ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 2

Jan van Riebeeck kom na die Kaap


Die Hollanders het die speserye en ander handels-ware wat die Portugese in die Ooste gaan haal het, by hulle in Lissabon kom koop en dit weer aan die ander nasies in Europa verkoop.  Holland was besig om te herstel na al die swaar van die 80-jarige oorlog wat hulle teen Spanje vanaf 1568 tot 1648 geveg het.  Hulle het ‘n winsgewende visnywerheid opgebou.  Die Hollandse riviere en kuste is vol van allerhande eetbare vis.  Hulle haringhandel het uitgebrei.  Hulle het lakenstof en linne van die beste en fynste soorte geweef.  Dit alles moes in ander lande verkoop word en daarvoor het hulle skepe nodig gehad.  Hulle het langs die die Zaanrivier by Amsterdam houtsaagmeulens opgerig en hulle skeeps-bouery daar ingerig.  Hulle het beter skepe gebou as die Portugese, die Engelse en die Franse.  Hulle het met hulle skepe hulle eie ware saam met die speserye wat hulle in Lissabon gaan haal het, na ander lande vervoer en dit verkoop.

 

Die Hollanders se eerste reis om die Kaap na Indië
Aan die einde van die 16e eeu wou die Hollanders nie meer vragvaarders vir die Portugese wees nie.  Hulle stuur toe op 2 April 1595 vier skepe na die Ooste.  Dit was die Hollandia, die Mauritius, die Amsterdammer en die Duifken, onder aanvoering van Jan Huyghen van Linschoten en Cornelis de Houtman.  Hulle het om die Kaap gevaar tot by Madagaskar.  Daar het hulle hul stukkende skepe weer seevaardig gemaak.  Hulle het twee maande daar vertoef om die bemanning wat nog geleef het, geleentheid te gee om van die skeurbuiksiekte te herstel.  Hulle het op 23 Januarie 1596 by Bantam op Java aangekom.
Gedurende hierdie reis het meer as 150 man aan hierdie siekte omgekom.  Hulle het hulle beste skip, die Amsterdammer, agtergelaat omdat die 100 matrose wat nog gelewe het, te min was vir vier skepe.  Hulle wou nie hê dat die skip wat al taamlik stukkend was, in die hande van die Portugese val nie.  Daarom het hulle dit aan die brand gesteek.
Die 100 man het in hulle moeë, uitgeteerde liggame skaars genoeg krag gehad om die ander drie skepe te hanteer.  Hulle het op 13 September 1596 weer hulle terugreis begin en op 14 Augustus 1597 weer in Holland aangekom, nadat hulle 2½ jaar lank weg was.  Die vrag speserye wat hulle saamgebring het, kon nie vir al die skade wat hulle gely het, betaal nie.  Maar die Hollanders het ook nou die seeweg om die Kaap na die Ooste geken.  Hulle het begin om self speserye daar te gaan haal en in Europa te verkoop.

 

Die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie
Die Hollanders se handel met die Ooste het só uitgebrei dat hulle maatskappye moes stig om dit te reël en te beheer.  Hierdie maatskappye het saamgesmelt tot één groot organisasie, die Nederlandse Oos-Indiese Kom- panjie.  Die NOIK is bestuur deur 17 direkteure, wat “Die Here 17”genoem is.  Die speseryhandel met die Ooste is deur hierdie 17 manne gereël en nie deur die regering van Holland nie.  (Die afkortings NOIK, HOIK en VOC dui deurgaans op hierdie maatskappy).
Die skepe van die Kompanjie het om die Kaap begin vaar na die eilande waar speserye gekweek word, by Ambon en Banda en die Molukke. Hulle het hulle hoof-kwartier in die Ooste op die eiland Java gebou en dit Batavia genoem.

 

Behoefte aan ‘n halfwegstasie
Die skepe kon nie vanaf Holland tot by Oos-Indië vaar sonder om êrens by ‘n plek aan te gaan waar hulle weer vars voorrade kon inneem nie.  Hulle het toe gereeld die eiland St. Helena daarvoor gebruik.  Hulle het ‘n aantal skape op die eiland gebring.  Die besoekende skepe het dan van die skape geslag, om weer vars vleis vir hulle verdere reis na Oos-Indië te kon hê.  Later het die skape so wild geword dat die matrose hulle nie meer in die hande kon kry nie.  Hulle het toe honde gebruik om die skape vir hulle te vang.  Daar het van die honde op die eiland agtergebly.  Hulle het ook wild geword en van die wilde skape geleef, totdat daar nie meer een op die eiland oor was nie.

 

Stranding van die Haarlem
Maar toe strand daar op 25 Maart 1647 ‘n retoerskip, De Nieuwe Haerlem, in Tafelbaai.  Die bemanning en die grootste deel van sy vrag is gered.  Veertig man is deur ‘n retoervloot na Holland geneem.  Daar het 60 man agtergebly om die gestrande skip se voorraad te versorg.  Onderwyl hulle vir ‘n skip uit die Ooste gewag het wat hulle ook huis toe moes neem, het hulle in Tafelbaai ‘n fordjie gebou, wat hulle Zandenburgh genoem het.

 

Koms van Jan van Riebeeck
Byna ‘n jaar later het daar ‘n retoerskip vanaf Batavia hulle opgelaai en na Holland geneem.  Twee van hulle, Leendert Janzsen en Matthys Proot, het by die Here 17 aanbeveel om aan die Kaap in Tafelbaai ‘n verversingspos of halfwegstasie te stig.  Die Here 17 het dit besluit, maar eers vier jaar later vir Jan van Riebeeck na die Kaap gestuur om ‘n verversingspos op te rig wat aan verbyvarende skepe vars water en voedsel moes voorsien.
Jan van Riebeeck het op 14  Desember 1651 met sy vrou, Maria de la Queillerie en hulle seuntjie Lambertus, te Texel aan boord gegaan van die Drommedaris.  Die skip het ‘n dag voor Kersfees sy reis begin, vergesel van die twee skepe, die Reyger  en die Goede Hoop.  Na ‘n voorspoedige reis het die skepe op Saterdag, 6 April 1652 in Tafelbaai voor anker gelê.  Van Riebeeck het die volgende dag self geland om ‘n geskikte plek aan te wys waar hulle ‘n fort moes bou.

 

Probleme en harde werk
Daar was aan die begin maar baie probleme wat opgelos moes word.  Hy het in sy eerste brief aan die Kompanjie se regering in Batavia geskryf dat daar aan die Kaap genoeg werk vir duisend mense was.  Hy het een keer net 50 man gehad om die werk te doen.  Hy skryf dat hy sy hande vol gehad het om met slegs 90 swacke oncundige mense die mas op te kom.  Hy het gekla dat hy almal van raad moes bedien en dat hy as boumeester, grawer, tuinier, boer, timmerman, messelaar en smid sy hande vol gehad het om almal aan die gang te hou.
Die tekort aan arbeiders, saam met ‘n swaar droogte, en dan weer te veel reën en haelbuie, het Van Riebeeck in sy dagboek laat skryf dat hulle besig was om ‘n arme ellendige lewe te lei.  Hy wou liewer na Indië gaan as om in die Kaap te bly.  Hy het vir die Here 17 gevra dat hulle sy salaris van 75 gulden moet verhoog na 150 gulden.  Hulle het nie daarvoor kans gesien nie.  Hulle het hom die titel van Kommandeur aangebied en 90 gulden per maand, met die belofte dat hulle hierdie salaris moontlik in die toekoms kan verhoog, omdat hy sulke goeie werk vir die Kompanjie doen!  Toe Van Riebeeck na die Kaap gekom het, is hy aangestel as koopman en “opperhoofd” van die Kaap.  Hy wou nie graag “koopman” genoem word nie en het die titel van Kommandeur verwelkom.
Die pasgestigte verversingstasie kon natuurlik nie aan die begin van sy bestaan in sy eie behoeftes voorsien nie.  Die mense wat so hard gewerk het aan die fort, moes van voedsel voorsien word.  Verbyvarende skepe van Batavia af, moes dit vir hulle bring.  In 1654 het ‘n retoervloot verbygeseil sonder om daar anker te gooi.  Die Kom-mandeur het toe ‘n klein jag, die Tulp na St. Helena gestuur en die Rooi Vos na Madagaskar om vir hulle voedsel te gaan haal.
Van Riebeeck wou graag die fort klaarkry, want dit moes ook as voorlopige huisvesting vir die manne dien.  Hy het die matrose van besoekende skepe gebruik om met die bouery te help, maar die Here 17 het hom belet om dit te doen.  Hulle het vir hom laat weet dat die arme be-soekende matrose moet rus, want die Kaap is nie gestig om gesonde mense siek te maak nie, maar om siekes gesond te maak!

 

Die eerste Vryburgers
Van Riebeeck het daarna gestrewe om die verversingstasie selfonderhoudend te maak.  Daar moes vleis, graan, vrugte en groente geproduseer word vir  die  verbyvarende skepe.  Die Here 17 het in 1657 aan hom toestemming gegee om klein stukkies grond aan ‘n paar van sy amptenare te gee, waarop hulle moes boer.  Hulle het dan “Vryburgers” geword, wat nie meer in diens van die Kompanjie was nie.  Hulle moes die produkte wat hulle gekweek het aan die Kompanjie en sy skepe verkoop.
Alhoewel die Here 17 dit nie bedoel het nie, het hulle met hierdie maatreël van die halfwegstasie aan die Kaap ‘n permanente kolonie gemaak.  ‘n Groep van vyf mans het ‘n stuk land aan die oorkant van die Amstelrivier (Liesbeek) gekry, sowat drie kilometer van die fort af.  Hulle leier was Harmen Remajenne.  Hulle nedersetting is Harmenskolonie genoem.  Hulle is aangesê om graan te produseer.  ‘n Groep van vier mans wat ook vrygestel is, het grond gekry wat Rondebosch genoem is.  Hulle leier was Steven Jansz en hulle nedersetting het bekend gestaan as Stevenskolonie.  Gedurende die selfde jaar het nog meer Vryburgers stukkies grond van 13½ morg langs die Liesbeekrivier gekry, om selfstandig daarop te probeer boer.
Hierdie eerste Vryburgers het ‘n harde stryd gevoer om die mas op te kom.  Hulle het niks van boerdery geweet nie.  Toe hulle uiteindelik daarin slaag om ‘n bie-tjie koring te produseer, het die Kompanjie nog nie eers die prys vasgestel wat hulle daarvoor wou betaal nie.  Toe dit later gedoen is, was die prys só laag dat dit nie eers die Vryburgers se onkoste gedek het nie.  Hulle het ‘n petisie opgetrek en aan Van Riebeeck oorhandig.  Hy het hulle daaroor geskrobbeer en ‘n sedepreek gelewer.  Hy het vir hulle vertel hoe gelukkig hulle is om Vryburgers aan die Kaap te wees.

 

Probleme met die Hottentotte
Hulle het baie gesukkel sonder arbeiders.  Hulle kon nie die Hottentotte gebruik nie, want hulle was lui en nie aan werk gewoond nie.  Daar het ‘n bende van hulle in die omgewing van die fort rondgedwaal.  Op ‘n dag kom hulle onder aanvoering van Herrie, hulle leier, by die fort en eis al die grond op wat die Blankes reeds beset het, as hulle eiendom.  Hulle het as rondlopers nooit enige grond besit nie en het as nomade maar net met ‘n bietjie vee rondgetrek.
Die Here 17 het vir Van Riebeeck opdrag gegee om tog ten alle koste vrede met hierdie ou “natuurvolkie” te handhaaf.  Daarom het hy hulle tydelik tevrede gestel met allerlei geskenkies.  Hulle het toe onder die indruk gekom dat die Blankes vir hulle bang is.
Aan die einde van die eerste jaar het Van Riebeeck alreeds 100 beeste en 350 skape gehad en is daar ge-durende die volgende jaar genoeg groente gekweek, sodat hulle in 1653 ‘n retoervloot van 8 skepe met vleis en groente kon voorsien.  Maar Herrie en sy maters het op Sondag 9 Oktober 1653 hulle kans waargeneem toe Van Riebeeck hulle almal vir ‘n erediens in die fort bymekaar was.  Al hulle vee is gesteel.  Die Hottentotte het die veewagter, Dawid Jansz, wreed vermoor.  Daar het net  een os, een melkkoei, 4 kalwers en 60 skape oorgebly. Herrie is nie gestraf nie  Hy het twee jaar lank weggekruip en toe ewe vroom kom lieg dat hulle heeltemal onskuldig was aan wat gebeur het.
Die Vryburgers het toestemming gehad om met die Hottentotte handel te dryf, maar dit wou ook nie vlot nie.  Omdat die boosdoeners nooit gestraf is nie, het die Vryburgers aanhoudend onder hulle deurgeloop.  Hulle het naderhand nie meer genoeg osse gehad om te ploeg nie.  Hulle kon nie die rug draai sonder dat alles gesteel word, buiten die swaar ploeë wat hulle nie kon wegdra nie.
Op 19 Mei word Simon In’t Velt deur die Hottentotte aangeval en vermoor. Hulle steel 70 skape en 30 beeste.  Alhoewel die Hottentotte agternagesit is, is geen enkele bees teruggevind nie.  Na Van Riebeeck se tyd het hulle in 1672 weer ‘n opstal afgebrand, vee geroof en twee mans en een vrou vermoor . Kort daarna het hulle 8 burgers wat op ‘n gesamentlike jagtog was, gruwelik om die lewe gebring.  Daarna is nog drie Vryburgers naby Saldan-habaai vermoor en ‘n rukkie later nog drie by Breede-rivier.  Al hierdie gruwelikhede het in 1676 tot ‘n oorlog teen die Hottentotte gelei.

 

Invoer van slawe
Omdat die Vryburgers en die amptenare sonder genoeg arbeiders maar baie gesukkel het om hulle werk gedoen te kry, het Van Riebeeck slawe van Batavia af ingevoer.  Die eerste slawe het op 28 Maart en 6 Mei 1658 in die Kaap aangekom.  Daarmee was die arbeids-probleme nog nie opgelos nie, want toe die ploegtyd daar was, het baie van hulle gedros.  Die slawe wat weer gevang is, is aan ‘n paal vasgebind en gegesel.  Daarna is hulle twee-twee met kettings aan mekaar vasgemaak.  Van Riebeeck was baie seker dat die Hottentotte die slawe gehelp het om te vlug.

 

Van Riebeeck verlaat die Kaap
Van Riebeeck het gedurende die tien jaar wat hy kommandeur van die Kaap was, ‘n groot verskeidenheid van vrugtebome en plante uit Holland, asook uit Oos-Indië ingevoer.  Hy het dit in die Kompanjie se tuine en op die stuk grond wat hulle vir hom gegee het, geplant.  Toe hy die Kaap verlaat, kon hy alreeds ‘n paar kersies, twee soet lemoene en ‘n paar ryp appels afpluk.
Hy het die voortsetting van sy stigtingswerk onder die genadige beskerming van die almagtige God, aan sy opvolger, Wagenaar, opgedra.  Daarna het hy en sy vrou op 7 Mei 1662 met die skip Mars na Batavia vertrek.