...heldin uit die Vreemde
Rykie van Heerden
Lees reeks by Emily Hobhouse
'N HELDER STEM DOOF UIT
"Ons sal aan hulle dink, nie om ou verdriet weer wakker te maak nie,” sê sy, "maar as ’n heroïese inspirasie. Want wat nooit sterf nie, en nooit mag sterf nie, is die groot voorbeeld..."
Vir iemand wat die onreg in die wêreld so heftig aanvoel soos Emily, is daar nie baie kans vir selfbejammering of uitspan nie. Dis vir die swakkeres, sê sy in ’n brief van later jare: "ons wat mag ken, ons moet eenvoudig tot die laaste krieseltjie vegkrag gedaan is bly stry teen onreg en boosheid, waar dit ook in die wêreld kop uitsteek.”
Haar hart is so verswak, haar gestel en senuwees so ooreis en uitgeput na die veeleisende jare in Suid-Afrika dat die hele laaste vyftien jaar van haar lewe feitlik een lang stryd op sigself is. "Jy sal jou baie stil moet hou.” "Jy sal die res van jou lewe maar min of meer op ’n rusbank moet deurbring,” waarsku dokter na dokter haar. Maar elke keer as jy kyk, is sy weer iewers op ’n voorpunt in ’n stryd.
Twee groot sake oorheers haar later jare : vroueregte, en vrede, en die twee hang na haar siening nou saam. Na wat sy in Suid- Afrika van oorlog gesien het, glo sy onwrikbaar dat daar nie so iets kan wees as ’n "beskaafde” oorlog, soos die Haagse Konvensie so vrugteloos in 1899 nog probeer reël het: die ding is in sy wese ’n verskrikking, en oorlog self moet eenvoudig uitgeroei word. En, ontnugter deur wat sy van mans se hantering van sake gesien het, glo sy ewe vas dat sake in die wêreld nie sal regkom voordat die vrou haar volle aandeel in die bestuur daarvan gekry het nie.
As die vrou kan ly en die geloof behou soos die vroue in die Anglo-Boere-oorlog gedoen het, dan moet sy ook mede-seggenskap hê in haar lotsbeskikking, dis Emily se standpunt.
Daarom is sy opgewonde as pres. Steyn, toe sy vir oulaas in 1908 nog weer op Onze Rust kuier, haar vertel van sy voorstel om vir die vroue en kinders wat in die oorlog omgekom het, ’n gedenkteken op te rig. "Ons maak daarop aanspraak as ’n wereldmonument! ” sal Emily later sê. Dit het ’n boodskap vir die wêreld en vir die toekoms, glo sy.
’n Wedstryd word uitgeskryf. Frans Soff sal die argitek wees en Anton van Wouw kry die opdrag om die beeldhouwerk vir die Vrouemonument te doen. As hy in Rome aankom om daaraan te werk, is Emily juis, soos van nou af aan byna elke winter, vir haar gesondheid daar. Hy roep dadelik haar hulp in : hoe kan hy, vra hy, in een toneel die hele tragiek van daardie oorlog uitbeeld?
Emily hoef nie lank te dink nie. As sy haar oë toemaak, sien sy weer Springfonteinstasie voor haar, in die herfs van 1901. Van die gehawende vroue, kinders en ou mense wat al weke lank in wind en weer wag op huisvesting in ’n kamp, het in die nat van ’n vroeë winter skuilinkies geprakseer van stukke seil wat hulle van die soldate gekry en oor ’n paar stokke probeer span het. Regop staan daarbinne kan jy kwalik.
"Na so ’n skuiling,” sê Emily vir Van Wouw, "is ek een nag geroep. Daar het ’n moeder op haar trommeltjie gesit, met haar kind op haar skoot. Sy het niks gehad om hom te gee nie, en hy was duidelik besig om te sterf . . . Ek het nog by die kampkommandant ’n bietjie brandewyn laat vra om te kyk of ons hom nie daarmee kon bybring nie, maar hy wou niks gee nie. Saam het ons toe in eerbiedige stilte toegekyk hoe die kleintjie sy laaste asem uitblaas. . .
"Die moeder het haar nie verroer nie, sy’t nie gehuil nie. Dit was haar enigste kind. Met droë oë maar ’n krytwit gesig het sy bewegingloos daar gesit en gekyk - nie na die kind nie, maar ver, ver weg in die afgronde van smart wat anderkant trane lê.
"’n Vriendin het agter haar gestaan en die hemel tot getuie geroep van die tragedie; ander om haar het gesnik — sy, niks nie.
"Die hele tragiek van oorlog lê vir my opgesluit in daardie toneel van kinderlyding en vrouesmart,” sê Emily. En duisende wat oor die jare voor die Vrouemonument gestaan het, is dit met haar eens: dit word die toneel wat die beeldhouer kies as tema vir die sentrale bronsgroep, die brandpunt van die hele monument.
Gedurende die hele skeppingsproses bly hy stap vir stap in aanraking met Emily, wat nie rus voordat sy voel hy het dit reg nie.
"Ja,” sal sy sê, "die vrou agter is goed: dit lyk asof sy die hemel tot getuie roep van die toneel. Maar die moeder - nee, sy’s nog nie reg nie. Haar gesig lyk sommer net leeg, nog nie verhewe bo alle smartbetoon nie .
Veral met die kinderfiguur was sy lank nie tevrede nie. "Jou kind lê rustig en slaap, hy’s nie dood nie! ” sê sy in die begin vir Van Wouw. "Jy moet verlof vra en in die hospitaal self gaan kyk hoe lyk pasgestorwe kinders!” Ook na Michelangelo se Pieta in die St. Pieterskerk gaan kyk Van Wouw waarskynlik ’n hele paar keer - daar waar Maria met die gestorwe Jesus op haar skoot sit.
En eindelik is ook die veeleisende Emily redelik tevrede.
Almal verwelkom van harte pres. Steyn se voorstel dat Emily self gevra word om die monument op 16 Desember 1913 te onthul. Wanneer sy hierdie uitnodiging kry, is sy reeds effens herstel na vier jaar van feitlik voortdurende siekte.
"Ek kan darem al weer ’n paar honderd tree op ’n gelykte loop, en selfs so teen ’n effense bultjie uit. . . maar altyd darem met ’n stoeltjie op my arm, dat ek dadelik kan gaan sit as dit nodig word. Ek kan byna ’n halfuur lank praat. Ek kan, wat nuttiger is, langer as dit luister, en heeltemal natuurlik al oor ’n vertrek stap,” spog sy in ’n brief aan mev. Caroline Murray. En om ’n lang storie kort te maak, sy waag feitlik haar lewe, maar sy kom. Maar teen die tyd dat haar trein met haar spesiale reiswa op Beaufort-Wes kom, is dit duidelik dat die hoogte bo seespieël en die verskriklike Karoo-hitte haar sieker maak; dis in haar reiswa by die 100 grade Fahrenheit. Daar word ernstig gevrees vir haar lewe en sy is verplig om, tot haar bitterste teleurstelling, na ’n paar dae in die Steytlers se koel pastorie op die dorp, om te draai, terug Kaap toe.
Op 16 Desember is dit haar vriend Charlie Fichardt wat haar ontroerende rede aan die skare by die Vrouemonument voorlees. Afskrifte van haar toespraak, in Afrikaans en in Engels, word onder die mense versprei.
Sy staan nie stil by die verlede wat nog so helder voor haar oë is nie, sy betrek alles in veel breër verband.
"Ons sal aan hulle dink, nie om ou verdriet weer wakker te maak nie,” sê sy, "maar as ’n heroïese inspirasie. Want wat nooit sterf nie, en nooit mag sterf nie, is die groot voorbeeld...
"Jul afgestorwenes se dapper eenvoud spreek tot die vroue van die wêreld en is van nou af ingeweef in die web van elke vrou se lewe .. .
"Tot die vroue, veral, sal hierdie monument spreek : Jul land vra jul lewe en jul kragte nou in ’n ander rigting. Ingewikkelde vraagstukke verrys .. . wat ernstige gevolge inhou vir die welvaart van jul seuns en dogters. Dit is julle taak om hierdie probleme in jul huise deur te dink, julle taak om ’n reinigende invloed uit te oefen op die politiek, julle taak om leiding te gee in die staat. . .
"My vriende, dwarsdeur die wêreld kom die dag van die vrou nader, haar eeu breek aan.”
Terwyl hierdie toespraak gelees word, lê Emily aan huis by vriende in Bergvliet, by Kaapstad : so swak dat sy haar kop nie van die kussing kan oplig nie, en ’n week lank geen enkele geluid kan maak nie — selfs nie eens hardop kreun nie.
Dis byna ongelooflik, maar as die Eerste Wêreldoorlog minder as ’n jaar later uitbreek, is hierdie gebroke, feitlik sterwende Emily weer vol in die stryd. Waar nood is, is sy. Sy help versorg die eerste winter in Cornwallis Belgiese vlugtelinge. Sy werk in Amsterdam saam met die Vroueliga vir Wêreldvrede - met ’n wêreld-vreemde idealisme wat ’n keer selfs wil hê vroue van alle nasies moet in wit geklee en met palmtakke na die front gaan en so ’n einde maak aan die slagting! Sy dring deur agter die vyandelike linies en besoek krygsgevangenekampe in België en Duitsland.
Sy kry die waansinnig-klinkende plan, en voer dit waarlik uit, om persoonlik na Duitsland te gaan en as selfaangestelde tussenganger tussen haar eie land en die vyand vrede te probeer bewerkstellig. Sy spreek hieromtrent selfs die Duitse minister van buitelandse sake. Maar van die plan kom verder niks tereg nie. As dit in Engeland bekend word dat sy sonder medewete van haar eie regering oor was na die vyandelike gebied, word sy uitgekryt as verraaier en word sy, soos tien, twaalf jaar tevore, weer die onderwerp van heftige parlementêre debat.
Sy steur haar nie daaraan nie, en as die oorlog verby is, organiseer sy, weer net soos in die Anglo-Boere-oorlog, hulp vir noodlydende vroue en kinders in die verskriklike hongersnood wat dan in Midde-Europa heers. Sy gaan self na Wenen en Leipzig, stel weer ouder gewoonte eers persoonlik ondersoek in en kom dan onder meer met ’n kindervoedingskema vir die verhongerde Leipzig — al is sy by wyle so swak dat sy op ’n baar van en na die stasie gedra moet word. Met mev. Steyn se samewerking kry sy vir hierdie voedingspoging pragtige hulp ook uit Suid-Afrika, die Suid-Afrikaners se bydrae is die grootste wat Leipzig van enige enkele komitee kry.
Hierdie skema is die laaste groot aktiewe werk wat sy aanpak. Daama is haar kragte werklik vir goed geknak. Maar ophou werk vir haar ideaal van wêreldvrede? Nie Emily nie. Van die magtigste ammunisie wat sy teen oorlog het, is die onvermydelike lyding wat dit meebring vir vroue en kinders en hulpeloses wat in geen opsig aan die oorlog aandadig was nie. Geen beter beeld hiervan as dié van die Anglo-Boere-oorlog nie. Daarom publiseer sy nog, grotendeels op eie onkoste, twee boeke oor daardie tyd. Haar eerste boek, The Brunt of the War and Where it Fell, het sy opgedra aan:
The Women of South Africa whose endurance of hardship resignation in loss independence under coercion dignity in humiliation patience through pain and tranquillity amidst death kindled the reverent appreciation of the writer, and has excited the sympathy of the world.
Naas The Brunt of the War kom nou ook Tant Alie van Transvaal, haar vertaling van Alie Badenhorst (gebore De Wet) se dagboek, en War without Glamour, ’n bundel van vroue-ervaringe gedurende die oorlog, saamgestel uit verhale wat sy self op haar besoek van 1901 en 1903 opgeteken het, die dagboeke en joernale wat die vroue op daardie togte aan haar gegee het, of stukke oor oorlogsbelewenisse wat hulle spesiaal op haar versoek opgestel het.
Haar broer Leonard het gesê Brunt is nie goed geskryf nie (die Afrikaanse vertaling deur dr. N. J. van der Merwe, is gepubliseer as Die Smarte van die Oorlog en wie dit gely het). Leonard het reg - Dis ’n rangskikking van nuusknipsels, amptelike dokumente, briewe, verhale oor die aspekte van die oorlog wat veral die vrou raak. Dit vervul ’n mens wel met bewondering vir die feit dat Emily soveel materiaal binne so ’n kort tyd byeengekry en so stelselmatig georden het. Dis belangrike stof, en dit is interessant, maar ’n bietjie swaar om te verteer.
Maar die dagboek van Tant Alie, wat Emily self uit "the taal” in eenvoudige Engels oorgesit het, is ’n pragtige dokument van ’n vrou se ondervindinge gedurende daardie oorlog. Tant Alie is fyn en broos op die oog, maar sy’s ’n vrou met durf en moed wat vir geen duiwel stuit nie, met ’n lekker humorsin en ’n heerlik vurige gees. M.E.R. het dit later uit die oorspronklike Hollands in hedendaagse Afrikaans oorgesit.
War without Glamour, wat eers ’n jaar na Emily se dood verskyn het, gee nie net die ondervinding van Boervroue in die konsentrasiekampe nie, dit vertel ook die verhaal van ’n vrou met haar kinders wat na Basoetoland gevlug en by die Basoeto’s geskuil het, dit vertel die ondervinding van die wat in die vrouelaers was, die wat selfs lang tye saam met Engelse kolonne moes rondtrek - pragtige, eerstehandse vertellinge of in Engels of in Hollands wat Emily dan self vertaal het. Dit was waarskynlik die heel eerste keer in die wêreldgeskiedenis dat vrouelyding in oorlog deur die vroue self te boek gestel is: "...getuienis van die allergrootste waarde nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die hele wêreld, van die uitwerking van oorlog op burgerlikes, en ’n sprekende prentjie van die ellende wat dit meebring vir hulle wat onskuldig is aan die stryd,” sê Emily in haar voorwoord.
Sy self het baie pyn, hierdie laaste jare; afgesien van haar vergrote hart, ook gewrigsrumatiek, wat ook beweging vir haar al hoe moeiliker maak - die een kwaal op die ander.
Die wêreld word vir haar donker en eensaam, want veral na haar optrede in die Eerste Wêreldoorlog is daar baie van haar landgenote wat, meer nog as tevore, die rug op haar keer: op St. Ives weier die melkjong selfs om melk by haar huis af te lewer.
Maar Suid-Afrika, haar tweede land, vergeet haar nie. Met byna elke pos kom daar nog briewe van vriende hier met wie sy oor elke aspek van die Suid-Afrikaanse lewe korrespondeer. Sy weerspreek nog verdraaiings oor Suid-Afrika in die openbare Engelse pers. Sy help nog jong Suid-Afrikaanse kunstenaars soos die skilder Hugo Naude en die pianis Jan Bosman di Ravelli deur hulle aan haar invloedryke vriende in Brittanje en Italië bekend te stel. Aan genl. Smuts, met wie se optrede in en veral na die Eerste Wêreldoorlog sy bitter ontevrede is, rig sy nietemin miskien haar lewendigste en mees spitsvondige korrespondensie. Die laaste tien, twaalf jaar van haar lewe gaan daar amper geen week om dat sy en mev. pres. Steyn nie briewe wissel nie - briewe wat na die einde van haar lewe oor die diepste en ernstigste dinge gaan.
Dit is deur mev. Steyn se toedoen dat die Afrikaanse vroue herhaaldelik dinge doen wat vir Emily in haar laaste siek, bekommerde jare ’n soet druppel is. In 1911 reeds het hulle vir haar ’n geskenk gestuur om dankie te sê vir wat sy vir hulle gedoen het. Na haar dapper poging om die Vrouemonument te kom onthul, in 1913, stuur mev. Steyn en die vroue haar ’n pragtige karos van blourugjakkalsvel, ’n geweefde kombers waarmee een van haar ou weefskole ’n goue medalje verower het en, uit Oudtshoorn met Langenhoven se hulp, twaalf uitsoek-volstruispluime. In 1921 maak die Afrikaanse vroue halfkroonsgewys vir haar £2,300 bymekaar : hulle weet sy het dit skraps en sy is siek, hulle vra dat sy daarmee vir haar êrens ’n eie huisie koop. Sy vind een na haar hart in St. Ives, aan die Comwalliese kus, en woon daar tot haar kragte werklik te min word. En dan, elke jaar op haar verjaarsdag, kom daar om die beurt van die een of ander Vrystaatse distrik ’n "wonderbox” vir haar. Elke jaar is dit vir haar of die hele gulheid van die verre, sonnige land uit so ’n presentkassie getuimel kom. Daarin sou soos by een geleentheid wees :
1 groot versierde verjaarsdagkoek
2 groot blikke uitgedroogde mosbeskuit
29 bottels allerlei soorte konfyt
21 bottels ingelegde vrugte
10 pond biltong
5 pond rosyne
40 pond gedroogde vrugte
25 pond amandels en okkerneute
3 bottels heuning
1 bottel tamatiesous (tuisgemaak)
1 bottel blatjang
2 stene boerseep
Suid-Afrika moet die land Eden self wees! slaan die matrone en verpleegsters die hande saam toe so ’n "wonderbox” een jaar aan Emily in ’n Londense hospitaal afgelewer word.
Hoe verlang ek nie na jul sonskyn en jul blou lug nie! skryf Emily self herhaaldelik aan haar vriende in Suid-Afrika.
Maar die heel laaste sin in die heel laaste brief wat Emily skaars ’n week voor haar dood aan mev. pres. Steyn skryf, wys haar grootste begeerte, hier aan die einde, is tog dat haar eie mense haar optrede beter moet begryp.
"Ek wil hê die hele Engeland moet dit aanneem dat my dade na my innerlikste oortuiging patrioties was in die volste sin . . . 'n sterk en helder stem is nodig om deur die omhulsel te breek waarmee die waarheid van 1899 af vir ons volk bedek is...”
Dit is haar laaste geskrewe woorde.
"Jy was altyd dapper,” praat Leonard haar in haar laaste ure moed in.
"Miskien te dapper,” fluister sy. Want wat het dit haar nie gekos nie!
Op 8 Junie 1926 sterf sy in Londen. By haar begrafnisdiens in die mooi ou kerk St. Mary Abbot’s in Kensington sing die koorseuntjies "Lord, now lettest thy Thou servant depart in peace, for mine eyes have seen thy salvation.” En deur die grou Londense lug breek die son ineens helder.
EINDE