DIE REBELLIE VAN 1914 (2)

Lees reeks by   Die Rebellie van 1914

'n Kort reeks van ses aflewerings oor 'n volk in opstand, 'n verhaal oor verraad en van heldedade tydens die rebellie van 1914.  Ons helde, De la Rey, De Wet, Maritz, Kemp, Beyers en Jopie Fourie, staan hier in skerpe kontras met verlooptes soos Smuts, Botha en diesulkes sonder vaderlandsliefde.

GENL CHRISTIAAN DE WET: STRYDER VIR DIE VRYHEID

deur Jan Pretorius

"By De Wet was daar geen twyfel nie dat dit teen die wet van God is om ’n ander volk se land te roof. Dan haal hy uit die Bybel aan, Deut 27:17: 'Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê.' De Wet het geen ander beswaar gehad teen die inval in DSWA nie as hierdie godsdienstige beswaar. Dit was wat hom in botsing met die regering gebring het...  De Wet het woord gehou. Hy en sy mense sou nie die eerste wees wat broederbloed vergiet nie."

OM KWART VOOR TWAALF in die nag van 4 Augustus 1914 was Brittanje en Duitsland in ’n staat van oorlog.

Genls. Botha en Smuts, behep met hulle eer en trou teenoor Britttanje, draai hulle rug op die volk wat in die Tweede Vryheidsoorlog teen dieselfde Brittanje geveg het vir die eer van en trou teenoor hulle vaderland.

Genl. De la Rey, gedagtig aan die syfer 15 wat Siener van Rensburg "gesien" het, meen dat 15 Augustus 1914 die dag is waarop die vryheid van die Republieke teruggeneem moet word.

Hy belê ’n byeenkoms op Treurfontein, distrik Lichtenburg, waarvandaan met die Vierkleur opgeruk sal word na Pretoria. Genl. Louis Botha sal dan daar uitgeroep word as President van die herstelde Republieke. Op daardie dag sal die volk uiting gee aan hulle ontembare begeerte na hulle vryheid.

De la Rey was vas onder die indruk dat Botha aan die Boere se kant was. Hy het dan ook gesê: "Die regering is reg". De la Rey is egter omgepraat om nie tot sulke uiterstes te gaan nie, en ’n stil vergadering is gehou.

Die Parlement is op 11 September 1914 byeengeroep om die aandeel van die Unie, wat ’n deel was van die Statebond, in die oorlog te bespreek. Botha stel voor dat uit "eer en plig" die Unie krygsoperasies teen DSWA moet onderneem. Namens die opposisie bestry genl. Hertzog die voorstel. Die Unie moet slegs verdedigend optree en nie aanvallend nie. Botha se voorstel word egter aangeneem; ook in die Senaat waar genl. De la Rey buite stemming bly omdat hy nie vir die voorstel kan stem nie maar ook nie teen Botha kan stem nie, van wie hy nog steeds glo dat hy nie sover sal gaan nie.

Genl. Beyers bedank op 15 September as hoof van die Unie Verdedigingsmag omdat hy glo die Verdedigingsmag net gebruik moet word om die Unie teen aanvalle te verdedig.

Genl. De Wet ontvang die volgende dag op sy plaas berig dat De la Rey doodgeskiet is deur konstabel Charles Drury terwyl De la Rey saam met Beyers op pad was na Potchefstroom om gebeure met genl. Jan Kemp te bespreek. De Wet vertrek onmiddellik na Pretoria waar hy die besonderhede van die dood van De la Rey verneem, en ook die besluit van die Parlement op 11 September.

Die teraardebestelling van De la Rey word gereël vir 20 September ná ’n roudiens in die NG-Kerk, Pretoria. Die diens word gelei deur ds. H S Bosman wat in sy preek waarsku teen rebellie. De Wet kan homself nie keer nie en laat ’n protesterende geluid hoor "soos die grom van ’n nukkerige leeu". By die begrafnis self het De Wet eenkant gestaan by diegene wat onmiddellik tot aksie wou oorgaan. Hy lewer egter ook ’n huldigingstoespraak waarin hy o.a. sê dat hy homself namens die Vrystaat afgevaardig het ná die begrafnis. Hy verseker die familie en die volk dat die Vrystaat ook treur oor die Leeu van Wes-Transvaal.

Op die 21e September word die eerste van ’n reeks protesvergaderings in Transvaal en Vrystaat op Lichtenburg gehou. De Wet sê in sy toespraak dat die Botha-regering van die Duitse volk die vyand van die Afrikanervolk gemaak het. Die wil van die volk moet nou uitgespreek word. De Wet maan egter dat daar bedaard en konstitusioneel opgetree moet word.

Dit is belangrik om te let dat op hierdie vergadering en op vele protesvergaderings daarna, daar geen sprake van rebellie was nie.

Op die vergadering word o.a. besluit dat die regering versoek word om nie oor te gaan tot krygsoperasies teen DSWA nie. ’n Komitee bestaande uit De Wet, Beyers en genl. Liebenberg word aangewys om die besluit aan die regering oor te dra.

Die volgende protesvergadering was op die 23e September te Koppies in die Vrystaat. Die Polisie was ook teenwoordig en word deur De Wet genooi om alles af te skryf wat gesê word. Die magistraat van Koppies lees ’n telegram voor aan die vergadering waarin die regering verklaar dat slegs vrywilligers in die veldtog teen DSWA gebruik sal word.

Die ironie speel toe sy rol. Op hierdie selfde dag, 23 September ontvang genl. Manie Maritz, wat bevel gevoer het oor ’n kommando van die Verdedigingsmag in Noordwes-Kaapland, ’n telegram van genl. Smuts, die Minister van Verdediging. Smuts vra Maritz om "u sterk mag" van Kakamas na Schuitdrif en die mag op Upington na Kakamas te verskuif - albei plekke op die grens van DSWA.

Vir De Wet was die telegram geensins gerusstellend nie. ’n Deel van die burgermag was reeds op aktiewe diens teen DSWA. As die vrywilligers wat Botha wil gebruik, deur die Duitsers teruggeslaan word, sal die regering in elk geval troepe opkommandeer.

Verskeie sprekers wys daarop dat die Unie geen belang by ’n oorlog met Duitsland het nie, en dat ’n aanvallende oorlog glad nie strook met die sedes en tradisies van die Afrikanervolk nie.

Vir De Wet was daar egter ’n aspek van die saak wat nog veel dieper gegaan het. Die inval in ’n land met wie ons niks te maak het nie, is ’n goddelose daad. By De Wet was daar geen twyfel nie dat dit teen die wet van God is om ’n ander volk se land te roof. Dan haal hy uit die Bybel aan, (Deut 27:17) "Vervloek zij die zijns naasten landpalen verrukt!" (Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê.)

De Wet het geen ander beswaar gehad teen die inval in DSWA nie as hierdie godsdienstige beswaar. Dit was wat hom in botsing met die regering gebring het. En dit is presies dieselfde beswaar wat Beyers gehad het toe hy gesê het: "Die saak is nou eenmaal van die Here".

Op die protesvergadering te Potchefstroom op 2 Oktober het De Wet nie net teenstand teen sy standpunt ondervind nie. Hy is op die mees blatante wyse verhoed om te praat. Vrot eiers en dooie katte word na hom geslinger op die verhoog. Maar met sy harde stem kon hy hom tog bokant die rumoer hoorbaar maak.

Hy herhaal dat hy van mening is dat De la Rey nie per ongeluk doodgeskiet is nie, en dat as dit ’n ongeluk was, dit nalatigheid in die ergste graad was. Toe hy uit die gehoor uitgejou word sê hy: "Gaan raas in julle Johannesburg!"

Hy stel sy standpunt dat dit geen verskil maak of vrywilligers of opgekommandeerde troepe gebruik gaan word nie. Dit bly nog ’n  skandelike en goddelose daad. Die grondwet wat Brittanje aan die Unie gegee het bepaal dat ons ons land mag verdedig maar nie dat ons landsdiefstal mag pleeg nie.

Verdere vergaderings is deur De Wet gehou op Klerksdorp, Vrede, Heilbron en ander plekke. Op elke vergadering is die Lichtenburgse besluite bekragtig.

Saam met genl. Kemp besluit De Wet om ’n tweede vergadering te Koppies te hou op 13 Oktober 1914 om te bespreek wat verder gedoen moet word.

Tot op hierdie stadium was daar nog nie sprake van om die gesag van die regering uit te daag deur rebellie te pleeg nie. Hulle wou niks meer doen nie as om uitdrukking te gee aan hulle afkeur teen die inval in Duitse gebied en om die Botha-regering te versoek om nie daarmee voort te gaan nie. Maar voor die 13de Oktober se vergadering kon plaasvind het daar dinge gebeur wat alle verdere protesvergaderings ’n ander karakter sou gee.

Op 11 Oktober lig Botha vir pres. Steyn in dat Maritz verraad gepleeg het deur met ’n meerderheid van sy offisiere en manskappe by die vyand aan te sluit. Dit - nadat Smuts op 13 September vir Maritz beveel het om die magte in Noordwes-Kaapland op die Duitse grens saam te trek. Nou sê Botha dat Maritz na die Duitsers oorgeloop het en dreig om die Kaap-kolonie vanuit Duitse gebied in te val, tensy De Wet, Hertzog, Beyers, Kemp en Muller na hom toe kom en aan hom ander instruksies gee. Hierdeur probeer Botha by Steyn die indruk wek dat hierdie vyf manne deel het aan die "komplot" van Maritz teen die regering.

Op 12 Oktober kondig die regering krygswet af in stryd met sy beloftes dat net van vrywilligers gebruik gemaak sal word. Slegs twee weke vroeër is die vergadering op Koppies (23/9) per telegram laat weet: slegs vrywilligers.

Krygswet vervang alle ander landswette. Daardeur is dit ook vir die volk onmoontlik gemaak om protesvergaderings te hou, dit waartoe hulle ‘n demokratiese reg gehad het

Op pad na die Koppiesvergadering van 13 Oktober verneem die manne van die afkondiging van krygswet en van Smuts se bevel aan Maritz op 23 September. Op die vergadering sê De Wet dat die regering dit vir die volk onmoontlik gemaak het om op konstitusionele weg te protesteer. Hy is van mening dat Maritz gehelp moet word, nie om DSWA in te val nie, maar om hom by te staan in die gevolge van sy weiering om juis dit te doen.

Die ander teenwoordiges was dit nie met hom eens nie. 'n Afvaardiging van nege man word aangewys om nogeens na Botha te gaan. Omdat De Wet meen dat die tyd van onderhandelinge verby is, en die tyd vir aksie aangebreek het, weier hy om ‘n lid van die afvaardiging te wees.

‘n Volgende vergadering word belê vir 22 Oktober op die plaas Middellyn, distrik Koppies.

Ná die vergadering spreek De Wet ‘n groot aantal burgers toe en sê vir hulle dat daar ‘n donker wolk oor Suid-Afrika hang maar dat die wolk dalk binnekort weggeneem sal word en die volle lig herstel word.

Die deputasie wat op 13 Oktober aangewys is, beleef die volgende dag ‘n stormagtige samespreking met Botha wat die rebelle met “hulle verdiende loon” dreig.

Sestien voormanne van die Transvaal en sestien van die Vrystaat was teenwoordig op die vergadering van 22 Oktober. Omdat daar gerugte was dat De Wet gearresteer sou word, het sestig gewapende burgers De Wet op Koppiesstasie ingewag.

Op die vergadering word gerapporteer dat Botha die deputasie op 14 Oktober huistoe gestuur het met die vermaning dat die proteste gestaak moet word en dat hy eerder gehelp moet word om die parlement se besluit uit te voer.

De Wet was onder die indruk dat Maritz by die regering in die moeilikheid is omdat hy weier om DSWA in te val. Daarom herhaal hy sy standpunt dat hulle Maritz moet gaan help. Daar moet handelend opgetree word. Hulle moet optrek na Maritz om te kyk wat die posisie is. As Maritz wel oorgeloop het na die Duitsers toe, wil De Wet niks met hom te doen hê nie. Hy is nie Engelsman of Duitser nie maar Afrikaner wat net die heil van sy volk soek.

Komdt F. Wolmerans wys die vergadering daarop dat oproepinstruksies reeds in Transvaal uitgevaardig is en dat die burgers weier om gehoor te gee.

‘n Konsep-resolusie word aanvaar waarvolgens alle verdere maatreëls in die hande gelaat word van Beyers vir Transvaal en De Wet vir die Vrystaat.

De Wet was onder die indruk dat hy nou ‘n gewapende protes moes organiseer en dat opgetrek moes word na Maritz om daarvandaan beter gewapend op te ruk na Pretoria.

Die vergadering het sy verantwoordelikheid afgeskuif op die ses man wat die konsep-resolusie moes opstel en die ses man skuif weer hulle verantwoordelikheid af op genls De Wet en Beyers - twee manne met uiteenlopende opvattings oor wat gedoen moet word: Beyers vir lydelike verset; De Wet vir meer aggressiewe optrede - wat en hoe het hy ook nie geweet nie.

‘n Paar dae later het De Wet en sy manne uit die Vrystaat, onvoorbereid en ongewapen soos hulle was, tot dade oorgegaan wat rebellie was.

De Wet het geglo dat iets daadwerkliks gedoen moet word om die siel van die Afrikanervolk te red.

Genl Botha het deurentyd by pres Steyn aangedring dat Steyn die leiers van die opstand moet probeer oorreed om van hulle rebelse planne af te sien.

Steyn was bereid om dit te doen en De Wet en Beyers was bereid om Steyn te ontmoet mits albei gelyktydig by Steyn kon uitkom. So ‘n ontmoeting kon egter nooit gereël word nie.

So skryf Botha weer op 22 Oktober aan Steyn dat Beyers, De Wet en Kemp hulle klaarmaak vir opstand. Steyn moet asseblief die drie manne na hom roep en hulle op een of ander wyse keer van hulle weg des bederfs.

Tot hiertoe het De Wet hom op geen manier uitgelaat oor die herstel van die onafhanklikheid van die Boere-Republieke nie. Sy protes het slegs ’n godsdienstige karakter gehad. Eers op 28 Oktober, toe hy ’n groot aantal mense op Vrede toegespreek het, het hy vir die eerste keer republikeinse sentimente geuiter.

Sy doel, sê hy, was om deur te trek na Maritz en daarvandaan op te ruk na Pretoria waar die Britse vlag gestryk, die Vierkleur gehys en die onafhanklikheid van die Republieke herstel sal word. Voortaan sou De Wet meer klem plaas op die strewe na die herstel van onafhanklikheid.

Op 29 Oktober vaardig Beyers en De Wet ’n kennisgewing uit waarin duidelik uitgespel word dat "ons nou aanhou protesteer met die wapen in die hand (omdat) die vloek van God ons volk sal tref" as uitvoering gegee word aan die besluit van die Parlement. De Wet het nie persoonlik die kennisgewing onderteken nie, maar Beyers het sy naam daarop aangebring omdat dit opgestel is in die gees van die standpunte wat De Wet ook gedeel het.

De Wet se biograaf, Kestell, noem die Rebellie ’n paradoks in die geskiedenis. Die paar burgers onder De Wet wat wel wapens en ammunisie gehad het, het dit nie gehad om mee te skiet nie. De Wet het hulle dit telkens op die hart gedruk dat hulle, wat so graag wou skiet en so goed kon skiet, nie moes skiet nie. Die rede vir die bevel was dat De Wet oortuig was dat Botha nie sou toelaat dat sy troepe op mede-Afrikaners skiet nie.

Hierdie sentiment het De Wet met De la Rey gedeel. Botha het reeds immers by Vereeniging ’n "verbond" met hulle twee gemaak dat die onafhanklikheid van die Republieke teruggevat sou word by die eerste die beste geleentheid.

Dit was dan ook die regeringstroepe onder bevel van kmdt. F R (Frikkie) Cronje wat op Sondag 8 November eerste geskiet het op De Wet se kommando by Sandrivier, digby Winburg. Charles Meintjies is die eerste burger wat gewond word, terwyl De Wet se seun, Danie in die skermutseling sneuwel. De Wet en sy manne het teruggeskiet en daar was ongevalle aan weerskante.

De Wet het woord gehou. Hy en sy mense sou nie die eerste wees wat broederbloed vergiet nie.

De Wet en sy manne agtervolg Cronje se kommando tot in Winburg. Hier speel tonele van plundering van winkels en privaathuise af wat die rebelle nie tot eer strek nie.

Van Winburg af bereik De Wet Mushroom Valley op 11 November. Die eienaar van die plaas verwittig Botha van De Wet se teenwoordigheid. Die volgende dag bereik ’n kommando onder Botha se persoonlike bevel die plaas en laat die rebelle die aftog blaas onder grofgeskut. Tussen 500 en 600 man word deur Botha gevange geneem. Aan regeringskant sneuwel ses man en 22 aan rebellekant.

De Wet en die res van sy kommando het nou vlugtelinge geword.

Vier dae later word van noord en suid losgebrand op De Wet se kommando by Virginia. Die kommando word in twee gesny en De Wet vlug met ’n deel weswaarts.

De Wet besef nou dat die rebellie geen kans op sukses het nie. Hy gelas sy manne om hulle aan die regeringstroepe oor te gee. Met 25 man probeer hy verder trek na Maritz. Nadat hy op 21 November by Boshoff deur die Vaalrivier is, was daar nog net ses man by hom. Hulle was: Harm Oost; Mentz, sy skoonseun; Spies; Koos van Coller; Wessel Potgieter en Gert Muller.

Op 25 November trek De Wet by Devon-halte, 29 km noord van Vryburg oor die spoor. Vyf dae later word De Wet tot oorgawe gedwing op die plaas Waterbury deur regeringstroepe onder bevel van kmdt. Jorrie Jordaan.

"Goddank, ek is nie deur ’n Engelsman gevang nie", was De Wet se kommentaar.

Hy is aanvanklik gevange gehou in die Johannesburgse fort en meer as ses maande later, op 9 Junie 1915 voor ’n spesiale hof in Bloemfontein bestaande uit regters Lange, Hutton en Searle van hoogverraad aangekla. Hy word op 15 Junie 1915 skuldig bevind en gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf en £2000 boete.

In Desember 1915 is hy vrygelaat.