EMILY HOBHOUSE... (3)

...heldin uit die Vreemde

Rykie van Heerden

Lees reeks by Emily Hobhouse

Lank was sy, aan die skraal kant, mooi, met die fier, regop Hobhouse-houding (vertel almal wat Emily geken het) met waterpas en baie blou oë en lang, ligte hare, wat sy  agtertoe weggekam het maar waarvan sy die krullerigheid nooit heeltemal kon klop nie sodat sliertjies soms sagweg by die ore losgekom en jonk en vroulik haar gesig omraam het.

Gesag lees ’n mens in die karaktervolle foto van haar geneem tydens haar vader se sterfjaar. Maar die oë is eensaam. Die lippe sluit ferm. Moed sien jy in daardie mond; lewensblyheid nie.

Wat nou vir haar? Eindelik was sy vry. Maar waarnatoe? Sy was vier en dertig jaar oud, amper vyf en dertig. En as tipiese vrou van haar tyd en stand, omtrent heeltemal sonder formele opleiding. Vir meisies van vandag wat klas vir klas saam met seuns skoolgaan, saam met hulle die universiteit besoek en vir wie omtrent elke loopbaan onder die son teenswoordig ooplê, is dit amper onmoontlik om te besef hoe gekniehalter ’n meisie van die Victoriaanse tydperk was. Hoe het Emily met haar wakker kop nie haar broers en veral vir Leonard beny, wat hul goed geleerde tutors of privaatonderwysers gehad het en later na goeie skole of selfs ’n universiteit kon gaan nie. As kinders het die Hobhouse-dogters, soos almal van hul stand, natuurlik hul goewernantes gehad, privaat-onderwyseresse wat ingewoon het. Maar dié, met die uitsondering van een, was maar self vroue met skraps geleerdheid.

Lees, opstelskryf, vat-vat aan geskiedenis en aardrykskunde was eintlik maar al waaraan aandag gegee is. Verder, het daardie tyd se mense gereken, moet ’n meisie van die hoër stand eintlik maar net leer mooi borduur, bietjie skilder, klavierspeel, sing en so. Dit was tog die dinge wat ’n vrou in die lewe sou nodig kry, nie waar nie? Emily en Blanche was in hul lewe twee kwartale op kosskool. Dit was ’n private plek en die ou weduvrou daar het so met die kos afgeknyp dat Emily siek geword het en hulle is, met Blanche se ernstiger siekte toe ook nog, gou weer daar weg.

Florence Nightingale, met wie Emily nogal dikwels in een asem genoem word en wat net ’n half-geslag vroeër as sy geleef het, het ’n keer onder die skuilnaam Cassandra ’n bitter stuk geskryf oor die frustrasies wat daar in die Victoriaanse gemeenskap op ’n intelligente meisie van haar stand gewag het. Daar is sy, barstens vol drome en ambisie, maar, sê sy, "the Anglican church told me to  go back and do crochet in my mother’s drawing room or if I were tired of that, to marry and look well at the head of my husband’s table.”

En as daar nou nie ’n "husband” was nie?

Emily het haar posisie in oënskou geneem. Wat kon sy word? ’n Verpleegster? Te oud om te begin, buitendien was dit nog nie ’n gerekende beroep vir ’n fatsoenlike meisie nie. Universiteit? Daarteen was haar jare ook, sowel as haar stuk-stukkerige geleerdheid. Gemeentewerk was al waarin sy werklik geoefen was: sy sou onder die behoeftiges gaan werk, het sy besluit. Maar tog nie langer ingehok hier in die ou nou wêreldjie van St. Ive se klein gemeente nie.

Sy het nog altyd, het sy gesê, daarna gehunker om wye uitgestrekte stukke wêreld te omhels en groot massas mense; gedroom dat sy hulle tot goedheid bekeer ("dit het toe nog vir my beteken bekering tot die Anglikaanse Kerk”) en hulle ook wat lewensomstandighede betref, ophef.

’n Ou droom om eendag onder die uitgeweke Cornwalliese mynwerkers in Amerika te gaan werk, het weer in haar wakker geword. Het sy, hoe vlugtig ook al, John Barrett se opgewekte jong gesig voor haar gesien ? Hoe ook al, die vrou van haar vader se ou vriend biskop Benson, het namens haar in aanraking gekom met biskop Whipple van Minnesota, in Amerika, en veertien dae na haar vader se dood is Emily vort uit St. Ive.

Vir oulaas het sy nog omgekyk na waar vir haar soveel jare van frustrasie en eensaamheid opgesluit gelê het. "Hierdie plek sal my nooit weer sien nie,” het sy gesê; en woordgehou. Die stof van St. Ive het sy daardie Februariedag in 1895 vir goed van haar afgeskud.

En nou die groot avontuur van Amerika! Mary Scourey, dogter van die hoefsmid op St. Ive, gaan saam as hulp en bediende vir haar. Mary is verloof aan ’n boerseun van St. Ive wat daar in die Nuwe Wêreld vir hom en Mary ’n toekoms gaan soek het. Vir ’n jaar boek sy haar in, sal sy by Miss Emily bly, daarna gaan sy na hom.

Ruwe wêreld vir die fyngebore en beskermde pastorienooi is dit om haar in te waag! Kimberley in sy diamant-stormloop-dae, Barberton en Ou-Johannesburg toe die goudkoors hoog geloop het in hierdie delwersdorpe: so was Minnesota van daardie dae! "Look out for stray bullets!” sê ’n waarskuwing in ’n plaaslike koerantjie van daardie wilde weste. En die Yanks met hul breë tongval sê uit die hoek van hul hardgebakte monde: "We just set up Minnesota against the rest of the world, and all the planets, and coolly offer to back her with any odds you may choose t’ offer, see?” Die British of wie ook al moenie dink hulle kan hulle iets kom vertel nie. Allermins Engelse oujongnooiens met opheffende bedoelings, ha!

Emily moet haar oë ’n paar slae knip in die Augustus 1895 toe sy aankom op haar bestemming: Virginia in Minnesota. Die myndorp lê in die hartjie van ’n donker boswêreld. Toe sy die wêreld so kyk, is sy baie lus en spring net daar om, terug huis toe. Haar plan was eintlik eers om ’n bietjie te reis en die wêreld deur te kyk. Maar toe sy weer sien is sy klaar geëien is as welsyns-, of liewer kerkwerkster vir Virginia. En wel net onder haar eie kerk se mense. En die tweede skok: in die betrokke ystermyn-gemeenskap is daar mense van omtrent elke bedinkbare nasionaliteit in die wêreld, maar, goed getel, skaars 50 Cornishmen uit haar eie kontrei.

Nou ja, sê sy aan biskop Whipple, sy sal die werk vir twaalf maande aanpak, maar net op voorwaarde dat sy onder die hele gemeenskap kan werk. Sy het nog nooit kon voel dat jy jou goeie dade net vir jou eie klein groepie moet hou nie. Afgesien van koorafrigting vir haar eie kerk, wil sy onder almal werk.

Die storie van haar verblyf in Virginia lees ’n mens in die pak lewendige, interessante briewe aan haar suster Maud, mev. Hebblethwaite, aan haar broer Leonard-hulle, aan haar geliefde Aunt Mary.

Sy bly met die aankom in die vuil ou losieshuis, sit aan tafel saam met ruwe mans, kan die beroerde kos amper nie gesluk kry nie. Die volgende dag trek sy dankbaar in haar huisie in waar Mary haar goedjies uitpak, haar bed opmaak met lekker skoon lakens saamgebring van St. Ive.

As die winterson vroeg tussen die bosse wegsak, merk sy die elektriese lig werk nie (elektrisiteit is goedkoper as om lampolie na die afgeleë plek aan te ry) en sy klim maar vroeg in. Sy’s g’n halfuur in die bed nie, of sy sien in die dowwe straatlig wat deur haar venster val dat die plek wemel van goggas wat sy in haar fyne lewensdag nog nie gesien het nie.

Mary!

Genugtig, Miss Emily, dis weeluise!

Sy spring op, val in haar klere, vlug vervaard terug na die losieshuis toe — so was Virginia se intrapslag!

Maar sy’s haar Ma se kind, sy rol haar moue op en sy pak die wêreld. Sy’s immers gewoond om karnallies kort te vat op St. Ive. Die drank en die dobbel eerste. Sy kan niks begin nie, sê sy vir die mense van die vyf verskillende kerkgenootskappe daar, voor daar nie ’n ontspanningsaaltjie staangemaak word met boeke en plek om musiek te maak en so voort nie. Daarsonder kan jy nie dink om die manne uit die stuk of veertig kroeë te hou nie, sê sy pront vir die kerkmense. Nie een van die predikante het dit tot dusver durf gewaag om teen drankmisbruik te preek nie; hulle is doodbang hulle verloor ’n lidmaat en hul salaris hang af van hul lidmaattal. Nou kyk hulle vir Emily met groot oë aan waar hulle die aand almal op haar uitnodiging in haar huisie bymekaarkom. Wil jy glo, sê hulle.

"Liewe aarde,” skryf Emily verontwaardig vir Maud, "dit lyk my ek is al mens hier wat my mond durf oopmaak.”

En van ’n kant af wil sy skoonmaak.

"Dis vir my duidelik,” skryf sy, "voor die korrupte toestand in die dorp nie in ’n mate opgeruim, die kroeë beperk en die dorpsbestuur saamgegestel word uit eerlike manne nie, kan daar nie veel hier gedoen word nie, en sal die kerke so leeg bly staan as wat hulle vandag staan.”

Sy gaan ’n Cornishman wat maagkoors het in die dorpshospitaaltjie opsoek, en kom af op ’n haglike toestand. Die dokter, wat eintlik ’n tandarts is, is skoonveld. Daar’s net die ou Sweedse handlanger. Dié lê en slaap ná die vorige nag se fuifparty so uit soos ’n kers, op een van die beddens in die onderste saal. Een man, ook ’n Sweed, wie se been in ’n mynongeluk vergruis is, sê sy bed is ’n ronde maand laas opgemaak. Hy kan nie staan nie, hy moet hom so half sleep na die wasplek treë ver van sy bed af. In die boonste saal lê ses maagkoors-gevalle op ’n ry: ’n Noor, ’n Skotse Kanadees, ’n Sweed, ’n Fin, ’n Oostenryker en ’n Switserse Duitser. Hul klere en hul beddegoed is deurnat van die koorssweet, die dronk ou verpleër was die hele dag nooit naby hulle nie.

Emily doen vir hulle wat sy kan, droog hul kussingslope uit, trek die lakens reg. En dan . . . gaan staan sy en sy sing vir hulle. Vir elkeen, sover sy kan, in sy eie taal. Die Switserse Duitser straal as sy afsluit met ’n Duitse lied van Mendelssohn.

’n Engel uit die hemel, dink hulle, is hierdie pragtige blonde vrou met die sagte hande en die silwer stem! En baie gou is dit in Virginia duidelik: Miss Emily kan dit tussen die wildste klomp skobbejakke inwaag, g’n vinger sal ooit teen haar opgelig word nie. Ander mense loop almal met rewolwers.

Sy bly ook nie net op die dorp nie. Sy en Mary loop myle ver die bos in. "Juffrou, u kan nie daar in nie,” waarsku manne wat sy op die rand teenkom. Maar sy druk deur, "having by this time learnt,” skryf sy vir Maud, "that what is impossible to an American is not to an Englishwoman.” Daar’s hy!

Sy besoek ’n kamp van vyftig manne wat heelwinter daar diep in die bos werk, tot die lente toe. As sy voor so ’n gehoor staan, sit hulle volkome vasgenael en drink elke woord in. "Ek kon ure lank gepraat het as ek wou,” sê Emily. En dan sing hulle saam. Of sy sing vir hulle. En waar sy kan, laat sy hulle die matigheidsgelofte aflê en die beloftebrief teken.

Laataand, ná so ’n besoek, dwaal sy en Mary nog in die bos. As die maan opkom, strompel hulle aan, soms kniediep deur moerasse, soms tot by hul kuite in die yskoue poele water, of hulle loop balanseer-balanseer oor boomstompe oor wilde bergstrome ...

Veral die Finne van die geweste is op Emily se hand. Kort na haar aankoms in Virginia het sy ’n aandskool begin om hulle Engels te leer, waarsonder hulle in hierdie nuwe land verskriklik sukkel. Hierna, as sy ’n matigheidsvergadering hou, dwing hulle net om vir haar met hul blaasorkes te kom speel. Die liewe Finne! skryf Emily vir Maud, "fancy 25 Finns playing brass instruments all out of tune! They wanted to play six times for me, but I assured them we would not think of troubling them for more than three selections! ”

Maar ’n jaar later loop die paadjie op Virginia vir haar dood. Mary Scourey gaan vort na haar verloofde. Sy sit heeltemal sonder hulp of aanspraak. Hoofsaak kom nog : daar was ’n geskil tussen die ysterertsmyne en die smeltoond-maatskappy. ’n Dooiepunt word bereik. Die groot myne sluit, die gemeenskap begin wegsmelt.

Dit was vir haar swaar om van Virginia weg te gaan, skrywe Emily. Om 7.30 het die blaasorkes gekom en heelpad straat af en op met die heuwel tot by die stasie vir haar gespeel, en al voor haar treinvenstertjie tot die trein uiteindelik getrek het. Effens van die noot af, miskien, maar bewoëwas Virginia se vaarwel aan haar!

Emily is na bekendes in Ohio.

In hierdie stadium in haar lewe kom haar verlowing. Ons weet vandag nie eens aan wie presies dit was, of hoe sy aan hom gekom het nie. ’n Sakeman, klink hy, van Chicago, met verbintenisse waarskynlik in Mexiko. ’n Keer, of miskien selfs twee, het hy saam met haar haar familie in Engeland besoek. Wie was hy? "Og, vergeet hom,” sê Emily se neef Oliver Hobhouse, Leonard se seun. "Dit was ’n fout.”

Maar daar staan hy saam met Leonard, sy vrou, Nora, en Emily op ’n verbleikte foto’tjie van daardie dae — by Leonard-hulle in Oxford geneem.

Hand in die jassak, met ’n breërandhoed en ’n weglê-snor staan hy so skuins agter Emily op die foto. Haar oë kyk ver bokant die kameraman se kop verby, half hemelwaarts, lyk dit. O liewe, dink ’n mens as jy die kiekie sien, ek weet nie van ’n huwelik tussen dié twee nie.

Maar ’n mens kan jou natuurlik misgis, en die saak tussen hulle vorder tog so ver dat sy - hy kon blykbaar nie wegkom nie - alleen af Mexiko toe is om reëlings te tref vir die begin van hul huwelikslewe daar. Sy koop selfs ’n ranch en laat bou ’n huis - £80, baie geld vir daardie dae, kos dit, en dit het, tot die verstomming van die eenvoudige boeremense daar rond, selfs ’n plankvloer en vensters met ruite!

Maar dit klink of die kêrel met die snor mej. Hobhouse taamlik ingeloop het met geld. Maar oral waar ’n mens na hom soek, is sy spoor, asof doelbewus, doodgevee - soos sy hom blykbaar ook uit haar herinneringe uitgewis het.

In 1897, twee jaar nadat sy uit St. Ive weg is, kom sy vir ’n ruk na Engeland terug. Haar Uncle Arthur en Aunt Mary se huis is wyd oop vir haar. Die volgende jaar is sy egter weer na Mexiko, hierdie keer met ’n niggie as geselskap. In die Manchester Guardian, die blad waar haar broer Leonard werk, skryf sy ’n paar lewendige artikels oor hierdie Mexiko-besoeke, wat wys watter eersteklas waarnemer aan die woord is, en die lewendige gemoed wat in alles om haar belang stel. Maar as sy daarvandaan terugkom, is ’n hoofstuk finaal afgesluit. Die verlowing is vir goed oor die muur.

Aunt Mary-hulle wil hê sy moet by hulle kom bly, maar Emily voel sy moet maar haar eie pad vind. Hartseer, en arm ook ná die Mexiko-avontuur, neem sy haar intrek in Rosetta Mansions, in Chelsea, die Londense buurt aan die Teems.

Dis 1899.

Dié jaar sal die gordyn oopgaan op die toneel van die Tweede Vryheidsoorlog. Tot in hierdie stadium het Emily nog skaars ooit ’n oomblik oor Suid-Afrika gedink of haar hoegenaamd oor die ver land en sy moeilikhede moeg gemaak.

Tog is dit of haar lewe haar tot hiertoe op ’n vreemde manier spesiaal voorberei het vir die werk wat daar op haar in Suid-Afrika wag.

Vervolg...