Die Kaap word weer Hollands
Die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie is in 1798 ontbind, drie jaar nadat die Engelse die Kompanjie se Kaapse besitting oorgeneem het. Intussen het daar ‘n verposing gekom in die oorlog tussen Frankryk en Engeland deur die voorlopige ooreenkoms van Londen in 1801. Daarvolgens sou Holland al die kolonies wat Engeland van hom verower het, terugkry. Op 28 Maart 1802 is die Vrede van Amiens geteken , wat die Kaap die Goeie Hoop weer in Hollandse besit gestel het. Die regering van die Bataafse Republiek (Holland) het daarna vir kommissaris-generaal JA de Mist gestuur om die Kaap by die Engelse te kom oorneem en ‘n behoorlike regering en administrasie in te stel. Daarna moes generaal JW Jansens oorneem as goewerneur.
De Mist het op 21 Februarie 1803 die Hollandse driekleur by die Kasteel gehys. Sy werk aan die Kaap, waartydens hy die regering op ‘n gesonde grondslag geplaas het, het twee jaar geduur. Die Kaap was nou feitlik ‘n provinsie van Holland en kon veel beter uit die moederland bestuur word, as uit Batavia, soos wat die Oos-Indiese Kompanjie gedoen het.
Daar het in 1803 ongeveer 22 000 Blankes, 25 000 slawe en 10 000 Hottentotte in die Kolonie gewoon. Die blanke bevolking was oor ‘n uitgestrekte gebied versprei. In die Kaapse distrik was daar 6 261, in Stellenbosch se distrik 7 256, in Swellendam 3 967 en 4 262 in Graaff-Reinet.
Die Goewerneur en Politieke Raad
Vir hierdie bevolking wou De Mist ‘n regering en administrasie instel wat by hulle behoeftes sou pas. Aan die hoof van die regering sou daar weer ‘n Goewerneur wees, gesteun deur ‘n Politieke Raad. Die goewerneur mag nie ‘n outokraat wees wat sy mag misbruik nie. Hy word verbied om geskenke aan te neem. Hy moet altyd voorsitter wees van die Politieke Raad, wat hom nie mag oorstem nie. Die oewerneur moet die openbare gods-diens eerbiedig en beskerm. Hy moet die opvoeding bevorder deur kundige en geskikte skoolmeesters oor die hele Kolonie te versprei. Daar moet toegesien word dat die meesters hulle pligte nakom. Uit die buiteland moet nuttige skoolboeke, almanakke en koerante binne bereik van die koloniste gebring word.
Die Raad van Justisie
Vir die regering het De Mist weer ‘n Raad van Justisie ingestel. Die Fiskaal is as openbare aanklaer vervang deur ‘n Prokureur-generaal. Die misbruike is afgeskaf. Die Raad sou as regterlike gesag volkome onaf-hanklik optree.
Kaapstad sou ‘n Munisipale Raad kry, gesteun deur ‘n Gemeenteraad, wat vir die uitvoering van ‘n groot aantal pligte verantwoordelik was.
Nuwe distrikte
Vir die vestiging van groter orde en rus en vir die beskerming van die buitedistrikte, het De Mist Graaff-Reinet in twee landdrosdye verdeel. Hy het met die suidelike deel, saam met ‘n gedeelte van Swellendam, ‘n nuwe distrik, Uitenhage gevorm. Die noordelike deel van Stellenbosch het hy afgesny in die distrik Tulbach.
Die landdroste en heemrade
Om te verseker dat wet en orde in die buitedistrikte gehandhaaf word, het hy die bestuur oor elke distrik opgedra aan ‘n landdros, bygestaan deur ‘n paar burgers as heemrade. Elke distrik is verdeel in ‘n aantal veldkornetskappe. Die landdros en heemrade sou hulle bevele van die goewerneur en die raad ontvang. Die landdros moet sorg vir die beskerming van alle persone, eiendomme en besittings. Hy moes ook die bloei en welvaart van vrede met die Bantoes en Hottentotte bevorder. Hy moes die boere bystaan met raad en leiding in die landbou en veeteelt. Hy moes misdadigers voor die Raad van Justisie laat aankla. Hy moes die slawe teen hul base beskerm en omgekeerd. Ten slotte moes hy sorg dat die openbare godsdiens in die kerke in sy distrik nie versteur word nie.
Die landdros en heemrade was ook saam verant-woordelik vir die reëling en oplossing en beslegting van huweliksake, die geldmiddele van die distrik, geskille oor landerye, die skut van vee en die hou van vendusies. Hulle kon ook uitspraak gee in gedinge oor sake wat nie bokant 300 riksdaalders gegaan het nie. Verder moes hulle sorg vir die aanlê en die onderhoud van paaie en strate, vir goeie mate en gewigte en kontrole uitoefen oor die bakkerye en slagterye op die dorpe.
Om die landdroste en heemrade by te staan, is die groot buitedistrikte in veldkornetskappe verdeel. Die veldkornette het in hul afgeleë wyke baie van die kleiner verpligtinge van die landdros oorgeneem. Die veldkor-nette was as militêre offisiere van baie groot betekenis.
Die godsdiens
De Mist was oortuig daarvan dat godsdiens bescha-ving, verlichting en deugd bevorder. Hy het in 1804 sy Kerkorde uitgevaardig waarvolgens die kerklike aange-leenthede aan die Kaap gereël sou word. Daar volgens sou alle kerkgenootskappe gelyke beskerming van die wet geniet. Die regering laat elke kerkgenootskap vry om sy eie besonderse leerstelsel te verkondig, mits dit nie skadelik vir die staat bevind word nie. Die goewerneur hou toesig oor die bestuur en oor kerkfondse. Vir die buitedistrikte, waar feitlik almal lidmate was van die Nederduits Gereformeerde Kerk, verskaf en besoldig die regering die predikante, wys hulle standplase aan en ver-plaas hulle van die een na die ander plek.
Die mag van die kerk is deur De Mist se Kerkorde ondergeskik aan dié van die staat gestel . Hy het ook die onderwys onder staatsbeheer geplaas en los van die kerk gemaak.
Die onderwys
De Mist sowel as Janssens het op hulle uitgebreide reise deur die Kolonie kennis gemaak met die onderwys-behoeftes van die koloniste in alle dele van die land. De Mist het besef dat ‘n algehele hervorming daarvan dringend noodsaaklik was. In die buitedistrikte het die onderwys bestaan uit wat die kerklike sentrums kon aanbied. Dit is hier en daar ook sporadies deur gehuurde skoolmeesters verskaf.
De Mist het ‘n memorie oor die onderwys opgestel, getitel: De Schoolorder voor de Volksplanting aan de Kaap de Goede Hoop.” In hierdie Skoolorde dra hy die bestuur van die onderwys op aan ‘n Kommissie van Skolarge van 7 lede. Hulle sou deur die regering en die kerk gekies word. Hulle hooftaak sou wees om bekwame onderwysers uit Nederland te kry en iemand te vind wat aan die Kaap ‘n kweekskool vir die opleiding van onder-wysers kon kom oprig. Die opleiding sou 5 jaar duur. Die Orde het ook voorsiening gemaak vir die oprigting van aparte kos- en dagskole vir seuns en dogters in Kaapstad.
Vir die 19e eeu was die bepalings van De Mist se Skoolorde vir die Kaap rewolusionêr. Dit staan in die teken van staatsbemoeiing met die nasionale of volksonderwys. Dit onttrek die onderwys aan die gesag en regstreekse invloed van die kerk. Dit vervang die Calvinistiese beginsels met dié van die humanisme. Dit beteken die verwêreldliking van die onderwys.
Die enigste inrigting wat onder die Skoolorde tot stand gekom het voordat die Kaap weer in Engelse hande oorgegaan het, was die skool vir meisies in Kaapstad en ‘n skool in die Paarl, wat egter ook nie lank bestaan het nie.
Ekonomiese aangeleenthede
Nadat De Mist die Kolonie deurreis het, het hy besef dat die grondslag van die ekonomiese lewe aan die Kaap net op die graan- en wynbou en veeteelt berus het. Hy het in Mei 1804 ‘n Kommissie van Veeteelt aangestel wat ter wille van wolproduksie die boere moes omhaal om met mofskape te boer in die plek van hulle vetstertskape van daardie tyd. Maar die wolboerdery wou nie op dreef kom nie, want die koloniste wou hulle nie laat dwing nie.
De Mist se grensreëlings
Nadat De Mist sy reis na die binneland onderneem het, was hy wat die Swartes betref, nog onder invloed van liberaliste soos John Barrow. Hy was oortuig daarvan dat “die goede lieden” jarelank vervolging en mishandeling van die Kompanjie se dienare en die koloniste verduur het. Terwyl hulle vreedsaam in hulle “vaderlijke hoolen” gewoon het, het ‘n vreemde nasie hom op hulle grond kom vestig en hom van hulle vee meester gemaak. Hierdie “stille vreesachtige Lieden” is dus deur die kolo-niste verstrooi, van hul vee beroof en tot “slaaven en lijfeigenen” gemaak.
Na sy reis het De Mist erken dat hy verkeerd was. Hy het gesê Barrow is vol nasionale nyd. Die helfte van sy stories is onwaar en nog ‘n kwart daarvan is twyfelagtig. Die toestande kan verbeter word deur goeie inrigtings vir die Hottentotte te skep.
Die Sending
De Mist het ‘n vaste stasie aangewys vir die Hernhutters van die Morawiese Sendinggenootskap. Hy het die Londense Sendinggenootskap, waar Van der Kemp en Read onder die Hottentotte gewerk het, aan die oosgrens by Bethelsdorp geplaas. Die Rotterdamse Sendinggenootskap het plek gekry aan die Sakrivier in die noorde van die Kolonie. De Mist het gemeen dat die sendelinge op die stasies die Hottentotte moes beskerm. Goeie behandeling vir dié wat by boere in diens was, moes deur ‘n dienskontrak verseker word.
Goewerneur Janssens en die Kôsas
Generaal Janssens het op sy reis deur die grens-distrikte kenns gemaak met die toestande wat daar geheers het. Hy het bevind dat honderde huise en plase afgebrand en verwoes is, dat ‘n groot hoeveelheid beeste en skape van die koloniste in besit van die Bantoes was en dat hulle oral in die Kolonie se Suurveldgebied woon. Baie boere was swerwende met hulle huisgesinne en hulle vee.
Verskeie Kôsa-stamme was in opstand teen die opperhoof Gaika. Hulle het vir hom gevlug en hulle aan die westekant van die Visrivier tuisgemaak. Hierdie kapteins het die Goewerneur beloof om die koloniste met rus te laat en weer terug te trek. Gaika het ook beloof om sy opstandige onderdane sonder wraakneming terug te ontvang. Na hierdie vae beloftes het Janssens van sy reis teruggekeer en die verdere grensreëlings oorgelaat in die hande van ‘n bekwame offisier van Fort Frederick, kaptein Alberti. Hy het die Swartes baie goed geken en hulle vertroue gewen, sowel as dié van die koloniste. Hy het later militêre landdros op Uitenhage geword. Gedurende sy landdrosskap was daar rus op die oosgrens.
Die koloniste wat moes vlug het langsamerhand weer na hulle woonplase teruggetrek, maar die Bantoes in die Suurveld is nie verwyder nie. Die oorlog wat weer opnuut in Europa uitgebreek het, het dit verhoed. De Mist was van plan om ‘n streng beleid van absolute skeiding tussen Wit en Swart in te stel en te handhaaf. Alle Bantoes sou uit die Suurveld oor die koloniale grens gedryf word en alle kontak tussen koloniste en Bantoes en tussen Hottentotte en Bantoes sou beëindig word. De Mist het gesê die kern van die moeilikheid lê daarin dat die Swartes geen besef van “myne en joune” het nie en dit veroorsaak al die moeilikheid. Daarom sou niemand heen of terug oor die grens mog beweeg nie.
In hierdie tyd was dit seker ‘n gesonde beleid, mits dit kragtig uitgevoer kon word deur ‘n sterk krygsmag. Maar die kort bewind van die Bataafse bestuur het hulle nie die tyd gegun om hierdie beleid toe te pas nie.
Die einde van die Bataafse bewind
Op 25 September 1804 het De Mist as Kommissaris-generaal sy amp aan die Kaap neergelê. Hy het elke oomblik ‘n vyandige aanval op die Kolonie verwag. Hy wou generaal Janssens as goewerneur geleentheid gee om vir die Kaap verdedigingsmaatreëls te tref. Die Europese oorlog is in Mei 1803 hervat. De Mist is op 25 Februarie 1805 oor Amerika na Nederland, waar hy op 8 Julie aangekom het.
By sy vertrek het die bevolking van die hele Kolonie bestaan uit 25 757 Blankes, 29 545 slawe en 20 006 Hottentotte. Hiervan het 6 273 Blankes, 9 129 slawe en 452 Hottentotte in Kaapstad gewoon. Kaapstad het toe reeds 1 258 huise gehad.
De Mist het op 29 Julie 1805 ‘n volledige verslag van al sy handelinge en besluite aan die Kaap, aan die Raadspensioenaris in Nederland oorhandig. Daarmee was sy groot taak as Kommissaris-generaal van die Kaap afgehandel.