Die boere (landbouers) in die Kaapse omgewing
Die landbouers, dit is die boere wat in die distrikte van die Kaap en Stellenbosch geplant en gesaai het, het nog steeds gesukkel om ‘n afsetgebied vir hulle produkte te kry, maar tog het die meeste van hulle goed geleef. Hulle het in goedgeboude, gerieflike huise gewoon. Baie daarvan was deftig gemeubileer. Hulle het in die lewensbehoeftes van hulle huisgesinne voorsien uit die opbrengs van hul plase, Hulle het baie bediendes gehad. Sommige boere het selfs meer as honderd slawe besit.
Hulle het nooit volop geld gehad nie, maar hulle kon darem altyd die nodige landbougereedskap, boustowwe, huisraad, klere en weeldeartikels soos koffie, tee en suiker, bekostig. Ook was daar ‘n paar skole vir hul kinders en hulle kon ‘n paar kerke besoek. Hulle was eenvoudige, vriendelike en godsdienstige mense. Die ryk boere sowel as die klein boere was almal selfstandige mense wat bekend was vir hulle gasvryheid.
Die veeboere in die binneland
By die nederige veeboere, wat so geleidelik gedurende die 18e eeu die land vir die blanke beskawing in besit geneem het, was lewensmiddele nie so ruim en volop soos by die Kaapse landbouers nie. Die meeste van hierdie boere het wel groot kudus klein- en grootvee besit, maar hulle het maar min geld daaruit gemaak, omdat hulle nie dikwels die groot afstande na die Kaapse markte kon aflê nie. Daarom was hulle lewens maar redelik primitief. Hulle huise was gewoonlik maar eenvoudig, klein en ongerieflik. Die huise het meesal bestaan uit drie of vier vertrekke. Die vensters het nie glasruite gehad nie, maar is met houtdeurtjies oop- en toegemaak. Die vloere was van klei. Op die voorposte naby die grens, het hulle in hutte gewoon van een of twee vertrekke, met lae kleimure en grasdakke.
Omdat hulle so ver van die Kaap se geriewe af gewoon het, het die veeboere geleer om hulle met al hul lewensbenodigdhede self te help. Hulle het hul eie meubels gemaak en hul eie klere vervaardig. Hulle hoofvoedsel was skaap- en wildsvleis en melk. Maar waar hulle dit kon doen, het hulle tuine aangelê en ‘n bietjie groente of graan gekweek vir eie gebruik.
Dit was maar ‘n lewe vol ontberings, ook op onderwysgebied. Rondtrekkende “meesters” is gehuur om ‘n huisgesin se kinders ‘n paar maande lank te leer lees en skryf en verder ‘n bietjie les te gee. Voordat Graaff-Reinet gestig is, was die veeweiders se naaste kerk op Roodezand, naby die Kaap. Hulle het baie selde daar gekom, miskien een maal per jaar, om botter en boerseep in die Kaap te gaan verkoop en sommer die weigeld te gaan betaal. Baie boere het jarelank nie in die Kaap gekom nie en agtergeraak met die betaling van hulle lisensiegeld.
Die behoefte aan kerke en skole
Die ouer koloniste het die gebrek aan ‘n kerk en die godsdienstige bearbeiding van ‘n predikant baie gemis. In 1778 het die vooraanstaande inwoners van die Kamdeboo in ‘n smeekskrif gekla dat hul kinders soos stomme vee opgroei, dat die oueres on-Christelik ontaard en dat almal die seën en troos van die kerklike Nagmaal baie mis. Baie mense het gevrees dat hierdie verste burgers op die grense heeltemal gaan ontaard en verwilder. Maar hul kragtige rassetrots het dit verhoed. Hulle het ‘n streep getrek tussen Christen en heiden en dit het ontwikkel tot blank en gekleurd. Daarom kon hulle hul teen die inboorlinge sedelik handhaaf en hulle bloed suiwer hou. As gelowige Christen en Calvinis het elke pa sy plig teenoor sy huisgesin nagekom . Met die Bybel, ‘n psalmboek en ‘n predikasieboek het hy gereeld huisgodsdiens gehou. Hy het dit ook as ‘n plig gevoel om sy kinders te leer lees of te laat leer lees. Daarom het ongeletterdheid maar baie selde onder hierdie eenvoudige grensbewoners voor-gekom, terwyl dit in daardie tyd in baie Europese lande nog taamlik volop was.
Buitestaanders se menings oor die grensboere
Goewerneur Van Plettenberg het na sy binnelandse reis van 1779 melding gemaak van die verste boere se goeie eienskappe. Hy het hulle meestal zedig en redelyk welonderleid genoem. Maar ‘n bevooroordeelde buite-landse besoeker, soos die vyandiggesinde John Barrow, wat nie hulle taal verstaan het nie, kon nie hul lewensomstandighede begryp nie. Tydens sy besoeke, is hy met vriendelike gasvryheid oorlaai, maar hy het hulle van wreedheid, luiheid en onsindelikheid beskuldig. Ander waarnemers soos dr Heinrich Lichtenstein, wat ook in die binneland gereis het, het die boere verdedig teen die “skreiende onreg” wat Barrow hulle aangedoen het. Hy sê hy was verras om in die binneland so ‘n beskawing te vind en hy roem die grensbewoners se mensliewendheid, opregtheid, openhartigheid, gasvryheid en hulle gods-dienssin.
Elke seun het sy eie geweer besit.. Daarmee het hy nie net wild gejag nie, maar vir sy pa gehelp om die plaas te verdedig teen Boesman-strooptogte en Bantoe-aanvalle. Die boere het kommando’s saamgestel om die vyand te beveg. Die regering het dit goedgekeur en hulle van kruit en lood voorsien.
Die ontwikkeling van ‘n nasionale bewussyn
Die verspreiding van die veeboere gedurende die 18e eeu het van hulle geharde Afrikaanse baanbrekers gemaak. Hulle het met selfstandigheid en handigheid self in hulle min behoeftes voorsien. In hulle gesamentlike stryd om voort te bestaan, het daar by hulle die wete ontwikkel dat hulle apart van die ander volke bymekaar hoort en dat hulle as blanke Christene hulself teenoor die gekleurde heidene moet handhaaf. Hul nasionale bewussyn het maar baie klein begin toe hulle as Vryburgers ‘n stukkie grond ontvang het om daarop te boer. Dit het begin groei toe hulle as Koloniste by hulle veeposte die grense van hul veeplase al verder verskuif het. Dit het al helder gebrand toe hulle as Voortrekkers die Engelse juk afgeskud het en die wawiele noordwaarts laat rol het na die vryheidslig wat voor in die wapad brand . As Boere van die Vrystaat en Transvaal, wat die grypsug van die Engelse wêreldmag moes trotseer, het dit al sterker gebrand, totdat hulle uiteindelik as gelouterde Afrikaners hulle land, waarvoor hulle soveel gely en gestry het, in besit kon neem.
Indien jy in die laaste helfte van die 18e eeu kon luister hoe hulle met mekaar gepraat het, sou jy gehoor het hoe die Nederlandse taal stadigaan besig was om te verander in die helder klank van Afrikaans. Dit was die geboorte van ‘n nuwe volk, met ‘n eie taal in ‘n nuwe land, Suid-Afrika.