ONS GESKIEDENIS: Hoofstuk 1

Suid-Afrika word ontdek


Seshonderd jaar gelede was daar nog geen blanke mens in Suid-Afrika nie.  Ons land het toe nog wild en woes gelê .  In die suide van die land, dit is die Kaap, het daar wel primitiewe mense gewoon.  Dit was die Hottentotte  Hulle het veral naby die see rondgeswerf en hulle kos uit die see gehaal.  Hulle is Strandlopers genoem.  Maar baie van hulle het verder in die binneland gewoon en vee aangehou.
Daar was nog ander primitiewe mense wat daar rond-geswerf het.  Dit was die Boesmans.  Hulle was ‘n bietjie kleiner as die Hottentotte en was nie so pikswart nie.  Hulle het met pyl en boog wild gejag en daarvan geleef.

 

Die speseryhandel
Ons voorouers was toe nog in Europa.  Daar het hulle toe nog maar net die lande van Europa self geken.  Hulle het nie geweet wat verder op die aardbol gebeur nie.  Maar mense wat al verder van Europa af oor land gereis het, het in China en Indië uitgekom.  Hulle het ver-skillende soorte speserye wat daar groei na Europa teruggebring.  Daarna het hulle gereeld daarheen gegaan om speserye te gaan haal.  Hulle het dit dan in Europa duur verkoop.

 

Die soek na ‘n seeweg na Indië
Dit was moeilik en gevaarlik om die speserye in Indië te gaan haal.  Hulle is baie keer deur struikrowers langs die pad aangeval.  Maar ‘n paar lande in Europa, soos Engeland en Holland, wou baie graag van die speserye hê.  Die ou klein landjie, Portugal, het toe baie ernstig begin kyk of hulle nie met hulle skepe op die see na Indië en die spesery-eilande kon ry nie.  Hulle moes dan rondom die suidpunt van Afrika vaar.  Hulle het nie geweet hoe groot Afrika is nie.
Die Portugese prins, Hendrik die Seevaarder, het die matrose aangemoedig om langs Afrika af, al hoe verder suidwaarts te ry.  In die jaar 1419 n.C. het hulle tot by Madeira gekom.  ‘n Paar jaar later vorder hulle tot by die Asore.  In 1434 n.C. vaar hulle om die Kaap Bojador.  Twaalf jaar later kom hulle tot by die mond van die Senegalrivier.  Daarna bereik hulle ‘n mooi groen streek en noem dit Cabo Verde.  Een van die ekspedisies wat nog verder as die Kaap Verdiese eilande gevaar het, was baie bly toe hulle by die Slawekus en Nigermond verbygaan.  Hulle het gedink hulle was toe al om die suidpunt van Afrika.  Maar ‘n end verder het hulle gewaar dat die kuslyn maar weer suidwaarts loop.  ‘n Ekspedisie wat in  1471 plaasgevind het, het die ewenaar oorgesteek en dertien jaar later het Diego Cam in 1484 tot by die mond van die Kongorivier gery.

 

Bartholomeus se reis
Die Portugese het nie moedeloos geword nie.  Hulle koning, Johan II, het aan ‘n jong edelman, Bartholomeus Diaz, opdrag gegee om te probeer om om die suidpunt van Afrika te vaar.  Diaz het toe in Augustus 1487 n.C. met twee klein skepies van 50 ton elk en ‘n voorradeskip die lang seereis begin.  Hy het maar naby aan die kus gehou.  So ver as wat hulle gegaan het, het hulle aan die kape en die baaie Portugese name gegee.  (‘n Kaap is ‘n berg of ‘n stuk land wat spits in die see inloop en ‘n baai is ‘n inham in die see).  Uiteindelik het hulle tot by Angra Pequena (Luderitzbucht) gekom.  Diaz het daar ‘n klipkruis geplant.  Op 26 Desember het sy skepe by die plek verbygevaar wat later Elizabethbaai genoem is.  Toe hulle naby St. Helenabaai kom, kon hulle nie meer die land sien nie.  ‘n Storm het hulle skepe suidwaarts gedryf.  Die wind het na ‘n paar dae weer bedaar, sodat hulle die skepe ooswaarts kon stuur om weer by die land uit te kom.  Maar hulle kon geen land kry nie, want hulle was al by Afrika se suidpunt verby.  Daarom het hulle toe reg noord begin vaar, totdat hulle weer die land gekry het naby Visbaai.
Hier het die eerste Blankes in die geskiedenis op Suid-Afrikaanse grond getrap.  Omdat hier geen vars water was om in te neem nie, het hulle verder gevaar tot by die waterryke Mosselbaai.  ‘n Aantal matrose het hier aan wal gegaan.  ‘n Klompie Hottentotte wat daar rondgedwaal het, het hulle gesien en die bosse ingevlug.  ‘n Rukkie later het hulle teruggekeer toe die Portugese besig was om water in te neem en hulle met klippe begin bestook.  Daar was toe ‘n skermutseling en ‘n Hottentot is doodgeskiet.  Dit was die eerste bloed wat gevloei het in die stryd tussen Wit en Swart in Suid-Afrika.
Diaz het verder geseil tot by Algoabaai. Hier het die matrose by hom aangedring om om te draai en na Portugal terug te keer.  Hulle was moeg geveg teen die see en die storms.  Baie van hulle het aan skeurbuik gely.  Hierdie siekte het hulle op die skepe gekry wanneer hulle nie meer vars vleis en vars groente gehad het om te eet nie.  Hulle was gewillig om nog drie dae lank verder ooswaarts te seil, waarna hulle by die mond van die Infante-rivier aangekom het.  Waarskynlik was dit die Keiskamma.  Hier het Diaz baie teen sy sin  omgedraai en die lang seepad terug huis toe maar weer aangepak  Maar hy het geweet dat hy die seeweg na Indië ontdek het.

 

Diaz ontdek die Kaap
Op sy terugreis het Diaz in April 1488 by ‘n Kaap verbygegaan wat hy Cabo Tormentoso (Stormkaap) genoem het, maar later die naam verander het na Cabo de Boa Esperanca (Kaap van Goeie Hoop).  Dit is na hierdie Kaap, naby die suidpunt van Afrika, waarheen die Hollander, Jan van Riebeeck, 164 jaar later gekom het om hier ‘n verversingspos te kom stig.
Bartholomeus Diaz en sy matrose was op hulle lang en gevaarlike terugreis maar baie teëspoedig.  Hulle voorraadskip het êrens in die see verdwyn . Hulle het met die ander twee skepe in Desember 1488 weer in Portugal aangekom.  Hulle was 1½ jaar lank weg.  Diaz was tevrede.  Alhoewel hy nie tot by Indië gery het nie, het hy die seeweg daarheen ontdek.  Maar die Portugese het eers weer na byna tien jaar so ver gekom om die eerste keer met die seeweg wat Diaz ontdek het, na Indië te vaar.

 

Vasco da Gama se reis
Koning Manuel I het op 8 Julie 1497 vir Vasco da Gama daarheen uitgestuur.  Hy het met 4 skepe en 170 matrose sy tog begin.  Bartholomeus Diaz het ‘n endjie saamgery om vir Da Gama “op die regte koers te bring.”
Nadat hulle by die Kanariese en Kaap Verdiese Eilande verby is, het hulle nie al langs die kus verder gevaar nie.  Hulle wou die lastige storms en seestrome wat naby die land gewoed het, vermy.  Hulle het sommer deur die Atlantiese Oseaan koers gehou na die suidpunt van Afrika.  Dit is ons Kaap.  Na 96 eentonige dae op die groot water, het hulle weer land gesien.  Op 4 November vaar hulle St. Helenabaai binne.  Hulle het ‘n week daar vertoef om die skepe se seile te herstel en brandhout en water in te neem.  Hulle het hier ook met ‘n klompie Strandloper-Hottentotte gebots en Da Gama en ‘n paar van sy manskappe  is gewond.
Op 22 November het die vloot om die Kaap van Goeie Hoop gevaar en drie dae later in Sao Bras (Mosselbaai) aangekom.  Hulle het die voorradeskip opgebreek en sy lading op die ander skepe gelaai.  Hulle het hier ook Strandloper-Hottentotte raakgeloop en by hulle ‘n bees geruil vir goedjies soos krale en stukkies koperdraad.
Toe Da Gama hulle begin om water na die skepe te neem, het die Hottentotte skielik vyandig geword.  Hulle het geglo dat die water hulle eiendom is en nie weggeneem mag word nie.  Da Gama het ‘n kruis op die eiland in die baai geplant, maar die Hottentotte het dit bestorm en begin verniel . Daar is ‘n paar skote op hulle gelos wat hulle die land laat invlug het.
Die skepe het hulle vaart voortgesit en aangesukkel teen die storms en teen die warm Agulhasstroom.  Op 25 Desember het hulle ‘n pragtige bosryke kus gesien. Waarskynlik was dit Pondoland.  Da Gama het dit  Terra de Natal  genoem, omdat hulle op Kersdag daar verbyge-vaar het.
Hulle is verder langs die kus op tot by die mond van ‘n riviertjie wat hulle Rio do Cobre (Koperrivier) genoem het.  Hulle het daar Bantoes aangetref wat allerhande kopervoorwerpe by hulle gehad het.
Da Gama het op 25 Februarie 1498 by Kilimane (Quelimane) aangekom.  Hulle het daar Mohammedane gekry, wat ‘n gemengde ras was van Bantoes, Arabiere en Perse.  Hulle het met die Ooste handelgedryf.  Toe hulle hoor dat die Portugese met Indië wil handeldryf, was hulle dadelik vyandiggesind.
Da Gama het 32 dae by Kilimane vertoef.  Hy het sy gehawende skepe weer opgeknap en die reis voortgesit  tot by Mosambiek . Na ‘n baie lang tog het hulle Mombasa en later Malindi bereik.  Hier het hy ‘n stuurman gekry wat gewillig was om hom oor die Arabiese see na Indië te lei.  Daar het hy met die Hindoekoning van Kalikoet ‘n handelsooreenkoms gesluit . Hy en sy matrose het die terugreis na Portugal in Augustus 1498 begin en in September 1499 weer na twee jaar in hulle vaderland aangekom.  Hy het net met twee van die vier skepe teruggekom en met een derde van die bemanning.  Die ander is dood aan skeurbuik en ander oorsake gedurende die lang  seereis.

 

Die Portugese dryf handel met die Ooste
Vasco da Gama het groot eer ontvang vir wat hy vir sy land gedoen het.  Hy het ‘n edelman en ‘n admiraal geword en is aangestel as hoof van die hele Portugese vloot.
Daarna het die Portugese se handel met die Ooste begin.  Hulle skepe het speserye en ander handelsware in Indië gaan haal en na Lissabon gebring, waar dit aan die ander nasies van Europa verkoop is.  Die Portugese het nie baie gehou van die Kaap van Goeie Hoop nie en ook nie van die Strandloper-Hottentotte wat hulle langs die kus van Suid-Afrika aangetref het nie.  Op een van hulle skepe wat een keer in Tafelbaai geland het, was die eerste onderkoning van Indië, Francisco  d’ Almeida.  Hy en 50 van die matrose is in ‘n geveg met die Hottentotte op die strand doodgeslaan.  Daarom het hulle maar liewer by St. Helenabaai en Mosambiek water en vars voorrade gekry en die Suid-Afrikaanse strande vermy.  Hulle het byna ‘n eeu lank so al om die Kaap na die Ooste gery en die wêreldhandel beheer.