestaan het by Trichardt hulle sou aansluit, sodat hulle saam na die Portugese hawens kon trek.

 

Vegkop
By sy terugkeer het Potgieter gevind dat Silkaats die voorhoede van sy trek wat reeds die Vaalrivier oorgesteek het, aangeval het.  Hy het in Augustus 1836 ‘n impi van nie minder nie as 1 000 Matebeles op die voorste Voortrekkers afgestuur.  Hulle het ‘n jaggeselskap van ‘n Erasmus platgeloop en op die Trekkers aan die Vaalrivier afgestorm.  Die Liebenbergs is by Liebenbergkoppie, naby Parys, oorval en byna almal uitgemoor.  Daarna het hulle die hooflaer langs die rivier bestorm.  Hier het Johannes Botha en Hermanus Steyn die bevel gevoer.  Die aanslag is na ‘n verbete geveg afgeslaan, waarna die Matebeles teruggetrek het.
Twee dae daarna het Potgieter en sy geselskap uit die noorde aangekom . Hy het onmiddellik boodskappers uit-gestuur na al die verspreide waens en hulle laat laertrek by Vegkop.  Twee maande daarna het Silkaats se indoena, Kalipi, op 16 Oktober met 6 000 goed toegeruste krygers die laer aangeval.  Hy is met bloedige verliese terug-geslaan, maar het al die vee met hom saamgeneem.  Dit was 100 perde, 5 000 beeste en 50 000 skape.  Van die Trekkers is twee man gedood en veertien gewond.
Na ‘n aantal dae het die toestand van die Trekkers in die laer kritiek begin word sonder trekosse om die waens weg te sleep uit die stank van ontbindende lyke rondom die laer.  Maritz, wat intussen daar aangekom het, het hulle te hulp gesnel, saam met Moroka en die sendeling Archbell.  Hulle is na Thaba Nchu geneem, waar die Trekkers saamgekom het.
Gerrit Maritz, die leier van hierdie derde trek, was op Graaff-Reinet bekend as leier op kerklike gebied.  Hy was ‘n wamaker en sakeman en het persoonlik met ‘n paar baie mooi waens van eie fabrikaat getrek.  Dit was duidelik dat die Trekkers by Thaba Nchu reeds verlang het na ‘n meer bestendige burgerlike regering, saam met die kommandostelsel waarvolgens hulle getrek het.  Hulle het twaalf dae na die aankoms van die nuwe Trekkers, ‘n Burgerraad van sewe lede gekies, met Maritz as president en regter en Potgieter as “leger-kommandant.”

 

Straftog teen Silkaats
Vroeg in Januarie 1837 het Potgieter en Maritz met ‘n kommando teen Silkaats uitgetrek.  Hulle het hom op die 17e in sy militêre vesting, Mosega, verras.  Silkaats het op die vlug geslaan na sy volgende hoofkraal Kapain, naby Enselsberg in die noorde.  Die kommando het baie van die vee wat by Vegkop geroof is, weer teruggeneem.

 

Koms van Piet Retief
Die derde groot groep Trekkers onder aanvoering van Piet Retief, was teen die einde van Maart 1837 in aantog na Thaba Nchu.  Maritz het hom tegemoet gegaan en gevra dat hy hom as leier van die algemene trek moes laat kies.  Retief was in die Winterberg die voorspraak van die hele boeregemeenskap by die regering.  Hy het algemene hoogagting en vertroue geniet.  Hy was sagaardig en taktvol, met ‘n sterk persoonlikheid en groot deurset-tingsvermoë.
Na Retief se koms was daar vanaf Thaba Nchu tot by die Vetrivier ongeveer 5 000 siele, waarvan 1 500 van hulle weerbare manne was.  Die Trekkers het te staan gekom voor ‘n paar probleme wat opgelos moes word.  Daar moes besluit word watter trekkoers verder gevolg sou word en wat die eindbestemming van die Trek sou wees.  Hulle moes ook ‘n voorlopige bestuur saamstel en ‘n oplossing vind vir kerklike bediening.
Op 17 April is toe kort na Retief se aankoms by ‘n volksvergadering ‘n nuwe verkiesing van ampsdraers gehou.  Retief is gekies tot goewerneur.  Hy moes ook die militêre leiding behartig.  Die Burgerraad is behou as wetgewende en regsprekende liggaam.  Maritz was voorsitter en landdros.  Potgieter is nie herkies nie.  Hy was alleen kommandant van sy eie trek.

 

Die Trek se eindbestemming
Al die Trekgroepe het nou, met Potgietger vooraan, stadig in die rigtng van die Vetrivier beweeg  Na ‘n reeks vergaderings het hulle tot ‘n beslissing oor die eind-bestemming van die Trek gekom . Piet Retief het sy oog gehad op die ontvolkte wêreld tussen die Tugela en die Umzimvubu in Natal.  Dan kon hulle Port Natal as hawe gebruik en kontak met die Kolonie behou.  Potgieter wou nie sy aansprake op die geruilde en verowerde gebied laat vaar nie, want hy het van die begin af sy oë op die binnelandse hoëveld en noorde as bestemmingsoord gehad, met die moontlikheid om met die buitewêreld in aanraking te kom deur die Portugese van Lourenço Marques.  Celliers en Maritz het verkies om Natal toe te gaan, en ook Piet Uys wat intussen aangekom het.  Pot-gieter het ingestem om voorlopig saam te trek.  Teen die begin van Augustus was die hele Trek in ooswaartse rigting in beweging  langs die Sandrivier op.

 
Die kerkprobleem
Daar was by die Trekkers ‘n behoefte aan geestelike bearbeiding, want met hulle uittog uit die Kaapkolonie kon hulle nie daarin slaag om ‘n predikant te beweeg om aan die groot volksonderneming deel te neem nie.  Hulle moes toe tussen twee persone kies wat georden kon word:  Erasmus Smit, Hollander, sendeling, onderwyser, swaer van Gerrit Maritz, óf  eerwaarde Archbell, Wesleyaanse sendeling by Moroka, wat hulle baie vriendelik behandel het.  Retief het toe op 21 Mei 1837 vir eerwaarde Smit in die amp laat bevestig.

 

Onenigheid
Op 6 Junie het Piet Retief se laer by die Vetrivier gestaan.  Die ampsdraers wat op 17 April gekies is, is ingesweer.  Almal moes onder eed verklaar dat hulle die Voortrekkerregering sou eerbiedig en gehoorsaam.  Maar op 14 Augustus het Piet Uys saam met 170 ondersteuners ‘n verklaring uitgereik dat hulle hul nie aan wette onderwerp wat deur ‘n paar persone gemaak is nie.  Ook Maritz was ontevrede.  Hy het op 1 Februarie 1838 aan die Trekkers geskryf dat Retief hom as goewerneur heeltemal te veel mag toegeëien het.  Retief het nie daarin geslaag om die geskille uit die weg te ruim nie.  Die Trek het voortgegaan na Natal.

 

Tweede veldtog teen Silkaats
Intussen het Potgieter daarin geslaag om ‘n kommando van 360 man byeen te roep om saam met Maritz en Uys ‘n tweede keer teen die Matebele-tiran Mzilikazi (Silkaats) op te trek.  Hulle het hom in ‘n negedaagse slag uit sy vestings by Enselsberg verdryf tot anderkant sy hoofkraal, Kapain.  Andries Pretorius het as besoeker uit die Kolonie hierdie veldtog meegemaak.  Silkaats het oor die Limpopo gevlug en hom in die noorde op ‘n plek gaan vestig wat hy Bulawayo genoem het.  Dit was een van die skitterendste en mees beslissende veldslae uit die tyd van die Groot Trek.  Die noordelike deel van die Vrystaat en die grootste deel van Transvaal het nou vir die Voortrekkers oop gelê.