Lees reeks by President M.T. Steyn
Johannes Meintjies
Die Presidentskap
Tydens ’n buitengewone sitting van die Volksraad op 11 Desember 1895 het pres. Reitz sy bedanking ingedien. Dit was nadat hy met die toestemming van die Volksraad vir mediese behandeling na Europa gegaan het. Aangesien daar geen beterskap was nie, het Reitz dit sy plig geag om te bedank. Met al die woelinge in die land was dit noodsaaklik dat ’n man wie se gesondheid niks te wense oorlaat nie, aan bewind sou wees. Die staatsekretaris, Pieter Jeremias Blignaut - hy was met Steyn se oudste suster getroud - het intussen as president waargeneem. Die verkiesing sou op 19 Februarie 1896 plaasvind.
Die kandidate vir die presidentskap was sir John Fraser, ds. G. W. A. van der Lingen, en tot sommige se verrassing, Marthinus Theunis Steyn. Hy is deur J. A. Venter as kandidaat genomineer en gesekondeer deur Christiaan Rudolf de Wet. In die begin was Fraser se kanse baie goed. Hy was voorsitter van die Volksraad en alom bekend en gerespekteer. Ander kandidate wat voorgestel is, het vroeg uit die stryd getree. Die keuse het gevolglik tussen Fraser en Steyn gelê. Fraser kon dalk gewen het, maar toe vind die Jameson-inval plaas. Die doel daarvan was om die Suid-Afrikaanse Republiek te annekseer. Die inval het misluk, en ’n sterk anti-Britse gevoel het ontstaan.
Dit was bekend dat Fraser gekant was teen ’n nouer band met Transvaal, dat hy wou hê die Vrystaat moes neutraal bly en dat militêre hulp aan Transvaal op ’n vrywillige basis moes geskied. Steyn, aan die ander kant, het geweet as Brittanje Transvaal sou insluk, sou dieselfde met die Vrystaat gebeur. Neutraliteit was onmoontlik. Wat met die een gebeur, sou met die ander gebeur. Ds. Van der Lingen het dieselfde ideale as John Fraser gekoester, naamlik dat die Vrystaat vry en onafhanklik moes wees, selfs van Transvaal. Dr. Jameson se poging om Transvaal te annekseer - wat outomaties tot die anneksasie van die Vrystaat sou gelei het — was ’n groot skok vir Suid-Afrika. Die gerug het die rondte gedoen dat Fraser eerder pro-Brit as pro-Boer was. Daarmee het hy alle kanse op die presidentskap verloor.
Steyn, aan die ander kant, was ’n gebore Vrystater en ’n man met ’n groot vaderlandsliefde. Hy het simpatiek gestaan teenoor Transvaal. Al wat teen hom getel het, was sy jeug en gebrek aan ervaring op politieke gebied. "Dit is ’n leemte,” het hy met ’n glimlag verklaar, "wat met die jare aangevul sal word.” Origens was alles in sy guns. Hy was ’n patriot, ’n republikein en verbonde aan die mees vooraanstaande families. Boonop was hy ’n regsgeleerde en aan die Vrystaters goed bekend. Steyn was egter nie geïnteresseerd in ’n verkiesingsveldtog nie. Terwyl Fraser rondgery en ’n menigte toesprake gehou het, het Steyn niks gedoen nie en min gesê. "Ek soek nie die amp nie,” het hy gesê, "die amp moet my soek.” Maar die volk het geweet sy hart is reg.
Steyn het in ’n paar geskrewe verklarings reguit gesê wat sy gevoelens is en waarvoor hy hom sal beywer: Hy wou ’n bondgenootskap met Transvaal hê, sowel as nouer samewerking met die ander Suid-Afrikaanse state, kolonies en protektorate. Hy het gehoop op 'n verenigde Suid-Afrika, hopelik ’n unie. Hy wou hê dat die Vrystaat vriendskap, samewerking en eenheid moes nastreef, dat dit ’n volkome demokratiese staat moes wees en dat dit baas van sy eie sake moes wees. Vreemdelinge was welkom as Vrystaatse burgers op voorwaarde dat hulle die Hollandse taal sou eerbiedig.
Toe die verkiesingstryd op sy hewigste was, het Steyn maagkoors gekry. Tibbie het hom mooi opgepas, besoekers ontvang en saam met haar man uitgery na die plaas wat hy pas gekoop het, Onze-rust. Daar het hulle onder die mooi bome ontspan. Tibbie het haar maar berus by die moontlikheid dat sy binnekort wel die gade van ’n Boere-president sou wees. Die dag toe die uitslae bekend gemaak is, het sy na die siek Steyn gekyk en opgemerk : "As die mense vandag die kandidate saam moes sien, sou hulle beslis nie vir jou kies nie, my liewe man.” Steyn kon maar net lag. Toe die uitslae bekend word, loop Steyn los voor. John Fraser was bitter teleurgesteld.
Steyn het gelukkig mooi aangesterk vir die amptelike inhuldiging as Staatspresident op 4 Maart. Mense het van oral na die hoofstad gestroom, te perd, per kar en per trein. Bloemfontein was so stampvol besoekers dat daar soos in die dae van die Groot Trek ’n laer buite die dorp tot stand gekom het. Hier het die mense heerlik uitgekamp en vleis gebraai terwyl die jongeres gesing en speletjies gespeel het. Die geboue was versier met vlae en baniere, en in die strate het rytuie en perde bankvas gestaan. Die middag van 3 Maart het dit begin reën, maar die volgende dag was die reën oor. Dit was ’n lieflike dag, en ’n skare het voor die Steyns se huis vergader om hulle toe te juig.
Toe die optog na die tweetoring-kerk begin, het Steyn effens bleek gelyk in sy nuwe swart pak. Sy siekte was egter oor. Fier het hy gestap tussen sy begeleiders, gevolg deur ’n perdekommando, die artillerie en hooggeplaastes. In die strate is hulle begroet deur ’n gewapper van vlae en die gejuig van die skare. Tibbie, geklee in ’n pragtige tabberd van gestreepte geel en groen fluweel, was reeds by die kerk. Sy het langs haar swaer, Jan Steyn, gesit. Klokslag elfuur het die optog die kerk binnegekom en is Marthinus Theunis Steyn onder die vlae van die Oranje-Vrystaat as Staatspresident ingesweer. Ds. Kriel het die diens waargeneem en John Fraser het namens die Volksraad gepraat. Toe Steyn die eed met ‘n goue pen onderteken, is ’n saluut by die fort afgevuur, en het almal gesing "Dat’s Heren zegen op u daal! ”
Die staatserp met die wapen van die Republiek van die Oranje- Vrystaat daarop geborduur, is vir Steyn omgehang en daarna het hy sy beleidstoespraak gemaak. Terwyl sy diep, ryk stem deur die kerk dreun, het die mense die geleentheid om hierdie nuwe president - hy was maar nege-en-dertig jaar oud - goed te bekyk : ’n fier jong man met ’n breë voorkop, sterk neus, ernstige oë en ’n lang baard met ’n rooierige skynsel. Toe sy toespraak klaar is, sing die skare die Volkslied :
Zie in gena en liefde neer
Op onze President, O Heer!
Daarna volg ’n onthaal aan die huis van die Steyns waarby almal welkom was. Die mense van Winburg, sy geboorteplek, het aan Steyn ’n adres oorhandig, die orkes van die Staatsartillerie het buite gespeel en in die straat het die perdekommando’s verby getrippel. In die namiddag was daar ’n sportbyeenkoms. Die aand was die dorp verlig en was daar ’n vuurwerkvertoning en verdere onthale.
Die volgende dag het die Steyns hul intrek geneem in die statige Presidensie, of Residensie, of Wit Huis, soos dit ook genoem is. President Steyn het sonder versuim ’n ontmoeting met Paul Kruger gereël, nou president van die Zuid-Afrikaansche Republiek, oftewel Transvaal. Dit het by Viljoenskroon plaasgevind. Steyn was vasberade om die goedgesindheid van Kruger en sy Volksraad te verkry, en daarin het hy geslaag deur sy vriendelikheid en openhartigheid. Die twee presidente het geweet dat Suid-Afrika in gevaar verkeer en het gesels oor die vraagstuk hoe om hul state te beskerm en oorlog te vermy. Hulle besluit toe dat die twee republieke dadelik bewapen moes word met die beste wapentuig wat hulle kon kry. Die Jameson-inval het aan die lig gebring hoe swak die republieke bewapen was.
Steyn en Kruger sou goed oor die weg kom, hoewel hulle hemelsbreed van mekaar verskil het. Steyn het Kruger bewonder, maar hy het ook op sy foute gelet. Kruger was feitlik diktator, en dit was teenstrydig met Steyn se demokratiese oortuiging. "Tog,” het Steyn later gesê, "hoe langer ek met hom saamgewerk het, hoe meer het ek sy diepe insig waardeer, sy kragtige denkwyse, sy ware vaderlandsliefde en opregte vroomheid.” In sommige opsigte was hulle soos vader en seun, en hulle was ewe koppig en patrioties, maar in ander opsigte was daar ’n wêreld se verskil tussen hulle. Vir die volgende agt jaar sou hulle gedurig in verbinding met mekaar wees.
In die drie jaar voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog het Steyn sy amp voortreflik beklee en baie verbeteringe aangebring. Dit was aan hom te danke dat die Vrystaat sy eie spoorweg verkry, en ’n hegte bondgenootskap met Transvaal gesluit het. Hierdie bondgenootskap het betrekking gehad op militêre sowel as handelsaangeleenthede. Dit is Handel en Vriendskap genoem en is bekragtig ten tyde van pres. Kruger se ampsbesoek aan Bloemfontein. As "Vader van die Volk” moes Steyn baie rondreis, alle dorpe besoek, toesprake hou en onthale bywoon. Weke voor die president se besoek het die skoolkinders geleer om die Volkslied ordentlik te sing, en het die huisvroue begin voorbereidsels tref vir die onthaal wat gewoonlik gehou is.
Kinders het president Steyn as ’n liewe oom beskou, ’n man wat altyd vol liefde en belangstelling was. ’n Dogtertjie wat by ’n banket onder die hooftafel weggekruip het om al die vername here en dames te sien, het elke nou en dan die een of ander lekkerny van die president gekry. Hy was al een wat haar raakgesien het, en het kort-kort ongemerk iets onder die tafel aangegee. Die president het heelparty planne aangepak om van die Vrystaat ’n modelstaat te maak. Engelssprekende Vrystaters het al hoe meer vertroue in hom gekry, en onder sy regering was baie van hulle net so patrioties as die Afrikaanssprekendes. Steyn is inderdaad as ’n nuwe pres. Brand beskou.
Maar hy het ook teenkanting ondervind en kon nie altyd doen wat hy wou nie. Hy het te kampe gekry met probleme soos droogte, runderpes, kommer oor die onrus in die noorde, die uitlanders in Johannesburg se pogings om stemreg te verkry en die uitbreiding van Brittanje se gesag in die gebiede om die twee Republieke. Die Vrystaat was sonder ’n hawe en saam met die Transvaal deur Brittanje ingekamp. Die Kaapse politici het met belangstelling Steyn se verbeteringe in die handel dopgehou, sy pogings om wedersydse welwillendheid te verkry, en sy toewyding aan land en volk. Hulle het ook gelet op sy toenemende vriendskap met pres. Kruger. Vrede, vriendskap en vooruitgang was Steyn se strewe.
Hierdie strewe sou baie probleme oplewer. Die propaganda teen Paul Kruger was geweldig en met die aanstelling van die nuwe Kaapse goewerneur en Hoë Kommissaris, sir Alfred Milner, het Suid-Afrika ’n kritieke tydperk betree. Milner was ’n intellektueel en ’n groot Britse patriot. Hy was vervul met ’n imperialistiese strewe. In die begin het Steyn hoë verwagtinge van hom gekoester. Steyn het gehoop Milner sou ten minste onpartydig wees en sy intellektuele gawes tot voordeel van Suid-Afrika gebruik. Steyn was bly om van Milner se aanstelling te hoor, asook van sy versoek om die vrede en eenheid in Suid-Afrika te help handhaaf.
Op 3 April 1898 het hulle mekaar die eerste keer ontmoet. Milner was op pad na Basoetoland (Lesotho) en Steyn het hom genooi om Bloemfontein te besoek. Milner het die uitnodiging aanvaar, en Steyn en ’n groot gevolg het hom op die stasie gaan verwelkom. Milner het ook ’n sitting van die Volksraad bygewoon. In sy gesprekke met die Kaapse goewerneur het Steyn herhaaldelik bevestig dat hy vriendskap en samewerking begeer, en dat die Vrystaat sou help om beter gesindhede in Suid-Afrika tot stand te bring. Hiermee was Milner tevrede, maar hy het meer waarde geheg aan die volksraadslid Abraham Fischer se standpunt. Na wat hy verneem het, was Fischer die man met die grootste invloed in die Vrystaat. Dit was Milner se begeerte om die Vrystaat en Transvaal onder die Britse vlag te sien, maar hiervan het hy natuurlik nie ’n woord gerep nie.
Steyn was in sy skik met Milner se besoek. Indien Milner ’n dergelike besoek aan pres. Kruger sou bring, het Steyn gereken, sou dit baie daartoe bydra om die gevaar van ’n oorlog af te wend. Maar Steyn het Milner nog nie geken nie. Hy was volkome onbewus daarvan dat Milner besig was om te wonder hoe hy die griewe van die Johannesburgse uitlanders kon gebruik om die Transvaalse regering omver te werp. Steyn was volkome eerlik en openhartig, en Milner sou nog uitvind dat hy die President onderskat het.
Kort na Milner se vertrek het Steyn Kruger besoek. Die Transvaalse regering het dit vir die uitlanders moeilik gemaak om burgers van die republiek te word en stemreg te verkry. Hulle het die duisende fortuinsoekers as ’n bedreiging beskou. Steyn was egter van mening dat hierdie mense tot vriende gemaak moes word en wou dat Kruger toegewinge doen om moeilikheid te voorkom. Van Pretoria is Steyn na Delagoabaai, van waar hy per skip na Kaapstad gereis het. Tibbie was toe ernstig siek in Seepunt. Steyn se besoek was privaat, maar hy en Milner het mekaar weer ontmoet.
Die sir Alfred Milner wat Steyn nou in Kaapstad te sien gekry het, was ’n totaal ander man as die vriendelike, korrekte heer wat Bloemfontein besoek het. Toe hulle oor die uitlandervraagstuk gesels - die uitlanders se griewe en hulle eise om stemreg - het Steyn gesê dat hy pas vir pres. Kruger besoek en op toegewinge aangedring het. Milner was koel, feitlik ongeskik, en dit was vir Steyn ’n skok om uit te vind dat die man van wie hy so baie verwag het, sterk teen die Boere, en veral die Transvalers, bevooroordeel is. "Ek kan nie begryp waarom ek nie klagtes van die Vrystaat kry nie,” het Milner gesê, "maar gedurig van Transvaal ". Steyn sê toe dat baie van die uitlanders se klagtes ongegrond is en dat hulle net moeilikheid wil maak. "Ek stem nie saam nie,” het Milner geantwoord sonder enige gronde waarop hy dit kon baseer.
Steyn het besef dat Milner se vyandigheid, Kruger se koppigheid en die uitlanders se oproerigheid die hele Suid-Afiika in ’noorlog kon dompel. Hieroor was hy baie bekommerd, asook oor die toestand van sy geliefde Tibbie. Ná die geboorte van haar laaste kind, Emmie, was sy so swak dat daar vir haar lewe gevrees is. Op Bloemfontein is daar selfs ‘n biddag vir Tibbie Steyn gehou. Haar dokter het toe aanbeveel dat sy na die Kaap gestuur word. In haar afwesigheid het Steyn se oudste suster, mev. P. J. Blignault, hom in die Presidensie bygestaan. Dit was ’n blye dag toe Tibbie weer begin aansterk en na Bloemfontein kon terugkeer. Steyn het haar baie nodig gehad, want in die noorde het die toestand verswak. Indien Brittanje en Transvaal sou bots, sou die Vrystaat nie neutraal kon bly nie,
Steyn het nie gedink dat dit op oorlog sou uitloop nie. Hy was van mening dat daar met geduld en goeie staatsmanskap ’n oplossing gevind sou word. Met pres. Kruger wat in Mei 1898 vir die vierde keer as Staatspresident ingehuldig is, het hy gereeld gekorrespondeer. Steyn het as ’t ware die middelman tussen Kruger en Milner geword - hy het dit as noodsaaklik beskou dat hulle drie moes saamkom om dinge uit te praat. Kaapse politici soos Hofmeyer, Schreiner en Merriman het ook die noodsaaklikheid van so 'n konferensie ingesien. Ná veelvuldige diplomatieke onderhandelings is ‘n konferensie toe op Bloemfontein gereël. Op Milner se aandrang sou Steyn nie daaraan deelneem nie, maar slegs die gasheer wees.
Die een ding wat Paul Kruger en Afred Milner gemeen gehad het, was hul vurige nasionalisme, maar dit sou ook die kloof tussen hulle in ’n afgrond verander. Die Bloemfonteinse Konferensie het einde Mei 1899 begin. Steyn - nog steeds die middelman - het lang gesprekke met Kruger en Milner afsonderlik gevoer, en dit was aan hom te danke dat pres. Kruger gewillig was om toegewinge te doen. Milner het egter besluit om, nieteenstaande watter konsessie gedoen word, elke slag meer te vra. En dit het hy gedoen totdat Kruger nie verder kon toegee nie. Dit was wat Milner wou gehad het, en Steyn was hewig ontsteld toe die konferensie misluk.
Ná die konferensie het Milner nie meer sy anneksasieplanne geheim gehou nie. Steyn was baie meer realisties oor die dreigende stryd as sy volksgenote in die noorde, en dit het hom laat sidder om te dink wat die gevolge vir die Vrystaat kon wees. Met al sy vernuf, geduld en diplomasie wou hy sorg dat ’n oorlog afgeweer word. As die dag sou kom dat hy moes sê : "Veg”, sou dit ’n stryd tot die bitter einde wees. Maar eers sou hy alles in sy vermoë doen om daardie woord nie te uiter nie, want in die oorlog met die Britse Ryk sou daar maar min hoop vir die twee republieke wees.
Pres. Steyn het die rol van middelaar gespeel totdat die eerste skote begin knal het. Dit was ’n rol wat hy vir die res van sy lewe sou speel. In 1899 het die spanning ondraaglik geword. Steyn het gevoel asof hy die hele toekoms van Suid-Afrika op sy skouers dra. Hy het steeds alles in sy vermoë gedoen om ’n oorlog te probeer verhoed. Hy het sy geweldige korrespondensie hoofsaaklik per telegram gevoer. Die Kaapse politici het sterk druk op Steyn uitgeoefen om sy invloed by pres. Kruger te gebruik om aan al Milner se eise te voldoen. Dit het egter ’n klug geword toe die toegewing misbruik is net om meer te vra.
Gerugte het die rondte gedoen dat die Britte mobiliseer, dat 40,000 soldate na Suid-Afrika gestuur word. Hierdie gerugte is ontken, maar Steyn het geweet dat daar tog iets in steek en die anneksasie van die diamantvelde in herinnering geroep. Dag en nag het hy gewerk, geskryf, gedikteer en onderhoude gevoer, het hy boodskappers herwaarts en derwaarts gestuur in ’n poging om die vrede te bewaar. Hy was die hele tyd in verbinding met Paul Kruger. Die Transvalers, wat soveel welslae in die Eerste Vryheidsoorlog behaal het, was lus vir oorlog. Maar Steyn het hulle gekeer so lank hy kon. Daar is gehoop dat vreemde moondhede, soos Duitsland, die Boere sou help, dat die Afrikaners van Kaapland sou rebelleer. "Onse Jan” Hofmeyr het vir Steyn gewaarsku om nie op die koloniale Afrikaners staat te maak nie, al was hulle die twee republieke ook hoe simpatiek gesind. "Ag, nou ja,” het Steyn geantwoord, "as oorlog dan aan ons opgedwing word, sal ons maar moet veg, met of sonder hulp.”
Dit was nou ’n onbetwisbare feit dat Britse troepe besig was om naby die republikeinse grense stelling in te neem en om hul garnisoene te versterk. Transvaal het geweier om enige verdere toegewings te doen, en ’n ultimatum is opgestel deur die staatsprokureur, J. C. Smuts, en F. W. Reitz, wat intussen staatsekretaris van die Z.A.R. geword het. Steyn was sterk daarteen gekant dat die ultimatum aan Milner in sy hoedanigheid as koningin Victoria se verteenwoordiger oorhandig word. "Ek beveel ten sterkste aan,” het hy vir Kruger laat weet, "dat geen stappe gedoen moet word wat as ‘n verklaring van oorlog of as aggressie van u kant kan vertolk word nie.” En aan Milner het Steyn geskryf: "My innige begeerte is nog, soos altyd, om vrede, samewerking en eensgesindheid in Suid-Afrika te versterk, en ek kan nie insien waarom dit nie op ’n vriendelike en diplomatieke wyse kan geskied nie.”
Maar die tyd vir mooipraatjies was verby. Milner was vasberade om met die steun van sy regering, Brittanje die "Paramount Power” in Suid-Afrika te maak. Kruger was met sy rug teen die muur, en volgens verdrag moes Steyn hom bystaan. Albei se verjaardae was ophande. Die Transvalers besluit toe om op Kruger se verjaardag te eis dat die Britse troepe teruggetrek word en dat die troepeskepe wat op pad is na Suid-Afrika omdraai - die sogenoemde ultimatum. Tot die laaste oomblik het Steyn om uitstel gepleit, steeds hopende op ’n vreedsame oplossing. Dit was egter reeds te laat. Die uitlanders was aan die vlug uit Johannesburg, kommando’s was aan die opruk na die grense, en die Britse troepe het a! nader beweeg.
Die Vrystaters is nou ook deur die oorlogsgees beetgepak. "Waarvoor wag ons, president?” wou hulle weet. "Dis tog nutteloos. Laat ons veg!” Hierop het Steyn kwaai geantwoord: "Ek sal nie toestem tot oorlog tot op die laaste minuut nie, indien dit nie anders kan nie; maar glo my, as die dag kom dat ek sê: Oorlog! dan moet julle nie met my oor vrede kom praat nie. Dan moet dit gaan tot die bitter einde...”
Die Sondag voor die ultimatum aan die Britse verteenwoordiger in Pretoria oorhandig is, het Steyn en Tibbie op hul plaas Onze-rust deurgebring. Hy het ver in die veld gaan stap nadat hy vir Tibbie gesê het om nie op hom te wag vir ete nie. Tibbie het hom agterna gekyk toe die groot man die veld instap. Sy was glad nie ten gunste van ’n oorlog nie. Sy het beter as enigiemand anders geweet hoe hy gely het deur al die maande van politieke onderhandelinge. Wat ook al sou gebeur, sy sou by hom staan. Sy het vermoed dat hy die dag in gebed deurgebring het, en toe hy die aand huistoe kom, het sy dadelik opgemerk dat hy rus vir sy gemoed gevind het.
"Ek sal veg vir vryheid en vir reg,” het pres. M. T. Steyn vir sy vrou gesê. Hy het haar hand in syne geneem en saam het hulle gesit en kyk hoe die skemer toesak oor hul geliefde land, hul Vrystaatse veld.
Vervolg...