DIE REBELLIE VAN 1914 (5)

Lees reeks by   Die Rebellie van 1914

'n Kort reeks van ses aflewerings oor 'n volk in opstand, 'n verhaal oor verraad en van heldedade tydens die rebellie van 1914.  Ons helde, De la Rey, De Wet, Maritz, Kemp, Beyers en Jopie Fourie, staan hier in skerpe kontras met verlooptes soos Smuts, Botha en diesulkes sonder vaderlandsliefde.

Genl. Christiaan Beyers: Passiewe verset

Dr. Pieter Moller

Christiaan Frederik Beyers het ongetwyfeld oor uitstaande leierseienskappe en militêre vaardighede beskik soos dan ook bewys word deur die feit dat hy tydens die Tweede Vryheidsoorlog in Transvaal gevorder het van ’n gewone burger tot die rang van Assistent Kommandant-generaal. Die bekwaamhede het hierdie Afrikaner in 1912, toe die Unieverdedigingsmag tot stand gekom het, ’n uiters geskikte keuse gemaak om aan die hoof daarvan te staan. Die feit dat daar soveel Engelssprekende offisiere was wat vir hierdie pos oorweeg kon word, maak sy aanstelling ’n nog merkwaardiger prestasie.

Tydens en ná afloop van die Rebellie, wat kortstondig van duur was, is allerweë ook vanuit regeringsoorde, by wyse van onder meer regeringsondersoeke en -verslae oor die Rebellie, probeer bewys dat daar vanuit die staanspoor- dus vóór 15 September 1914 - ’n georganiseerde sameswering bestaan het om die regering omver te werp. Hierdie bewerings is nie waar nie. Die historikus A. E. Walker het dan ook in sy "A History of South Africa" tereg verklaar dat "there is little evidence to suggest that, at the start, there was any cut and dried conspiracy. Had there been, the outcome of the rebellion might have been different, for Beyers and some of the other leaders were fine soldiers."

Beyers se teenkanting teen die voorgenome inval van Unietroepe in Suidwes-Afrika

Die besluit van die Uniekabinet dat Suid-Afrika aktief aan die kant van Brittanje tot die Eerste Wêreldoorlog sou toetree, het nie die Kommandant-generaal van die Unieverdedigingsmag se goedkeuring weggedra nie aangesien hy die mening toegedaan was dat die regering eers die volk by wyse van volksvergaderings daaroor moes geraadpleeg het. Beyers het hierdie mening van hom gegrond op die feit dat dit tradisioneel regeringsbeleid in die voormalige Boererepublieke was om sodanig op te tree voordat in gewigtige sake besluite geneem  is. Wat dit betref, blyk dit ongetwyfeld dat Beyers bly vaskleef het aan ’n tradisionele gebruik wat teen 1914 reeds uitgedien was.

Veel meer relevant was Beyers se teenkanting teen die inval in DSWA op grond van morele en godsdienstige oorwegings. Volgens hom was die beoogde DSWA-veldtog ’n onreg. Soos menige Boer was ook hy van mening dat dit ondenkbaar was om te verwag dat Afrikaners twaalf jaar ná die sluiting van die Vrede van Vereeniging, Engeland moes bystaan in ’n oorlog en dit nadat die Engelse in die Tweede Vryheidsoorlog 26 000 Boervrouens en kinders in die konsentrasiekampe vermoor het. Boonop het die Duitsers die Boere nooit enige kwaad aangedoen nie en het talle Afrikaners hulle na afloop van die oorlog in veral die suide van DSWA gaan vestig. In geval van ’n inval in DSWA sou hierdie mede-Afrikaners soos die vyand behandel moes word en daarvoor het hy nie kans gesien nie. Skriftuurlik (Ou-Testamenties) was dit ook nie veroorloof om jou buurman se grondgebied kwaadwillig te skend (sy landpale te versit, soos dit geskryf staan) nie. Die DSWA-inval het derhalwe teen Beyers se gewete ingedruis. Dit het op sy beurt ’n geweldige sielestryd in hom ontketen en hom ten einde laaste daartoe laat oorgaan om ’n baie belowende militêre loopbaan prys te gee omdat hy nie kans gesien het om aan die veldtog mee te doen nie, wat nog aan die hoof daarvan te staan!

Ná sy bedanking as hoof van die Unieverdedigingsmag op 15 September 1914 het hy hom, in ’n poging om die regering van die DSWA-veldtog te laat afsien, by diegene geskaar wat ten gunste van konstitusionele optrede was om hulle teenkanting teen hierdie veldtog te kenne te gee. In hierdie opsig het hy sonder twyfel verskil van sommige van sy voormalige krygsmakkers wat in die Engelse verleentheid ’n geleentheid gesien het om die onafhanklikheid van die vorige Boere-republieke te herstel Dit staan bo alle twyfel vas dat hy op geen wyse gemoeid was met die organisering van ’n opstand nie maar ongelukkig het hy die slagoffer van die sameloop van omstandighede geword.

Tydens die begrafnis van generaal J H de la Rey op 20 September 1914 in Lichtenburg het Beyers en generaal C R de Wet, wie se beswaar teen die DSWA-inval in die eerste plek ook godsdienstig van aard was, die hele aangeleentheid haarfyn bespreek en na dit wil voorkom, ooreengekom om hulle protes langs konstitusionele weë te lei, soos ook aangedui word deur die vergadering wat die volgende dag in Lichtenburg gehou is, waartydens De Wet ’n beroep op die aanwesiges gedoen het om bedaard te spreek en konstitusioneel te handel. Deur die afkondiging van krygswet op 12 Oktober 1914 het die regering die hou van volksvergaderings egter verbied, met die gevolg dat die protesteerders gedwing was om hulle optrede in heroorweging te neem. Op 22 Oktober is te Koppies besluit om verdere optrede, en die vorm wat die protes sou aanneem, in die hande van generaals Beyers en De Wet te laat.

Hierdie besluit het oënskynlik ’n geweldige morele verpligting op Beyers geplaas waarvan hy die uitwerking tot met sy dood ondervind het. Dit spreek vanself dat Beyers in die lig van hierdie besluit voortaan nie willekeurig sou kon optree nie en De Wet in sake sou wou ken.

Ofskoon Beyers sy onversetlike standpunt met betrekking tot die DSWA-veldtog met verloop van tyd gewysig het, soos bewys word deur die feit dat hy hom op 4 November 1914 bereid verklaar het om sy kommando te ontbind indien die regering hul oorspronklike plan, om DSWA met vrywilligers te verower, in werking stel, het dit nietemin niks aan die saak verander nie. Alhoewel hy hom dus weens sy eerlike oortuiging dat die DSWA-veldtog verkeerd was, in die veld bevind het en boonop uit sy pad gegaan het om konfrontasie met die regeringsmagte te vermy (hy het die ongeveer sewe weke wat hy hom in die veld bevind het, selfs in doodsgevaar, nie ’n enkele skoot afgevuur nie), is hy nietemin strafregtelik nie vry te spreek op die aanklag van rebellie nie, bloot op grond daarvan dat hy hom gewapen teen die regering in die veld bevind het.

Dit is beslis so dat Beyers ’n oordeelsfout begaan het om gewapen in die veld te bly, soveel te meer nadat hy besef het dat hy niks daardeur sou bereik nie en die regering nie die DSWA-veldtog sou laat vaar nie. Op grond van die feit dat hy gekant was teen burgeroorlog en die vergieting van broederbloed, sou dit enersyds verstandiger gewees het as hy dan maar liewer sy poging geheel en al laat vaar het, maar na dit wil voorkom, was Beyers aan die eenkant te gesteld op sy eie eergevoel en aan die ander kant sy morele verbondenheid aan De Wet. Andersyds het Beyers ook net homself te blameer vir die feit dat hy dikwels weifelend, onbeslis en nie met groter kragdadigheid opgetree het nie en nie besluite geneem het sonder om De Wet eers daarin te wou geken het nie, des te meer as in aanmerking geneem word dat Beyers nie op die Tweede Koppiesvergadering teenwoordig was nie en derhalwe nie moreel verbonde was aan die besluite wat daar geneem is nie.

In soverre dit die rebellie betref, het Beyers, in teenstelling met Maritz, De Wet en Kemp wat dinamies-bewegend was, ’n passiewe houding geopenbaar. Beyers het, anders as in die geval van die Yweede Vryheidsoorlog, geen daadkrag, vuur of entoesiasme geopenbaar nie. Die feit dat hy gedurende hierdie passiewe verset teen die regering aan sy einde gekom het, maak sy dood ook soveel te meer tragies.

’n Oorsig oor die lotgevalle van die Beyerskommando tydens die rebellie

Op die aand van 15 September 1914 is generaal Koos de la Rey, wat op sy versoek deur Beyers vanaf Pretoria na Potchefstroom vergesel was, tydens die soektog na die berugte Fosterbende in ’n polisiepadblokkade in Johannesburg doodgeskiet. Beyers was tot met sy eie dood oortuig daarvan dat die koel eintlik vir hom bedoel was.

Intussen het dit bekend geword dat lt-kol. S G Maritz op 9 Oktober teen die Unieregering gerebelleer het. Die regering het tydens en na die rebellie uit sy pad gegaan om Beyers se naam aan die Maritz-rebellie te koppel, maar dit is nietemin baie seker dat hy daarmee niks te doen gehad het nie.

Op 10 Oktober 1914 het Beyers op uitnodiging, wat reeds lank tevore aan hom gerig was, as gasspreker tydens die Krugerdagviering in Pretoria opgetree. Die verrigtinge  het ontaard in een van die oproerigste           byeenkomste  wat ooit in die hoofstad plaasgevind het (dis nou te sê in die ou SA!), en daarvan word onder meer gesê dat dit van Jopie Fourie ’n rebel gemaak het. Die pro-regeringsgesinde ontwrigters het dit teen Beyers gehad omdat hy as kommandant- generaal bedank het en hom derhalwe as ’n verraaier beskou en het geen geheim van hulle beskouinge.gemaak nie. Ofskoon sy motorbande tydens die funksie fyn en flenters gesny is, was Beyers gelukkig om ongedeerd aan die gespuis te ontkom. Daarna is sy lewe in Pretoria so versuur dat hy die hoofstad op 19 Oktober ter wille van sy eie veiligheid verlaat en na Scheerpoort, in die Krugersdorpdistrik, gegaan het, vanwaar hy na Damhoek is.

Aldaar het vrywilligers op eie inisiatief vir hom ’n lyfwag gevorm en het ontevredenes met die regering se voorneme om DSWA binne te val, spontaan om hom versamel. Aangesien sy bedankingsbrief, wat in twee koerante verskyn het, groot belangstelling gaande gemaak het, het belangstellendes hom versoek om ’n vergadering te belê waartydens hy onder meer ’n volledige uiteensetting kon gee waarom hy bedank het. Hieraan het hy gehoor gegee en ’n vergadering is onder meer met hierdie doel voor oë vir 27 Oktober op die plaas Kommissiedrift, in die Rustenburgse distrik, belê.

Die rebellie is gekenmerk deur die uiterste dubbelhartigheid, om dit sagkens te stel, aan die kant van Eerste Minister Louis Botha en sy Minister van Verdediging, Jan Smuts. Ofskoon hulle strykdeur voorgegee het dat hulle ten alle koste die vergieting van broederbloed wou voorkom en self met die oog op hierdie gewaande doel die dienste van invloedryke persone soos oudpresident M T Steyn (as bemiddelaar) probeer bekom het, het hulle op berekende wyse self die pogings verydel. So het die Kommissiedriftvergadering byvoorbeeld nooit plaasgevind nie omdat Botha, wat in die nag in die geheim ’n troepemag per trein na Rustenburg laat vervoer het, die aanwesiges, waarvan baie ongewapen, op 27 Oktober aangeval en verstrooi het. Tydens die agtervolging wat gevolg het, het van die eerste skote van die rebellie in Transvaal geklap (Die heel eerste skote is vyf dae te vore by Keimoes gevuur toe Maritz met Unietroepe slaags was).

Die volgende dag het generaal J C G Kemp hom by Beyers aangesluit. Op dieselfde dag het Beyers die Steenbokfonteinmanifes uitgevaardig waarin hy nogeens sy afkeur in die DSWA-veldtog uitgespreek het. Op 2 November is ’n vergadering by Vleeskraal, noordoos van Schweizer-Reneke, gehou waartydens bekend gemaak is dat Kemp met Maritz in aanraking sou probeer kom om wapens en ammunisie in die hande te kry - teen dié tyd was veral Kemp siek en sat daarvan dat weerlose, ongewapende burgers op geweldadige wyse deur regeringsmagte herwaarts en derwaarts gejaag word! - terwyl Beyers na die Vrystaat sou gaan om met generaal De Wet in aanraking te kom, waarskynlik met die oog op 'n skikking met die regering met behulp van oudpresident Steyn.

Ná die aanval by Kommissiedrift was die Beyerskommando bykans strykdeur onder skoot van die regeringsmagte wat hom voortdurend agtervolg het, soos die botsing op 5 November by Kingswoodstasie en 7 November by Gruisdrif onder meer getuig. In weerwil het Beyers steeds ’n defensiewe houding geopenbaar en sy burgers opdrag gegee om nie op die regeringsmagte te skiet nie.

Vanaf 10 tot 12 November het Beyers oudpresident Steyn met ’n regeringsvrygeleide op sy plaas Onze Rust besoek. Hierdie poging tot ’n skikking het, soos die onderhandelings tussen Beyers en C H Meintjes (’n Lichtenburgse prokureur) en Beyers en J de Castilla (magistraat van Wolmaransstad), wat ook op regeringsversoek plaasgevind het, misluk. Die rede daarvoor moet gesoek word in die feit dat die regering op geen stadium in ’n skikking belang gestel het nie en slegs vir tyd gespeel het. Op hierdie stadium was Botha en Smuts buitendien oortuig daarvan dat die rebellie geen gevaar meer vir hulle inhou nie. Derhalwe het Beyers hom weer by sy kommando, wat in sy afwesigheid steeds deur regeringsmagte agtervolg is, aangesluit. Op 16 November 1914 het die regeringsmagte Beyers weer in die omgewing van Bultfontein aangeval en sy kommando finaal verstrooi. Soos die res, is die klein groepie waaronder Beyers hom toe bevind het, meedoënloos agtervolg totdat hulle op 7 Desember deur die regeringsmagte teen die Vaalrivier, in die Hoopstadse distrik, vasgekeer is. In ’n poging om te ontsnap het hy, soos Jan Pieterse, een van sy kommandolede wat hom spontaan gevolg het, vroeg die volgende oggend in die Vaalrivier aan sy einde gekom.

Generaal Beyers se omstrede dood

Generaal Beyers se lyk is twee dae na sy dood gevind. Ofskoon daar hewig op Beyers en Pieterse gevuur is, het die distriksgeneesheer van Wolmaransstad, dr. J Dundon,verklaar dat daar geen koeëlwond aan die liggaam is nie en derhalwe gesertifiseer dat Beyers aan verdrinking dood is. ’n Kennis van die familie, dr. E Grünberger, het die lyk vroeër dieselfde dag (dus voor Dundon) ondersoek en ook geen letsel of wond gekry nie, maar ook geen water in die longe nie. Derhalwe het hy die dood aan hartverlamming toegeskryf. Tydens ’n onderhoud van skrywer in 1972 met prof. H van P Koch, in lewe ’n bekende Suid- Afrikaanse patoloog, waarin alle tersaaklike feite aan hom voorgehou is, het die professor verklaar dat die bevinding van dr. Grünberger waarskynlik die korrekte diagnose was.

Die begrafnis

Toestemming om die oorskot van generaal Beyers na Pretoria te neem om daar begrawe te word, is deur Smuts geweier onder voorwendsel dat dit ter wille van die openbare gevoel beter sou wees om Beyers liewer stil in die Makwassie-omgewing te begrawe. Op uiters ongevoelige wyse het die owerheid van die dorp eweneens geweier dat ’n rebel, soos dit gestel is, in die begraafplaas van Makwassie begrawe word. Onder dié omstandighede het J G van Zyl, eienaar van die plaas Oersonskraal, aangebied dat Beyers op sy plaas ter ruste gelê word. Dit het die namiddag van 10 Desember 1914 plaasgevind. Jan Pieterse is aanvanklik op die plaas Elizabethsrus begrawe, maar later is ook hy op Oersonskraal, wat intussen na Beyersrus herdoop is, begrawe.