PRESIDENT M.T. STEYN (7)

Lees reeks by President M.T. Steyn

Johannes Meintjies

Die Rebelle

Die Eerste Wereldoorlog het in Augustus 1914 uitgebreek. Vanweë al die politieke woelinge in Suid-Afrika was die mense onrustig en agterdogtig. Toe versoek die Britse regering vir genl. Botha om Duits-Suidwes binne te val en te verower. Hieroor was die Afrikaners geweldig verdeeld. Waarom, het hulle gevra, moes hulle Engeland help na dit wat die Engelse die Boere aangedoen het? Wat het hulle teen die Duitsers? Pleks van die Engelse te help, so het ’n man soos genl. Koos de la Rey gemeen, het die tyd aangebreek om Suid-Afrika ’n onafhanklike republiek te verklaar. Steyn het die republikeinse strewe van sy volk maar alte goed geken, maar aan die ander kant was Botha moreel verplig om Engeland te help.

Deur die jare het Steyn gestrewe om die twee blanke rasse in Suid-Afrika verenig te sien, en daarom was hy ten gunste van die unifikasie van Suid-Afrika en het hy die Nasionale Konvensie bygewoon. ’n Verenigde Suid-Afrika, het hy gevoel, sou hom teen enige aanvaller kon verdedig. ’n Sterk verdedigingsmag was dan ook een van sy ideale, maar om ’n ander land aan te val, was iets anders. Suid-Afrika moes liewers neutraal bly, tensy hy aangeval word. Die Unie-regering het gevoel dat neutraliteit buite die kwessie was. Louis Botha was in ’n uiters moeilike posisie. Die Engelssprekende Suid-Afrikaners was ten gunste van onmiddellike deelname aan die oorlog, terwyl baie Afrikaanssprekendes alle bande met Engeland wou verbreek en ’n nuwe republiek wou stig.

Omdat hy so swak was, kon president Steyn nie aan hierdie dramatiese verwikkelinge deelneem nie. Hy het egter wel ’n rol gespeel agter die skerms, want almal het na hom opgesien om die tweedrag te beëindig. Daar was baie Boere in Suidwes. Moes hulle dan nou deur hul eie mense aangeval word, het baie gevra. Lede van die Unie se verdedigingsmag - sommige van hulle bekende generaals en kommandante uit die Vryheidsoorlog - het hulle met die republikeinse strewe vereenselwig en hul voorgeneem om eerder te bedank as om Suidwes aan te val. Een van die eerstes wat bedank het, was kmdt.-genl. Christiaan Beyers. Die aand van 15 September het hy en genl. De la Rey van Pretoria na Potchefstroom afgereis. Die polisie was op soek na die Forster-bende, berugte rampokkers van Johannesburg, en in hierdie polisiewerk is genl. De la Rey doodgeskiet – dit het later geblyk nie 'n ongeluk te wees nie...

Die grootskeepse rebellie wat op die punt was om uit te breek, het hierdeur ’n knou gekry. Genl. Botha het ook dadelik die versekering gegee dat net vrywilligers gebruik sou word om Suidwes binne te val. Mense het na Onzerust begin stroom om vir Steyn te vra wat hulle moes doen. Hy het openbare vergaderings aanbeveel waarop almal hul harte kon uitpraat. Weens sy siekte het Steyn nie geweet hoe ernstig die toestand was nie, en hy het geweier om te glo dat genl. De Wet iets met ’n rebellie te doen sou hê. ’n Rebellie sou burgeroorlog beteken - broedermoord. Met die dood van De la Rey het De Wet egter van mening verander. Die wyse waarop die geliefde ou generaal aan sy einde gekom het, het vir hom verdag voorgekom. Steyn het nie geweet dat De Wet begin het om sy ou kommando’s op te kommandeer nie.

Sake het ’n verrassende wending geneem toe nog ’n offisier in die verdediging, Manie Maritz, hom nie alleen openlik teen ’n aanval op Suidwes verset nie, maar na die Duitsers oorgeloop het. Dit was hoogverraad, en Steyn het dit ewe sterk as Botha afgekeur. Hertzog het ook nie Maritz se stap goedgekeur nie. As regsgeleerde wou hy hê dat ’n regeringsverandering op ’n grondwetlike manier moes geskied. Vir Botha was daar nou geen ander uitweg as om krygswet af te kondig nie. Dit het dan ook beteken dat enigiemand vir die aanval op Suidwes opgekommandeer sou kon word. Botha het lang briewe aan Steyn geskryf waarin hy hom gevra het om die haglike situasie te help beëindig.

Hierdie briewe en telegramme van Botha het Steyn in ’n moeilike posisie geplaas. Indien hy Maritz se bedrywighede sou verdoem, sou hy ook die regering se stap om Suidwes aan te val, moes verdoem. En dit sou net groter tweedrag skep. Hy het gevolglik gedink dit sou wyser wees om stil te bly en niks te sê nie. Aangesien Steyn weer al hoe meer verlam geraak het, het hy sy seun, Colin, as boodskapper gebruik. Baie mense het Steyn dit later kwalik geneem dat hy nie meer gedoen het om te verhoed dat ’n rebellie uitbreek nie. Hulle het egter vergeet dat Steyn in daardie jare bedlêend en feitlik sterwend was en dat hy oortuig was dat De Wet sou kon keer dat daar tot geweld oorgegaan word. Daar moet ook onthou word dat Steyn self sterk teen die regeringsbeleid gekant was en dat enige optrede van hom ook as opstand teen die Regering gesien sou kon word. Een van sy kritici was J. X. Merriman, wat hierna van Steyn verwyder geraak het.

Die dokters het weer vir Tibbie gevra om Steyn so stil as moontlik te hou en nie sy pos vir hom te gee nie. Maar dit was onmoontlik om briewe van die Eerste Minister en ander vooraanstaande manne te verontagsaam, of om te weier om belangrike besoekers te ontvang. Louis Botha se geduld het nou begin opraak. Vanweë die bedrywighede van genls. De Wet, Kemp, Beyers en ander, het hy gesê, word daar op ’n bloedbad afgestuur. Dit is Steyn se plig om hierdie weerbarstige manne onmiddellik tot besinning te bring. Steyn het nou besluit om op te tree en het De Wet, Kemp en Beyers na Onzerust genooi. "Nie dat ek glo dat die aantygings teen jou waar is nie,” het hy aan De Wet geskryf. "As Transvaal stilbly,” het Steyn aan genl. Schalk Burger gesê, "dink ek nie daar sal iets in die Vrystaat gebeur nie.”

Hierdie twee aanhalings bewys dat Steyn nie van De Wet se bedrywighede bewus was nie, nog minder dat daar in groot dele van die Vrystaat reeds tot rebellie oorgegaan is. Colin Steyn het briewe aan die drie generaals geneem, maar dit was reeds te laat. Beyers wou nie kom as De Wet nie kom nie, en De Wet het nie gekom nie. Botha kon nie langer uitstel nie en het aan die hoof van ’n Afrikaanssprekende kommando uitgery en vir Beyers en sy volgelinge op die vlug gejaag. Vir Steyn was dit ontsettend om te besef dat die rebellie ’n voldonge feit is en dat broederbloed verspil is. Dit was vir hom ook ’n groot skok dat De Wet feitlik hoofaanvoerder van die rebellie was. Steyn het hard probeer om hom in die hande te kry. "Laat daar tog nie bloedverspilling wees nie,” het hy in ’n brief gepleit. "Moenie twyfel aan my liefde vir jou en my mense nie. Hou jou kommando’s uit gevegte uit. Ek sal die regering vra om dieselfde te doen. Ek bid dat ek jou mag sien.”

De Wet het nie gekom nie, maar Beyers wel. Hy het gesweer dat hy nooit op sy eie mense sou skiet nie. Hy het kort daarna in die Vaalrivier verdrink toe hy van Botha se manskappe weggevlug het. Hierdie dae was van die ontsettendste in Steyn se lewe. Met groot hartseer het hy De Wet se bewegings gevolg, gehoor van die dood van De Wet se seun Danie, van sy neerlaag, inhegtenisname en gevangenskap. Dat die dag sou aanbreek dat genl. Christiaan de Wet, een van die Vrystaat se grootste helde, tronk toe moes gaan, op bevel van die staatshoof, ’n mede-Boer, was iets wat Steyn nooit sou kon voorsien het nie. Maritz het uit die land gevlug, en Kemp, ’n ander rebellie-leier, is in die tronk gestop. Die rebellie was oor. Genl. Botha het daarop sy troepe georganiseer, Duits- Suidwes aangeval en met briljante krygstaktiek verower. Afgesien van die Suid-Afrikaanse troepe wat oorsee gestuur is, was die wêreldoorlog eintlik oor sover dit Suid-Afrika aangegaan het.

"God regeer,” het Steyn homself getroos, want soos hy vir Tibbie gesê het, dit was ’n verskrikliker tyd as net na Vereeniging. Broederbloed is verspil. Die trane het oor genl. Botha se wange geloop toe hy oor ’n slagveld ry en onder die gesneuweldes ou krygsmakkers sien. Steyn het hom jammer gekry. Hulle het nooit juis tot ’n botsing gekom nie, maar Steyn het nie van hom gehou nie en het sy beleid verfoei. Dit was ook om hierdie rede dat Steyn, wat nooit oneerlik kon wees nie, geen daadwerklike stappe gedoen het om die rebellie stop te sit voordat dit te laat was nie. Hy en Botha was albei in ’n moeilike posisie, maar waar Botha in die fleur van sy lewe was, was Steyn ’n sterwende man. Dit sou eintlik onmenslik gewees het om te verwag dat hy sy laaste bietjie krag moes gebruik om te keer wat nie gekeer kon word nie. Steyn het immers voorspel dat ’n emstige krisis sou ontstaan indien die regering sy beleid sou deurvoer.

Steyn was egter altyd ’n optimis. Uit al die bitterheid, het hy geglo, sou wel iets goed kom. Sy mense sou nog ’n groot nasie en ’n groot land bou. Hy en sy gesin het hul dadelik begin beywer ten behoewe van die rebelle, en veral om genl. De Wet se lot te versag. Om die boete van die rebelle te betaal, is die Helpmekaar gestig. Steyn het geglo dat die seën van God op die beweging gerus het, want almal is inderdaad gehelp en die eise om skadevergoeding betaal. Ook was die regering genadig, want soos Botha gesê het: "Onthou ons moet almal in hierdie land saamwoon lank nadat die oorlog verby is.”

Soos die oorlog in Europa voortgewoed het, het Steyn met landkaarte in sy studeerkamer gesit. Elke oggend om nege-uur het hy per telefoon na die jongste kabelgramme verneem, en om tienuur het die pos opgedaag. Met belangstelling het Steyn al die slae gevolg en presies geweet wat aangaan. Die slagting het hom bedruk. "Dit is asof die Almagtige die mens beoordeel, en die mens word te lig gevind. Sy godsdiens, sy kultuur en sy veelgeloofde beskawing blyk baie oppervlakkig te wees. Skaars ruik hy bloed of hy gedra hom op ’n manier wat ’n barbaar sou afstoot. En nie tevrede met die slagting in Europa nie, kan ons ook nie rus voordat ons begin doodmaak nie.” Die rebelle het Steyn se volle meegevoel gehad, want na sy mening was dit regeringsbeleid wat hulle tot rebelle gemaak het. Die nuwe goewerneur-generaal, lord Buxton, het Louis Botha bewonder en geglo dat hy volkome reg gehandel het; nogtans het hy Steyn se eerlikheid waardeer en vir hom op Onzerust gaan kuier.

Steyn se besoekers kon sien dat hy baie agteruitgaan. Geestelik was daar egter niks met hom verkeerd nie. Hy kon steeds lekker gesels oor sake van die dag, oor boerdery en politiek (hy het die opbloei van nasionalisme voorspel), asook die letterkunde, wetenskap en verwante onderwerpe. Soos ’n mens met Steyn gesels het, het jy van sy swak liggaamlike toestand vergeet. Hy kon lekker gesels oor wetsake, en baie regstudente, regters, magistrate en advokate het vir hom gaan kuier. Colin Steyn sou in Nederland in die regte gaan studeer, en Tibbie het van Steyn se regsboeke vir hom ingepak. Steyn het nooit meer in die openbaar verskyn nie. Hy het egter nog steeds baie invloed gehad.

"Ek wil op Onzerust begrawe word,” het Steyn vir Tibbie gesê.

"Ek wil in ’n onopgemerkte graf lê, sonder steen of teken, soos Moses. Belowe jy dit ?” Tibbie het hom aangekyk. "Hoe kan ek dit belowe ?” wou sy weet. "Net so veel as jy aan my behoort, behoort jy ook aan jou volk.” In haar verbeelding sien sy die naald van die Vrouemonument. Daar moes hy rus. Sedert Vereeniging was Tibbie in swart geklee, en vir die volgende veertig jaar sou sy altyd net in swart gekleed gaan. Steyn het gehou van die eenvoud en waardigheid van haar kleredrag.

Steyn het sy persoonlike invloed gebruik vir die vrylating van genl. Dfe Wet in Desember 1915. Een gevolg van die rebellie was toenemende steun onder Afrikaanssprekendes vir genl. Hertzog en sy twee-stroom-beleid. Engelssprekendes weer het genl. Botha en Smuts met groter geesdrif aangehang. Smuts was vinnig besig om ’n internasionale figuur te word. Die politieke stryd tussen Hertzog en Smuts sou jare lank voortwoed. Terwyl Steyn nog gelewe het, was dit vir hom ’n bitter ervaring. "Vanaf die begin van my politieke loopbaan,” het hy in Desember 1915 aan Schalk Burger geskryf, "was dit my strewe en doel om die Suid-Afrikaners te verenig. Ten tye van die Konvensie het ek gedink dat daardie eenheid bereik is. Toe was ek gelukkig. Jy kan jou dus indink hoe ek nou voel, om aan die einde van my lewe, my lewensideaal in duie te sien. Ek het baie oor die saak nagedink, maar op die oomblik sien ek geen uitweg nie - daarom swyg ek maar.

Vervolg...