DIE REBELLIE VAN 1914 (6-SLOT)

Lees reeks by   Die Rebellie van 1914

'n Kort reeks van ses aflewerings oor 'n volk in opstand, 'n verhaal oor verraad en van heldedade tydens die rebellie van 1914.  Ons helde, De la Rey, De Wet, Maritz, Kemp, Beyers en Jopie Fourie, staan hier in skerpe kontras met verlooptes soos Smuts, Botha en diesulkes sonder vaderlandsliefde.

JOPIE FOURIE STERF VIR GOD EN VADERLAND

Basie Blignaut

Op 11 September 1914 word die Unie- Parlement byeengeroep om die Unie se aandeel in die oorlog tussen Engeland en Duitsland te bespreek. Genl. Louis Botha stel voor dat die Unie as lid van die Statebond uit "eer en plig" krygsoperasies teen Duits Suidwes-Afrika (DSWA) moet onderneem. Namens die opposisie bestry genl. Hertzog die voorstel. Om redes aan die volk onbekend steun die meerderheid van die Unie- Parlement die voorstel van Botha.

Genl. De la Rey was egter daarvan oortuig dat die vryheid van die ou Boere-Republieke op 15 Augustus 1914 teruggeneem sou word na aanleiding van die syfer 15 wat Siener van Renburg gesien het. Genl. De la Rey belê dan ook ’n vergadering op die plaas Treurfontein in die Lichtenburg-distrik vanwaar daar na Pretoria opgeruk sou word om genl. Louis Botha as president van die herstelde republiek uit te roep. De la Rey was vas onder die indruk dat Botha aan die kant van die Boere was en as hy met die Vierkleur uitgery het, sou die hele Transvaalse platteland opstaan en hom volg.

Hy sou deur genl. De Wet en die hele Vrystaat gevolg word. Met Botha se weiering het De la Rey se planne inmekaar gestort.

 

Jopie Fourie was ook een van genl. Botha se vurige ondersteuners en hoewel hy genl. Botha geídealiseer het, was hy tog baie teleurgesteld oor die uitsetting van genl. Hertzog uit die kabinet. Jopie het die vergadering op De Wildt bygewoon en geglo dat genls. Hertzog en Botha vir dieselfde doel werk maar het tog gesê: "Ek sal van nou af fyn op genl. Botha let." Hy kom ook deeglik tot die gevolgtrekking dat genl. Botha nie meer die Afrikaner van ouds was nie.

Josef Fourie het nog altyd gehoop dat die Afrikaners en die Engelse in vrede saam in hierdie land kan leef, maar op 10 Oktober 1914 gebeur daar ’n ding in die Operagebou in Pretoria wat hom oortuig het dat so iets net nie kon gebeur nie.

In die Operagebou is ’n konsert gereël vir die aand van 10 Oktober 1914 om die geboortedag van president Paul Kruger te herdenk. Die bespreking was reeds in Juliemaand gemaak.

Die aand was die Operagebou vol en die meerderheid was Afrikaners.

Daar was egter ook ’n groep teenwoordig wat doelbewus gegaan het om hulle afkeur te demonstreer teen alles wat ’n sweem van Afrikaner-nasionalisme gedra het. Terwyl ds. Herman van Broekhuizen die samekoms met gebed geopen het, skreeu die onwelkome groep: "Brittians never, never shall be slaves" en "Rule Brittania".

Tussen die skreeuende mense deur beweeg ’n offisier van die Verdedigingsmag naamlik Josef Fourie. Hy praat vlot Engels en pleit by die massa om te verstaan dat die Afrikaners byeen was om die nagedagtenis van een van hulle groot manne te herdenk. In plaas van om gehoor te gee, word ’n "Union Jack" van die gallery af neergelaat. Afrikaners skeur die vlag stukkend en toe word daar met vrot eiers en tamaties gegooi en stoele gebreek. Toe pouse aanbreek skyn die ergste storm verby te wees en genl. Beyers kon sy toespraak voltooi.

Teen die einde van die samekoms daag die polisie onder bevel van majoor Trew op en deel die gehoor mee dat ’n woedende skare buite wag. Die vergadering verdaag en majoor Trew en ’n paar konstabels veg ’n pad oop vir genl. Beyers om by sy motor te kom. Een van genl. Beyers se helpers word twee maal met ’n mes in die rug gesteek en sy motor se bande word stukkend gesny. Die polisie beveg die skare terwyl die motor op pap bande wegbeweeg.

Tydens die rumoerige byeenkoms het ’n prokureur oorgestap na die Pretoria-klub om genl. Smuts te vertel wat gebeur het en om hom om beskerming te vra teen die skare. Genl. Smuts het net gelag waaruit dit dan duidelik was waarom die oproermakers nie vervolg is nie of waarom daar nie eens ondersoek ingestel is na die voorval nie. Inteendeel, Smuts kondig die volgende dag Krygswet af en snoer so die mond van die Afrikaner.

Op die 24e Oktober gaan Jopie Fourie na Pretoria om ’n onderhoud met genl. Botha te voer. Laat daardie aand kom hy op Wildebeeshoek terug en sê: "Dit is nou eenmaal in my hart, ek kan nie keer nie, ek gaan na my mense vir ons Vaderland en ons Vryheid."

Die Sondag daarna vertrek Jopie en sy broer Johannes na Klipfontein waar hy die aand ’n groot klomp mense toespreek en vertel dat genl. Beyers in die veld is en hy gaan ook. Sonder teëspraak was byna almal gereed om die veldtog te begin met Jopie as Kommandant onder genl. J. J. Pienaar, die latere administrateur van Transvaal.

Van die tien gevegte waarin Jopie betrokke was het hy nie in een aanvallend opgetree nie. Die volgende drie gevegte was die belangrikstes naamlik Sandfontein op 8 November, Hammanskraal op 23 November en Nooitgedacht op 16 Desember. In al drie was genl. Pienaar die bevelvoerende offisier. Op sy manskappe het Jopie ’n onuitwisbare indruk gemaak. ’n Paar dae voor die slag van Sandfontein het hy die volgende gesê: "Burgers, ek voel baie hartseer oor my arme onderdrukte volk en oor die broederbloed wat gevloei het, maar ek kan nie anders handel nie. Ek moet gehoor gee aan die verhewe idee van Vryheid, Reg en Geregtigheid. Vir my is my Vryheid en my Volk alles. Dit is nie deur die uitbreiding van glorie of grondgebied nie maar vir die voortbestaan van ons godsdiens, taal en ons nasionaliteit en vir ons vryheid."

Op Donderdag 16 Desember 1914 om halfvyf word die klein laer van Jopie Fourie by Nooitgedacht aangeval deur troepe onder bevel van kol. N J Pretorius en ’n afdeling van die polisie onder bevel van majoor Trew.

’n Geveg vind plaas en 10 regeringsmanne word gedood en 21 gewond. Twee rebelle sneuwel en 4 word gewond, terwyl Jopie en 45 van sy makkers daar gevange geneem is, maar genl. Pienaar en 3 manskappe ontsnap.

Op 17 Desember is die 46 rebelle tussen perderuiters te voet na Hornnekstasie geneem vanwaar hulle per trein na Pretoria-tronk geneem is.

Onder die 46 gevangenes was daar drie dierbare omies met wie ek ’n persoonlike en pragtige vriendskapsbande opgebou het. Baie van die feite hier vervat is deur hulle meegedeel en nog veel meer is op band opgeneem, in my besit. Hulle was Izak Stephanus du Plessis, o.a. hoof van die SAS & H seunstehuis aan die Oos-Rand. Piet Retief Pretorius, ’n destydse redakteur van De Volkstem en Dawid Johannes Pretorius was die hoofspioen van Jopie gedurende die volksopstand.

Op Vrydag 18 Desember 1914 staan Josef Johannes Fourie tereg voor ’n VELDKRYGRAAD wat in Pretoria-stad in sitting was op ’n klag van verraad. Hy word bygestaan deur advokaat Van Hees in opdrag van ’n prokureur Fred Klein. Later kom advokaat dr. Gey van Pittius uit sy eie om hulle by te staan.

So breek Saterdag, 19 Desember aan en die staat sluit sy saak af. Die groot donker figuur van komdt. Josef Fourie rys uit sy stoel op en spreek die hof toe. Hy verduidelik aan die hand van insidente uit die Afrikanergeskiedenis waarom hy op 16 Desember ’n gewapende mag teen die Britse troepe in die veld gehad het.

Verder sê hy:           "My dade het altyd my hart blootgelê. Ek is nie van plan om die hof om genade te vra nie. Genade van my God wat my gelei het is genoeg maar ek vra dat die manskappe wat onder mv gedien het genadig behandel moet word. Ek het ’n groot invloed oor hulle gehad."

Op Saterdag 19 Desember 1914 word petisies gesirkuleer en onderteken deur die volk waarin die minister van verdediging, genl. J C Smuts gevra word dat indien die doodvonnis oor die twee Fouries uitgespreek word, dit nie voltrek moet word nie.

Dr. D F Malan, ds. A E Griinberger en dr. Gey van Pittius word afgevaardig om die petisies aan genl. Smuts te gaan oorhandig.

Hulle verneem dat Smuts uitstedig is en toe vertrek hulle na sy plaas te Irene. Daar word hulle meegedeel dat die generaal gaan wandel het en terwyl hulle nog so op hom wag,verneem hulle dat hy dringend na Pretoria ontbied is. Hulle keer terug na Pretoria waar dr. Malan, ds. Bosman en ds. Neethling tevergeefs poog om ’n onderhoud met die minister te kry. Dus het Smuts inderwaarheid gaan wegkruip waar niemand hom kon opspoor nie aangesien hy wou hê dat Jopie die doodstraf opgelê word – maar sou hy iemand daaroor ter woord moes staan, sou hy moes erken dat daar nie rede vir die doodstraf was nie.

Nadat verneem is dat die doodvonnis oor kmdt. Fourie bekragtig is, word die petisies aan luitenant Louis Esselen, Smuts se sekretaris, gegee vir oorhandiging. Esselen maak telefonies met Smuts kontak en word meegedeel dat die petisies op Sondagoggend om 10.00 vm aan Smuts oorhandig kon word. Die vonnis is reeds 5 uur Sondagoggend voltrek.

Ds. Bosman het in die begin van Desember saam met Botha en Smuts gegaan om te praat oor die doodstraf vir rebelle wat moontlik gevange geneem sou word. Smuts se standpunt was egter onversoenbaar en sy besluit was baie duidelik dat as Fourie gevange geneem sou word dan moes hy gefusilleer word. Jopie was toe reeds die gemerkte prooi - die OFFERANDE om die JINGOÏSTIESE haatdraende elemente te BEVREDIG.

Die alombeminde Emily Hobhouse skryf op 29 Oktober 1914 ’n brief aan Smuts waarin sy onder andere soos volg pleit:

"They are brave and good men. Keep them in prison if you will till the end but do not execute them". Die voltrekking van die vonnis op 20 Desember 1914 op kmdt. Josef Johannes Fourie het groot beroering onder die volk bewerkstellig en daarom het die owerheid hom onmiddellik na die fusillering op die gevangeniswerf laat begrawe.

Ongeveer 36 uur later, gedurende die voornag, is die lyk stilletjies opgegrawe in opdrag van die owerheid en in die geheim na die nuwe kerkhof van Pretoria geneem en onder die naam van Hans Coetzee begrawe. Na verskeie mislukte pogings van Jopie se eggenote, Susan Fourie, word toestemming deur Smuts verleen om Jopie se lyk op te grawe vir ’n nadoodse ondersoek.

Dit geskied eers na sy dreig om hulp by die volk te gaan soek. Op 27 Oktober 1915 word Jopie se lyk opgegrawe d.w.s 10 maande en 7 dae ná die teregstelling. Toe die doodskleed, twee khaki-komberse, oopgesny is, het Jopie daar gelê asof hy die vorige dag gekis is. Die lyk is in ’n nuwe kis geplaas en onder die snikke van sy geliefdes ter ruste gelê.

Op versoek van die volk word toestemming verleen om Jopie se stoflike in die helde-akker in die ou begraafplaas te herbegrawe en wel op die 20e Desember 1923. Die regering van destyds het die volle verantwoordelikheid vir die dood van Josef Johannes Fourie op sy skouers geplaas deur sy optrede.

Op 16 Desember is Jopie gevange geneem; op 17 Desember is Jopie na Pretoria geneem; op 18 Desember deur ’n veldkrygsraad in die stad verhoor; op 19 Desember skuldig bevind en gevonnis; en op 20 Desember is Jopie GEFUSILLEER.

Waarom die haas? Daar was geen kans vir die verdediging om behoorlik te bepeins nie.

Die enigste rede kon maar net wees dat Smuts van Fourie ’n voorbeeld wou maak om sodoende sy Empire-vriende tevrede te stel.

Etlike jare na die vrede van Vereniging spreek Smuts ’n vergadering op Beaufort-Wes toe en daar vra generaal Nigrini aan hom of hy nog onthou hoe hy Colyn laat doodskiet het. Verder het Smuts aan Colyn gesê:       "Colyn, jy is een van daardie vrot Afrikaners wat toelaat dat die Britte jou gebruik om hulle vuilwerk te doen!"

’n Vraag aan Smuts: "Generaal, is u nie miskien een van daardie vrot Afrikaners nie?"

Ná baie jare is die Afrikaner terug by die punt waar Afrikanernasionalisme uitgewis moet word. Waar sy vryheid van hom weggeneem is. Waar sy vyande besig is om sy godsdiens en sy taal af te takel. Waar alles wat vir die Afrikaner heilig en verhewe is soos vryheid, reg en geregtigheid, skeltaal geword het.

Het ons hier ook weer met VROT Afrikaners te doen wat deur volksvreemdes misbruik is en word om hulle vuil werk vir hulle te doen?

As daar ’n tyd is waarin Jopie Fourie se daad sinvol was vir sy volk, dan is dit vandag, omdat die magte waarteen hy in opstand gekom het, soortgelyk is aan dié wat die Afrikaner vandag weer bedreig.

Jopie Fourie het die stryd vir God en Vaderland aangedurf.

EINDE