Die Engelse roof weer die Kaap
Nadat De Mist vertrek het, het goewerneur Janssens nog nege maande kans gehad om van De Mist se reëlings op die Kaap toe te pas. Dit het al hoe moeiliker gegaan. Hy het die swak garnisoen aangevul met burgers, Hotten-totte en Javane. Hy het naderhand darem 2 000 man op die been gehad teenoor die 4 500 waarmee die Engelse generaal David Baird voet aan wal gestap het. Die botsing tussen die twee magte het op 8 Januarie 1806 by Blaauwberg plaasgevind. Die uitslag daarvan was te voorsien. Twee dae daarna het Kaapstad oorgegee en op 18 Januarie het Janssens met die res van sy leer, wat na die Hottentots-Hollandberge teruggewyk het, die selfde gedoen.
So het die Kaap vir die tweede keer oorgegaan in die hande van Groot-Brittanje, om nooit weer onder die gesag van Nederland terug te keer nie . Alle private eiendom sou gerespekteer word. Die burgers en ingesetenes sou die regte en voorregte wat hulle geniet het, bly behou. Godsdienstige instellings sou onveranderd gehou word. Kort daarna het die Engelse hierdie artikel van oorgawe verkrag, toe hulle die gebruik van die Nederlandse taal opsygeskuif het.
Die bevolking van 1806
Hierdie keer sou hul koms nie weer ‘n tydelike militêre besetting wees nie, maar die vestiging van ‘n vreemde owerheid oor ‘n Hollandssprekende koloniale bevolking. Dit was ‘n volksgemeenskap wat in wese nie meer Nederlands was nie. Hulle het reeds die kenmerke van ‘n nuwe, afsonderlike nasie openbaar, met ‘n eie nuwe spreektaal. Hulle lewensopvattinge het verskil van hul Nederlandse, Duitse en Franse tydgenote. Hierdie bevolking van nie-Britse herkoms het gedurende die vorige anderhalf eeu diep wortel geskiet. Hulle het reeds al die kenmerke van ‘n volk met ‘n eie identiteit gedra.
Die Kolonie se slawebevolking het die Blankes in getalsterkte oortref. Daar was ook duisende ontstamde Hottentotte. Hulle het onder die dunverspreide Blankes gewoon of rondgeswerf. Op die noordelike en oostelike grense het roofsugtige Boesmans en Bantoes onveilige toestande geskep.
Doel en aard van die besetting
So het die Engelse gesag die erfgenaam geword van allerlei netelige vraagstukke. Maar die welsyn van die inwoners het ongelukkig nie by hom so swaar geweeg as die strategiese waarde van die Kaap nie. Die doel van die Engelse besetting van die Kaap was nie verdere koloni-sasie nie, maar om hom as militêre basis vir die beskerming van die groot Britse belange in die Ooste te gebruik. Daarom het Brittanje aan die koloniste beloof om hul bestaande wette, voorregte en godsdiens te waarborg.
Die besetting het ‘n aanvang geneem met ‘n outokratiese eenmansbewind. Gedurende die eerste jaar het generaal Baird ‘n militêre bewind gevoer en in 1807 is die eerste burgerlike goewerneur benoem. Hy was graaf Caledon wat tot 1811 aan die Kaap gebly het.
Rondgaande howe
Caledon het in 1811 rondgaande howe vir die Kolonie ingestel. Die nuwe howe het in ‘n groot behoefte voor-sien. Hierdeur is hoëre regspraak na die afgeleë provin-sies gebring. Dit het die koloniste die moeite en koste bespaar om die lang reis na die Kaap te onderneem. Die howe het ook ‘n nuttige kontrole oor die werk van die landdroste in die buitedistrikte uitgeoefen. So het Caledon begin om die sentrale regering se houvas op die binneland te versterk. Dit was die begin van ‘n beleid van sentralisasie wat later deur die Britte deurgaans in Suid-Afrika toegepas is.
Paswette vir die Hottentotte
Gedurende die Nederlandse bewind van die Kaap, is die Hottentotte beskou as ‘n onafhanklike volk, wat deur hul eie stamhoofde regeer is. Maar die groot pokke-epidemies van die 18e eeu en hulle kontak met die Blankes, het die stam-organisasie laat verdwyn. Die Hottentotte het swerwende loonarbeiders geword. Baie van hulle het ‘n niksdoen bestaan by die sendingstasies gaan voer.
Caledon het in 1809 ‘n proklamasie uitgevaardig wat die Hottentotte onder die koloniale wette gebring het. Hulle vryheid van beweging is beperk. Elkeen moes ‘n vaste verblyfplek hê, wat hy nie sonder ‘n pas van sy werkgewer of landdros of fiskaal mag verlaat nie. Caledon wou hiermee die tekort aan geskoolde arbeiders verlig, want die Britse parlement het in 1807 alle slawehandel dwarsdeur die ryk stopgesit.
Die filantrope
Caledon se wette oor die Hottentotte het heftige reaksie van die filantrope uitgelok. Hierdie mense beweer dat die natuurmens en natuurvolk gelykwaardig is aan die beskaafde en gekultureerde mens. Hulle loën alle verskille, stel hulle gelyk en behandel hulle gelyk. Die sendelinge van die Londense Sendinggenootskap by Bethelsdorp het gesê die wette is ‘n skending van menseregte en ‘n bedekte vorm van slawerny.
Hierdie sendelinge, dr Van der Kemp en Read, en later dr Philip, het die saak van die koloniste veel skade berokken met die verkondiging van ‘n klomp leuens wat in regeringskringe in Londen geglo is. Hulle het gesê die Hottentotte het vele goeie eienskappe, maar die mees uitstaande een is ‘n absolute getrouheid aan die waarheid. Die Hottentotte kan vrygespreek word van die algemene en onvergeeflike kwaad soos leuens en diefstal.
Die filantrope het die onsin wat hulle verkondig het, self geglo. Hulle het in Engeland in magsposisies gesit en die Engelse regering gedwing om aan hulle bewerings aandag te gee.
By Van der Kemp en Read se sendingstasie in Bethelsdorp het die Hottentotte kos en klere gekry sonder om ‘n steek werk te verrig. Die stasie het spoedig ‘n onheilsnes geword. Van der Kemp hulle het gesê die Hottentotte is ‘n lydende en onderdrukte volk. Hulle woord moet nooit in twyfel getrek word nie. Read het in ‘n brief aan sy genoodskap gekla dat die Hottentotte onmenslik behandel word deur die Blankes. Hy sê dit is een van die swartste en bloedigste bladsye in die geskiedenis. Die boere is ‘n horde plunderende barbare. Hy en Van der Kemp weet van meer as honderd gevalle van moord in die distrik Uitenhage alleen. Dit is ‘n veld van onskuldige bloed wat tot God om wraak roep. Die brief is in Engeland gepubliseer en die filantroop Wilber-force het dit onder die aandag van die Britse regering gebring.
Moeilikheid op die oosgrens
Lord Caledon het ook met die oosgrensprobleem te doen gekry. Die Kôsas in die Suurveld het na die distrikte Graaff-Reinet en Uitenhage deurgedring. Roof en moord was aan die orde van die dag. Die landdroste, Cuyler en Stockenström, het gevra dat kommando’s die indringers moet kom verdryf. Maar Caledon het geweet die Britse regering glo die filantrope se stories. Hy gee toe maar aan die koloniste die nuttelose raad om hulle vee goed op te pas en hul wapens alleen in selfverdediging te gebruik.
Caledon se opvolger was sir John Cradock (1811-1814). Hy het luitenant-kolonel Graham in Oktober 1811 na die Suurveld gestuur met Britse soldate en ‘n kommando koloniste. Hulle het die Kôsas oor die Visrivier verdryf. Dit was die Vierde Grensoorlog. Daar-na het Cradock ‘n nuwe dorp, Grahamstad, en ‘n aantal forte langs die Visrivier opgerig en deur soldate laat beman.
Cradock se grondbeleid
Om meer bestendige toestande in die oosgrensdistrikte te skep, het Cradock die leningplaasstelsel afgeskaf en vervang deur ‘n nuwe erfpagstelsel. Dit moes die boere vaster aan die grond bind en die trekkery verminder. Baie boere het aansoek gedoen om eiendomsreg op die leningsplase wat hulle bewoon het, veral in die noord-oostelike dele van die kolonie. Daar was ‘n tekort aan landmeters, sodat hulle soms baie lank moes wag voordat die grond op hulle name oorgedra is. Party het later dan maar weer begin trek wanneer droogtes en sprinkane hulle daartoe gedwing het.
Die Swarte Ommegang
In Augustus 1811 het Cradock van die Engelse regering opdrag gekry om die klagtes oor die mis-handeling van Hottentotte deeglik te ondersoek en die skuldiges swaar te straf. Sendeling Read moes die nodige bewysstukke en getuies lewer, want sy kollega, Van der Kemp, is in Desember 1811 oorlede.
Die rondgaande hof het die distrikte Graaff-Reinet, Uitenhage en George besoek. Die sittings het byna vier maande lank geduur. Die tyd was vir die koloniste baie ongeleë. Meer as vyftig persone is gedagvaar en honderde moes as getuies verskyn, terwyl ‘n groot aantal burgers die oosgrens moes bewaak.
Meer as 50 sake is teen Blankes verhoor. Vyftien mans en twee vroue is van moord aangekla en dertien mans en twee vroue van aanranding op Hottentotte of slawe. Die res van die klagtes het gegaan oor onbenullighede. Sommige daarvan was oor gebeurtenisse in die verre verlede. ‘n Groot deel daarvan was uit die vrugbare verbeelding van lostongige Hottentotte en uit die kwaadwilligheid van negrofilistiese dwepers. Die uitspraak van die twee regters, Strubberg en Cloete, toon aan hoe ernstig die blanke koloniste deur al die beskuldigings beledig is. Slegs enkele persone is aan kleinere misdrywe skuldig bevind. Geen geval van moord is bewys nie en op al die ander aanklagte is die mense onskuldig bevind. Die regters se verslag aan die Goewerneur het gelui: “As die here Van der Kemp en Read die moeite gedoen het om saaklik en onpartydig die verskillende stories te ondersoek wat aan hulle vertel is, sou baie van hierdie klagtes, wat binne sowel as buite die kolonie soveel lawaai veroorsaak het, ook deur hulself as louter denkbeeldig beskou gewees het, en sou bygevolg nog die regering, nog die geregshof daarmee lastig geval gewees het.” Die regters het verder gesê dat die natuurlike toestand van barbarisme op Bethelsdorp skynbaar die plek van beskawing en maatskaplike orde ingeneem het en dat luiheid en ledigheid en vuilnis en smet daar tot volmaaktheid gegroei het.
Die Afrikaners het gekrenk en beledig gevoel deur die valse aanklagte van hulle nie-blanke bediendes wat so deeglik ondersoek is, terwyl daar aan hulle eie klagtes nooit enige aandag gegee is nie. Hulle goeie naam is beswadder. Dit het hul verhouding tot die Britse owerheid versleg. Baie mense het selfs ‘n vooroordeel teen die sending ontwikkel.
Slagtersnek
Na beëindiging van die Napoleontiese oorloë in Europa, is Nederland gedwing om finaal van die Kaap afstand te doen. Sy eertydse besitting het permanent in die hande van Groot-Brittanje oorgegaan. In hierdie nuwe Engelse bedeling is sir John Cradock opgevolg deur lord Charles Somerset (1814-1826). As verteenwoordiger van die Konserwatiewe Tories, het hy sterk outokratiese neigings geopenbaar.
Een van sy eerste take aan die Kaap was om ‘n gepoogde opstand van ‘n aantal boere aan die oosgrens te gaan onderdruk. ‘n Veeboer, Frederik Bezuidenhout, het in die vallei van die Baviaansrivier gewoon. Een van sy kleurlingbediendes het hom van mishandeling aangekla. Hy het geweier om voor die hof op Graaff-Reinet te
verskyn. Na herhaalde waarskuwings is op 16 Oktober 1815 ‘n twaalftal Hottentot-soldate onder aanvoering van ‘n blanke luitenant gestuur om hom in hegtenis te neem. Frederik het hom verweer en op hulle losgebrand, maar hyself is dodelik getref.
Johannes Bezuidenhout het by die graf van sy broer wraak gesweer en ‘n aantal mense in die omgewing oorreed om te rebelleer, maar slegs sestig man was bereid om die wapen op te neem. Hulle het probeer hulp kry van Gaika, maar hierdie ou sluwe Kôsa-hoof wou niks waag nie. Landdros Cuyler het op 18 November met ‘n gemengde mag van dragonders by Slagtersnek aangekom waar die rebelle was. Kommandant Nel het hulle oorreed om die wapens neer te lê. Daar was geen bloedvergieting nie. Maar Johannes Bezuidenhout, sy swaer Faber en twee Botmas het met hulle gesinne na die Swartes se gebied gevlug. Hulle is deur ‘n regeringsmag ingehaal. Bezuidenhout is doodgeskiet en die ander gevange geneem. Daar is 47 aangeklaagdes op Uitenhage verhoor, waarvan 39 skuldig bevind en gevonnis is. Hendrik Prinsloo, Cornelis Faber, Stephanus Botma, Abraham Botma, Theunis de Klerk en Willem Krugel is ter dood veroordeel. Die res is gestraf met verbanning na ander distrikte, boetes en tronkstraf. Willem Krugel is bege-nadig. Die ander vyf het op Slagtersnek die galgdood gesterf, onderwyl hulle familie en vriende verplig was om dit te aanskou. By die voltrekking van die vonnis het die galgtoue gebreek, maar die half-bedwelmde manne is daarna vir die tweede keer opgehang.
Slagtersnek gooi ‘n lang skaduwee oor die geskiedenis van die Afrikanervolk. Die rebelle het ‘n gees van verset in die jong volkie aangesteek wat nie weer geblus kon word nie. Toe die Voortrekkers 20 jaar later uit die kolonie vertrek, het hulle daardie galgbalk saamgeneem. In 1877, toe die vermetele Shepstone Transvaal annekseer het, was daar oproepe dat hy en sy vrybuiters aan die selfde balk opgehang moes word. Die Voortrekkers in Natal het vir kommissaris Cloete gesê dat hulle Slagtersnek nooit sou vergeet nie. Slagtersnek het lank daarna nog soos ‘n muur tussen Afrikaner en Engelsman gestaan.
Somerset en die oosgrensprobleem
Die streng maatreëls wat goewerneur Cradock in 1812 getref het om die Kôsas aan die oostekant van die Visrivier te hou, was nie suksesvol ne. Die veediefstalle het toegeneem. Daarom het Somerset in 1817 na die grens gegaan en vir opperhoof Gaika en die ander kapteins sy nuwe reëlings afgekondig. Die boere kry die reg om hulle gesteelde vee weer te gaan terughaal, of ander vee van die Swartes as skadevergoeding te eis.
Die veediefstalle het nie verminder nie. Somerset het die fout begaan om vir Gaika as hoof van al die Kôsa-groepe te erken. Daar het ‘n jarelange vete geheers tussen hom en sy oom, Slambie (Ndlambe) oor die opper-hoofskap van die Kôsa-stam. Toe die Goewerneur vir Gaika tydens die onderhandelinge as opperhoof beguns-tig, het Slambie sy broerskind aangeval. Somerset het vir Gaika militêr ondersteun en van Slambie ‘n oorlogsbuit van 23 000 beeste geëis, waarvan Gaika 9 000 moes kry.
Slambie se volgelinge het daarop die kolonie verwoed binnegeval. Daar het 18 000 Kôsas, gelei deur Makana, die grens in 1819 oorskry en alles voor hulle geroof, verbrand en vermoor. Makana het Grahamstad helder oordag aangeval, maar die garnisoen in die fort het die aanval afgeslaan. Somerset het met 1 900 soldate en ‘n aantal burgers Slambie se mag finaal vernietig. Dit was die Vyfde Grensoorlog. Die Kôsas is uit die gebied tussen die Vis- en die Keiskammarivier verdryf. Dit sou in die toekoms ‘n neutrale gebied wees en ‘n bufferstrook vorm tussen Wit en Swart.