Dr JH Breytenbach
Lees reeks by Geskiedenis vd Krugerstandbeeld
Die Krugerstandbeeld waaraan Anton van Wouw met soveel tere liefde en opoffering gewerk het, het dan ook nooit in die Suid-Afrikaanse Republiek verrys nie. Op 11 Oktober 1899, nog voordat die gegote beelde en basreliefs in Suid-Afrika aangekom het, het die Tweede Vryheidsoorlog, wat soveel ellende en verwoesting vir Suid-Afrika gesaai het, losgebars ; en al was die Boere vir die eerste vier maande ook so suksesvol dat hulle die vyandelike strydmagte buite die grense van die Republieke gehou het, het die Krugermonument tog nie die Boeregebied gehaal nie. Die gegote stakke is wel—wanneer, kon deur ons nie vasgestel word nie—na Suid-Afrika verskeep, maar hulle het nie verder as Delagoabaai gevorder nie waar hulle bly lê het, aangesien die Boere, in 'n stryd op lewe en dood gewikkel, daar op dié tydstip geen aandag aan kon gee nie.
Vir Marks, wat glo al die tyd die bergloon daarvan betaal, het hulle net 'n geldelike las geword en toe die Engelse uiteindelik Pretoria inneem en dit vir hom duidelik word dat die Boere die stryd nie meer kon wen nie, het hy vir die hele projek, waaraan hy soveel geld spandeer het, blykbaar niks meer omgegee nie.
Aan die krygsverrigtinge vir die onafhanklikheid van die bodem waaruit hy sy fortuine geput het, het hy ook nie deelgeneem nie en terwyl die burgers in die veld die bitterste ontberings getrotseer het om hul dierbare ou land teen die indringers te beskerm, het hy, nie dienspligtig synde, op sy plaas Swartkoppies bly sit en toekyk hoe die Britse veroweraar die twee Boererepublieke stukkie vir stukkie inneem; en daagliks het dit vir hom duideliker geword dat Groot-Brittanje die geveg sou wen en dat daar van die oprigting van die Krugerstandbeeld niks tereg sou kom nie. Dit sou 'n droom bly wat nooit verwesenlik kon word nie. . . .
Op sy plaas het lord Kitchener dan ook, tydens die gevegte by Donkerhoek, sy hoofkwartier opgeslaan en ook by hom besoek afgelê. Dit was blykbaar daar waar Kitchener die foto's van die beelde wat gereeld deur Van Wouw aan Marks gestuur is, gesien het ; en die Britse veldheer, wat blykbaar 'n bewonderaar van die Kuns was en beslis begerig om 'n blywende aandenking te hê van alle volkere teen wie hy met sukses oorlog gevoer het, het die geleentheid tnie ongebruik laat verbyglip nie maar—ten minste so het Marks later vertel--laasgenoemde reguit gevra om die beelde aan hom te skenk.
"Ek het gedag "—so het Sammy Marks jare later verskonend aan Gustav Preller vertel - ek het gedag die oorlog was verby. Ek het gedag alles was klaar en dat die Engelse nie sou toelaat dat die Krugerstandbeeld opgerig word nie ; en toe Kitchener die vier Boere vir my vra wat hy op Van Wouw se portrette gesien het, het ek gesê (met skouerophaling) : ' Daar lê hulle in Delagoabaai, hulle kos baie geld en bergloon, vat hul maar weg ! ' "
En . . . lord Kitchener het hom nie tweemaal laat nooi nie. Hy het die hele spul wat in Delagoabaai gelê het met die eerste die beste tiansportskip " Home "-toe gestuut met uitsondering van een kis wat die reusebeeld van Paul Kruger en 'n houtrmodel van 'n geweer bevat het. Daarin het hy blykbaar nie belang gestel nie, en dit het dus in die loodse van die African Boating Company in Lourenco Marques bly lê, alleen en vergete. Die vier Boerebeelde het Kitchener in Engeland voor die militêre kolleges van Woolwich en Sandhurst laat oprig aan weerskante van die oprylaan by die hoofingang, tot groot ergernis van etlike van die meer bekrompe Engelse, wat soseer geprotesteer het teen die skending van hul mooi terrein met bronsfigure van hul vyande, dat Kitchener hulle opsluit verwyder en to Chatham voor die bekende, School of Military Engineering op geskikte voetstukke rondom 'n "Boer War Memorial Arch" gaan plant het. Daar het hulle vir 'n tyd lank onder die sorg van die Royal Engineers verkeer, totdat op 'n goeie dag Kitchener dit in sy kop gekry het om twee van die Boerefigure aan die Royal Engineers as geskenk aan te bied en die res as sy private eiendom weg te neem nay sy eie landgoed te Broome Park.. En so het die bronsbrandwagte, wat bestem was om die figuur van Paul Kruger te bewaak, nou in groot tuine in England—o.a. ook in dié van die Britse oppetbevelhebber wat die twee Republieke vernietig het, gepryk, terwyl die pragtige standbeeld van die ou President self vereensaam in 'n Delagoabaaise foods gelê het, gewapen met 'n ou houtgeweer.
Die Britse veroweraar was dan ook klaarblyklik vasberade dat daar van die oprigting van die Krugerstandbeeld in Transvaal niks sou kom nie. Kruger was vir hulle die verpersoonliking van dit wat hulle smalend die "Krugerisme " genoem het en hulle was ternouernood behoorlik in die saal as veroweraars van die nuwe "Transvaal Colony", of die Stadsraad van Pretoria kry 'n brief van die "Lieutenant Governor," die nuwe Baas van die Transvaal, waarin kort en saaklik meegedeel word dat die nuwe regering besluit het om die voetstuk van die standbeeld op Kerkplein, wat met die afbreek van die ou kerk aldaar - iets waartoe reeds in die dae van die ou Republiek besluit is— daar te verwyder en dat die stadsraad dadelik moes aantoon waarheen in Burgerspark of elders die voetstuk geneem moes word, d.w.s. as hulle dit wou behou.
Die Stadsraad, bevrees dat hulle dit heeltemal sou kwytraak, het toe maar besluit om die uitgebanne ou voetstukkie in Prinsespark op te rig, waar dit dan toe ook in 1905 geplaas is—in weerwil van die opgekropte seer gevoelens van die Afrikaners wat die belediging diep gevoel het, en 'n vurige protes van die Afrikanerleier, gen. Louis Botha, wat, namens die Hoofkomitee van "Het Volk," nie alleen by die Luitenant-goewerneur oor die saak gedemonstreer het nie, maar reguit aan die Stadsraad meegedeel het dat " ... wij diep teleeurgesteld zijn ... en ... het nooit anders dan als een beleediging beschouwen, thans ons volk aangedaan."
"Wij weten," so gaan by in 'n verwytende toon voort, " dat er velen vandaag zijn maar al te graag ons volkstradities in de modder getrapt willen zien, doch wij hebben dergelijke gevoelens nou ook verwacht van den Stadsraad van Pretoria, vooral niet omdat er zoovelen onder uwen leden zijn die wijle President Kruger niet alleen hebben gekend doch in het verledene ook met hem op de meest vriendschappelijke wijze te zamen in de hoofdstad woonden."
Dit het egter niks gehelp nie en die voetstuk is, soos reeds vermeld, uit Kerkplein verwyder, maar die veroweraar was nog nie heeltemal gerus nie. Daar het blykbaar by hulle 'n gevoel van vrees bestaan dat die Krugerstandbeeld, ofskoon dit grotendeels in hul eie besit was, tog nog eenmaal daar op Kerkplein sou verrys, en dit het die Regering blykbaar so kriewelrig laat voel dat, toe hy uiteindelik besluit het om Kerkplein, wat tot op dié tydstip staatsgrond was, aan die Stadsraad van Pretoria oor te dra, hy dit wenslik geag het om 'n servituut op die oordrag te plaas, nl:
"that no buildings, statues or memorials of any description be erected on, or, other improvements effected to the ground, without the sanction of the Lieutenant-Governor being first obtained." Met hierdie veiligheidsklep het die veroweraar gereken dat dit seker was dat sells die stuk van die Krugermonument wat vereensaam daar in Delagoabaai gelê het, nooit op Kerkplein kon verskyn nie; en die feit dat daar op hierdie tydstip in sekere kringe gearbei is. Uit die oprigting van 'n reuse-ruiterstandbeeld van lord Roberts—die veroweraar van Pretoria - in. die sentrum van Kerkplein, Paul Kruger se plek, het hierdie gevoel van sekerheid versterk.