...heldin uit die Vreemde
Rykie van Heerden
Lees reeks by Emily Hobhouse
"Maar dit word gaandeweg duidelik dat die Britse regering haar nie weer naby ’n konsentrasiekamp wil hê nie. Die vroumens is dinamiet! ... Intussen, weet Emily, sterf die kinders: volgens Britse verslae het 576 kinders in Junie gesterf, 1,124 in Julie, 1,545 in Augustus."
Op die afgesonderde bo-dek vir die eersteklas-passasiers hou sir Alfred Milner hom eenkant. Sy Eksellensie het uitdruklik aan Ozzy Walrond opdrag gegee dat hy nie gepla wil word deur enige opdringerige dames nie. Maar vir Emily kom groet hy tog, en reguit woorde wissel hierdie twee met mekaar, terwyl hulle oor die bootreling leun.
Emily moet van Milner hoor dat hy sestig aanklagte teen haar ontvang het. Sy stook onrus in die kampe, sy praat politiek met die vrouens, sy verbroeder met die vyand, ry die oorlogspoging in die wiele.
Emily staan verslae. Sy het aangeneem dat Milner haar vertrou, nou moet sy hoor dat sy soos ’n verdagte spioen dopgehou is. Dit val haar nou by van daardie refugee-onderwyseres in Norvalspontkamp wat haar so probeer uitlok het om iets teen die Britse regering te sê. Gelukkig het die juffroue Boshoff, haar vriende van ’n vorige besoek, haar gewaarsku : sy het op al die uitlokking van die onderwyseres net uitgewei oor hoe pragtig die veldblomme is, en verder oor die Amerikaanse politiek. Sy herinner haar nou ook enkele ander gevalle, waar mense duidelik slagysters vir haar gestel het.
Vir Milner, die klassikus, haal sy die woorde aan van die Latynse skrywer Macrobius: Toe ’n Romeinse ridder ten onregte deur Augustus Caesar bestraf is, het hy vir hom gesê : Caesar, as u oor ’n eerbare man wil laat navraag doen, sorg dat u eerbare manne kry om die navraag te doen. Milner moet verleë kug.
Emily spreek hom toe oor die toestande wat sy in die kampe aangetref het. Sal hy haar verlof gee om weer te kom, vir verdere ondersoek ? As iemand moet kom, sal ek verkies dat dit u is, sê hy. Maar hy moet eers die Regering in die sake ken. Natuurlik, stem Emily in. Sy self weet trouens nie of sy weer kan kom nie: dit hang af van Aunt Mary-hulle se gesondheid. Sy en hy sal per brief met mekaar in aanraking kom sodra hulle in Engeland aangeland en dinge deurgekyk het, besluit hulle toe hulle op 24 Mei op Southampton van die Saxon aan wal stap.
Emily prut van opwinding oor die geweldige werk wat nou hier in Engeland op haar skouers rus. Sy het aan die Boervroue belowe sy sal alles in Engeland gaan vertel. Sy het hulle verseker die Britse publiek sal, as hy weet, sulke toestande nie toelaat nie. Van haar briewe aan Aunt Mary en haar komitee het intussen privaat, maar ook in Britse parlementêre kringe bekend geword. As sy van die boot afklim, sak almal op haar toe - redakteurs van tydskrifte, koerantmanne, mense wat onderhoude wil hê, vergaderings vir haar wil reël. Sy’s stil-stil daar weg, maar nou is sy Groot Nuus.
Sy weer almal eers af. By Crowsley Park, Uncle Arthur-hulle se buiteverblyf in Oxfordshire, kom die intieme familiekring daardie eerste naweek eers bymekaar om kajuitraad te hou oor wat nou eerste gedoen moet word met hierdie "bom” wat Emily vir die politieke situasie in die hand het. Lord Courtney is ongelukkig weg vir die Pinkstertyd, maar Leonard kom van Manchester af (Oliver laat vra of Aunt Emily nie vir hom ’n meerkatjie saamgebring het nie!) en hierdie stelselmatige broer van haar stel punt vir punt vir haar ’n plan van aksie op. Hy sal in die volgende vier belangrike maande feitlik voortdurend haar hand vashou en haar hele optrede lei.
Sy bring inligting oor wanpraktyke wat die hele oorlogsregering kan laat wankel.
Sy het haar dagboek, sy het haar verslag aan die Distress Fund Committee wat die geld en die hulp vir die kampe gegee het. Of hierdie verslag gepubliseer moet word, kan later besluit word. Leonard reken sy moet heel eerste ’n onderhoud kry met St. John Broderick, die minister van oorlog onder wie die hele kwessie van die plaasverbrandbeleid en ook, in die stadium nog, die konsentrasiekampe val. Op 4 Junie voer sy met hom ’n onderhoud, en soos Leonard voorgestel het, dring sy aan op: beter sanitasie, water, tente; sy hamer veral daarop dat vroue wat êrens het om heen te gaan, verlof moet kry om die kampe te verlaat, sy vra dat verteenwoordigers van ses welsynsliggame toegang verleen moet word tot die kampe, sy beklemtoon dat niemand meer in die reeds oorvol kampe gestop moet word nie, dat die ligging van nuwe kampe versigtig gekies moet word. Broderick luister aandagtig. Hy vra die voorstelle op skrif. Dieselfde middag nog kry hy dit.
Intussen hoor Emily niks van Milner nie. ’n Week en meer gaan verby en sy hoor niks verder van Broderick nie. En elke week, weet Emily, sterf die kinders by die dosyne, by die honderde daar ver in Suid-Afrika. Saam met Leonard besluit sy haar verslag oor die kampe moet gedruk en in beperkte kring gesirkuleer word, onder meer onder Laerhuislede en die lords van die Hoër Huis. Anders gaan hierdie saak nog vir onbepaalde tyd noodlottig sloer.
As die dun, beskeie klein verslag verskyn, is die gort dadelik gaar. Die verslag bevat ’n kort relaas van haar ondervindinge in Suid-Afrika die afgelope paar maande, hoofsaaklik net soos sy dit in briewe huis toe vertel het, daar is ’n steekproef van die antwoorde wat sy op die tien vrae van haar ondersoek gekry het, kort aantekeninge oor die vroue van wie sy die inligting gekry het, en dan verskeie aansoeke van vroue wat wel ’n ander heenkome het, maar tevergeefs verlof vra om die kampe te verlaat — hulle sou dan in Kaapland "sedisie” in die hand gaan werk as hulle uitkom!
Voorts bevat die verslag Emily se voorstelle vir verbeteringe - kort en op die man af.
Vir die oorlogsregering skep die onthullings van Emily se klein verslag van veertig bladsye ’n politieke krisis.
Lloyd George, in die Opposisiebanke, opper die saak in die Laerhuis: die Huis moet verdaag, eis hy, om mej. Hobhouse se verslag te bespreek.
Sir Henry Campbell-Bannerman, leier van die Liberale Party, het ’n paar aande tevore ’n onderhoud gehad met Emily. Persoonlik het sy aan hom vertel wat sy in Suid-Afrika gesien het. Maar dis methods of barbarism het hy met ontsetting gefluister - en hierdie frase gebruik hy nou hier in die parlementêre bespreking weer. Dis drie woorde wat onmiddellik inslaan en deur pers en publiek aangegryp word. Methods of Barbarism weerklink dit deur die land. Methods of Barbarism noem W. T. Stead van die Review of Reviews sy heftige stuk wat ook deur die S.A.C.C. in pamfletvorm herdruk word - is dit ’n beskaafde, is dit ’n Christenvolk wat hom aan sulke metodes van oorlogvoering skuldig maak en, terwyl hy die manne op die slagveld nie kan kleinkry nie, die stryd voer teen weerlose vroue, hulpelose kinders ? vra hy.
Die pers gons. Briewe stroom in. Veldm. sir Neville Chamberlain skryf ’n brief aan die goeie ou Manchester Guardian : "What would be the indignation in the United Kingdom,” sê hy, "if anything approaching such miseries were enacted by an invading army in our own country, where even the nests of birds are under the protection of law?”
Die teenbriewe stroom natuurlik ook in. Die groot publiek is briesend, woedend, vuurspuwend, feitlik - en soos gewoonlik: nie soseer oor die ding wat gebeur het nie, maar oor die een wat dit aan die lig laat kom het. Daardie verfoeilike Hobhouse- vrou!
Van oral kry Emily uitnodigings om vergaderings oor die konsentrasiekampe toe te spreek. Sy spreek daardie somer veertig van hulle toe. Soos so dikwels wanneer sy uitgeput of oorspanne is, slaan haar stem eenkeer amper heeltemal weg. Baie dikwels ook word openbare sale vir haar geweier. In York, byvoorbeeld, sê die hoof van die polisie sy mag nie daar praat nie, hy’s bang daar kom dalk "disturbances”. In Bristol reël die Kwakers, soos op verskeie ander plekke, vir haar ’n vergadering. Die oproeriges probeer haar doodskreeu, die Kwaker-dames op die verhoog by haar hef godsdienstige liedere aan. Jare later het Emily nog die stokke en klippe wat betogers daardie aand na haar gegooi het. Die skorsies en tamaties wat in Portsmouth op haar gereën het, was nie minder effektief nie, sê sy, maar wel minder duursaam...
Sy kom al meer op stryk met die kuns van toesprake hou. Eers gaan dit nie so goed nie. Op Manchester kom luister Leonard na haar. Emily, sê hy, jy oorlaai die mense met besonderhede, jy moet jou stof meer saamvat. Soos wanneer jy skryf, moet jy besluit watter ink jy in die pot moet laat staan, sê die ervare joernalis.
Sy luister na sy raad, sy verbeter baie. Sy steek die land aan die brand oor die kampe.
As gevolg van die openbare ophef besluit die oorlogsregering om ’n kommissie van vooraanstaande vroue na die kampe uit te stuur, vir ’n "onpartydige” ondersoek. Emily word in die saak glad nie geken nie. Om die ses lede van hierdie kommissie gekies te kry, duur ’n ronde maand. Die leidster sal wees mev. Millicent Fawcett, bekende kampvegster vir vroue-regte, sterk voorstander van die oorlog. Die ander lede is lady Alice Knox, vrou van genl. Knox (wat nie vir genl. De Wet gevang kon kry nie), Lucy Deane, ’n fabrieks-inspektrise en opgeleide welsynswerkster, Katherine Brereton, ’n opgeleide verpleegster, vroeër van Guy’s-Hospitaal in Londen, en dan twee mediese dokters, wat reeds in Suid-Afrika is: dr. Emma Scarlett en dr. Jane Waterston. Uit die trant van dr. Waterston se briewe in die Cape Times in hierdie tyd is dit meer as duidelik dat haar simpatie nie by die Boerekant lê nie.
Vyf maande lank sal die kommissielede per trein van kamp tot kamp reis — elkeen met ’n eie kompartement, met hul private eetwa aan hul trein, en hul eie private Portugese kok. Dit sal ses, sewe maande duur voordat ’n verslag van hulle eers verskyn.
Intussen, weet Emily, sterf die kinders: volgens Britse verslae het 576 kinders in Junie gesterf, 1,124 in Julie, 1,545 in Augustus. Die bevolking van die kampe het in die drie maande van 85,000 aangegroei tot 105,000. Sy skryf ’n vlammende ope brief oor hierdie statistiek aan St. John Broderick in die Londense Times. Hierdie kinders het gesterf sedert sy laas met hom gepraat het. Het sy nie gewaarsku nie? Om die ontwil van daardie 3,245 kinders wat intussen hul oë vir goed gesluit het, pleit sy by hom : sal hy nie in hemelsnaam iets doen nie? Wanneer nog sal daar eers ’n verslag van die Ladies’ Commission verwag kan word ?
Ná Emily se verslag is baie verbeteringe aangebring. Wanneer hulle aan die einde van 1901 hulle verslag uitbring, onderskryf die Ladies’ Commission nietemin wesenlik al haar bevindinge. Water, sanitasie, hospitale, tente is reeds verbeter voordat hulle verslag doen. Hulle sal, in ’n onderhoud met Kitchener, miskien die belangrikste verkry: beter rantsoene. Chamberlain het intussen in September as minister van Monies die kampe van die oorlogsministerie oorgeneem (want die oorlog in Suid-Afrika was volgens Britse mening "oor”). Die kampe word een van sy eerste verantwoordelikhede, want die herrie daaroor dreig om sy regering te lig. Hy ry Milner, terug in Suid-Afrika, met so ’n kort leisel hieroor dat dié, skryf hy, het tyd vir omtrent niks anders nie, die kwessie van die kampe neem feitlik al sy aan dag in beslag. Hoe ook al, laat Chamberlain terug weet, "the present situation cannot be accepted if forethought and science can suggest any expedient for curing or preventing it”, en hy eis van Milner telegrafiese verslag oor kamptoestande en of hulle al verbeter het.
Hy’t nie mense nie, skerm Milner. Moet ek vir jou oud-offisiere van die Britse leer in Indië stuur wat ondervinding het van hongersnood-kampe ? laat vra Chamberlain. Die gevolg van hierdie druk was dat die kampsterftes teen Mei van die volgende jaar "feitlik normaal” was. Maar toe was dit ook al vrede - die oorlog was toe verby.
Intussen, terwyl Emily van Junie tot September in Engeland besielde vergaderings hou, onderhoude toestaan, artikels skrywe, word daar algemeen verwag dat sy weer na die kampe sal teruggaan en haar werk daar sal voortsit. Maar dit word gaandeweg duidelik dat die Britse regering haar nie weer naby ’n konsentrasiekamp wil hê nie. Die vroumens is dinamiet!
Daar is ander nood in Suid-Afrika: die hoofsaaklik Britse vlugtelinge uit die noorde, werklike "refugees”, wat in die kuskampe by Durban, Oos-Londen, Port Elizabeth en Kaapstad sit. Hul toestand is ook bejammerenswaardig. Uit Oos-Londen het Emily ’n spesiale brief gekry wat vra sy moet tog daar ook kom ondersoek instel. Lord Ripon, van die Distress Fund Committee, ’n Brit wat Emily werklik na waarde skat, raai haar aan om hieraan gehoor te gee en vir dié doel na Suid-Afrika te gaan.
Die pers kry die aap ongelukkig aan die stert beet. Die gerug doen die rondte dat mej. Hobhouse weer weg is na die konsentrasiekampe in Suid-Afrika. Toe sy op 1 Oktober 1901 in die Avondale Castle in Tafelbaai aankom, wag daar vir haar ’n baie groot skok. Dit blyk krygswet is onderwyl sy onderweg was, in Kaapland afgekondig en sy word verlof geweier om eens aan wal te gaan.
Sy moet met dieselfde skip terug Engeland toe, kom die bevel.
Emily was uitgeput na daardie vorige vier maande in Engeland en die vier nog meer afmattende maande in Suid-Afrika. Een rede hoekom sy nou na Suid-Afrika wou kom, is dat sy na die son gesmag het, weer haar Kaapse vriende wou sien, ’n bietjie wou asemskep. Die uitreis, op ’n vol troepeskip, was afgryslik. As sy, vergesel van die opgewekte verpleegster Elizabeth Philips in die Kaapse hawe aankom, is sy in ’n bedenklike toestand : haar polsslag soms net ses-en-vyftig, sê verpleegster Philips, haar hart ellendig, haar asemhaling onreëlmatig. Sy’s te swak om die terugreis dadelik aan te pak: mag sy aan wal gaan, na vriende of, as dit nie anders kan nie, êrens na ’n tronk, tot sy beter is?
Haar Kaapse vriende, Caroline Murray, dié se suster Betty Molteno, mev. Harry Currey, mev. Steyder, mev. Purcell-hulle, mev. Sauer, mej. Stegmann (mev. Philip Botha se suster), ou mev. Zeederbergh, almal vra permitte om haar te besoek. Betty Molteno vind haar aan boord in ’n stoel op dek, te swak om te praat...
Maar nie, blyk dit, te swak om branders van protesbriewe te skryf aan lord Kitchener, aan lord Alfred Milner, aan kol. Cooper, die bevelvoerder van die Kaapse garnisoen, aan sir Walter Hely-Hutchinson, die Kaapse goewerneur, nie!
Sy beroep haar op haar regte as vrye Britse burger. Hoe durf hulle haar, sonder opgaaf van rede, gevange hou op die skip? Watter misdaad het sy gepleeg? Nogmaals is ’n beginsel vir haar op die spel, ’n waardevolle beginsel wat hier arbitrêr deur krygswet verkrag word, voel sy.
Maar die keer moet "the Missus” swig. Haar verontwaardigde briewe bereik niks nie. Hulle gaan haar terugstuur met die Rosslyn Castle, wat vyf dae na die Avondale se aankoms uit Tafelbaai vertrek.
Sy’s te siek, te siek . . . protesteer sy nog. Sy eis dat haar eie geneesheer, dr. Murray, haar aan boord kom ondersoek. Voor dit kan gebeur, het die militêre dokter haar kom ondersoek. Nee, sê hy, sy kan ry.
Sy voel dat sy aan ’n beginsel ontrou sal wees as sy toegee. Sy weier. Hulle stuur soldate om haar met geweld te kom oordra na die Rosslyn. Een keer laat sy hulle met haar vlymende verwyte trustaan : Skaam julle, soldate! Dink aan jul moeders, jul susters! Maar die volgende keer maak die offisier korte mette met haar proteste.
Hulle dra haar die nag skoppend en stoeiend kaailangs oor na die ander skip.
Baie jare nog bewaar sy ’n geskeurde serpie as gedagtenis aan daardie episode.
Vervolg...