ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 3

Die goeie Simon van der Stel


Die verversingstasie wat deur Jan Van Riebeeck en sy manne aan die Kaap opgerig is, het aan die begin nie aan sy doel beantwoord nie.  Die bemanning van die skepe wat daar aangedoen het, het gekla oor die drinkwater wat nooit skoon was nie, dat daar nie altyd genoeg vleis was nie en dat die vleis oneetbaar, maer en taai was.  Baie van die skepe het verbygevaar sonder om daar aan te gaan.

 

Die Vryburgers sukkel om te bestaan
Na tien jaar het die verversingspos nog nie genoeg kos geproduseer om in sy eie behoeftes te voorsien nie.  Die werk in die Kompanjie se tuine is deur gehuurde knegte en slawe gedoen, wat nie geweet het hoe om dit te doen nie.  Die eerste Vryburgers was ook nie gebore boere nie, maar vrygestelde amptenare en soldate.  Hulle het wel die grond verniet gekry, maar dit was onbewerkte grond.  Dit was moeilik om arbeiders te kry.  Die rondtrekkende Hottentotte wou nie werk nie.  Sommige Vryburgers het soldate gehuur.  Dit was duur arbeid.  Nadat slawe ingevoer is, het dit beter gegaan.  Maar slawe-arbeid is ook duur en daar was maar altyd te min slawe.  Die Vryburgers het ook nie genoeg landbougereedskap en trekvee gehad nie.  Die suidoostewind wat dikwels onop-houdelik gewaai het, het hulle oeste beskadig en hulle gevoelige verliese laat ly.
Die Vryburgers was verplig om al hulle produkte aan die Kompanjie te verkoop, wat self die pryse wat hulle daarvoor wou betaal, vasgestel het.  Gedurende die eerste jare was die pryse so laag dat die Vryburgers geen wins kon maak nie.  Baie van hulle was later brandarm.  Hulle wou nie meer boer nie en het begin om ander beroepe te beoefen.

 

Die verversingspos word ‘n landboukolonie
Om die landbou te bevorder, het die Kompanjie in 1670 begin om die vrugbare grond by Hottentots-Holland te bewerk en daar koring te saai.  In 1677 het ‘n paar boere by Houtbaai grond ontvang en twee jaar later is boere op leengrond by die Tygerberg gevestig.  In 1678 kry twee boere die reg om hul vee in Hottentots-Holland te laat wei en kort daarna word twee van hulle toegelaat om by die Steenberg ‘n veeboerdery te begin.  So het die Kaapse verversingspos stadigaan in ‘n landboukolonie ontwikkel.

 

Die koms van Duitse immigrante
Nadat Jan van Riebeeck die Kaap verlaat het, het die Kompanjie besef dat die Kaap ‘n waardevolle besitting is.  Daar het oorlog uitgebreek tussen Holland en Engeland.  Hulle het ‘n sterk garnisoen in die Kasteel, wat hulle in die plek van die Fort gebou het, geplaas om die Kaap te verdedig indien Engeland dit miskien sou kom verower.  Hulle wou ook graag hê daar moes meer inwoners in die Kaap wees, sodat hulle die soldate van die garnisoen kon help indien die Kaap deur die Engelse aangeval word.
Die Hollanders het in daardie tyd só goed in hulle eie land geleef, dat daar maar baie min van hulle gewillig was om na die Kaap van Goeie Hoop te kom.  Maar baie Duitsers het na die ellende van die Dertigjarige Oorlog in Holland gaan woon en na die Kaap geëmigreer.  Teen die jaar 1700 was daar reeds een-vyfde van die koloniste aan die Kaap, mense van Duitse afkoms.
Die vroue-tekort
Gedurende die eerste jare na die stigting van die nedersetting aan die Kaap, was daar altyd te min vroue.  Die kommandeurs na Jan van Riebeeck het verskeie kere  gevra dat daar asseblief tog vroue na die Kaap gestuur moes word vir die baie mans wat alleenlopers was.  Maar baie min vroue was gewillig om alleen na die Kaap te kom.  Die Here 17 het in 1664 ‘n aantal weesmeisies omgehaal om na die Kaap te kom.  Almal van hulle het baie gou ‘n man gekry om mee te trou.

 

Simon van der Stel
In 1679 het daar ‘n nuwe kommandeur na die Kaap gekom.  Dit was Simon van der Stel.  Hy het baie gedoen om die sukkelende verversingspos vinniger na ‘n voor-uitstrewende landboukolonie te laat ontwikkel.  Hy het die kolonisasie en uitbreiding na die binneland bevorder.  Die Kompanjie het sy goeie diens waardeer en in 1685 aan hom ‘n groot plaas geskenk, wat hy Constantia genoem het.  In 1691 het hulle hom goewerneur van die Kaap gemaak.

 

Die Kaap word selfversorgend
Simon van der Stel het die koloniste se aansoeke om Vryburgers te word en grond te kry waarop hulle wou boer, sorgvuldig uitgesoek.  Hy het net dié toegelaat wat ‘n sukses daarvan kon maak.  Hy het hulle graanpryse verhoog en hulle gehelp om gereedskap en trekvee te kry.  Daarna het hy genoeg slawe ingevoer om die werk te kon doen.  So het die kolonie gedurende Simon se tyd vooruit-gegaan en ‘n bloeitydperk beleef.  Baie van die koloniste het welvarend geword.

 

Stigting van Stellenbosch en Drakenstein
Op een van Simon se reise in die binneland het hy op ‘n pragtige, vrugbare vallei afgekom.  Hy het die plek sy eie naam gegee en in 1679 vir die boere daar by Stel-lenbosch plase gegee.  Drie jaar later het daar al 30 huisgesinne gewoon.  Dit het ‘n dorp geword.  Die Goewerneur het toegelaat dat hulle vir hul kinders ‘n skool bou.  Die onderwyser het op Sondae in die skool dienste gehou.  Agt jaar later, in 1687, het Simon van der Stel nog ‘n nedersetting in die binneland gestig.  Hy het langs die Bergrivier aan ‘n klompie soldate grond gegee en hierdie nedersetting Drakenstein genoem.  Die kolonie het hierdeur nog ‘n endjie verder na die binneland uitgebrei.

 

Koms van die Hugenote
Simon van der Stel wou baie graag nog meer geskikte koloniste uit Holland hê wat in die Kaap kon kom boer.  Die Here 17 kon maar min sulke persone kry wat gewillig was om te emigreer.  Maar toe vind die koms van die Hugenote plaas.
Frankryk se Rooms-Katolieke koning, Lodewyk XIV, het die Protestante in sy land gruwelik verdruk en vervolg.  Duisende van die Hugenote het na ander lande gevlug, veral na Holland, wat ‘n Protestantse land was en hulle verwelkom het.  Die Here 17 het toe ‘n aantal van hierdie Franse vlugtelinge as koloniste vir die Kaap gewerf.  Baie van hulle was ervare boere in Frankryk en sou baie geskikte koloniste wees.  Hulle het in klein groepies in 1688 en 1689 na die Kaap gekom, totdat daar altesaam 150 Hugenote hulle hier gevestig het.
Die Hugenote was baie ontevrede omdat die Goewer-neur hulle onder die ou koloniste versprei het.  Hulle wou bymekaar woon.  Die Goewerneur het vir hulle in die distrik Stellenbosch plase gegee en aan ‘n aantal van hulle het hy grond toegeken in die Bergriviervallei.
Die Goewerneur en die Hollandse koloniste het die Franse Hugenote goed behandel en hulle gehelp om aan te pas by hulle nuwe omstandighede.  Hulle het selfs ‘n Franse predikant gekry en later het hulle in Drakenstein vir hulle ‘n eie kerk gestig.  Maar Simon van der Stel wou die Hugenote so gou as moontlik verhollands.  Hulle moes toe in die kerk ook na Nederlandse preke luister en hulle kinders het in die skool Nederlands geleer.  In 1723 was daar nog net 25 mense in Drakenstein wat nie Nederlands verstaan het nie. Die Hugenote se kinders het nog Frans geken, maar hulle kleinkinders kon net Nederlands praat.
Die koms van die Hugenote na die Kaap het die blanke bevolking van die nedersetting versterk.  In 1688 was  daar nog net 254 mans, 88 vroue en 231 kinders.  Die koms van 150 Franse vlugtelinge was ‘n belangrike gebeurtenis.  Daar was nou meer boere op die verskillende plase wat kon voedsel produseer, sodat die Goewerneur in 1688 al 3 664 sak koring in die stoorkamers kon bêre.  Die Kaap was nie meer van graaninvoer afhanklik nie en het uiteindelik aan sy doel begin beantwoord toe hy in ‘n landboukolonie ontwikkel het.

 

Die veeboerdery begin
In die laaste jare van Simon van der Stel se bewind aan die Kaap is daar te veel graan vir eie gebruik geproduseer.  Die enigste mark waarheen dit uitgevoer kon word, was na Batavia.  Maar die Oos-Indiese regering het in 1695 geweier om die Kaapse oorskotgraan te koop.  Daar het toe groot voorrade graan in die Kompanjie se skure in die Kaap begin bederf.  Daarom was die boere verplig om maar minder te saai en ook met veeboerdery te begin.  Toe die koloniste daarmee sukses begin behaal, het baie van hulle opgehou om te plant en te saai en hulle net op veeboerdery toegespits.  Later was daar ryk veeboere oral in die Kolonie.  Een van hulle, Henning Hüsing, het in 1692  5 300 skape besit en verskeie ander boere het meer as 1 000 gehad.
Simon van der Stel het nie daarvan gehou dat so baie van die koloniste veeboere geword het en die akkerbou verwaarloos het nie.  Hy wou hê dat hulle vir veiligheid nader aan mekaar moes woon, want hy het nie die Hottentotte vertrou nie.