GESKIEDENIS VAN DIE KRUGER- STANDBEELD (7)

Dr JH Breytenbach

Lees reeks by Geskiedenis vd Krugerstandbeeld

Smuts wat na die oorlye van genl. Botha in 1919 Eerste Minister van die Unie geword het, het veel populariteit in Engeland vir hom verwerf. Met die goeie gesindheid wat daar vir hom bestaan het, het hy die geleentheid benut om die Krugerstandbeeld vir Suid-Afrika terug te wen. Op 18 Januarie 1921 toe almal gemeen het dat daar van die terugverkryging van die standbeeld geen sprake meer was nie, het hy die saak deurgevoer. Die Unieregering moes natuurlik self alle koste in verband met die afbreek en vervoer van die stukke betaal maar Smuts het dit onderneem en op 23 Augustus 1921 het die beelde en bybehore uiteindelik in Kaapstad aangekom. Op 12 September was dit in Pretoria en al wat ontbreek het, was 'n monogram "K" wat indertyd deur Van Wouw gegiet maar nooit weer teruggekry is nie.

VIR die Boerevolk was die aankoms van Oom Paul se brandwagte 'n geleentheid om te jubel en hulle het verwag dat die monument nou sommer spoedig op sy historiese plek op Kerkplein opgerig sou word.

Helaas, in 1914 het daar 'n wêreldoorlog uitgebreek waarin 'n groot aantal Suid-Afrikaanse soldate geval het; en hierdie mense het hul bewonderaars gehad wat intussen, toe dit gelyk het of die Krugermonument nooit voltooi sou kon word nie, die Stadsraad van Pretoria se toestemming verlang het om 'n "war memorial" op Kerkplein op te rig, en wel in die sentrum daarvan - op dieselfde plek waar die Afrikaners die Krugerstandbeeld wou hê.

Toe die Afrikaners daarvan hoor, was die vet in die vuur. Mev. H. Jooste het namens die Vroue Nasionale party met 'n sterk protes die veldtog teen die besluit op 13 Augustus 1920 ingelui, en spoedig was die Stadsraad sodanig in die warm water dat hy verplig was om 'n ander oplossing te vind.  Aan die een kant deur die " war memorial" –seksie en hul aanhangers bestook, wat daarop gestaan het dat hul oorlogsgedenkteken in die middel van Kerkplein sou verrys, en aan die anderkant deur die Afrikaners toegetakel wat Paul Kruger met sy brandwagte en niemand anders nie daar wou hê, is op die ou end deur die Raad beslis om die Plein nòg aan die een, nòg aan die ander seksie af te staan. Aan die "war memorial "-mense is toe die pragtige terrein voor die Uniegebou aangewys vir. die oprigting van hul gedenkteken, terwyl vir die oprigting van die Krugerstandbeeld afgestaan die plein voor Pretoria-stasie.

Met hierdie "gentleman's agreement," soos die kompromie-oplossing genoem is waarvan die destydse Burgemeester, die heer George Brink, die vader was, was die Afrikaners geensins tevrede nie. Die in Pretoria-wes het onder die omstandighede liewer gesien dat die standbeeld dan maar op Prinsepark voltooi word, maar ... daar was op daardie stadium aan die saak niks meer te doen nie en die standbeeld het op die plein voor die stasie verrys—op dieselfde voetstuk van Skotse graniet wat eers op Kerkplein gestaan het, toe daar uitgewerp en na Prinsepark verplaas is, en nou uiteindelik op Stasieplein opgerig is.

Daar is dit, omring deur etlike vlae van die twee voormalige Republieke, op 10 Oktober 1925, presies honderd jaar na die geboorte van pres. Kruger, deur gen. J. B. M. Hertzog, Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, onthul ten aanskoue van 'n groot skare van sowat 25,000 mense. Die plegtigheid, wat o.a. bygewoon is deur die Goewerneurgeneraal en sy gade en al die kabinetsministers, was een van die indrukwekkendste wat ooit in Suid-Afrika plaasgevind het, en die beste toesprake wat ooit oor Kruger gehou is, is hier gehou..

Die hoofspreker van die dag was natuutlik gen. Hertzog, wat veral die forse persoonlikheid en onverskrokkenheid van Paul Kruger beklemtoon het - sy vaste vertroue op God en sy groot dade ; dade wat, volgens die generaal, mens herinner het aan die Homeriese volksverhale of Noorse heldesages.

Die Afrikanerdom was natuurlik met die onthulling van die Krugermonument op 10 Oktober 1925 in 'n ware feesstemming en het niks van hul ongenoeë laat blyk met die plein voor die stasie as staanplek vir die Krugerstandbeeld nie.  Maar hulle was byna net so ontevrede met Prinsepark. Daar het dan ook nie baie jare verloop nie of hernude vertoë begin die Stadsraad van Pretoria bereik vir die verskuiwing van die beeldegroep na sy historiese en regmatige plek: die middelpunt van Kerkplein, Pretoria.

Die Stadsraad het hierdie vertoë probeer besweer deur van die reeds vermelde "gentleman's agreement " waardeur bepaal is dat nog die Krugerstandbeeld nog die "war memorial” op Kerkplein opgerig sou word. Daar was derhalwe niks meer aan die saak te doen nie. Die aansoeke om die standbeeld te verskuif is nl. steeds deur die Stadsraad na persone en liggame verwys wat steeds geweier het om hul toestemming tot die verskuiwing to verleen, omdat dit dan 'n skending sou wees van die "gentleman's agreement."

Die bogenoemde houding van die Stadsraad het die Afrikaners egter nog afgeskrik nog ontmoedig. Inteendeel, dit het hulle gesterk in hul vasberadenheid om Paul Kruger Plein toe te bring, en deur middel van sterk organisasies soos die F.A.K., die S.A. Vrouefederasie en die Kultuurraad van Pretoria, het hulle die Stadsraad deur die jare bly peper om gevolg aan hul wense te gee. Die Stadsraad was egter nie te beweeg nie, selfs nie deur 'n kongres van die Krugerkomitee—voorloper van die latere Krugergenootskap - wat in Oktober 1936 te Pretoria vergader en namens sowat 20,000 lede van die verenigings wat hulle verteenwoordig het by die Burgemeester oor die saak gedemonstreer het nie.

Dit was duidelik dat sterker optrede nodig was en met die oog daarop is die Krugerkomitee van die Kultuurraad, wie se hooffunksie tot op die tydstip was om die jaarlikse Krugerfees te reël, nou omgeskep in 'n selfstandige liggaam, die Krugergenootskap genoem, wat dit sy hooftaak gemaak het om, naas die reëling van die Krugerfeeste, te ywer vir verplasing van die Krugerstandbeeld na Kerkplein.

Die liggaam het met groot ywer en energie sy taak aangepak en die spontane en eendragtige steun van alle Afrikaanse kultuurorganisasies gehad, wat ten tyde van die Ossewatrek in 1938 die groot hernude veldtog vir die verskuiwing van stapel gestuur het. Duisende briewe, afkomstig van verskillende takke van die Transvaalse Onderwysvereniging, die Reëlingskomitee van die Voortrekkereeufees te Paardekraal, die Komitee vir die ontvangs van die Ossewaens, en talle dergelike organisasies meer, benewens van vele individue, het letterlik op die Stadsraad gereën—almal waarin die verskuiwing van die Krugerstandbeeld na Kerkplein aangevra is. Organisasies soos die Sons of England, The New Guard, die Hatfield Ratepayers Association, ens., het natuurlik 'n teenveldtog op tou gesit, maar die Transvaalse Afrikaners was nou vasberade, en toe die Stadsraad weereens probeer om die saak uit te stel in die hoop dat, deur 'n vertragingsaksie, hy die verskuiwing wel sou besweer, is hy onverwags in die hoek gedryf toe op 9 Maart 1939 die Provinsiale Raad 'n eenparige besluit neem om die Stadsraad van Pretoria te versoek om die saak spoedig en finaal te besleg. Daar was lede van die Stadsraad wat geensins geneë was om hulle aan die geroep van die Afrikanervolk te steur the. Hul houding was dat die saak maar steeds uitgestel moes word, maar uiteindelik het wyser gedagtes geseëvier en is die verskuiwing van die Krugerstandbeeld op 29 Mei 1939 met meerderheid van stemme goedgekeur.

'n Gesamentlike oproep van die Voorsitter van die Krugergenootskap en die Burgemeester van Pretoria aan die volk, waarin laasgenoemde vir fondse gevra is om die onderneming te finansier, is ten getalle van meer as 40,000 oor die lengte en breedte van die land versprei, en binne korte tye is sowat £4,000 vir die saak byeengebring.

In oorleg met Anton van Wouw, wat hom altyd met Marks se voetstuk ontevrede verklaar het omdat dit nie die grootsheid van die monument tot sy reg sou laat kom het nie, is toe deur die heer J. M. van der Westhuizen, argitek van die Krugergenootskap, planne opgestel vir 'n mooi waardige voetstuk wat volmaak by die beeldegroep op hul nuwe standplaas sou aanpas, en hierdie planne is, na goedkeuring deur die beeldhouer, deur die Krugergenootskap volledig aanvaar.

Alles het voor die wind gegaan en finale reëlings is deur die Genootskap getref vir die onthulling van die standbeeld op sy regmatige plek op 10 Oktober 1941, deur mev. R. I. Steyn, weduwee van die laaste Vrystaatse President, wat die versoek om die onthulling waar te neenm, gretig en met dank aanvaar het.

Toe, juis op hierdie stadium, toe die ganse Afrikanderdom reikhalsend uittgesien het na die uiteindelike verwesenliking van hul lang gekoesterde ideaal en die sentimente vanweë die Tweede Wêreldoorlog hoog opgesweep was, het daar skielik 'n kinkel in die kabel gekom. Die Stadsraad van Pretoria het nl. nou onverwags met die bewering voor die dag gekom dat die voorgestelde voetstuk moontlik argitektonies nie by Kerkplein sou aanpas nie, en twee argitekte—t.w. die here Gordon Leith en V. S. Rees Poole aangestel om, tesame met argitekte wat die Krugergenootskap uitgenooi is om te benoem, ondersoek na die aangeleentheid in te stel Die Krugergenootskap het hom geneë verklaar om oor die vorm van die voetstuk te onderhandel maar het beslis geweier om die sentrum van Kerkplein as die geskikste standplaas van die standbeeld prys te gee.

Hierop het die Stadsraad—wat die beeld eintlik op die suidelike ingang van Kerkplein wou plaas, verklaar dat daar by hom net een oorweging was, nl. om te sorg dat die standbeeld op die "beste plek " op die Plein geplaas word en dat hy hom dus nie aan die sentrum gebonde ag nie.

Vervolg...