DIE REBELLIE VAN 1914 (3)

Lees reeks by   Die Rebellie van 1914

'n Kort reeks van ses aflewerings oor 'n volk in opstand, 'n verhaal oor verraad en van heldedade tydens die rebellie van 1914.  Ons helde, De la Rey, De Wet, Maritz, Kemp, Beyers en Jopie Fourie, staan hier in skerpe kontras met verlooptes soos Smuts, Botha en diesulkes sonder vaderlandsliefde.

GENL MANIE MARTIZ, DIE REBEL VAN DIE REBELLIE

deur Kays Smit

SALOMON GERHARDUS MARITZ, vir sy volk en vaderland sommer Manie Maritz, is gebore en getoë in die Noordwes Kaapse dorp Kimberley. Hy is ’n direkte afstammeling van die Trekkerleier, Gerrit Maritz.

Maritz was van sy jongdae nie ’n onderhandelaar nie, maar ’n beginselvaste Afrikaner. Hy was ’n rebel in die ware sin van die woord. Hy kon geen swakheid in die mens, veral sy eie mense, verdra nie. Daarom het hy gerebelleer sodra dinge nie reg vir sy volk en vaderland geloop het nie.

Maritz het na Johannesburg verhuis waar hy by die ZARP’s (die Polisie) aangesluit het. In hierdie hoedanigheid sluit hy by die Boeremagte aan met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog. Op 24-jarige leeftyd word hy deur genl. Smuts as generaal aangestel. Uiteindelik keer hy terug na die Noordweste waar hy groot naam maak. Hy was ook betrokke by die invalle in Wes- Kaapland onder Smuts. Sy dapperheid en deursettingsvermoë het groot ontsag gewek by manskap en vyand.

Toe Botha en Smuts in 1902 met die vyand begin onderhandel het, het Maritz hom hierteen verset. Hy het volgehou dat die land die Afrikanervolk se eiendom is. Daarom het hy nooit die wapen neergelê nie. Hy het eerder met van sy manne na DSWA uitgewyk. Later het hy tog na vele omswerwinge na Transvaal teruggekeer en het hy by die Weermag aangesluit.

Toe Smuts in 1914 sy planne vir die inval in Duitswes bekend maak, het Maritz geen kommentaar gelewer nie. Hy was op daardie stadium in Upington in bevel van die troepe aldaar en het ondubbelsinnig te kenne gegee dat hy nie die gebied sou inval nie. Hy sou selfs sy reg met die wapen verdedig.

In hierdie dae het ’n interessante politieke verskynsel ook in hierdie geweste sy verskyning gemaak. Die onafhanklikheidsbeweging is heeltemal ondergronds gehou. Die Noordwes Kolonie was SAP-gebied.

Hertzogisme het hier nog nie deurgedring nie. ’n Mens kon hoe ’n getroue SAP gewees het, maar tog het die Maritz-groep gestaan om enige oomblik weer vir onafhanklikheid van die vaderland te veg. Partypolitiek en die strewe na volksonafhanklikheid het in hierdie tyd nie saamgeloop nie.

Toe gebeur die ding waarop Maritz gewag en gehoop het. Brittanje en Duitsland raak betrokke in die Eerste Wêreldoorlog. Smuts steun die Britte, en Maritz is ’n sterk ondersteuner van Duitsland.

Op 23 Augustus 1914 vind die ongelukkige insident plaas wat bekend gestaan het as die Liebenberg-gebeurtenis. Nege Boere, meeste van die Liebenbergfamilie, steek die Duitswes-grens oor met hulle beeste. Die Duitswes regering het ’n verbod gehad op die verskuiwing van vee na die Unie. In die omgewing was ’n paar Duitse polisiemanne wat die Boere gewaarsku het teen hierdie stap. Sonder rede het die Boere op hulle geskiet en ’n sersant en ’n konstabel is dood. Die Duitsers het geen skote geskiet nie. Toe Maritz en Joubertjie daar aankom vir die ondersoek, want dit is as ’n moord beskou, was Maritz woedend. Hy het dadelik verskoning by die Duitsers gemaak namens die Unie-regering. Verder het hy ook ’n skriftelike verslag ingedien by die Kommandant-generaal. Genl. Beyers het in sy bedankingsbrief op 15 September na hierdie geval verwys. Die Unie-regering het nooit die verslag bekend gemaak nie. Wat hulle wel gedoen het, was om die feite te verdraai om dit na ’n Duitse inval in die Unie te laat lyk. Hulle het dit gedoen sodat hulle stappe kon neem om burgers op te kommandeer vir ’n verdedigingsoorlog!  Op hierdie manier kon hulle optree in terme van die Verdedigingswet van 1912.

Op 24 Augustus besluit Smuts en sy militêre adviseurs, genls. Duncan, Mackenzie en Lukin, kols. Beves, Skinner en sir William Hoy, algemene bestuurder van die Spoorweë met die oog op die verlenging van die spoorlyn vanaf Prieska, dat die magte in drie invalsmagte verdeel moes word. Maritz se kommando sou as Mag B bekend staan.

Daarvolgens was dit duidelik dat dit nie maar net ’n oefenkamp was nie, maar ’n besliste invalsmag. Die besluit is ook nie dadelik bekend gemaak nie. Die regering het steeds net gepraat van vrywilligers. Die publiek was nie bewus dat Mag B gemobiliseer was nie. Maar tot 19 September was Maritz nog nie amptelik ingelig dat hy DSWA moes inval nie.

Op 23 September kry Maritz die bevel in die vorm van ’n telegram om op te ruk na Schuitdrif en vandaar DSWA in te val. Dit was vir Maritz een van die moeilikste besluite van sy loopbaan. Hy moes saam met brig. Lukin opruk in ’n "March to War" om die Duitse gebied te verower. Verder kry hy ook opdrag om maj. Barney Enslin op te neem as Hoof van Staf. Dit was vir Maritz duidelik dat Enslin gestuur was om op hom te spioeneer. Dit het hy ook reguit aan Enslin gesê met sy aankoms by die Maritz-kommando.

Die volgende dag gee Smuts weer bevel aan Maritz dat hy nie net verdedigend moet optree nie, maar "to repel and drive back all raiding parties and inflict severe punishment on them!"

Smuts het met hierdie opdrag vir Maritz met sy rug teen die muur gehad. Daar was net een antwoord - diensweiering. Rebel soos hy is, laat Maritz hom nie afdreig of dwing nie.

Die destydse Departement van Verdediging se voertaal was slegs Engels. Maritz antwoord Smuts met die volgende telegram in Hollands: "Van Defence Staf. Het schijnt mij belachlik om te seggen, dat ik met een groot macht naar Schuitdrift moet trekken daar u weet dat ik niet eerst alle benodigdheden heb, burgers in kamp uit te rusten. Het is onmogelik klompie burgers wie ik hier heb te verdelen. Grootste gedeelte van hen door uitstel van kampen 1913 hebben nog geen musketry kursus of enkel schot gevuurd. Het is dus ten eerste geheel uit de kwestie te denken met die kinders tegen Duitsers op te trekken. Daar is volgens geruchte te Ukamas alleen over 3,000 Duitsers. Zijn goed bereden en gewapend met grofgeschut en ik niet eerst een kanon heb. Heb slechts drie machine kanonnen gekregen onder twee Engelse luitenanties die mij schijnt schaars hun broer te kunnen vast maken met die klompie kinders onder hen. Zoals u reeds gezegd toen ik laast in Pretoria was, waarscuwde dat die publiek zoude weigeren over grensen te gaan DZWA in te trekken, en indien de Duitsers de Unie intrekken door oorzaak van de regering, zij ook zouden weigeren. Al mijn ojficieren van de Aktiewe Burgermacht zowel als van de Verdedigings Schietverenigingen hebben eenparig besloten te bedanken zodra ik hen order geef over te trekken. Ik werd gezegd door generaal Botha en uzelven, dat dit zou gedaan warden door vrijwilligers, die ook te verstaan is uit uw circulaire telegram 11/83 Sept. 21. Die verzekering kan ik u ook geven dat indien de Duitsers intrekken door oorzaak van de regering en de vrijwilligers hun niet kan terug slagen publiek eenparig zullen weieren een schot te schieten. De beste ik aan de regering onder omstandigheden kan aanraden is om hunne zaken rijpelik te oorwegen in het stop DZWA te nemen. Ik zed mijn best doen u te ondersteunen aan deze zijde van de grens doch ik kan mijn macht niet verdelen maar zal dadelik optrekken zoveel als behoorlik uitgerust in de richting van Ukamas voor beschermings doeleinde. Ik moet u er nogmaals op wijzen dat officier en publiek nog altoos onder die indruk waren dat dit slechts een vredesoefeningkamp was. Verder moet ik aanhalen, dat mijn positie zeer moeilik is indien er verder plannen bestaan dat ik DZWA onder die toestand moet aanvalle zou ik zien dat mijn bedanking worden aangenomen."

Wat het Jan Smuts gedoen na hy die telegram ontvang het? Die bedanking van Maritz aanvaar en die vuur so vinnig moontlik doodslaan? Nee, hy kon nie, want hy, Jan Smuts was nie ’n Afrikanernasionalis nie. Hy en sy regering was toe lank reeds vasgeketting aan die Britse imperiale veroweringspolitiek. Intussen het hy ook nog die probleem gehad van Beyers se bedanking en die feit dat hy nie vir Beyers kan vastrap nie. Smuts kon nie toelaat dat Maritz ook met ’n kat-en-muis speletjie begin nie.

Smuts stuur toe ’n telegram aan Maritz: "Ek verlang om u dadelik in Pretoria te sien. Dra jou bevel oor aan Enslin." Verder gee hy die polisie opdrag om Maritz dop te hou vanaf Prieska tot in Pretoria. Die polisie moes hom laat weet sodra Maritz vertrek sodat hy, Smuts, krygswet. kan aankondig.

Maritz was nie vemiet polisieman en speurder nie. Hy antwoord kort en bondig: "Kan nie oorkom Pretoria toe nie, en kan ook nie my bevel oorhandig nie."

Smuts ruk toe met sy lojale magte onder bevel van genl. Coen Brits, kmdt Ben Bouwer en kol. Wylie met ’n duisend Engelse troepe op om vir Maritz te arresteer. Soos Maritz self graag vertel het: "Smuts kan my nie met koue hande kom vat nie."

Elf dae na sy bedanking verskuif Maritz sy magte van Upington na Van Rooisvlei, ongeveer dertig myl nader aan die grens.

Intussen het Andries de Wet en sy broer Piet, met lede van die Boere Vrykorps in DSWA kontak gemaak om met Maritz tot ’n ooreenkoms te kom. Saam met Maritz het Piet Joubert (Joubertjie), Hansie Bergmann en It Hennie Otto die grens oorgesteek om die Duitser Von Zastron, die magistraat van Grootfontein wat optree as die "Beirat" van die Duitse regering, te ontmoet. By Ukamas ontmoet die twee groepe saam met die opperbevelhebber van die Duitsers, Von Heydenbreck. Andries de Wet tree op as tolk, want Maritz was die Duitse taal nog nie heeltemal magtig nie.

Tydens die onderhandeling het twee fasette van Maritz se karakter na vore gekom. Die een was toe die Duitsers gekla het omdat hulle so lank vir hom moes wag. Maritz spring uit sy stoel op en sê in duidelike taal vir die twee Duitsers: "Nou kyk, vir die Engelse gaan ek nie veg nie. As julle my nie gaan steun nie, moet julle my arresteer."

Verder was Maritz baie beslis dat hy geen ooreenkoms met die Duitsers kan of sal teken nie. Hy beskou homself te gering vir so ’n taak. Om ’n besluit te neem en te onderteken namens die volk is die werk vir ’n man soos Beyers, De Wet of Hertzog.

Die ooreenkoms word aangegaan vir die lewering deur die Duitse mag van ses kanonne, vier Krupps en twee Pom-Poms en die bevelvoerder van die battery. Hausding en sy manskappe gaan saam om die Boere op te lei om hierdie skietgoed behoorlik te kan gebruik. Verder bepaal die skriftelike ooreenkoms soos volg:

*          Maritz moet die onafhanklikheid van Suid- Afrika uitroep en Engeland die stryd aansê.

*          Die Goewemeur van DSWA moet alle Suid- Afrikaanse strydmagte wat teen Engeland optree as oorlogvoerende magte erken en hulle in die stryd teen Engeland ondersteun.

*          As Suid-Afrika gedeeltelik of in sy geheel onafhanklik is, sal die Goewemeur van DSWA alle middele aanwend om Suid-Afrika so spoedig moontlik deur die Duitse owerheid erken te kry en Suid-Afrika te laat val onder die algemene vredesluiting.

*          Met inagneming van die hulp wat verleen is, sal die nuwe Suid-Afrikaanse staat of state geen beswaar maak as die Duitse Ryk Walvisbaai en die aanliggende eilande in besit neem nie.

*          Die middel van die Oranjerivier sal in die toekoms die grens vorm tussen DSWA en die Kaapkolonie.

*          Die Duitse Ryk sal nie beswaar maak as die Suid-Afrikaanse state Delagoabaai in besit neem nie.

*          As die opstand op ’n mislukking uitloop, sal die opstandelinge wat na DSWA kom, as Duitse onderdane beskou en behandel word.

Die Duitsers en Maritz verklaar hulle tevrede met die dokument. Die kanonne wat die Duitsers verskaf, word gekoop om na die stryd vir onafhanklikheid betaal te word. Die partye kom ooreen dat die datum vir die aanval op 11 Oktober te Upington moet plaasvind. Von Heydenbreck bied ook die Regiment Franke aan om Maritz te help. Hulle het dit ’n regiment genoem, maar dit was oëverblindery. Daar was tussen 400 en 500 man, nie duisende nie. Maritz het egter hierdie aanbod van die hand gewys. Die Duitsers kan nie en mag nie ’n groter aandeel in die stryd om die bevryding van Suid-Afrika hê nie.

Hierdie oorweging was een van die redes waarom die opstand van 1914 -15 uit ’n militêre oogpunt op ’n mislukking uitgeloop het.

Die gevoel teen Smuts en Louis Botha het verder vergroot, omdat volgens die geloof en gevoel van die opstandelinge, hulle nie net teen die onafhanklikheid van hulle volk gewerk het nie, maar ook daardeur hulle eie volk beveg het

Maritz, De Wet, Beyers, Kemp en Wessel Wessels is beskuldig as verraaiers en hulle het weer vir Smuts en Botha as volks- en landsverraaiers beskou. Die geskiedenis sou wel bewys wie reg was.

As gevolg van die Smuts-regering se oneerlikheid en besluitloosheid oor Maritz se bedanking, en of hulle dit moet aanvaar en of hy gearresteer moet word, het ’n kritieke tyd van 36 uur verloop. Die gedraai met hierdie saak het veroorsaak dat besluit is om Maritz se bedanking te bekragtig. Maritz se rebellie het Vrydag 9 Oktober 1914 uitgebreek.

Die volgende dag klim Maritz op ’n kas en roep sy manne nader. Sy persoonlikheid oorheers alles. Deur sy byna kinderlike goedhartigheid en suiwer regverdigheid geniet hy die ondersteuning van almal. Oor sy onverskrokkenheid en beslistheid, wat somtyds in heftige uitbarstings eindig, was almal versigtig vir hom. Voormanne in sy tyd, kamerade uit die Engelse Oorlog, het teen sy volk gedraai en is besig om onheil te bring oor die vaderland. Hulle is selfs besig om roofpolitiek toe te pas teen die Duitsers. Maritz voel sy verantwoordelikheid baie diep. Smuts en Botha is besig om hom in ’n rigting te druk waarin hy nie wil gaan nie, maar nou moet hy vasbyt en voorloop. Sy manne, sy vaderland en sy volk verwag dit van hom. Dan begin hy praat met sy manskappe, sommige eintlik nog seuns wat op die skoolbanke tuishoort.

"Burgers en landgenote," begin hy "hier staan ek. Alleen voor God en u alleen, ja alleen. Ek wil niemand met my laat saamgaan nie. Ek vra niemand om my te steun nie. Hier staan ek vir die welvaart van my land, en wat ek op my geneem het, daarvoor gaan ek veg. En as daar iemand van u is wat meen my saak is verkeerd, of dat ek ’n verraaier is teen my land en teen julle, jaag dan ’n koeël deur my kop, want dan is ek nie meer geregtig om te leef nie. Mag die Almagtige God ’n weerligstraal stuur en my van die aarde af verwyder. As my saak nie reg is nie, laat ek dan tot niet gaan!"

Verder verduidelik hy die verraad van Botha en Smuts en al die goeie werk en moeite wat manne soos Hertzog gedoen het Die burgers roep soos een man geesdriftig uit: "Nee!"

Verder deel hy die manne mee: "Kan ’n mens ooit die 26 000 vroue en kinders vergeet wat in die konsentrasiekampe opgeoffer is? God kan die misdaad nie vergeet of vergeef nie. Al het daar 12 jaar verby gegaan, en al groei die gras reeds op die grafte! Die Engelse koning het geen reg om die naam van God te gebruik nie. Die Engelse politiek is op leuens gebou en Louis Botha wil dit hier op ons land oorplant".

Teen hierdie tyd het sy gemoed hom oorweldig. Hy klim van die kas af. Die rand van  sy hoed, wat aan die linkerkant opgeslaan was, maak hy los en slaan dit aan die regterkant op waar hy dit met die ou republikeinse wapen vasmaak.

Die manne juig hom hartlik toe.

Daardie aand kom die Rebelle se kanonne aan en almal maak gereed vir die slag. Sou Maritz dadelik opgeruk het na Upington, kon hy die dorp verower het Maar hy wag. Hy wil nie bloed laat vloei nie. Nie Afrikanerbloed nie. Hy het nog steeds gehoop of De Wet of Hertzog stuur vir hom ’n bevel, maar hy hoor niks van daardie kant af nie.

Die volgende dag stuur hy ’n brief aan Coen Brits op Upington. Hy verduidelik weer sy redes vir sy optrede en die geval van die wapentuig wat hy aangekoop het van die Duitsers en dat hy beslis nie vir Duitsland veg nie. Verder sluit hy af, dat sou hy nie later as 14:00 die volgende dag iets van Brits hoor nie, dan sou hy aanneem dat dit oorlog is.

Coen Brits antwoord betyds, maar dit is ’n lang, niksseggende tydverspelende klomp snert - net om die regeringsmagte geleentheid te gee om Maritz vas te trek. Brits stuur ook vir J H Conradie, superintendent van die kerklike arbeidskolonie op Kakamas. Alles net om tyd te wen.

In hierdie dae bied Hertzog sy dienste aan om die rebellie te keer. Smuts hou hom doof en sê dat Beyers reeds probeer het en nie daarin kon slaag om Maritz te keer nie. Dit is later as ’n leuen bewys. Eerw. Liebenberg het ook kom help, maar op hierdie manier is twee weke verby en al die pogings om die Rebellie sonder bloedvergieting te probeer keer, was vrugteloos. Selfs manne soos kapt Erasmus, Barney Enslin en Ivan Swemmer van die inligtingsdiens se verslae aan die regering: "Maritz is not at all anxious to fight, and the whole thing appears to be a misunderstanding" is deur Smuts geïgnoreer. Sy antwoord aan sy offisiere was dat die Rebellie slegs met geweld onderdruk kan word.

Maritz het toe ’n "veglyn" tussen Upington en Keimoes getrek. Toe die regeringstroepe die lyn oorsteek, besef hy daar is nie meer keer nie en op 21 Qktober val hy Keimoes aan. Sy hart is egter nie in die stryd nie. Op sy ryperd, Appel word hy onder die knie ’n pynlike koeëlwond toegedien. Al wat hom bekommer, is of sy perd nie iets oorgekom het nie.

Maritz word oor die DSWA grens na ’n hospitaaltjie op Jerusalem geneem waar hy verpleeg word. Die gevegte gaan nou voort onder leiding van kmdt Stadler.

Enkele weke later word Brits op Upington vervang met genl. Jaap van Deventer.

Van die rebelle is intussen suidwaarts die Kolonie in om versterkings te gaan werf vir die stryd. Maar die regeringspropaganda het die mense so laat sukkel dat die manne op sommige plekke nie eers ontvang word nie. Smuts het hulle met infame leuens laat verstaan dat die Duitsers met wie Maritz saamwerk, so wreed is in Europa dat hulle kinders se hande laat afkap.

Van die manne word in die Kolonie gevang en arme Joubertjie swaar gewond. Dit was net kmdt Andries (Koper) Kamfer wat weer by Maritz uitkom na ’n groot gesukkel op Jerusalem waar hy nog in die hospitaal aansterk.

Smuts het al op 12 Qktober vir Jaap van Deventer na Calvinia gestuur om daar troepe bymekaar te maak. Hierdeur het hy vir Maritz voorgespring terwyl hy daar magteloos in die hospitaal gelê het

Die Rebellie het misluk. Van Maritz se manne wat hulleself oorgegee het, word in opdrag van Smuts behandel as "gevange rebelle" en is deur sy troepe soms met uiterste wreedheid behandel. Wat verder skokkend was van hierdie optrede, was dat van hierdie gevange rebelle ook vrouens was.

Teen die einde van November het sowat 600 Transvalers by Maritz aangesluit. Hy het intussen herstel van die skietwond. Maar sy teleurstellings was so groot dat hy vinnig grys geword het en die strydlustigheid was net nie meer dieselfde nie.

Vier maande lank het Maritz se verset geduur. Op 25 Januarie 1915 het hy saam met Kemp oorgegee. Smuts was in die wolke.

Maritz het net soos in 1902 Boer gebly en weer verloor. Maar met trots het hy berus. Sy volk verraai - nooit!

Tydens die onderhandelings het Van Deventer vir Maritz een kant toe gevat en vir 10hom gese: "Man, Jannie is nie vir jou kwaad nie, jy het hom gehelp om sy planne deur te voer. Hy is bereid om jou ou betrekking vir jou terug te gee."

Maritz het egter besluit om maar weer te gaan rondswerf. Vir tien jaar was hy weg. Hy het besef die kans op onafhanklikheid vir sy vaderland en volk is verby. In elk geval sou dit nie gou kan gebeur nie.

GENERAAL JAN KEMP - DIE STRYDER IN DIE WOESTYN – vervolg...