Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
'n Ekspedisielid vertel wat verder gebeur het:
Ons het ’n paar dae by Veiligheidskamp deurgebring, voordat Scott met die hondespanne teruggekeer het. Omdat hy draaie wou vermy, het hy soms waagstukke aangevang. Hy was feitlik te na aan Wit Eiland en die hondespanne het oor die sneeubrug van ’n ysskeur gehardloop toe die brug instort en al die honde voor Scott en Meares se slee, behalwe Osman, die leier, en die twee agterste diere, in ’n gapende afgrond verdwyn. Scott en Meares het hul slee veilig weg van die sneeubrug getrek en, gehelp deur hulle maats, Wilson en Cherry-Garrard, wat die ander span onder hulle sorg gehad het, het hulle met ’n bergklimmerstou in die sneeuskeur afgesak totdat hulle die honde in die hande kon kry. Die arme diere het daar heen en weer geswaai en na mekaar gehap en treurig getjank.
Dit was ’n vreeslike deurmekaarspul. Die honde is twee op ’n slag gered. Nadat Cherry en oom Bill hulle uitgesleep het, het hulle — en dit was gelukkig — gaan lê en rus. Nadat al die honde weer bo was en Scott en Mears veilig was, het die twee spanne honde aan die baklei geraak. Afgesien van hierdie opwinding het alles nogal baie goed verloop. Scott was baie geesdriftig omtrent die moontlikhede van Meares se honde en hy het toe gesê dat hy moontlik die honde met ligte vragte na die Pool sal neem en dat hy die finale trek na die hoogland van die Pool met die honde sal aflê. Hoe jammer tog dat hy dit nie gedoen het nie! Het hy dit gedoen, dan was hy vandag miskien nog in lewe.
Van die hondedrywers is verneem dat die opslagplek op 790 30" S. 169° O. aangelê is, dit wil sê, feitlik een-honderd-en-vyftig myl van die basis af. Hier sou ’n ton of wat voorrade op hulle wag voordat hulle die groot sleereis na die Pool aanpak.
Bowers, Oates en Gran is daar gelaat. Hulle moes die opslagplek opbou en die ander vyf ponies met die leë slee teruglei. Party van hulle het na Hutpunt gegaan om vas te stel of die skip nie miskien daar was en ’n boodskap vir ons gelaat het nie. Terwyl hulle die kamp oor die ys nader, kon hulle kwalik droom watter nuus daar op hulle sou wag. Die Terra Nova was daar op die dag voordat Atkinson en Crean die plek bereik het. Die skip het die plek ook ’n tweede maal op 9 en 10 Februarie besoek en toe die onwelkome nuus gebring dat hulle Amundsen se geselskap in die Baai van die Walvisse teëgekom het. Die Terra Nova het die baai binnegevaar en die Fram daar aangetref. Die Nore het soos miere gewerk en was besig om hul voorrade af te laai en om hutte in ’n betreklik gevaarlike plek, baie naby die rand van die Ysbank, te bou. Amundsen se mense het omtrent 120 honde gehad en die manne was geharde kêrels; die meeste was bedrewe ski-lopers. Hulle was van plan om in die vroeë somer na die Pool te reis en was nie van voornemens om enige ernstige wetenskaplike werk te doen nie.
Tot ons ergernis moes ons verder verneem dat die oosterse geselskap daar nie in geslaag het om te land nie, want Campbell het besef dat dit nie sal help om sy basis langs dié van die Nore in te rig nie.
Die ys in die buurt van Koning Eduard VII land het onoorkomelike moeilikhede gebied. Groot massas landys het hulle weg versper. ’n Ander plek moes gevind word vir ’n herskikte landingsplek.
Daar was vir ons nou geen ander uitweg as om die wetenskap te laat vaar en om na die Pool te vertrek sodra toestande ná die winter vir sleereise geskik was nie. Dit het nou ’n vraag van honde teen ponies geword, want die grootste deel van ons goed moes noodwendig deur ponies getrek word, tensy ons op die motorslee kon staatmaak —en niemand het geglo dat ons dit kon doen nie. Hoe dit ook al sy, Amundsen en sy honde was nou op die vasteland van die Suidpool en ons moes ons teleurstelling maar so goed as moontlik die hoof probeer bied. Kaptein Scott was baie moedig, moediger as enige van ons. Hy het alreeds wonderlik hier presteer. Dit was hy wat die eerste met slee in die Suidpoolstreek begin reis het. Hy het die weg gebaan, en ons was vir hom baie jammer, want nuus van hierdie aard, so ’n dreigement, sou hom geen aangename winter besorg nie.
Onder die omstandighede het Scott sy bes gedoen. Op 23 Februarie het hy almal aan die werk gesit om drie weke se voedselvoorrade vir agt manne uit die voorrade op Veiligheidskamp te haal. Nadat die voorrade bymekaar gekry en ingepak was, het hy, Cherry-Garrard en Crean ’n 10 vt.-slee geneem, en Forde, Atkinson en Evans ’n 12 vt.-slee, terwyl Keohane en James Pigg ’n ander groot slee met hawer en paraffien getrek het. Ons het almal gelyk na Hoekkamp wat dertig myl daarvandaan was, vertrek. Hierdie opslagplekke sou ’n gemaklike wegtrek aanstaande seisoen verseker, aangesien die vervoer van swaar vragte oor die see-ys en die diep, sagte sneeu wat ’n mens gewoonlik aantref as jy hierrond op die Ysbank begin reis, die pote van die ponies sou ooreis
en die honde sou uitput. Scott het al hierdie dinge uitgedink en het bepaald daarin geslaag om die voorlopige moeilikhede die hoof te bied deur so ’n groot hoeveelheid voer, voedsel en paraffien na Een-ton-kamp te vervoer. Die voordeel hiervan het hy gedurende die volgende lente gesmaak. Die tweede reis is nie die moeite werd om te beskrywe nie. Terwyl hulle een nag uitgekamp het, het ohulle Bowers se geselskap met die vyf ponies gesien terugkom. Hulle het baie vinnig gereis, en hiervan kon ons aflei dat dit met die diere goed gaan.
Nadat hulle by Hoekkamp aangekom het, het Scott hulle verlaat. Hy wou teruggaan en seker maak dat die vyf ponies Hutpunt veilig bereik. Hy het Evans opdrag gegee om stadig met James Pigg te reis, aangesien daar vir hom geen verdere werk gedurende die huidige seisoen sou wees nie. Cherry-Garrard en Crean het Scott vergesel en die drie het so vinnig moontlik aangedruk, want die sneeustorms het weer begin en ’n aansienlike hoeveelheid sneeu het geval.
Scott en Bowers se geselskap moes saam die vraagstuk oplos hoe om die vyf ponies en die twee hondespanne na Hutpunt te neem. Dit lyk asof dit geen moeilike werk is nie, maar as daar ooit ’n mens was wat deur teespoed agtervolg is, dan was dit Scott.
Scott het Cherry-Garrard en Crean saam met Bowers en die vier ponies oor die see-ys van die kant van die Ysbank na Hutpunt, wat hulle op 1 Maart moes bereik, weggestuur. Hy het saam met Oates en Gran agtergebly om die ponie, Waery Willie, ’n futlose dier wat besig was om in te gee, op te pas. Weary Willie het sonder enige merkbare rede doodgegaan — tensy sy afname in kondisie te wyte was aan die sneeustorms wat ons op die reis om die opslagplekke aan te lê, teëgekom het.
Bowers en sy maats het goed weggespring, maar die ponies waarmee hulle gereis het, was ongetwyfeld moeg en lusteloos na hul strawwe reis. Hulle was ook in swak kondisie en moes dikwels rus. Nadat hulle ’n entjie in die rigting van Hutpunt oor goeie sterk see-ys gereis het, het hulle skeure in die ys begin sien en ’n ligte deining het Bowers laat besef dat die see-ys werklik besig was om te beweeg. Sodra hulle dit besef het, het sy geselskap omgedraai en haastig teruggegaan, maar die ys was besig om die see in te drywe. Die ponies het hulle uitstekend gedra en baie vernuftig oor die steeds groter krake gespring, onderwyl Bowers en sy twee maats die slee oor die waterruimtes gelig het, want hulle was bang dat die ponies sou seerkry. Uiteindelik het hulle ’n plek bereik wat vir hulle veilig gelyk het. Omdat mens en dier toe deeglik uitgeput was, het hulle kamp opgeslaan en weldra was die vermoeide geselskap aan die slaap. Maar om 4.30 die volgende môre word Bowers wakker. Hy het ’n vreemde geraas gehoor. Hy het die tent oopgemaak en gevind dat die geselskap in ’n gevaarlike toestand verkeer. Die ys het weer begin opbreek en hulle was deur die water omring. Een van die ponies het in die see verdwyn. Die kamp is weer opgebreek en vyf uur lank het die moedige geselskappie oor ’n driekwartmyl drywende ys voortgesukkel. Vir geen oomblik wou hulle daaraan dink om die ponies en die slee daar te laat nie, want hulle het besef dat Scott se planne heel moontlik tot niet sal wees indien nog vier ponies met hulle slee en toerusting verlore sou raak. Met groot durf het Crean hulp gaan soek. Met groot moeite het hy oor die ys geklouter. Hy het van die een skots na die ander gespring. Uiteindelik het hy van ’n stuk ys wat in die gety rondgeskommel het en die yskrans net op die regte oomblik geraak het, teen die hang van die Ysbank uitgeklim. Op sy versoek het Cherry-Garrard by Bowers gebly, want hierdie dapper seeman sou die goed wat aan sy sorg toevertrou was, nooit, solank die geringste hoop oorgebly het, in die steek gelaat het nie.
Hierdie twee het ’n hele dag op ’n ysskots van omtrent 150 vierkante voet gedrywe. Orals om hulle heen het die ys in soortgelyke skotse, wat minstens ’n voet in die groot deining op en af beweeg het, opgebreek. ’n Matige windjie het uit die ooste gewaai en bokant die mistigheid en die rook van die ysdamp was niks behalwe die kruine van die twee eilande wat Wit en Swart Eiland genoem is, en die heuwels in die buurt van Hutpunt sigbaar nie. Onderwyl Crean oor die stukkies ys geklouter en met behulp van verbindende stukkies van die een skots na die ander gespring het, het Bowers sy vordering deur die teleskoop van ’n teolodiet dopgehou. ’n Mens kan jou voorstel hoe bly Bowers was toe hy Crean uiteindelik hoog op die Ysbank in die verte sien, want dit het daarop neergekom dat hy met kaptein Scott in verbinding sou tree. Omdat Scott ’n noodtoestand so gou kon begryp, sou hy vir Gran op die ski’s na Kaap Evans stuur, en Gran was die enigste wat dit kon doen. Sodra hy daar aangeland het, kon ’n boot van wal gestuur word en dan kon die geselskap op die skots gered word. Dog Bowers se tevredenheid was van korte duur. Grampus- walvisse het tussen die los ys begin rondswem. Party van hulle het die skots waarop die geselskap was, begin ondersoek deur hul neuse in die lug te steek en byna regop in die water te gaan staan. Hulle koppe was dan reg bokant die ysskots. Die toestand het gevaarlik gelyk, want die walvisse was ongetwyfeld agter die ponies aan.
Namate die dag gevorder het, het die wind ligter begin waai en het die deining afgeneem en heeltemal verdwyn. Dit het gelukkig as gevolg gehad dat die skotse naby die Ysbank teenmekaar gestoot het. Die oop stroke water het toe in so ’n mate afgeneem dat die geselskap die skeure kon oorbrug deur hul slee te gebruik, totdat hulle al hul toerusting tot op die Ysbank vervoer het. Hier is Bowers en Cherry-Garrard deur Scott, Oates, Gran en Crean gered. Na ‘n bietjie gesukkel is ’n ponie en al die slee gered. Die ander drie ponies het verdrink. Slegs diegene wat al in die Suidpoolstreek was, sal ten volle kan besef wat Bowers se geselskap en ook Scott se reddingsgeselskap moes deurleef.
Die gebeurtenis wat die verlies van nog drie van die ponies tot gevolg gehad het, moes noodwendig tot ’n gevoel van tydelike verslaentheid aanleiding gegee het toe hulle weer in die veiligheid van die ou bouvallige magnetiese pondokkie op Hutpunt bymekaar gekom het. Die geboutjie is ’n pondokkie genoem, want ’n mens kon dit kwalik ’n hut genoem het. Die geboutjie was sonder isolering, die sneeu het in die ruimte tussen die plafon en die dak gelê, en telkens as iemand ’n vuur of hitte maak, het die water reëlmatig begin drup totdat daar geen droë ruimte oor was nie.
Hier moet iets gesê word oor James Pigg, want hierdie ponie was ’n eienaardige maar vriendelike klein dier. Dit het gelyk asof hy en Keohane grappies saam geniet het waarvan die ander niks geweet het nie. Op die 27ste het Scott, soos reeds gemeld, na Veiligheidskamp aangedruk. ’n Kwaai sneeustorm op die 27ste het die manne verplig om in die kamp te bly. Op die volgende dag, toe die weer bedaar het, het James Pigg gedurende die agtermiddagskof in ’n skeur geval. Dit was maar ’n klein skeurtjie en as gevolg van die baie ryk kos het sy maag vasgehak en verhinder dat hy tot onder val. Dit was ’n lagwekkende toestand. Hy is met ’n bergklimmerskrooitou wat gou van die slee losgemaak is, uitgehys. James Pigg het ’n lewendige belangstelling in die gewerskaf getoon. Nadat ons vier hom op die oppervlakte gehys het, het hy op sy rug omgerol en homself op sy voete omgeskop. Daarna het Keohane met ’n tipiese Ierse glimlag oor die skeur gebuig en in die blou dieptes gestaar. En dit was toe dat James Pigg, tot ons groot vermaak, tot langs hom geloop het en sy kop ook laat oorhang het. Hy het toe na Keohane gedraai en laasgenoemde het sy neus gestreel en gesê: "Dit was so ampertjies, James Pigg!”
Vervolg...