Dr JH Breytenbach
Lees reeks by Geskiedenis vd Krugerstandbeeld
Die owerheid in Pretoria—by name die Staatsekretazis—het egter geen moeite gespaar om Van Wouw tegemoet te kom nie. 'n Ekspedisie, vergesel van 'n fotograaf en 'n ooggetuie van die gebeure, is - en dit het nogal 'n aardige sommetjie gekos - spesiaal na die grotte gestuur, waar die fotograaf op aanwysing van die ooggetuie 'n stel foto's van die terrein geneem het vir versending, vergesel van uitvoerige beskrywings van wat elkeen voorstel, aan Van Wouw in Rome.
Daarby het die Staatsekretaris 'n verklaring van wat presies destyds gebeur het van oud-komdt. Herculaas Malan van Rustenburg verkry vir gebruik deur die kunstenaar.
Met die Voortrekkerklere en hierdie stel foto's en beskrywings in sy besit, was Van Wouw se moeilikhede maar gedeeltelik opgelos. Wel het hy hom nou opgewasse gevoel vir die twee Voortrekkerbrandwagte en die toneel wat vier en veertig jaar tevore by Makapaan se grotte afgespeel het maar toe moes hy tot die ontnugtering kom dat hy oor ten minste nog twee van die drie panele wat hy nog moes maak so min helderheid had dat hy gladnie met hulle kon voortgaan tensy die mense in Pretoria hom weereens aan foto's en beskrywings help nie.
Hierdie twee panele kon volstrek nie weggelaat of vervang word nie, want hulle moes juis dit voorstel wat tot dan toe die vernaamste episode in die lewe van Kruger was - die episode wat hom met wêreldroem beklee en die liefling van sy volk gemaak het: die Eerste Vryheidsoorlog en die gebeurtenisse wat daarmee saamgehang het. Dit was naamlik in sy verset teen die anneksasie van die Suid-Afrikaanse Republiek wat met die Eerste Vryheidsoorlog syhoogtepunt bereik het, dat Kruger op die voorgrond getree het as 'n staatsman en volksleier van groot formaat - as die siel van die onafhanklikheidstrewe van die Boer.
Op een van hierdie twee panele moes Kruger uitgebeeld word besig om, nadat hy alle vreedsame middele uitgeput het om die anneksasie ongedaan gemaak te kry, sy volk toe te spreek wat sedert 8 Desember 1880 in hul duisende by Paardekraal, naby Krugersdorp, byeengekom het, vasberade om, as dit dan nie anders kon nie, die Britse oorheersers met geweld die land uit te werp. Dit moes die gewigtige oomblik voorstel toe Kruger, nadat hy vir die laaste maal die erns van die stappe waartoe nou oorgegaan moes word hulle op die hart gedruk het, die burgers opgeroep het om, voordat hulle in kommando's uiteengaan, 'n steenhoop daar op te rig wat 'n getuie sou wees tussen hulle en hul God van die dure eed wat hulle daardie dag gesweer het, nl. dat hulle, in 'n broederskap verbonde en met die oog op die Almagtige gerig, sou saamstry tot die vryheid of die dood toe vir die herstel van die onafhanklikheid, en van die gelofte wat hulle gedoen het om, as God hulle die oorwinning skenk, op 16 Desember elke jaar daar op Paardekraal in groot getalle byeen te kom om Hom te loof en te dank en te aanbid aan wie die stryd behoort.
Waar hierdie paneel as 't ware die aanvang van die Eerste Vryheidsoorlog sou uitbeeld, daar sou sy maat die end daarvan voorstel toe Kruger, soos reeds vermeld, ná die klinkende Boereoorwinnings by Bronkhorstspruit, Laingsnek, Schuinshoogte en Amajuba, besig was om die vredesvoorwaardes wat tot die herstel van die onafhanklikheid gelei het, met die verteenwoordigers van Groot-Brittanje te bespreek in die huisie van O'Neill by Laingsnek.
Aan besieling om hierdie twee grootse momente in Kruger se lewe in brons voor te stel, het dit die kunstenaar nie ontbreek nie maar . . . wel aan foto's en behoorlike beskrywings. Van die eerste gebeurtenis - Kruger te Paardekraal—het daar glad geen foto bestaan nie en van die tweede—die byeenkoms in O'Neill se huis—slegs 'n tekening van die verteenwoordiger van die London Illustrated News, wat helaas nie die moment voorgestel het wat Van Wouw moes uitbeeld nie. Daar was vir hom dus net een weg oop. Hy moes die mense in Pretoria maar weer nader vir 'n beskrywing van die besonderhede wat vir hom nie duidelik was nie, en vir foto's wat hom op die een of ander wyse behulpsaam kon wees —bv. van die bekende persone wie se gesigte op die panele moes voorkom, Boerevrouens in tipiese drag, 'n tipiese saamtrek van Boere met waens en osse soos by nagmaalsgeleenthede, en wat dies meer sy—en origens maar op sy verbeelding staatmaak om die twee aangrypende tonele in brons vas te 1ê.
DAT hierdie gesoek na gegewens—dan oor dit en dan weer oor dat baie tydrowend was en die werk van die kunstenaar noodwendig moes vertraag, behoef geen betoog nie. Tog het die beeldhouer dit nooit nodig gevind om ten gevolge van die gebrek aan gegewens sy modelleerwerk te onderbreek nie. Intussen was daar wel oorgenoeg waarvan hy 'n helder konsepsie gehad het en waarmee by sommer dadelik kon wegval.
Wat die panele betref, was daar darem een wat hom geen ergernis besorg het nie. Dit moes die eerste inswering uitbeeld van Paul Kruger as Staatspresident, toe hy, ná die herstel van die onafhanklikheid, deur die volk tot die hoë amp verkies is, wat hy onafgebroke beklee het tot met die vernietiging van die Boererepublieke in 1902. Op daardie gedenkwaardige dag in 1883 was Van Wouw natuurlik nog in Holland; maar al was hy nie 'n ooggetuie van hoe die plegtigheid toe presies verloop het nie, het hy tog eenmaal—dit was in 1893-tussen die menigte op Kerkplein gestaan toe Sy Hoog-Edele vir die derde maal as staatshoof ingesweer is; en die belewenis van die gebeurtenis het so 'n diep indruk op hom, goeie waarnemer wat hy was, gemaak, dat hy hom ten volle opgewasse gevoel het vir die uitbeelding van 'n dergelike voorval tien jaar tevore. Ook het by 'n baie duidelike konsepsie gehad van die twee Boerebrandwagte uit die "moderne" tyd - die soort kêrels wat Anstruther by Bronkhorstspruit in die pan gehak en genl. sir George Colley se leër op Majubakop uiteengejaag het; en wat die figuur van die ou staatshoof self betref, met sy manel en keil, dit was so diep in sy gees ingegraveer dat hy hom as 't ware steeds voor hom sien lewe het.
Aan hierdie dinge wat hy geken het, het hy dan ook sonder versuim begin modelleer. Hy het vir hom 'n werkswinkel of ateljee in Rome gekry waar hy hom, kort na sy aankoms in Europa, gevestig het en daar met die grootste toewyding sy eerste groot lewenswerk begin. Eweas die groot beeldhouers van Europa het ook hy kunstenaars gehuur om die verskillende beelde volgens sy ontwerp te modelleer, maar algou moes hy kla dat hy met die mense niks kon uitrig nie, want hulle het nie verstaan wat 'n Boer was nie en van die nasionale karakter van die Transvalers wat uit die Boerefigure en die basreliefs moes spreek, het hulle geen begrip hoegenaamd gehad nie. Europa se bewondering vir die Boere ten gevolge van die Eerste Vryheidsoorlog en die Jameson-strooptog was nie net tot die gewone volk beperk nie maar so algemeen ook onder die hoëlui, dat selfs die Europese kunstenaars hulle daar nie aan kon ontworstel nie. As hulle 'n Boer moes vervaardig, het hulle sy kop gevorm soos dié van 'n heilige of 'n profeet of 'n ander verheerlikte wese en Van Wouw se pogings om hulle beter te leer, was nutteloos ; die gevolg was dat hy op die end genoodsaak was om die modelleerwerk persoonlik te voltooi—'n ingewikkelde, veeleisende en tydrowende taak.
Hy was daarop gesteld om alles in die fynste besonderhede weer te gee--selfs 'n deurgeloopte skoensool moes duidelik herkenbaar wees-- en om een van die sittende Boerebrandwagte so te vorm het hom ruim drie en 'n halwe maand geneem—en dan moes hy hard werk en gladnie aan soiets as amptelike diensure dink nie. Teen dié tempo en vanweë die tussenkoms van 'n siekte wat hom bowendien nog vir 'n tydjie in die bed gehou het, was by op 1 April 1898, toe hy volgens ooreenkoms met Marks na Pretoria moes terugkeer, nog baie ver van klaar af. Gelukkig het Marks nie getrag om bloed uit 'n klip te tap en op stipte nakoming van die kontrak deur Van Wouw gestaan nie, maar 'n toeskietlike houding geopenbaar. Toe staatsekretaris dr. Leyds, op aandrang van Van Wouw, met hom oor die saak gesels, het hy toegestem om die dienstyd van die beeldhouer met nog 'n jaar te verleng. Sy vennoot in Londen, die heer Lewis, het egter--ongetwyfeld op las van Marks- dikwels by Van Wouw aangedoen om te verneem wanneer by dan tog met die werk sou klaar hê—tot groot ergernis van laasgenoemde op wie hierdie belangstelling die indruk gemaak het dat Lewis--hulle "heel weinig benul van kunst had en denken dat men even zoo gemakkelyk een beeld maakt als men een plank schaaft."
Van Wouw het hom egter nie van stryk laat bring nie maar beleefd geantwoord "dat ik noon ter wille van eenige winst in tyd zoo 'n werk als het Kruger monument en myn naam opofferen zal " ; en," so het by kort daarna aan sy vader geskryf, "zy kunnen hoog of laag springen, ik werk rustig voort, doe myn plicht en tracht te verwezenlyken wat ik gedacht heb, nl. het volkomen nationaal karakter van het Transvaalsche volk en zyn Kruger. 't Zou immers bespottelyk zyn ter wille van eenige mann den winst iets te gaan opofferen, en wel van een werk dat daarvooraltyd staat en door iedereen beoordeeld wordt. Het zou my meer grieven als mijn werk niet gelukt was, maar daar zal ik voor zorgen. Toch moet U of door middel van een ander eens met den Heer Marks daarover spreken. Want ik sta alleen voor zoo 'n werk."
Van Wouw het dan ook rustig deurgewerk, so hard as hy kon, en in Mei 1898 het drie van die vyf figure voltooid in sy werkswinkel gestaan : dié van die President—'n reusestuk van nie minder as 14 voet 9 duim hoog nie—en die twee Boerebrandwagte uit die moderne tyd—ook twee reuse kêrels, elkeen in sittende houding sowat 7 voet 32 duim hoog. Al drie was tiperend, tipies soos die kunstenaar hulle wou gehad het : die President die rustige kalmte vanself, met sy regterhand op sy kierie langs hom rustende terwyl die ander hand, wat 'n opgerolde dokument vashou, rustig langs sy sy hang. Sy gelaat is effens skuins regs na benede gewend asof hy afkyk op 'n skare aan sy voete—sy volk wat hom aan alle kante omring. In skrille kontras met sy rustige figuur is die twee brandwagte aan sy voete – twee hooggespanne kêrels wat gevaar gewaar het, gevaar wat die simbool van die onafhanklikheid wat hulle moet bewaak, bedreig, en gereed maak om dit die hoof te bied. Die een, 'n man met 'n dik bos baard, tuur met die hoof omhoog gelig na die vertes waar hy weet die vyand is, asof hy net wag dat die skilpad sy kop moet uitsteek voordat hy 'n Martini Henri-koeël daar deurjaag ; want die vinger is reeds aan die sneller, die geweer gelaai, gereed om na die skouer gebring te word; en sy maat, 'n man met 'n yl kenbaardjie, is besig om, loerende uit sy skuilplek, die patroon uit die vol bandelier om sy skouer te haal ten einde die vyand hier vlak voor hom neer te skiet.
Dat die kunstenaar trots was toe hy uiteindelik die drie gemodelleerde beelde in sy werkswinkel kon besigtig, is te begrype, maar hy het nie lank die genot gehad om die drie stukke by hom te hou nie. In die tussentyd het hy ook iemand gesoek wat die gipsmodelle op waardige wyse in brons kon omset.
Reeds onmiddellik na sy aankoms in Europa het hy, oorborrelend van geesdrif, met verskillende gieters in Holland onderhandelings gevoer en ook baie gou een gekies. Dit was die Koninklijke Nederlandsche Fabriek van Gouden en Zilveren werken van J.M. van Kempen & Zonen. Hulle het met trots die gietwerk wat hulle in die verlede uit suiwer koper gedoen het aan hom vertoon. Die fabriek was egter nie toegerus om sulke massiewe beelde as wat Van Wouw maak, te giet nie en dis toe wat die kunstenaar sy skrede na Rome gewend en hom daar gaan vestig het. Daar het hy na meer as 'n halfjaar, die persoon aan wie hy die werk toe opgedra het, versigtig gekies, 'n man met die naam van Franciscus Bruno, met wie hy op 21 Mei 1898 'n skriftelike kontrak aangegaan het vir die giet van die beeldhouwerk van die Krugermonument, "in ooreenstemming met die mode en alle reëls van volmaakte kuns."
Bruno het onderneem om alle gemoddelleerde beelde wat Van Wouw reeds gemaak het of nog binne die volgende vyf maande sou maak, voor 21 Januarie 1899 in brons te voltooi, en almal wat ná afloop van die vyf maande aan hom beskikbaar gestel word, binne drie maande na aflewering daarvan klaar te giet. Bruno het nie op hom laat wag nie maar dadelik met die bogenoemde drie voltooide modelle se gietwerk begin.
Hy sou die hele werk, insluitende die veilige vervoer van die gipsbeelde uit Van Wouw se werkswinkel na sy gietery en die stewige verpakking van die gegote materiaal sodat die veilige vervoer daarvan per skip na Suid-Afrika volkome gewaarborg sou wees, teen 'n totale bedrag van 39,000 iere – dit is sowat 2,360 pond - onderneem.
'n Kwart hiervan sou betaalbaar wees by die aflewering van die figuur van die President, nog 'n vierde by die aflewering van twee van die Boerefigure, en die res ná die voltooiing en behoorlike verpakking van alle gietwerk. Van Wouw sou ter eniger tyd toegang tot die gietery hê om die werk te inspekteer en te sien hoe sy skepping in brons verewig word.
Vervolg...