GESKIEDENIS VAN DIE KRUGER- STANDBEELD (6)

Dr JH Breytenbach

Lees reeks by Geskiedenis vd Krugerstandbeeld

DIE Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika het in die ou Suid-Afrikaanse Republiek baie dinge tot die grondtoe verwoes. Een ding het dit egter nie uitgewis nie : die nagedagtenis van Paul Kruger. Inteendeel, die gees van Paul Kruger, sy ideale en wat dies meer sy, is vanweë die oorlog dwarsoor Suid-Afrika, ook oor Kaapland versprei, en daar het, ten spyte van sir Alfred Milner se ideaal "to wipe out the last trace of Afrikanderism," 'n dag gekom toe die Boete weer uit die dieptes waarin hulle deur die oorlog gestort is, herrys het.

Reeds in 1906, pas, vier jaar na afloop van die oorlog, toe die op die slagveld verslane Boere nog moes spartel en worstel om nie in die modderpoel van armoede en ellende om te kom waarin die oorlog hulle gedompel het nie, het Transvaal weer die reg gekry om deur 'n vrye verkiesing sy eie regering aan te wys, en, die man wat toe Eerste Minister geword het, was nie die een of ander van die voormalige uitlanderleiers of 'n daarvoor ingevoerde vreemdeling nie maar generaal Louis Botha- die Transvaalse Kommandantgeneraal van die Tweede Vryheidsoorlog, later leier van die "Het Volk"-party en, soos tydens die oorlog, nog steeds 'n vurige bewonderaar van pres. Kruger wat in 1904 oorlede is en wie se begrafnis in Pretoria op 16 Desember daardie jaar weer ou herinnerings wakker geskud en nuwe geesdrif by die Boerevolk gewek het.

Genl. Botha het onverwyld begin ywer vir die oprigting van die Krugerstandbeeld op Kerkplein en met die oog daarop 'n brief aan lord Kitchener gerig, waarin hy versoek is om die Boerefigure en ander bybehore van die monument in sy besit aan Suid-Afrika terug te gee. Hy was blykbaar seker dat hy 'n gunstige antwoord sou ontvang en het met die oog daarop 'n komitee in die lewe geroep wat o.a. moes vasstel welke plek op Kerkplein  die geskikste vir die oprigting van die standbeeld sou wees.

Van die beweging het egter opsluit niks gekom nie. Terwyl die lede van die Komitee, verdeeld oor die vraag of die standbeeld op die middelpunt van Kerkplein opgerig moes word (waar die ou kerk tot kort tevore gepryk het) dan wel op die plek ten weste daarvan waar die voetstuk oorspronklik gestaan het, nie gevorder het nie, het genl. Botha, in antwoord op die bogenoemde skrywe van hom, van Kitchener verneem dat hy die vermiste dele van die standbeeld in sy besit nie kon teruggee nie aangesien dit geen oorlogsbuit was nie maar 'n persoonlike geskenk wat hy van Marks gekry het.

Nie lank daarna nie het ook die Stadsraad van Pretoria, begerig om die standbeeld wat in die eerste plek tog aan die stad behoort het, terug te kry, hulle tot Marks e.a. gewend om te verneem wat van die gegote beelde geword het. Die poging was egter eweneens vrugteloos. Die Stadsraad kon nie eers vasgestel kry waar die beelde was nie. Nòg Marks, nòg Van Wouw, kon hulle enigiets in die verband meedeel en toe hulle hul uiteindelik ook regstreeks tot Kitchener wend om van hom inligting te probeer verkry, het die lord, sover ons kon vasstel, hulle brief nie eers 'n antwoord waardig geag nie.

Die Stadsraad, ofskoon terneergeslae oor die mislukking van hul ernstige en goedbedoelde pogings om die standbeeld terug te kry, was egter nie so maklik klein te kry nie, en na 'n onderbreking van twee jaar gedurende welke tydperk hulle baie gegewens oor die geskiedenis van die standbeeld verkry het—het hulle regstreeks met Marks oor die aangeleentheid begin onderhandel, en hom gevra of hy dan nie maar die beeld van die vereensaamde Krugerfiguur wat nog al die tyd in Lourenco Marques gelê het, aan hulle wou afstaan vir oprigting nie. Wie weet, miskien sou dit dan die besitters van die res van die monument beweeg om ook die gegote stukke in hul besit aan die Stadsraad te oorhandig !

Marks was egter geensins baie gretig nie. 'n Geskonde Kruger-monument, waarvan hy nog die donateur is, sou darem al te afskuwelik lyk ; maar reguit nee sê, dit kon hy ook nie. Hy het toe aan die Stadsraad 'n voorstel gemaak. Hy sou die Krugerfiguur oorhandig, ja, maar nie voordat die Stadsraad sou onderneem om die hele monument  volgens die oorspronklike ontwerp te voltooi the. Die gedagte het toe by die Stadsraad ontstaan om die vermiste Boerefigure en basreliefs te hergiet—iets wat, indien die oorspronklike vorms nog bestaan het, volgens berekening van die heer Fanie Eloff vir ongeveer E380 gedoen sou kon word. Besluite is dan ook onmiddellik geneem om die vermiste dele Van Wouw te laat hergiet vir 'n bedrag van £500 daarvoor deur die Stadsraad.  Helaas, tot almal se bittere teleurstelling het Van Wouw meegedeel dat sowel die gipsmodelle as die gietvorms vernietig is en dat al wat gedoen kon word, was om afgietsels van die oorspronklike bronsstukke in Engeland te laat maak.  Ten einde 'n nuwe stel beelde te giet—'n proses wat, nadat vasgestel is waar die oorspronklike betonsstukke is, ook die nodige vergunning vir die maak van afgietsels verkry is, minstens £1,760 sou kos.

Hiervoor het die stadstaad darem nie kans gesien nie en al wat hulle onder die omstandighede kon doen, was om hulle maar weer tot Marks te wend en hom uiteindelik oor te haal om die Krugetfiguur uit Lourenco Marques te laat kom ten einde dit op die voetstuk in Prinsepark op te rig, al was dit dan ook sonder sy brandwagte en die ander bybehore by die monument.

Daar is dit dan ook, tipies in die gees en gesindheid van daardie tyd, op 24 Mei 1913—Victoriadag of "Empire day," soos dit genoem is —onthul deur gen. S. W. Burger, waarnemende President van die Suid-Afrikaanse Republiek gedurende die laaste agtien maande van die oorlog, toe Pres. Kruger na Europa was—'n geskonde en eensame figuur! Sowel pres. Steyn as genl. Botha het geskitter deur hul afwesigheid--eersgenoemde weens siekte en laasgenoemde, wat toe Eerste Minister van die Unie was, weens sy uiters dringende parlementêre werksaamhede. Origens is die fees, wat saamgeval het met die landboutentoonstelling, druk bygewoon. Uiterlik het daar 'n atmosfeer van vreugde geheers soos by 'n feestelikheid pas, maar tog het daar diep in die hart van die sowat drie duisend aanwesiges 'n gevoel van onvergenoegdheid gelê. Almal het bewus of onbewus gevoel dat dit 'n vernedering was dat die standbeeld van Suid-Afrika se grootste staatsman op 'n uithoek en nie op sy regmatige plek in die hart van die Krugerstad onthul kon word nie, en dat die monument, soos dit daar gestaan het, 'n geskonde stuk was—eienaardig simbolies van die geskonde toestand van die Afrikanerdom na die Tweede Vryheidsoorlog.

Burger het dan ook in sy onthullingsrede onder luide applous die hoop uitgedruk dat die standbeeld tog eendag op sy regmatige plek, t.w. Kerkplein, opgerig sou word, terwyl A. D. W. Wolmarans in die toespraak wat hy gehou het, in 'n bewoë stemming verklaar het:  "Ek wil die gedagte uitspreek van my hart en my volk dat daar pogings aangewend moet word om die standbeeld te verplaas na die Kerkplein, na die sentrum van die hoofstad, sodat dit die plek kan inneem wat dit toekom. Daar moet ook 'n besluit geneem word om die ontbrekende dele van die beeld na Suid-Afrika terug te bring, want alleen as Kruger deur sy stoere Boere omring is, sal mens kan begryp wat hy werklik vir sy volk beteken het."

Die volk het hom luid toegejuig want wat hy gesê het, was hul hartegevoelens; en hulle het dit ook nie net by toejuigings gelaat nie. Aangevuur deur nuwe nasionale geesdrif, wat veral baie hoog opgelaai het na die uitbreek van die Eerste wêreldoorlog in 1914 en die Rebellie, het hulle van tyd tot tyd op hul kongresse en vergaderings die saak te berde gebring en steeds in toenemende mate daarop aangedring dat die beeld na Kerkplein toe verskuif word waar dit tuishoort en dat die Boerefigure moes terugkom.

Genl. Botha, nou in sy hoedanigheid as Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, het ook nie op hom laat wag om nogeens te ptobeer om die stukke terug te kry nie. Na aanleiding van die onthulling van die sentrale Krugerfiguur in Prinsespark het hy nogeens 'n beroep op Kitchener gedoen om die vier Boerefigure aan Suid-Afrika terug te skenk. Die lord was egter, ofskoon hierdie slag baie vriendelik, nog steeds onverbiddelik. Hy sou, so het hy geantwoord, die twee beelde in sy besit "willingly " teruggee "to meet the wish of the people of South Africa" maar. . . dan alleen in 'ruil vir replika's daarvan, want die gelykenis van sulke waardige kunswerke wou hy onder geen omstandighede kwyttaak nie; en wat die twee beelde in besit van die Royal Engineers betref, dit sou nie teruggegee kon word the en Pretoria sou dus maar, wat hulle betref, met replika's tevrede moes wees. Die Unie-tegering sou egter geredelik verlof toegestaan word om sodanige replika's te laat vervaardig—natuurlik op eie koste.

Vir gen. Botha was hierdie voorstel aanneemlik dog toe hy uit Londen verneem dat die koste verbonde aan die maak van sulke replika's op nie minder nie as £520 per beeld te staan sou kom d.w.s. £2,080 vir die vier —het hy die saak maar laat rus, sonder hoop om die standbeeld ooit in Suid-Afrika te kry; en toe die Burgemeester van Pretoria hom in 1917 versoek om aan gen. Smuts op te dra om, wanneer hy na Londen gaan, die verlore beelde vir Pretoria te probeer terugwin, het hy kortaf geantwoord dat hy reeds sedert 1913 tevergeefs met Kitchener oor die saak onderhandel het en die aangeleentheid nie weer wou aanroer nie. Die Stadsraad moes maar probeer om die stukke deur bemiddeling van Sammy Marks terug te kry.

Die Raad het dan ook weer nuwe pogings aangewend maar met geen beter gevolg as tevore nie, en dit skyn asof sake morsdood sou geloop het as dit nie was dat die redakteur van die blad South Africa, die heer E Mathers, op inisiatief van onderpres. F. W. Reitz, die laaste Staatsekretaris van die Suid-Afrikaanse Republiek en 'n hartstogtelike bewonderaar van pres. Kruger, in Augustus 1920 die saak 'n openbare aangeleentheid gemaak het met 'n vurige persveldtog vir die teruggawe van die beelde nie.

Nadat Mathers vasgestel het waar die verlore beelde was en opsienbare foto's daarvan in Suid-Afrika geplaas het, het by 'n openbare beroep in sy blad op die Burgemeester van die dorp Chatham--waar twee van die Boerefigure gestaan het—gedoen, en hom gevra om die lede van sy Stadsraad oor te haal om die stukke aan Suid-Afrika terug te gee, want, so het hy betoog in die hoop om die Engelse op hul teerste punt te raak, "As they remain at present they are a menace to the good relationships which I am sure Chatham as all England wishes to be established and preserved between them and the Dutch of South Africa." Immers, Suid-Afrika en Engeland het skouer aan skouer in die wêreldoorlog geveg en die voetstukke te Chatham kon dus liewer gevul word met "trophies of our enemies" as met wat in die oë van die Boere steeds sou bly "spoils of conquest".

En toe die betrokke Burgemeester antwoord dat hy niks aan die saak kon doen nie daar die twee beelde nie aan die Stadsraad nie maar aan die Royal Engineers behoort, het Mathers hom in dieselfde manmoedige trant tot die betrokke militêre owerheid gewend. Die het egter slegs skouerophalend beduie dat om die stukke terug te gee die toestemming van al die lede van die Royal Engineers, versprei oor die aardbol, verkry sou moes word—'n nagenoeg onuitvoerbare taak—en dat die offisiere van die korps bowendien onwillig was om die skenking te oorweeg, nie alleen weens die hoë kunswaarde van die beelde en die feit dat hulle steeds die gedagtes teruggevoer het na die "brave and honourable men" teen wie die korps in 1899-1902 geveg en saam met wie hulle in nou in 1914-1918 gestry het nie, maar boweal omdat daardie beelde geskenk was van oorlede lord Kitchener, wie se nagedagtenis deur die korps  "in special regard and honour " gehou word. Daar was egternatuurlik niks—aldus die betrokke owerheid ten slotte – wat die Stadsraad van Pretoria verhinder om op eie koste afgietsels van die stukke te laat maak of so 'n geskenk van een van sy "well whishers" te ontvang nie.

Vervolg...