SCOTT NA DIE SUIDPOOL (7)

Scott se Ekspedisie na  die  Suidpool 1910 – 1913

Lees reeks by Scott na die Suidpool

Op 16 Maart het agt van die manne op ’n sleereis van ’n week vertrek, maar die temperatuur het nou ’n onaangename laagtepunt bereik en tot sowat 40° benede zero gedaal. Hulle is die swaarste geteister deur betrokke weer en deur die uiters swak lig op die dae wanneer geen bakens wat hulle  die pad na die opslagplek kon aandui, sigbaar was nie.

Die manne vertel: Ons slaapsakke was ook bevrore en ongerieflik. Aan die binnekant van ons tente het ’n dik ryp gevorm en elke windjie het dit in ’n ysbui laat neerstort. Terwyl ons tydens die etes op ons slaapsakke gesit het, het ons koppe en skouers dikwels stukke van hierdie ryp afgestamp. Dit het gou in ons slaapsakke versamel, met die gevolg dat ons nagte in ’n klam ellende verander is. Die oppervlaktes was baie moeilik en dit was selfs ’n inspannende werk om ligte sleë van die opslagplek af te trek.

Hierdie herfs is deur ’n reeks storms en sterk winde gekenmerk, en daartussenin was kwalik meer as ’n paar uur stilte of ligte winde. Hulle het soms die ski’s gebruik, maar soms was die ski’s ook heeltemal nutteloos, en wel omdat die sneeu in klompe onder hulle aangepak het. Die Nore gebruik verskillende soorte paraffienwas en teerverbindings om hierdie moeilikheid te bowe te kom. Gran het die bestes van hierdie mengsels uit Christiana meegebring, maar daar was dae toe niks wou help nie en hulle die ski’s eenkant moes werp. Party van die manne het te alle tye verkies om te voet voort te sukkel, en daar was bepaald tye dat die kêrels wat te voet gegaan het, baie vinniger as die ski-lopers gevorder het. Die ervaring het egter bewys dat die bedrewe ski-loper daar baie beter aan toe is as die "voetsukkelaar”, hoe ’n goeie atleet laasgenoemde ook al is.

Wat opvallend was, is die aaklige ooreenkoms in weerstoestande, die wind, temperatuur, ens., die oppervlakte en die uitsig met die wat op die groot ramp van die  ekspedisie uitgeloop het en presies ’n jaar later tot die dood van die arme Scott sou lei. Hier volg die beskrywing van ’n dag se doen en late:

Van Hoekkamp na Hutpunt:

18 Maart 1911. — Het die manne om 6.15 geroep en na ’n lekker warm ontbyt, op ski’s vertrek. Die lig was eenvoudig aaklig en die oppervlakte baie sleg, maar het ses myl gevorder en toe die middagmaal genuttig. Na middagete verder. ’n Sterk wind het gewaai. Na ’n baie swaar getrek was hulle verplig om kamp op te slaan, nadat slegs nege-en-’n-half myl afgelê was. Sigbaarheid was werklik nie tien tree vooruit nie. Net nadat kamp opgeslaan was, het die wind tot omtrent sterkte 6 vermeerder. Dit het om die beurt sterker gewaai en dan weer weggesterf en heelwat sneeu het geval. Temperatuur 32.5° benede zero.

’n Jaar later het Scott met byna soortgelyke weerstoestande en oppervlaktes te doen gehad, met die verskil egter, naamlik dat hy meer as sestienhonderd myl gereis het, min kos oorgehad het, en dat sy geselskap die verlies van twee van hul maats te betreur gehad het asook die diepe teleurstelling van die wete dat hulle hierdie groot sleereis afgelei het terwille van die eer van hul land, net om te ontdek dat hulle voorgespring is deur manne wat die vlag van ’n ander nasie daar ingeplant het.

Toe Scott verneem dat tydens die sleereise temperature van minus veertig teëgekom was, het hy besluit om liewer die sleereise te laat staak as om sy manne die gevaar van ’n ernstige bevriesing wat hulle vir verdere werk ongeskik kon maak, op die lyf te laat loop, ’n Mens rnoet hierby ook in gedagte hou dat hulle reeds tien weke weg van hulle basis was, dat baie van hulle nog nooit tevore met sleë gereis het nie, en dat die reis om die opslagplekke aan te lê, deels onderneem is met die doel om hulle slee-ervaring te gee en ’n aanduiding te gee van hoedanige verbeterings in hulle klere en toerusting aangebring kon word.

Gedurende die eerste en die tweede week van April het die verandering in die ystoestande waarna almal so lank uitgesien het, ingetree. Nadat hulle een of tweemaal moes omdraai, het twee spanne op 11 April van Hutpunt af vertrek om oor die strook see-ys van vyftien myl na Kaap Evans te reis.

Dit was ’n ietwat gewaagde reis, want dit moes in die skemerlig en in betrokke weer met kwaai wind afgelê word. Scott het die bevel oor die een groep gevoer. Sy manne was Bowers, Griffith Taylor, en onderoffisier Evans, terwyl luit. Evans se  geselskap weer uit Wright, Debenham, Gran en Crean bestaan het. Die sewe wat op Hutpunt by die honde en die ponies agtergebly het, het hulle  oor die eerste seemyl van die reis weggehelp.

Die reis het aanvanklik oor die steil yshang wat oor Hutpunt hang, gegaan en vandaar na die kruin van die rug wat paslik as Kasteelrotskaap beskrywe kan word. Terwyl hulle op Hutpunt vertoef het was daar genoegsame geleentheid om die maklikste en die mins gevaarlike sneeupaaie te leer ken en Scott het ’n koers naby die oostekant van Kasteelrots na ’n plek vier myl daar anderkant wat sy eerste ekspedisie Hutton Cliffs genoem het, gekies. Van Kasteelrots af verder het hulle aan die westekant van twee kegelvormige heuwels wat bekende bakens was, maar waarlangs hulle nog nie tevore gereis het nie — gereis. Die reis was geensins moeilik nie en hoewel die bittere koue hulle  gesigte en vingerpunte gekasty het, is hulle  nie deur vragte belas nie. Omdat die lig so swak was, het hulle, nadat hulle  sewe myl gereis het, vir die middagmaal kamp opgeslaan, maar terwyl hulle besig was om te eet, het die lig aansienlik verbeter. Gevolglik was die ysspore teen omtrent 3 nm. aangesit en die kamp opgebreek. Die twee groen tente is versigtig op die slee gelaai en nadat  die vragte goed nagegaan was en hier ’n gespe stywer getrek en daar ’n tou vasgemaak het, is onder aanvoering van Scott, versigtig na die steil rand van die ysplato waarmee die kaap bedek is, gedaal. Hulle het ’n deel wat skynbaar oor die see gehang het, veilig bereik en was bly om ’n goeie, soliede ysplaat onder hulle te sien wat sekerlik tot by Gletsertong sou strek. Die afstand na onder was sowat vyf-en-twintig voet en Evans en Taylor is met behulp van ’n bergklimmerstou oor die lys gelaat. Daarna het Wright en toe die slee en die ander lede van die geselskap gevolg. ’n Paal is in die sneeu ingeslaan en die laaste lede is in ’n boeglyn aan die een kant van die tou neergelaat, terwyl die wat onder was, hulle met die ander deel van die tou laat sak het. Dit was knap werk om alles veilig onder te kry en is Scott se besluit om oor te gaan, bewonder. ’n Bang man sou teruggedeins het, want sodra hulle andermaal onder op die see-ys was, sou hulle kwalik weer kon terugkom en op die een of ander manier moes hulle Kaap Evans probeer bereik.

Toe Evans en Taylor onder aanland, het hulle ’n eienaardige en wonderlike toneel aanskou: Die gedurige sneeuvalle het ’n groot oorhelling gevorm en die yskrans was met ’n massa sneeuagtige gordyne en voue getooi wat op talryke fantastiese maniere gedraai en gevorm was. ’n Sterk wind het aanhoudend gewaai en die manne bo het dit uiters onaangenaam gevind. Almal was verlig toe die laaste man veilig onder beland het. Die laaste man was Scott.

Hulle het gou weer opgetuig en oor die see-ys na Gletsertong vertrek. Die kranse van Gletsertong het ’n paar myl verder noordwaarts in ’n harde, wit lyn verrys. Nadat hulle by Gletsertong aangekom het, het Evans en Bowers teen ’n tienvoet-hoë steil krans uitgeklouter. Dit het hulle reggekry deur op Wright en Crean se skouers te staan. Toe het hulle oorgeleun en die slee en die ander manne opgetrek, weer opgetuig en oor die gletser voortgegaan. Die gletser was vol klein ysskeure. Hulle  het die noordekant van die gletser bereik en met ’n geleidelike helling na die see-ys aan die anderkant afgedaal.

Sover ’n mens kon sien het hierdie ys tot by en rondom Kaap Evans, wat sewe myl na die N.W. was, gestrek. Dit was nou 6.30 nm. Scott het hulle  tot stilstand gebring en gevra of hul gereed was om gedurende die nag na die winterkwartier te reis. Daar was geen teëstem nie en om agtuur is daar met die  nagmars na die warm en gerieflike hut begin en het hulle ’n beeld probeer vorm van ’n aangename aandete. Hulle het gretig aangedruk, maar van die aandete sou daar, helaas, niks kom nie, want die weer het toegetrek en toe die wind teen tienuur hard begin waai en dit pikdonker was, het Scott skielik besluit om in die beskutting van Klein Skeermesrugeiland, wat hulle toe reeds bereik het, te kamp. Daar het hulle ’n onaangename nag deurgebring, want die sneeu op die see-ys was deurtrek met ryp en was die  slaapsakke  gou nat en klewerig.

Die volgende dag is hulle  om sesuur uitgeroep. ’n Sneeustorm het gewaai en die sneeu hoog opgestapel. Omdat dit onmoontlik was om te beweeg, het hulle tot 4 nm. in hulle slaapsakke gebly. Toe het hulle na die nou rotslys aan die suidekant van Klein Skeermesrug verskuiwe. Hier het hulle ’n skraal ete genuttig, maar hulle toestand was nie aangenaam nie, want van die kos was min oor en die brandstof was ook min. Die gevaar het ook bestaan dat die see-ys as gevolg van die sterk wind kon opbreek en wegdrywe. Indien dit sou gebeur sou hulle daar op die klein eilandjie van die honger beswyk het. Hulle toestand was nie benydenswaardig nie. Na ’n skraal aandete het hulle weer in hulle nat en ongerieflike slaapsakke teruggeklim en probeer slaap, maar hulle voete was ook nat en koud, met die gevolg dat die meeste nie kon slaap nie. Die nag het maar stadig verbygegaan en hulle het om 7 vm. opgestaan en die res van die kos gaargemaak voordat hulle Kaap Evans probeer bereik. Hulle was bly dat dit opgehou het om te sneeu en hoewel die lig maar sleg was, kon hulle die ysvoet net uitmaak wat skerp en wit aan die suidekant van Kaap Evans uitgesteek het. Nadat hulle geëet het, het hulle die kamp opgebreek en op ’n drafstap na die winterkwartier afgesit. Nadat hulle ’n paar myl afgelê het, het hulle tot hulle  groot verligting gevind dat die vaste ys nie net tot by Kaap Evans gestrek het nie, maar selfs om die kaap tot by Noordbaai. Hulle het die hut weldra gesien en pas daarna het hulle ‘n paar mense buite sien werk. Pas nadat hulle gesien is, het die mense na binnegehardloop en die ander haastig gebring. Die mense het hulle tegemoet gekom en gejuig en hulle gegroet, en toe is die sleë na die kampplek getrek.

Geeneen van hulle kon herken word nie, so vuil en verwaarloos het hulle daar uitgesien. Hieroor hoef ’n mens jou nie te verwonder nie, want hulle het tagtig dae gelede gewas of geskeer. Hulle het almal druk gesels en mekaar die nuus oor en weer vertel. Ponting het hulle vir ’n foto laat regstaan — die eerste nege Bolsjewiste, want hulle het regtig na ’n klomp skurke gelyk.

Omdat die verbinding nou tussen Hutpunt en Kaap Evans tot stand gebring was, het hulle hul op 13 April 1911 vir die winter ingerig. Die ontbyt wat Clissold vir hulle om halfelf die oggend voorberei het, sal nooit vergeet word nie. Dit was heerlik — warm broodjies, klompe botter, melk, suiker, konfyt, ’n heerlike bord tamatiesop en uitstekend voorbereide gebraaide robbevleis. Nadat hulle geëet het, het hulle geskeer, gebad, skoon klere aangetrek, sigarette gerook en die res van die dag gerus. Tienuur daardie aand het hulle, volgens afspraak, liggranate afgeskiet om die maats by Hutpunt te laat weet dat hulle veilig aangekom het. Die antwoord op hulle  sein was ’n signaalvlam. Grammofoonplate is opgediep en  hul het lui na Melba se sang en wysies uit die musiekblyspele geluister. Diegene wat die nodige energie en lus daarvoor gehad het, het die pianola aan die gang gekry en uiteindelik het elk van die kêrels sy verhaal aan ’n ander lid van die ekspedisie wat nie aan die sleereis deelgeneem het nie, vertel.

Kaptein Scott was bly oor die vordering wat diegene wat onder aanvoering van dr. Simpson in die hut agtergebly het, gemaak het. Alles was in die haak. Die wetenskaplike program was in volle swang en daar was geen slegte nuus nie, behalwe die verlies van ’n sleggeaarde ponie met die naam van Hackenschmidt, en ’n hond wat skynbaar aan ’n eienaardige siekte dood is - ’n baie klein haarwurm het sy brein binnegedring; dit, altans, was die bevinding van Nelson wat die lykskouing gedoen het.

Voorbereidings vir die Winter vervolg...