Lees reeks by President M.T. Steyn
Johannes Meintjies
Familiegeskiedenis
Die hele wêreld het eens van president Steyn geweet. Maar dit was in ’n stadium van sy lewe toe sy kop kaal was, sy oë opgeswel en byna toe, en sy besonder lang baard oor sy bors gerank het. Hy was toe reeds middeljarig en baie siek.
Maar daar was natuurlik ook ’n tyd toe hy jonk en vol lewenslus was, toe mense sy mooi bruin oë en sterk neus, sy frisgeboude liggaam en mooi hande bewonder het. In die bekendste portrette van die president is daar geen aanduiding van sy heerlike sin vir humor nie, ook nie van sy warme menslikheid, sy deernis en sy krag nie. Hy het die intelligensie, die waardigheid en die kultuurbewustheid gehad wat ’n mens van ’n koning sou verwag. En hy was ook inderdaad baie jare lank bekend as die ongekroonde koning van Suid-Afrika.
Die Steyns was oorspronklik Swellendammers. Hulle was van die Afrikaner-aristokrate van die vroeë Kaap. Hulle was nie net welgesteld nie, maar ook mense van goeie opvoeding en edel van inbors, hardwerkend en met groot vaderlandsliefde. Die familietuiste was die bekende Swellendamse Drosdy, wat vandag ’n nasionale monument is. Dit het behoort aan die president se oupa, Pieter Gysbert Steyn, wat in 1804 gebore is. Die groot huis het tot 1939 in die Steyns se besit gebly. Pieter Gysbert Steyn was ’n wamaker en ’n smid. Hy was een van die welvarende manne in die distrik Swellendam, wat destyds geweldig groot was. Hy het veertien kinders gehad, sewe seuns en sewe dogters. Een van hierdie seuns was Marthinus, en hy was president Steyn se vader.
Marthinus Steyn het, soos sy vader, ook die ambag van wamaker en smid beoefen. Hulle waens was baie gesog en is oor ’n uitgestrekte gebied verkoop. Sonder ’n goeie wa was ’n boer hulpeloos.
Daarmee het hy vrag vervoer dit was ’n rytuig en ’n tuiste vir hom en sy gesin. Die Steyn-waens is selfs tot in Winburg in die Vrystaat verkoop of vir vee geruil. Marthinus Steyn het van kleins af saam gegaan wanneer sy pa en broers togte onderneem het om waens te verkoop of af te lewer. Op dié manier het hy die familie Wessels van die Vrystaat leer ken. Hy het veral bevriend geraak met kommandant Mattheus Hendricus Wessels van die plaas Tafelkop naby Winburg. Die kommandant was getroud met een van die De la Reys wat destyds ook nog in daardie kontrei gewoon het. Hul jongste dogter was Cecilia Johanna Wessels, en op haar het Marthinus Steyn verlief geraak.
Aangesien Marthinus die seun van ’n welgestelde en vooraanstaande man was, het hy ’n goeie opvoeding geniet. Sy leermeester was die bekende dr. William Robertson van Swellendam. Marthinus het Engels, Afrikaans en Hollands ewe vlot gepraat. Hy was ’n puntenerige man, lank en fors gebou, en nogal aantreklik - iets wat die Steyn-mans nie almal was nie. Marthinus was ook baie netjies en het later die bynaam Martiens Blinkstewels gekry. Sy vader, Pieter Gysbert, het van die Vrystaat gehou. Hy koop toe die plaas Josephinesdal naby Winburg om daar perde te teel. Dit was naby Wessels se plaas, en toe Marthinus weer die jong Cecilia Wessels sien, vra hy ouers. Omdat hy so baie moes rondgaan, was daar nie tyd vir ’n lang hofmakery nie. Marthinus en Cecilia is kort daarna, in 1851, op Winburg getroud.
Die jong egpaar Steyn vestig hulle op Swellendam, want Marthinus sou sy vader se werkwinkel oorneem. Dit was nie juis na Cecilia se sin nie, want sy was ’n pioniersdogter en gewoond aan die oop vlaktes van die Vrystaat. Sy was ook nie so ingenome met haar man se ambag nie, hoewel dit lonend was. Aangesien sy egter spoedig ’n baba verwag het, het sy haar berus. Hul eerste kind, Pieter, is op 15 Julie 1852 op Swellendam gebore. Toe haar kind sowat agtien maande oud is, kyk Cecilia eendag na haar man toe hy van die smidswinkel af tuis kom. "Martiens, waarom moet jy jou so afsloof in daardie vieslike smidswinkel ? Ek kan dit nie meer verdra nie. Ek verlang Vrystaat toe. Daar het ons tog genoeg veld, en kan jy jou eie baas wees - ’n boer, vry en gelukkig. Kom ons trek!” Marthinus kon sien dat sy vroutjie vasbeslote is. Sy was koppig soos haar moeder, Johanna Cecilia Wessels (gebore De la Rey). En ’n mens kon haar nie maklik teëgaan nie.
Van mevrou Wessels word ’n bekende staaltjie vertel, maar daar word gewoonlik nie gesê dat sy Pres. Steyn se ouma was nie. Kmdt. Wessels het jaarliks van Winburg na Colesberg gereis om inkopies te doen en velle en wol te verkoop, maar veral om buskruit te koop. Sonder ammunisie was ’n boer verlore, maar in ’n stadium het die Britse regering die uitvoer van buskruit verbied. ’n Offisier is aangestel om waens wat na die Vrystaat terugkeer, te deursoek en op alle kruit beslag te le. Wessels het hom nie aan die verbod gesteur nie en sy gewone voorraad buskruit aangeskaf. Sy waens was skaars buite Colesberg, toe die Britse offisier by hulle opdaag. Wessels was omgekrap, maar sy vrou het haar nie van stryk laat bring nie. Hulle het pas uitgespan en sy was so ’n ent van die waens af besig om koffie te maak. Terwyl die offisier en Wessels eenkant gesels, gaan sy na een van die waens en laat die sakkies kruit na die vuur toe dra.
Daar laat sy hulle op ’n hoop pak, gooi ’n kombers daaroor en gaan op ’n kussing bo-op die hoop sit. ’n Vonk kon enige oomblik die buskruit laat ontplof het, maar ewe ongeërg sit die tante daar terwyl die offisier die waens deursoek. Hy kon niks kry nie en kom sit toe heel vriendelik by mev. Wessels en koffie drink, min wetende in watter gevaar hulle verkeer. Toe hy die koffie uitgedrink het, het hy gegroet en is tevrede vort, terwyl die Wesselse hul reis na Winburg voortgesit het.
Na oorweging het Marthinus Steyn besluit om aan sy vrou se wens te voldoen en te trek. Sy familie was erg ontevrede, en selfs dr. Robertson het kom vra dat hulle tog van plan moet verander. "Die Vrystaat is nog wild en verlate, my liewe kind,” waarsku hy vir Cecilia Steyn. "Daar kan ’n mens van dag tot dag nie van jou lewe seker wees nie.” Sy woorde het egter geen indruk op haar gemaak nie. "Doktor, mens is nêrens van dag tot dag van jou lewe seker nie,” was haar antwoord. Hulle het hul waens gelaai, en Marthinus en Cecilia Steyn en hul seuntjie Pieter het Vrystaters geword. Hul bediendes, veewagters en touleiers het saam getrek. Daar het hulle hul intrek geneem op die Steyns se plaas Josephinesdal naby Winburg.
Die Oranje-Vrystaat was ’n tyd lank ’n veilige hawe vir die Boere wat weens hul baie griewe uit die Kaapkolonie weggetrek het. Maar toe annekseer die Kaapse goewerneur, sir Harry Smith, die gebied. Hiermee was die Britse regering nie tevrede nie, want Brittanje se kolonies was besig om hom ’n fortuin te kos. Boonop was die Boere ontevrede oor die anneksasie en die naburige Basoeto’s oproerig. In die Kaapkolonie het ’n duur oorlog teen die Kosas ook weer langs die oosgrens uitgebreek. Daarop besluit die Britse regering om die Vrystaat, wat onder hulle bewind as die Oranjerivier-Soewereiniteit bekend was, aan die boere terug te gee. Sommige Vrystaters was hieroor in hul noppies, terwyl ander weer die teruggawe as ’n terugslag beskou het.
Een van laasgenoemdes was kmdt. Wessels. Na sy mening het die Engelse die Boere in die steek gelaat. Die Vrystaat was arm, daar was geen mark vir die Boere se produkte nie en die toekoms het onseker gelyk. Vir ander weer, was onafhanklikheid ’n towerwoord, en geen prys te hoog om daarvoor te betaal nie. Hulle het kmdt. Wessels skeef begin aankyk. Daar was praatjies dat hy Engelsgesind is, en dat dit net reg sou wees om met die verkryging van onafhanklikheid, op 23 Februarie 1854, op sy eiendom beslag te lê. Hierop het kmdt. Wessels weer oor sake gaan nadink, van mening verander en ’n vurige republikein geword.
Die egpaar Steyn het hulle op Josephinesdal gevestig. Marthinus het begin boer en sy wamakery en smidswerk laat vaar. Hulle tweede kind was oppad, ’n dogter wat Cecilia Johanna gedoop is. Sy en Pieter was die enigste twee van hul kinders wat onder die Britse vlag gedoop is. Nadat die Republiek van die Oranje-Vrystaat tot stand gekom het, is die volgende seun, Tewie, gebore.
Winburg was toe maar ’n klein dorpie, en Bloemfontein nog kleiner. Bloemfontein het egter vinnig ontwikkel en was meer 'Engels’ as Winburg, want in die dae van die Britse bewind was ’n Engelse garnisoen onder maj. Henry Warden daar gestasioneer. Winburg se geskiedenis gaan terug tot 1837. Dit is in 1843 tot dorp geproklameer. Toe president Steyn in 1857 gebore is, was daar maar sowat vyf-en-twintig huise en ’n kerk wat in aanbou was. Bloemfontein was van 1845 af ’n Britse sentrum. Twee jaar later was daar maar sowat ses huise en ’n klompie hutte, asook ’n fortjie. Daarna het die nedersetting vinnig ontwikkel en die hoofstad van die Republiek geword.
Marthinus Steyn se vader is in 1857 op Swellendam oorlede. Marthinus het na Swellendam gegaan en Pieter en ’n Boesmantjie met hom saam geneem. Cecilia het agtergebly by haar susters, Gertruida en Cornelia Wessels, op hul plaas Rietfontein net buite Winburg. Gertruida was getroud met Theunis Cornelis Wessels. Daar is besluit dat die lang reis na Swellendam te vermoeiend vir Cecilia sou wees omdat sy weer swanger was. Rietfontein was maar anderhalf myl buite Winburg en dus naby ’n dokter.
Gertruida en Theunis Wessels het haar liefdevol opgepas, en op 2 Oktober is ’n welgeskape seuntjie gebore in die eenvoudige plaashuis van klip wat nog daar staan. Met sy terugkeer het Marthinus sy vrou en nuwe seun fris en gesond op Rietfontein aangetref. Die kind sou na sy vader heet. Omdat Theunis so goed vir Cecilia was, besluit hulle toe op "Theunis” as tweede naam. Met hierdie name is Marthinus Theunis Steyn toe gedoop - toekomstige regter en president van die Oranje-Vrystaat. Waarskynlik om verwarring te voorkom, is hy nooit Marthinus genoem nie, maar wel Theunis of Theuns.
Die gesin Steyn het daarop na Josephinesdal teruggekeer. ’n Paar maande later, in 1858, breek daar ’n oorlog met die Basoeto’s uit. Jacobus Nicolaas Boshof (1803-1881) was president van die Vrystaat, en Mosjesjwe koning van die Basoeto’s. Die goewerneur van die Kaapkolonie was sir George Grey. Hy het dikwels as bemiddelaar tussen Boshof en Mosjesjwe opgetree. Daar was al lank moeilikheid tussen die Boere en Basoeto’s vanwee veediefstal en grensgeskille. Die oorlog sou jaar na jaar voortduur, nou in die suide, dan in die noorde. In 1858 was dit so erg dat die meeste mans opgekommandeer is. Hul vroue het in laers veiligheid gesoek. Cecilia Steyn en haar kinders het skuiling gesoek in die vrouelaer onder Jan Taute op Paardevlei aan die Vetrivier. Marthinus Steyn, wat nou ’n groot bos baard gehad het, was weg op kommando.
Die trekosse is saans binne die laer gebring, met die vee rondom. Een nag het die Basoeto’s die vee geroof, asook een van Marthinus se ryperde. Niemand was veilig nie. Die Republiek van die Oranje- Vrystaat was toe maar vier jaar oud en die blankes min in vergelyking met die duisende Bantoes. Veral die nabyheid van die sowat 100,000 Basoeto’s het groot gevaar ingehou. Mosjesjwe het hom op sy bergvesting, Thaba Bosigo, verskans en alle pogings om hom daaruit te dryf, was vrugteloos. Danksy die bemiddeling van sir George Grey is daar ’n kortstondige vrede gesluit op 29 September 1858. Die Boere het geweldige veeverliese gely. Al wat Marthinus Steyn oorgehad het, was ’n span osse, ’n paar perde en ’n troppie skape. Die res het die Basoeto’s gebuit. Marthinus was so bedruk oor sy verliese dat hy nie na Josephinesdal wou teruggaan nie. Die plaas was in elk geval deel van sy vader se boedel en moes verkoop word.
Kmdt. Wessels is intussen oorlede, en sy weduwee (die dapper vrou wat op die buskruit gesit het) kom toe by Marthinus en Cecilia inwoon. Sy het Marthinus met die nodige geld gehelp om die plaas Zuurfontein te koop. Die plaas was geleë aan die Modderrivier, dertien myl van Bloemfontein. Dit was ’n groot plaas (5,400 morge) en duur. Zuurfontein sou egter jare lank aan die Steyns behoort en daar het Theunis Steyn sy kinder- en jeugjare deurgebring. Daar het hy soos alle Boerseuns grootgeword, geleer perdry en skiet, en die wêreld platgeloop. Vir die res van sy lewe sou hy ’n innige liefde vir die natuur en die oop veld hê.
Theunis was ’n goeie skut en het graag gaan jag. Daar was baie wild op Zuurfontein, en hy het gereeld gaan bokke skiet. Sy broers het erken dat Theuns die beste skut onder hulle was. Aan die noordekant van die plaas was daar die dik doringbosse van die Modderrivier en Mazelspoort, maar die res was oop grasvlaktes en lae heuwels. Daar was min drade, en die Steyn-seuns het ongebonde in die vrye natuur verkeer. Maar hulle moes ook hul vader bystaan. Marthinus het hom nou hoofsaaklik op perdetelery toegelê, en daar was sowat 300 wat gereeld gevang moes word. Marthinus was streng soos sy eie vader en baie presies. Die stalperde moes blink, die saals, tooms en stange moes silwerskoon wees, en al wat metaal was, moes skitter. Die kleinste stoffie het Martiens Blinkstewels omgekrap, veral op ’n Sondagoggend wanneer die gesin in Bloemfontein kerk toe gegaan het.
Verskeie faktore, waaronder die Basoeto-onluste, het moeilike probleme geskep gedurende pres. Boshof se regering. Marthinus Wessel Pretorius van Transvaal, oftewel die Zuid-Afrikaansche Republiek, wou graag dat die Vrystaat en Transvaal een word, terwyl sir George Grey weer graag wou hê dat die Vrystaat hom by die Kaapkolonie moes aansluit. Boshof het meer van Grey se voorstelle as van dié van Pretorius gehou. Dit het hom ongewild gemaak by sy mense en tot gevolg gehad dat hy bedank het. Marthinus Wessel Pretorius word toe president van albei republieke. Hy kon egter nie daarin slaag om hulle te verenig nie en in 1864 kry die Vrystaat weer sy eie president in die persoon van Johannes Hendricus Brand (1833-1888).
Marthinus Steyn se nuwe boerdery het flink vooruitgegaan, en hy het ’n man van aansien geword. Hy is tot lid van die Uitvoerende Raad verkies en was ’n direkteur van die Nasionale Bank. Pres. Brand was een van sy grootste vriende. Die Steyn- en Brand- kinders het groot maats geword, veral nadat Marthinus ’n huis met die naam Green Lodge langs die presidentswoning gekoop het. Die presidentswoning was toe nog ’n beskeie gebou met ’n plat dak. Die vooraanstaande gesinne het almal op vriendskaplike voet verkeer. So was daar die Fichardts, Krauses, Robertse, Pages, Wesselse, Brands en Steyns. Bloemfontein was nog maar ’n klein plekkie. Gras het in die klipperige strate gegroei, en as dit hard gereën het, kon jy jou nie te voet in die dorp begewe nie.
In 1864 het daar weer ’n Basoeto-oorlog uitgebreek. Die Steyns het nie veilig genoeg gevoel op Zuurfontein nie en tydelik na Bloemfontein verhuis. Marthinus het as veiligheidsmaatreël sy vee na die distrik Jacobsdal gestuur. Sy dienste en sy perdewa was tot pres. Brand se beskikking.
Terwyl die gesin nog op Zuurfontein was, het Theunis en sy broer Tewie ’n plaasskooltjie bygewoon. Elke dag het hulle te perd die lang ent Roodewal toe gery. Omtrent halfpad daarheen was daar ’n spruitjie waar daar glo ’n Swarte vermoor is. Mense het beweer dat hy daar spook, en vir die twee seuns was dit ’n vreesaanjaende plek, veral as hulle in die donker daar moes verbygaan. In later jare het hulle daardie spruit baie beter onthou as enigiets wat hulle by hul skoolmeester Wiggins, geleer het!
In Bloemfontein het die Steyns eers Grey-Kollege (wat vir die duur van die oorlog gesluit was) betrek en toe na "Green Lodge” verhuis. Ouma Wessels was nog steeds by hulle. Ná die oorlog het sy in die huis aangebly toe Marthinus en Cecilia na Zuurfontein terug is. Die ouer Steyn-kinders het by hul ouma gebly, want hulle moes skooltoe gaan. Aangesien sy langs ’n oop vuur op ’n hoop buskruit kon sit, is dit te verstane dat ouma Wessels geen sagmoedige mensie was nie. Sy het ’n strenge oog oor die kinders gehou. Toe Theunis in die begin weier om skool toe te gaan, het sy hul bediende beveel om hom skool toe te dra !
Saans het die kinders onder hul ouma se toesig om die eetkamertafel sit en leer. Die kinders was baie bang vir ouma Wessels, maar hulle was ook lief vir haar, want wanneer hulle soet was, het sy haar waardering getoon. Sy was godsdienstig en kerkvas, en die kinders is Sondagoggende vroeg kerk toe gejaag, soms lank voor die diens sou begin. Die gelui van die kerkklok het Theunis dan ook vir die res van sy lewe met sy kwaai maar goedhartige ouma geassosieer. Hy het vinnig gegroei en was aan die ontwikkel in ’n groot, sterk geboude seun. As jongeling het sy oë ’n mens eerste opgeval, daarna die sterk neus, die breë voorkop en die uitdrukkingsvolle mond. Dit was die gesig van ’n intelligente mens, ook dié van ’n dromer met ’n sterk humorsin. In teenstelling met sy presiese vader was Theunis slordig en lomp, en ouma Wessels moes sukkel om sy weerbarstige hare plat te borsel. Hy was nog jonk toe sy hare begin uitval het.
Hoewel Theunis groot en sterk was vir sy ouderdom, was hy stil en sagmoedig van geaardheid. ’n Bakleiery of ’n getwis het hom altyd ontstel. Wanneer sy broers haaks geraak het, was hy die eerste wat die vrede probeer herstel het. Hy was sy lewe lank vredeliewend en saggeaard, en het altyd probeer om deur middel van ’n grappie die vrede te bewaar. Selfs toe hy siek was, was daar altyd ’n humoristiese vonkeling in sy oë. Een van Theunis se onderwysers, dr. Johannes Brill, het onthou dat hy ’n beskeie en vriendelike seun was, en groot vir sy ouderdom. Hy het dikwels sy lyf hanswors gehou. Sy vermoë om mense te laat lag, het hy nooit verloor nie, en dit het nooit afbreuk aan sy waardigheid gedoen nie. Inteendeel, dit het slegs tot sy beminlikheid as mens bygedra.
Theunis se vader was baie lief vir skilpadsop en Theunis het dit geniet om die waterskilpaaie vir hom te vang. Eendag het hy twee van hulle voor by sy hemp ingedruk. Die een waterskilpad byt hom aan die bors en wil nie los nie. Tewie, wat by hom is, probeer die skilpad met ’n ander een loskry. Hy kry dit uiteindelik reg, maar ’n stukkie van Theunis se vleis bly in die skilpad se bek agter. Die res van sy lewe sou Theunis ’n merk op sy bors dra.
In 1856 was Theunis ’n leerling aan Grey-Kollege in Bloemfontein. Die stigting van hierdie beroemde opvoedkundige sentrum was te danke aan die Kaapse goewerneur, sir George Grey. Die rektor, Kays, is opgevolg deur dr. Brill, wat sowat dertig jaar lank die pos gevul het. Theunis was nie lank by Grey-Kollege nie, toe hy tot almal se verbasing skielik besluit om Grey te verlaat en saam met Tewie te gaan boer. Theunis was maar sestien. Sy ouers het gehoop dat hy eendag ’n dokter sou word en was teleurgesteld. Aan Theunis was egter geen keer nie, en hy en Tewie het saam op Zuurfontein begin boer. Theunis het egter nie opgehou studeer nie, want in sy vrye tyd was hy altyd besig om te lees en baie gou het sy algemene kennis mense begin verbaas.
Aangesien die gesin Steyn nou op Bloemfontein gewoon het, was Tewie en Theunis alleen op Zuurfontein. Vier jaar lank het hulle saam geboer. Dr. Brill het sy bes gedoen, maar die seun het klaar besluit en niemand kon hom van plan laat verander nie. Koppigheid was ’n kenmerk van Theunis Steyn, en mense moes nog leer dat as hy ’n besluit geneem het, dit feitlik onmoontlik was om hom van mening te laat verander. Hoewel sy vader nie meer op Zuurfontein gebly het nie, het die oubaas ’n wakende oog oor sy seuns se boerdery gehou. Hy het hulle gewoonlik onverwags besoek, selfs in die nag, om te sien dat hulle in hul spoor trap en dat daar geen laksheid is nie. Hoewel Theunis nie juis baie op sy voorkoms gesteld was nie, het hy altyd sy bes gedoen om sy broer te help om hul puntenerige vader in alles tevrede te stel.
Marthinus Steyn het nie net verwag dat sy seuns hardwerkend en gedissiplineerd moes wees nie, maar het dit ook ’n vaste reël gemaak dat hulle alle byeenkomste op Bloemfontein moes bywoon. Hy wou nie hê dat sy seuns in plaasjapies moes ontaard nie, maar dat hulle sou weet hoe om hulle by alle sosiale geleenthede te gedra.
Hierdie reël was nie vir die seuns ’n straf nie. Maar daar was ook ’n reël dat die seuns elke môre op die gewone tyd op die plaas moes wees om met hul werk te begin ongeag hoe laat hulle die vorige aand tuisgekom het. Aangesien baie gesellighede tot om en by twee-uur in die oggend aangehou het, was dit dikwels ’n ware beproewing om dan nog die lang pad te vat terug na Zuurfontein. Maar daar was geen genade nie, want hulle kon nooit weet wanneer hulle vader weer ’n slag ’n draai maak om te kyk of sy bevele uitgevoer word nie.
Die verjaardag van die Oranje-Vrystaat is op 23 Februarie gevier. Daar was dan altyd ’n groot byeenkoms waarop die seuns en mans aan sport deelgeneem het. Na so ’n byeenkoms kom die seuns een nag laat by "Green Lodge” aan - vaak en uitgeput. Volgens hul pa se reël kon hulle egter nie oorbly nie en moes maar opsaal en huis toe. Met die opsalery gebruik Theunis ’n waskers om te kan sien. Hy is so moeg dat hy nie eens opmerk dat die kerswas in sy hare drup nie. Toe hy die volgende oggend op Zuurfontein wakker word, sien hy dat sy hare regop staan en wit is van die kerswas.
Vir Tewie het hy gelyk soos iemand wat ’n spook gesien het. Die gesin Steyn het geskater van die lag oor die voorval en Theunis ongenadig geterg. Daar was gedurig iets waaroor sy mense hom geterg het — so was daar op ’n keer die pappot-episode:
Na die ontdekking van diamante het die Vrystaatse boere op die delwerye ’n waardevolle mark vir hulle produkte gevind. Almal het begin transport ry diamantvelde toe, ook die Steyns. Op so ’n tog is altyd baie spookstories vertel. Op een reis was Theunis alleen by sy wa terwyl sy broers ver agter hom by die ander waens was. Sy wa het moeilikheid gegee en die vrag was swaar. Toe dit donker word, het die omgewing al hoe spookagtiger begin lyk. Theunis het onder sy wa gaan slaap, en toe sy broers hom teen dagbreek kry, slaap hy nog vas met sy kop binne-in ’n drievoet- pappot! Hieroor is hy toe weer weke lank gespot en geterg.
Theunis Steyn, die hanswors, was egter ook ’n ernstige jong man met ’n sterk drang na kennis. Hy het sy studie voortgesit, intens belang gestel in die natuur en baie gelees. Dit was eers met die anneksasie van die diamantvelde dat hy skielik oor sy land en sy mense begin dink het. Soos hy self sê, dit was eers in hierdie jare, 1871 tot 1876, dat hy bewus geword het van sy vaderlandsliefde en sterk begeerte dat reg moet geskied. Hierdie bewuswording sou sy hele lewenspatroon verander. Die Steyns was geensins teen die Engelse gekant nie, maar die wyse waarop hulle ’n ryk stuk van Suid-Afrika ingepalm het, het groot bitterheid veroorsaak. Die jong Theunis Steyn het begin let op wat die Britse imperialiste aanvang.
In hierdie jare het almal aanvaar dat Theunis Steyn ’n bekwame boer gaan word. Hy was hardwerkend en lief vir die grond en vir diere. Hy was nou wel meer leergierig as die gewone boer, maar niemand het gedink dat hy van loopbaan sou verander nie. Die mense moes hom nog leer ken, want Theunis het nie laat blyk wat hy voel en dink nie. In 1877 het ’n amper onbenullige insident gelei tot die eerste tree in die nuwe rigting. Theunis sou altyd lief wees vir boerdery, maar hy het geweet dat hy tot meer in staat is.
Marthinus Steyn het soms van sy vriende genooi om op Zuurfontein te kom ontspan en ’n bietjie te skiet. Die mans het dan langs die Modderrivier gekampeer en lekker uitgerus. By een geleentheid was een van die gaste regter E. J. Buchanan. Die weer was onplesierig en die gaste het by Tewie en Theunis in die opstal ingetrek. Om hulself te vermaak, het die mans speletjies gespeel, resies gehardloop en vergespring. Theunis kon die verste spring van almal. Hulle het ook oor allerhande sake van die dag gesels: die geskiedenis, wêreldgebeure, die politiek en so meer. Theunis het hom nie aan die geleerde manne opgedring nie, maar toe een ’n verkeerde stelling maak, het hy hulle daarop attent gemaak. ’n Argument het ontstaan en Theunis gaan haal toe ’n boek om te bewys dat hy reg is. Regter Buchanan het dadelik besef dat Theunis ’n besondere mens is en het hom begin uitvra. "Wat maak jy hier op ’n plaas?” wou die regter weet. "Jy behoort jou studie voort te sit. Jy moet advokaat word. Ek sal jou help. Besoek my Saterdagmiddae op Bloemfontein en jou hele lewe sal verander.”
Buchanan het ook met Marthinus gepraat. "Jy moet daardie seun van jou oorsee stuur. Hy is skrander en het groot moontlikhede . . .” En so het dit gekom dat die regter vir Theunis gehelp het met sy studie en Marthinus besluit het om sy seun oorsee te stuur. Dit was in Mei 1877. Theunis se vriend Harry Vels sou saam met hom gaan om in Nederland in die regte te studeer. Net voor hulle weg is, het Theunis witseerkeel gekry, maar gou herstel, en hy en Harry is met een van Cobb & Kie. se koetse na die Baai. By Port Elizabeth het hulle vir die eerste keer die see gesien. Hulle het met die Dunrobin Castle vertrek.
In Tafelbaai het nog passasiers aan boord gekom. Onder hulle was daar interessante mense : S. J. P. Kruger, E. J. P. Jorissen, Eduard Bok en dr. Colin Fraser en sy gesin. Onder die kinders was daar Rachel Isabella Fraser, Theunis se toekomstige vrou, toe twaalf jaar oud. Theunis was neëntien.
Die Dunrobin Castle seil toe na Engeland met manne aan boord wat ’n groot rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis sou speel.
Vervolg...