Lees reeks by President M.T. Steyn
Johannes Meintjies
Van Student tot Regter
Theunis Steyn en Paul Kruger het mekaar in Tafelbaai vir die eerste keer ontmoet. Theunis het geweet dat Kruger op pad was na Engeland om te protesteer teen die anneksasie van Transvaal op 12 April 1877. Hulle het egter nie veel met mekaar gesels nie, want Theunis was maar negentien en die krygsman-politikus reeds een-en-vyftig. Theunis het wel baie met die Frasers gesels. Hulle was afkomstig van Philippolis, waar Harry Vels hulle leer ken het. Theunis is bekoor deur Rachel (of Tibbie soos almal haar genoem het), want sy was mooi en lewendig en fyn opgevoed. Die Frasers was op pad Skotland toe, en Tibbie was die ene opgewondenheid.
Dit is bekend dat Paul Kruger gedurende die seereis net een keer vir Theunis gevra het om iets op Engels aan die kaptein van die skip oor te dra. Theunis kon vlot Engels praat, maar Kruger was die taal nie magtig nie, hoewel hy dit blykbaar kon volg. Toe die jong man en die middeljarige kryger saam gesels het, kon nie een van hulle weet hoe baie hulle nog in die toekoms saam sou beraadslaag nie. Paul Kruger was voor die anneksasie vise-president van Transvaal. Toe die skip Engeland bereik, is Kruger, dr. Jorissen en mnr. Bok na Londen, die Frasers na Skotland, en Theunis en Harry na Holland.
Die twee jong manne het in Julie 1877 in die dorp Deventer aangekom. Twee van Harry Vels se tantes was in die naburige dorp Twello woonagtig, daarom het hulle hul by die Gimnasium op Deventer ingeskryf. Hul leermeesters in die regte was dr. W. F. P. Enklaar en dr. B. Wisselink. Die twee Vrystaters het kamers gehuur in die Vleeschhouwersteeg en het gou ’n vriendekring opgebou. Die Hollanders het gedink Theunis en Harry is baie groot van persoon en het hulle vermaaklik gevind. Die feit dat hulle van die verre Afrika gekom het, het ook die Hollandse studente geïmponeer. Vir Theunis het hulle die bynaam "Steentjie” gegee, terwyl Engelssprekende studente hom "Empty” (sy voorletters M.T.) genoem het. Theunis se humorsin en vriendelike geaardheid het hom gou gewild gemaak. Hy was ook altyd bereid om aan allerhande studente-eskapades deel te neem.
Theunis Steyn sou vyf jaar lank in Europa wees. Eers moes hy hom voorberei vir toelating tot die Universiteit van Leyden. Aangesien sy formele skoolonderrig maar karig was, het hy gesukkel met sy studie en nie juis uitgeblink nie. Hy en Harry het Engelse sertifikate nodig gehad om in Suid-Afrika as advokate te praktiseer, en hulle besluit toe om na Londen te gaan. In Januarie 1880 het hulle hul by die Inner Temple ingeskryf, en daar was hulle net so gewild as in Holland. Theunis was geseën met die vermoë om goeie vriende te maak. Hierdie vriende uit sy studentedae sou hy lewenslank behou.
Theunis het nou begin om, soos alle jong mans van daardie dae, ’n snor te kweek. Hy en Harry het eers kamers gehuur naby die Londense Universiteit en later saam met hul vriend T. N. G. te Water, ’n hele huis in Brunswick Square. Hulle het selfs ’n huishoudster gehad. Op koue, reënerige dae het die drie mans voor die vuur sit en lees, en as hulle moeg was van lees, het Theunis hulle vermaak. Gedurende die dag het hy baie tyd in die leeskamers van die Inner Temple deurgebring. Hy het ook graag saam met vriende in Oxfordstraat geëet. Saans het hy dikwels voor sy kamervenster oor die plein sit en uitkyk. Smiddae het hy gewoonlik gaan wandel en hom verkyk aan die menigte mense en rytuie. Sondae het hy na die preke van beroemde predikers gaan luister en ná die diens het hy in een van die pragtige Londense parke rondgewandel. Hoewel Theunis soms die indruk gewek het dat hy ligsinnig is, kon hy ook baie ernstig wees. Hy was sy lewe lank diep godsdienstig.
Hoewel daar by Steyn ’n dieper kultuurbewustheid was as by die meeste Suid-Afrikaners van destyds, het hy tog ook sy beperkinge gehad. So het hy byvoorbeeld geen belangstelling in of gevoel vir musiek gehad nie. Toe hy na een van die beroemdste operas van die tyd gaan luister het, het hy aan die slaap geraak. Maar hy het graag teater toe gegaan, en die Londense toneelopvoerings was van die beste ter wêreld. Hy het dit ook baie geniet om gedurende vakansies die Vasteland te besoek.
In die begin van 1881 was die gebeure in Transvaal voorbladnuus in Londen. Theunis het die verloop van die Eerste Vryheidsoorlog met die grootste belangstelling gevolg. Dit was vir hom ontstellend om te sien watter wanvoorstellings van die Boerevolk daar in die pers verskyn het. Hy het ’n lang brief aan die Manchester Guardian geskryf wat onder die opskrif A Boer on the Transvaal War gepubliseer is. In hierdie brief van die vier-en-twintigjarige Marthinus Theunis Steyn sien ons dat hy vertroud was met die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, dat hy trots was om ’n Boer te wees, dat onregverdigheid hom diep geraak het, en dat hy ’n vurige vegter vir Suid-Afrika geword het wat begerig was dat die Suid-Afrikaanse state en kolonies sou saamsmelt of federeer.
Steyn was nou besig om as volwassene na vore te tree. In sy jeugjare kon ’n mens soms ’n soort traagheid by hom opmerk, maar dié was hy nou besig om af te skud. Moontlik was dit omdat hy nou op sy eie was en nie meer deur die sterk persoonlikhede van sy vader en ouma oorheers is nie. Hy was nou selfstandig en kon vir homself dink, ’n man met sterk gevoelens en vaste oortuigings.
Tibbie Fraser het intussen na Suid-Afrika teruggekeer. Hoewel die Frasers Skotte was, is hulle maklik in die Boerevolk opgeneem. Van Philippolis is Tibbie na Bloemfontein waar sy ’n leerling van die Eunice-Damesinstituut geword het. Sy was vyftien en van plan om ’n onderwyseres te word. Met die uitbreek van die Vryheidsoorlog in Transvaal op 16 Desember 1880 het sy ook die gebeure met die grootste belangstelling gevolg. Sy word ook bewus van ’n innige vaderlandsliefde presies soos dit ten tyde van die anneksasie van die diamantvelde met Theunis Steyn die geval was.
In Londen het Theunis besef dat hy baie hard sou moes leer as hy iets in die lewe wou bereik. Hy het die geselskap van meisies vermy omdat hulle sy aandag van sy werk sou aftrek. Miskien, het hy besluit, sou dit die beste wees vir sy loopbaan as hy nooit trou nie. Hy het selfs met sy Hollandse professor ’n weddenskap aangegaan dat hy nie sou trou nie. Met regter Buchanan het Theunis nog gereeld gekorrespondeer, en die regter het gedurig noodsaaklike boeke onder sy aandag gebring en hom raad gegee. "Moet nie in die politiek ingesleep word nie,” het Buchanan herhaaldelik aan Theunis geskryf."Ek sou eerder ’n goeie joernalis wees as enige wafferse politikus . . .” Maar die toekoms het ander planne vir Theunis ingehou.
Die Vryheidsoorlog is beëindig met die slag van Majuba en Engeland het besluit om Transvaal aan die Boere terug te gee. In Maart 1881 is daar oral dankdienste gehou. Ds. Fraser is gelas om Transvaal toe te gaan en die gelukwense van die Vrystaatse kerk oor te dra. Tibbie het haar vader vergesel. Die dankdienste het haar ontroer, en sy het oral aandagtig geluister na wat die mense oor die pas afgelope oorlog te vertel gehad het. Toe die Frasers Pretoria binnegaan, was die laaste Britse troepe besig om die stad te verlaat. Later die dag het Tibbie geluister hoe kmdt.-genl. Piet Joubert oor die oorlog praat, en het sy weer vir Paul Kruger ontmoet.
Die Frasers het ook die nou beroemde berg Majuba besoek. Tibbie het gesoebat om ook saam die berg uit te klim. Dit was ’n ervaring wat sy nooit sou vergeet nie.
Theunis Steyn was ook baie bly oor die Boere se oorwinning. Hy het sy finale eksamens afgelê en was gretig om huis toe te kom. Maar eers het hy die Vasteland saam met sy vriend Alfred Roberts en sy gesin besoek. Die Robertse het later vertel hoe plesierig Theunis die vakansie vir hulle almal gemaak het. Sy gesprekke was baie onderhoudend en hy het feitlik een van die gesin geword.
Op 17 November 1882 is Marthinus Theunis Steyn as advokaat toegelaat. Kort daarna het hy skeepgegaan en voor die einde van die jaar in Kaapstad aan wal gestap. In Bloemfontein het sy ouers sowel as ’n groot kring invloedryke vriende sy koms gretig afgewag. Onder laasgenoemde was daar John Fraser, wat ’n florerende regspraktyk opgebou het. In Januarie 1883 was Theunis Steyn, die groot, vriendelike jong man, byna kaalkop, waardig, en met oë wat nou ernstig kon wees en dan weer vonkel, terug in Bloemfontein.
John George Fraser (later sir John) was Tibbie Fraser se oom. Theunis Steyn was werklik baie bevoorreg dat hy nooit armoede geken het nie, en dat sy ouers met al die vooraanstaande mense in die Vrystaat bevriend was. John Fraser het die jong advokaat hartlik verwelkom en hom ’n kantoor in sy eie gebou aangebied. Steyn behoort ver te gaan, het hy gereken, en dit was ook die regters se mening. Adv. Steyn was welsprekend, volkome tweetalig en het ’n goeie geheue gehad.
Toe Theunis in Bloemfontein aankom, was Tibbie op besoek by haar oom. Nadat sy aan die einde van 1881 haar finale onderwyseksamen met onderskeiding afgelê het, het sy nou haar moeder in die pastorie bygestaan.
Baie mense het na Tibbie Fraser gekyk en gewonder wat die toekoms vir haar inhou. Sy het mooi oë gehad, haar vel was flu- weelsag, haar beenstruktuur fyn, en sy het met die grasie van ’n prinses beweeg. Sy was intelligent, opgewek en kon heerlik lag.
Aangesien Steyn nou aan Fraser se prokureursfirma verbonde was, is hy kort na sy aankoms deur die Frasers vir aandete genooi. So ontmoet hy weer vir Tibbie Fraser, wat hy laas gesien het toe sy twaalf jaar oud was. Hulle het natuurlik dadelik oor die seereis van vyf jaar tevore begin gesels. Soos hulle gesels en gelag het, het Steyn besef dat sy voorneme om ’n vrygesel te bly na die maan is. Tibbie was die aangenaamste, mooiste en sjarmantste jong dame wat hy nog ooit geken het en hy wou haar baie beter leer ken.
Steyn moes uit die aard van sy werk soms vir John Fraser besoek, maar, het die mense begin wonder, was dit nodig vir hom om so dikwels te gaan kuier? Tibbie was natuurlik die trekpleister. Hulle het ook aan ander huise ontmoet, want die Bloemfonteinse gasvroue het graag onthaal. Met belangstelling is daarop gelet dat adv. Steyn en Tibbie Fraser altyd bymekaar uitkom. Hieroor was John Fraser baie bly, en hy het ’n piekniek gereël sodat die twee mekaar nog beter kon leer ken. Daar was Steyn die hele tyd by Tibbie en het later die gesin Fraser huis toe vergesel.
Tibbie is weer terug na Philippolis. Sy en Steyn het nie ’n woord oor hulle vriendskap gerep nie, en die nuuskieriges moes maar wag om te sien hoe sake verder ontwikkel. Vyf maande sou verstryk voordat hulle mekaar weer sien, en gedurende hierdie tyd het hulle die gevoel wat tussen hulle ontstaan het, ontleed.
Adv. Steyn was aan die rondgaande hof verbonde, en daag op ’n dag saam met sy kollegas in Philippolis op. Dit was altyd ’n groot gebeurtenis. Onthale is vir hulle gereël, asook ’n dinee by die pastorie. Steyn was verheug om Tibbie weer te sien, veral toe hy haar alleen in die voorkamer aantref. Hy het deur haar foto-album geblaai en haar om ’n portretjie van haarself gevra. Tibbie het so flouweg geprotesteer dat Steyn die vrymoedigheid gehad het om ’n portretstudie uit te haal en in sy sak te steek. Hy het uit Fauresmith aan haar geskryf, en dit was bemoedigend toe Tibbie per kerende pos antwoord. Dit word toe ’n gereelde korrespondensie.
Daar het weer ongeveer ses maande verbygegaan voor hul volgende ontmoeting in Januarie 1884. Die rondgaande hof was weer op Philippolis, maar hierdie keer was daar soveel werk dat daar maar min tyd was om vir Tibbie te gaan kuier. Die aand voor die advokate en regter sou vertrek, is hulle na die pastorie genooi vir ete. Theunis Steyn wou Tibbie graag alleen te sien kry, maar daar was gedurig mense om haar. Tienuur daardie aand bevind hy hom egter saam met haar en sy vriend Will Poultney op die stoep.
Dit was Steyn se laaste kans, want hulle sou die volgende oggend om sesuur vertrek. Hy trap toe op Poultney se voet, en die weet gelukkig dadelik wat van hom verwag word. Met ’n grappie maak hy hom uit die voete en laat Steyn en Tibbie alleen op die stoep. Steyn maak van die geleentheid gebruik om vir Tibbie te sê dat hy haar bemin en met haar wil trou. Tibbie is skoon uit die veld geslaan en weet nie wat om te sê nie. "Wel, moet dan nie vanaand vir my jou antwoord gee nie,” het Steyn prakties voorgestel. "Miskien is dit nog ’n bietjie gou vir ons om verloof te raak, maar wat myself betref, is ek verloof aan jou. Dink oor die saak, en oor ses maande sal ek kom hoor wat jou antwoord is.”
In Junie was Steyn weer op Philippolis en het Tibbie die hof gemaak. Hy was teen hierdie tyd bekend vir sy welsprekendheid, en hierdie gawe het hy ten volle benut in ’n onderhoud met ds. en mev. Fraser. Die ouers het geredelik tot die huwelik ingestem, en die nuus van die verlowing het soos ’n veldbrand deur Philippolis versprei. Steyn het sy vriend Thys Badenhorst gevra om die mooiste diamantring in die Baai te koop. Toe Steyn dit kry, ’n pragtige ring met vyf groot stene, het hy dit dadelik aan Tibbie gestuur.
Dit sou egter nog drie jaar duur voordat die twee sou trou. Steyn was ten gunste van ’n lang verlowing, want hy wou eers al sy sake behoorlik agtermekaar kry. Intussen was Tibbie steeds haar moeder se regterhand in die pastorie. Soos die weke en maande verstryk het, het hulle met elke pos aan mekaar geskryf. Pos is destyds een keer per week afgelewer en afgehaal, en soos ’n brief van Steyn aangekom het, het Tibbie s’n vertrek.
Voordat sy verlowing bekend gemaak is, was hy een van die mees gesogte vrygeselle in Bloemfontein en is hy oral heen uitgenooi. Soos reeds gesê, was hy ’n uitstekende spreker, hoewel hy soms las gehad het van sy keel wat, nadat hy witseerkeel gehad het, soms aan die bloei gegaan het tydens ’n toespraak. Baie ouers wou hom as skoonseun hê, maar in Steyn se lewe sou daar net een vrou wees, Rachel Isabella Fraser. Die verhaal van hulle verhouding is een van die mooistes in ons geskiedenis.
Onder mans was Steyn baie gewild. Die gawe om sterk vriendskappe te sluit, het hy altyd behou. Met sy vriende het Steyn alles bespreek, wêreldgebeure en persoonlike sake. Hy was nie ’n alleenloper nie, maar lief vir geselskap. Een van sy baie goeie vriende was Will Poultney, ’n man wat presies soos hy gebou was. Saam het hulle baie pret gehad. Steyn het sy vriende dikwels laat skaterlag, want hy was altyd die eerste om die snaakse in ’n situasie raak te sien.
’n Mens was nooit verveeld in Theunis se geselskap nie, daarom was sy vriendekring groot en mense besonder geheg aan hom. Hoewel hy later as "die Afrikaner onder die Afrikaners” bekend was, was die meeste van sy vriende van Britse afkoms. Nog ’n boesemvriend was Tibbie se broer, Gordon Fraser. Die Frasers het so verafrikaans dat niemand meer daaraan gedink het dat hulle van Skotse afkoms is nie, en selfs hul van is op Afrikaans uitgespreek.
Steyn kon nog die hanswors van ouds wees, maar sy intelligensie en goeie smaak het verhoed dat hy ooit belaglik word. En al was hy soms verspot, het dit eerder mense na hom aangetrek as om sy persoonlike waardigheid aan te tas.
Op die lang reise van die rondgaande hof, op die vervelige paaie van die een asvaal dorpie na die ander, het Steyn die gesprekke lewendig gehou — amusant en stimulerend. Waar hulle stilgehou het, het Steyn soms die geselskap vermaak deur ’n toevallige verbyganger op ’n hoogdrawende manier aan te spreek, gewoonlik oor sake van die dag. So ’n persoon se verbaasde reaksie het dikwels groot vermaak verskaf. Soms was die grap teen Steyn, en dan was hy die een wat verleë was - tot groot vermaak van sy vriende.
Op partytjies en soortgelyke byeenkomste is daar soms voorgegee dat adv. Steyn baie mooi kon sing. Soos reeds gesê, het hy geen kennis van musiek gehad nie. Hy kon geen musiekinstrument bespeel nie en hy kon ook nie een wysie van ’n ander onderskei nie. Maar, aangemoedig, trek Steyn dan los en sing uit volle bors, terwyl hy sy eie woorde improviseer, en gashere en gaste moeite het om nie hul ore toe te druk nie. So het hy ook die klavier bespeel, ’n oorverdowende en afgryslike geraas, wat niemand die moed gehad het om stop te sit nie. Dan het Steyn se vriende by die huis uitgevlug en tussen die roosbome gehuil van die lag.
Op die dooierigste dorpies het Steyn en Poultney gewoonlik die tronk se klok gaan lui om ’n bietjie opwinding te veroorsaak. Aangesien die klok net gelui is wanneer ’n prisonier ontsnap het, het dit inderdaad tot groot opgewondenheid aanleiding gegee. Nadat hulle een keer op so ’n dooierige dorpie die klok gelui het, sê Poultney skielik vir Steyn: "Daar kom die konstabel. Hardloop!” en hy lê rieme neer hotel toe. Steyn laat nie op hom wag nie en volg sy vriend se voorbeeld. By die hotel aangekom, wil Poultney hom slap lag vir Steyn se rooi gesig, want daar was nooit regtig ’n konstabel nie!
Die volgende aand gee die magistraat ’n onthaal. Hy het geweet dat twee van sy gaste die vorige aand die tronkklok gelui het. Toe hy dus vir Steyn en Poultney verwelkom, haal hy in ’n somber stem aan uit ’n Engelse gedig: "The curfew shall not ring tonight!” en kyk hulle vas in die oë. ’n Halfuur later skrik almal toe die klok skielik begin lui. Aangesien Steyn en Poultney in die vertrek is, en aangesien ’n konstabel langs die klok wag hou, is dit baie eienaardig. Die magistraat gaan haastig buitentoe om te sien wat aangaan. Die konstabel is skoon verskrik. "Dit spook!” roep hy uit. "Niemand was naby die klok nie !” ’n Tweede konstabel word toe by die klok geplaas. Nie te lank nie of die klok lui weer. Konsternasie volg, en die twee konstabels weet nie wat aangaan nie. Teen hierdie tyd sit Steyn en Poultney en skud van die lag. Tussen hulle hang ’n tou wat hulle mooitjies vooraf aan die klok vasgebind en deur die venster na binne gelei het!
Steyn se praktyk het floreer, want daar was maar min regsgeleerdes in die Vrystaat. Sy naam was ook gedurig in die nuus. In 1886 het hy nie minder nie as vyf-en-dertig belangrike siviele sake behartig. Hy kon kragtig argumenteer, sy geheue was verbasend - hy het selde notas gebruik — en sy welluidende stem het steeds beïndruk. Hy was gesteld op fyn besonderhede - nogal soos sy vader — en het met koele logika geargumenteer. Sy taalgebruik was waardig maar eenvoudig en almal kon hom volg.
In hierdie jare het hy weer ’n baard begin kweek, en dit laat groei totdat dit een van die langste baarde in Suid-Afrika was. Hierdie baard het hy nooit weer afgeskeer nie. Nou was hy ook baie bles, maar die groot voorkop het by sy gesig gepas.
M. T. Steyn en Tibbie Fraser is op 10 Maart 1887 op Philippolis getroud. Die bruid se vader het die plegtigheid waargeneem en die hele dorp was aanwesig. Weens die groot skare is die ontvangs in die magistraatskantoor gehou. Tibbie het pragtig gelyk in ’n tabberd wat spesiaal vir haar in Skotland gemaak is. Die wittebroodsdae is op Tempe deurgebring. Toe Steyn hom weer by die rondgaande hof moes aansluit, het Tibbie geweier om agter te bly. Sy is toe saam met haar man na Hoopstad en Boshof.
In Bloemfontein het die Steyns hul intrek geneem in ’n huis op die hoek van Aliwal- en St. Georgestraat. Dit was naby "Green Lodge” en die Presidensie. Soos alle jonggetroude pare was hulle ’n hele ruk lank besig om hulle huisie in te rig en om vriende te onthaal. Tibbie en Steyn het baie gemeen gehad. So was daar hul sin vir humor en hul vaderlandsliefde. Soos die jare verbygegaan het, het hulle liefde vir mekaar steeds verdiep. Op sosiale vlak het hulle in die beste kringe beweeg en hul vriendskap met pres. Brand en sy gesin het hegter geword.
Gedurende al hierdie jare het Steyn regter Buchanan se raad gevolg en homself buite die politieke arena gehou. Maar in die klein Vrystaatse gemeenskap was dit amper ondenkbaar dat hy nie vroeër of later wel betrokke sou raak nie. Die eerste keer het dit dan toe ook gebeur toe pres. Brand en sy Volksraad in Junie 1887 ’n meningsverskil gehad het en Brand sy bedanking ingedien het. Steyn het besef dat die verlies van John Brand ’n ramp vir die Vrystaat sou wees, en het hom daarvoor beywer om die meningsverskil uit die weg te ruim. Sy poging was geslaag, en Brand het sy bedanking teruggetrek. Van toe af kon M. T. Steyn nie langer buite die politiek bly nie.
Sir John Brand was in elk geval ’n baie siek man, en die jaar 1887 een van die onaangenaamste in sy lewe. Die plaaslike dokters kon niks vir hom doen nie, dus is ’n vooraanstaande dokter van Kimberley ingeroep. Dit was dr. Leander Starr Jameson, ’n kort mannetjie met blink, donker oë en ’n diep stem. Sy diagnose was dat die president aan Bright se siekte ly, maar ou dr. Krause, byvoorbeeld, was skepties en het ’n diëet van waterskilpadsoep voorgeskryf. Dit het egter niks gebaat nie, en op die aand van 14 Julie 1888 is pres. Brand in Bloemfontein oorlede.
Sy opvolger was Francis William Reitz (1844-1934). Sy vriende het hom Frank genoem. Met sy aanstelling is ’n klompie belangrike poste herskommel. Melius de Villiers is aangestel as hoofregter, Reinhold Gregorowski as eerste strafregter, en Albert Krause, wat vroeër staatsprokureur was, as tweede strafregter. Die nuwe staatsprokureur, soos in die pers aangekondig is op 18 Januarie 1889, was Marthinus Theunis Steyn. Steyn en Frank Reitz het altyd goed oor die weg gekom en moes dikwels met mekaar beraadslaag. Reitz sou feitlik al sy tydgenote oorlewe.
Die Vrystaat het nou ’n nuwe era betree. Nadat Theunis Steyn sewe maande lank staatsprokureur was - dit was nie ’n baie verhewe pos nie — is Steyn as tweede strafregter aangestel omdat Krause bedank het. Met Gregorowski se bedanking is Steyn op 5 Mei 1892 as eerste strafregter aangestel. Melius de Villiers het hoofregter gebly, en hy en Steyn het groot vriende geword. Regter De Villiers het ’n innige bewondering vir Steyn gehad, vir sy opregtheid, ewewigtigheid en gesonde verstand, sowel as vir sy beskeidenheid. Samewerking met Steyn is allerweë op prys gestel, en geen appèl is ooit teen sy uitsprake aangeteken nie.
Die Kaapse spoorlyn het Bloemfontein in 1890 bereik. Vir die opening is ’n groot plegtigheid gereël, en hooggeplaastes is na Bloemfontein genooi. In die Presidensie alleen was daar sestig gaste. Dit was nie meer die ou platdak-Presidensie nie, maar ’n nuwe imposante gebou waaraan daar in 1885 begin is. Die opening van die spoorweg was op 17 Desember 1890. By hierdie geleentheid het Steyn heelwat van die manne ontmoet met wie hy in die toekoms nog baie te doen sou kry. Cecil Rhodes was teenwoordig, Kaapse ministers, staatshoofde, selfs die beroemde skryfster Olive Schreiner. (Haar broer was getroud met Frank Reitz se suster.)
Steyn se loopbaan as regter het sowat vier jaar geduur. Vir Tibbie was dit die verveligste tydperk van hul huwelikslewe. Steyn het nooit sy regsprobleme met haar bespreek nie. Dit was iets ongewoons in hul huwelikslewe, want hulle het gewoonlik alles saam bespreek. Steyn se verantwoordelikhede was groot. Sy pligsgetrouheid het sy kollegas beïndruk. Hy was nog steeds baie gewild, en wanneer die rondgaande hof op reis was, was hy oral welkom. Die swaarste was om van Tibbie af weg te gaan. "Ek kan nie sonder jou klaarkom nie,” het hy dikwels aan haar gesê. En sy kon maar net dieselfde woorde teenoor hom herhaal, want sonder hom was sy ook verlore.
Hul eerste kind is op 27 November 1887 gebore. Dit was hul enigste seun, wat as dr. Colin Steyn bekendheid sou verwerf. Hoewel Tibbie baie fyn gebou was, het sy aan nog vier kinders - almal dogters — die lewe geskenk. Met Tibbie se laaste bevalling was sy lank bedlêend. Sy was nooit juis sterk nie, maar het alles in haar vermoë gedoen om Steyn by te staan. As gasvrou het sy uitgeblink. Steyn moes gedurig mense onthaal en het dikwels onverwagte gaste huis toe gebring, maar Tibbie is nooit daardeur van stryk gebring nie. Soms moes sy groot onthale reël, en soms het sy mev. Reitz bygestaan met haar ontvangste in die Presidensie.
Toe sy een dag by die Presidensie gehelp het met die voorbereidings vir ’n banket, het een van die vroue opgemerk : "Tibbie, eendag gaan dit jou werk wees — as gade van die Staatspresident.” Sy het verleë gelag. "Dis die laaste ding wat ek hoop om te wees, die vrou van ’n Boere-president.” Haar vriendinne sê toe : "Wag maar, jy sal sien.” Steyn moes dit ook hoor. "Regter, eendag moet jy onse president wees,” het die boere op die platteland vir hom gesê. Dan lag Steyn maar net en skud sy kop. Daar is soveel ander manne wat geskikter is, het hy gemeen, manne soos sir John Fraser, en daar was ook geen rede waarom pres. Reitz nie nog jare lank die staatshoof sou wees nie. Maar toe gebeur die onverwagte. In 1895 raak Reitz, wat altyd fiks en energiek was, ernstig siek. Mense begin toe openlik wonder wie sy opvolger sal wees.
Vervolg...