Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Die Tweede Winter — Die Poolgeselskap word gevind
Die orige hoofstukke van die geskiedenis van die ekspedisie word deur die pasvertelde verhaal van oorwinning en rampspoed, waardeur die lotgevalle van Scott gekenmerk is, verdwerg. Ek moet egter ’n opsomming gee van wat destyds elders in hierdie streek aan die gang was.
Op 17 Desember 1911 het die Noorweegse ontdekkingsreisigers hul terugreis na Framheim in die Baai van die Walvisse aanvaar. Dit was ’n afstand van 870 Engelse myl en hulle het die verbasend hoë gemiddeld van 22½ myl per dag oor hierdie afstand volgehou.
Op 25 Januarie 1912, om 4 vm., het Amundsen se manne weer die beskutting van hul winterkwartier bereik. Op daardie datum het die arme Scott maar slegs 30 myl op sy terugreis van die Pool af gevorder.
Dit bewys ongetwyfeld dat ’n groot aantal honde baie geskikter vir ’n Poolse sleereis is, want Scott het sy vertrek uitgestel omdat sy ponies nie in staat was om die strawwe weerstoestande op die Ysbank voor 1 November te trotseer nie. In die noorde het Peary reeds met honde behaal wat Amundsen in die suide reggekry het. Kaptein Amundsen het altyd sy bewondering te kenne gegee oor wat ons reggekry het — en op sy nederige manier het hy my gesê dat hy nooit self ’n slee sou kon getrek het soos Scott se manne moes doen nie.
Wat betref die pogings om die suidelike geselskap te ondersteun, kan ek daarop wys dat Scott se opdragte heeltemal duidelik was en dat hulle bepaald uitgevoer is. Om die waarheid te sê, niemand was juis voor die 10de Maart oor die suidelike geselskap bekommerd nie. Hulle het self nooit verwag dat hulle Hutpunt voor daardie datum sou bereik nie en, aangesien die laaste hulpgeselskap ten spyte van ’n tekort aan mannekrag deurgedruk het nadat hulle 1500 myl in die tuig getrek het, was niemand bekommerd dat die suidelike geselskap sou instort — mits hulle nie deur skeurbuik oorval word nie.
Die werklike gebeurtenisse was as volg: By die heraankoms van die Terra Nova is voorrade deur die manne by die basis afgelaai en Atkinson, wat die senior lid was van diegene wat nie nou in die Terra Nova na die beskawing sou terugkeer nie, het die honde, volgens Scott se opdragte, oorgeneem. Op 13 Februarie het hy met Dimitri en die twee hondespanne na Hutpunt gegaan en as gevolg van slegte weer moes hy tot die 19de in die kamp bly. Op daardie datum het Crean die hut met die berig bereik dat ek by Hoekkamp ingestort het. As gevolg van ’n sneeustorm kon hulle my nie dadelik te hulp kom nie, maar pas nadat die weer bedaar het, het hulle vertrek. Was dit dus nie dat die weer tydelik opgeklaar het nie, sou ek en Lashly nie gered gewees het nie.
Met die oog op my toestand het Atkinson gemeen dat, indien hulp van Kaap Evans verkry kon word, dit sy plig sou wees om by my te bly en om, indien moontlik, my lewe te red. Hy het dus besluit om Cherry-Garrard of Wright opdrag te gee om die hondespanne met Dimitri na Een-ton-kamp te neem.
Omdat Wright nou die plek van Simpson ingeneem het, sou Scott verkies het dat hy op Kaap Evans bly. Simpson is deur die Indiese Regering teruggeroep.
Hulle het dus besluit dat Cherry-Garrard die spanne moes neem. Dit het hy dan ook gedoen. Hy het kos vir vier-en-twintig dae vir sy eie eenheid en veertien dae se surplus kos vir die suidelike geselskap, asook allerhande soorte lekkernye, met horn meegeneem.
Die eintlike doel van hierdie rit was nie soseer om die suidelike geselskap te hulp te kom nie, as om hulle vinniger oor die weg te help.
Cherry-Garrard en Dimitri het dit moeilik gehad. Hulle het Een-ton-kamp egter op 4 Maart bereik en is daar deur ’n sneeustorm vertraag wat dit vir hulle onmoontlik gemaak het om te reis. Die temperatuur het tot 40° benede nul en laer gedaal en die honde het bitter gely. Daar was nou vir Cherry-Garrard twee moontlikhede: Hy moes of in Een-ton-kamp bly wat Scott, as hy reeds so ver noord gevorder het, sekerlik sou haal, siende dat daar twee bevoegde navigators in sy span was, of hy moes dit waag om na Scott te begin soek en sodoende die gevaar loop om die honde se oorblywende krag op te gebruik. Hy het dus wyslik besluit om in Een-ton-kamp te bly. Op 10 Maart het hy sy opslagplek daar aangelê en nadat hy verseker het dat meer as ’n maand se reisrantsoen in die opslagplek was, het Cherry-Garrard weer die terugreis aanvaar. Die terugreis was geensins aangenaam nie. Met die wegspring het sy honde amok gemaak, die sleemeter laat losbreek, met mekaar baklei en geweier om ’n bepaalde koers te hou. Die weer het ongunstig geword en die reis na die noorde was verskriklik.
Die winter het nou vinnig toegesak en, aangesien hulle nie oor die vlootoffisiere se ervaring van navigasie in mistige weer beskik het nie, het die eenheid in ’n bedenklike toestand verkeer. Die twee manne het in geweldige drukkingsribbels beland en op groot, oop ysskeure afgekom — en dit, terwyl hulle honde dood van die honger en moedswillig was. Dimitri het feitlik ingestort en, omdat hy hom nie behoorlik in Engels kon uitdruk nie, kan ’n mens jou voorstel hoe Cherry-Garrard moes gesukkel het. Laat op 16 Maart het hulle Hutpunt bereik. Hulle toestand was allertreurigs. Atkinson was uiters bekommerd en nou moes hy nog twee siek manne versorg.
Die honde het aan bevriesing gely, hulle was brandmaer en heeltemal ongeskik vir verdere diens gedurende daardie seisoen. Terwyl die hondespanne weg was en voordat iemand nog oor Scott bekommerd was, het Pennell, in antwoord op ’n brief waarin Atkinson om hulp vra, die Terra Nova na Hutpunt gebring. ’n Geselskap onder aanvoering van Rennick het my in ’n betreurenswaardige toestand in my slaapsak na die skip vervoer.
Ek is in die kaptein se kajuit geplaas en Drake en Day het as verpleërs opgetree. Ook aan hulle is ek baie dank verskuldig. Atkinson moes nog by my bly, want selfs toe was ek nog op die rantjie van die dood, en dit is slegs aan Atkinson se onvermoeide sorg te danke dat ek vandag nog lewend is. Hy het dus met die skip saamgereis en ook aan die soektog na Campbell in die buurt van Evans se Grotte deelgeneem. Na etlike mislukte pogings het die Terra Nova sy pogings tydelik laat vaar en op 4 Maart na Kaap Evans teruggekeer. Hier is Keohane opgelaai en hy is saam met Atkinson na Hutpunt geneem. Pennell het Atkinson van verdere verantwoordelikheid in verband met my onthef en hom saam met Keohane by Hutpunt afgelaai. Atkinson is nadruklik daarop gewys dat, vanweë die ongunstige ystoestande, daar min hoop bestaan dat Campbell ontset kon word. Met die oog op die terugkeer van Scott se geselskap het hulle ’n voorraad robbevleis en -spek ingesamel onderwyl die skip nogeens ’n mislukte poging aangewend het om Campbell op te laai. As gevolg van die feit dat die see besig was om te vries, asook van ’n tekort aan kole, het die skip nie na die suide teruggekeer nie, maar in opdrag van die bevelvoerende offisier is die skip toe na Nieu- Seeland terug. Pennell kon die Terra Nova nie langer in die McMurdo-see-engte hou nie.
Laat ons nou nagaan wat intussen met die arme Atkinson gebeur het. By Hutpunt het hy Dimitri en Cherry-Garrard onder sy sorg gehad, en albei was op die rand van ’n algehele instorting; op 16 Maart wis hy dat die Poolgeselskap nog op die Ysbank was en dat die winter met sy koue aan die nader was. Daar was geen verbinding met Kaap Evans nie want die ys het reeds uitgedrywe en ’n strook oop water was nou tussen die twee poste. Nadat hulle die toestand volledig bespreek het, het Atkinson en Keohane alleen op 26 Maart vertrek om Scott se geselskap te help. Dit was toe later in die jaar as die datum toe ons in 1911 op ’n sleereis uit was. Destyds moes ons die aanlê van opslagplekke, vanweë die moeilikhede waarmee ons te kampe gehad het, laat vaar, en ons was uitgerus en het ons nog nie aan die uiterste toets van ’n lang seisoen se sleewerk blootgestel gehad nie. Atkinson kon slegs sowat nege myl per dag aflê en vanwee die koue kon hy en Keohane feitlik nie slaap nie. Nadat hulle ’n week se kosvoorrade by Hoekkamp, net vir ingeval dit dalk gebruik kon word, gelaat het, het hulle teruggegaan. Atkinson was reeds doodseker dat die Poolgeselskap toe al beswyk het en, soos hy in sy verslag oor die gebeurtenis meld (The last year at Cape Evans, in Scott’s Last Expedition, Vol. II), het Scott sy laaste aantekening in sy dagboek gemaak voordat Atkinson en Keohane Hoekkamp bereik het. Op 1 April 1912 het Atkinson Hutpunt weer bereik. Hy was heeltemal uitgeput en baie bekommerd oor Campbell, want hy het geweet dat die noordelike geselskap hulle iewers langs die kus moes bevind. Sonder hulp van Kaap Evans kon hy niks doen nie. Net soos ons, toe ons twaalf maande tevore by Hutpunt gestrand was, het hy toe ook op ’n geleentheid gewag om die basis te bereik. Op 10 April het Atkinson, Keohane en Dimitri, nadat hulle die honde aan Cherry-Garrard se sorg toevertrou het, na Kaap Evans oor Kasteelrots met die Gletsertongroete vertrek. Dit was ’n buitengewone reis, want die ysoppervlakte was so ideaal dat hulle, terwyl hulle op hul slee gery het, oor die ys geseil het.
Die onvermoeibare Atkinson het die lede bymekaar geroep om planne te bespreek en om oor toekomstige hulp te besluit. Hulle het besluit dat dit nutteloos sou wees om nog ’n reis oor die Ysbank te maak om Scott te probeer help, want vir die suidelike geselskap was daar nou geen hoop meer nie, en Atkinson het geweet hoedanig reistoestande op die Ysbank is. Die moontlikheid het egter bestaan dat hulle Campbell en sy vyf maats kon ontset. Hulle het geweet dat hierdie geselskap in die buurt van Terra Nova-baai aan wal gesit is, en met hierdie doel voor oë het Atkinson, Wright, Keohane, Williamson, Gran en Dimitri op 13 April vertrek.
Laasgenoemde twee is by Hutpunt gelaat. Atkinson en die ander drie het om die suidelike kant van die McMurdosee-engte op die see-ys en met die kus op na Botterpunt gereis. Dit was gevaarlik, maar Atkinson is nie afgeskrik deur die gevaarlike moontlikheid dat die seeys kon opbreek nie. Die reis moes vinnig geskied en dit was gevaarlik. Hulle het baie moed en uithouvermoë aan die dag gelê en by Botterpunt het hulle ’n opslagplek met kos vir veertien dae aangelê. Op die 20ste April het hulle gesien hoe die ys opbreek en van Botterpunt af in die rigting van die see drywe. Dit het ’n verdere soektog of hulp heeltemal uitgeskakel. Na ’n ietwat gevaarlike terugreis het Atkinson se span weer Hutpunt bereik en sy hele geselskap, saam met die honde, was weer teen 1 Mei by Kaap Evans terug.
Hier het Lashly die sewe muile versorg wat die Indiese Regering aan die ekspedisie geskenk het en wat die skip saamgebring het ten einde Scott in staat te stel om verder te ondersoek hoe ver die kus van Victoria-land suidoos van die Beardmore strek.
Op wetenskaplike gebied is die werk by Kaap Evans net soos tydens die vorige winter voortgesit, en alhoewel die personeel mminder was, het hulle soos ook in die verlede met die verslae en waarnemings voortgegaan.
Die geselskap wat die tweede winter daar gebly het, het bestaan uit:
Offisiere — Atkinson, Wright, Debenham, Nelson, Cherry-Garrard, Gran. Manskappe — Archer, Williamson, Crean, Lashly, Keohane, Dimitri, Hooper.
Clissold is vervang deur mnr. Archer, ons bedrewe kok en kelner, en Forde is deur Williamson vervang. Atkinson het die werk vir die winter by die hut op so ’n wyse gereorganiseer dat elke persoon die werk gegee is waarvoor hy die geskikste was. As ’n mens in gedagte hou wat die groepie reeds moes uitstaan, dat hulle feitlik in die skaduwee van ’n groot ramp gelewe het, en dat hulle nie geweet het wat van Campbell geword het nie, dan voel ’n mens dat van al die lede van die ekspedisie hulle dit die moeilikste gehad het. Hulle moes feitlik stilsit en met ’n gevoel van onsekerheid wag dat die winter omgaan. Daarna sou hulle eers kon vertrek om die lot wat hul leier, en moontlik ook vir Campbell getref het, vas te stel.
Ek kan slegs ’n beknopte opsomming van die tweede winter gee. Dit is ontleen aan die verslae van Atkinson en Gran. Die weer was heel moontlik buitengewoon, want die vroeë wintersneeustorms het aanhoudend gewoed. Daar was ’n groot skaarste aan robbevleis. Dit was te wyte aan die feit dat die ys uit die noordelike baai gewaai het, asook aan die gebrek aan ys orals gedurende Mei.
Nadat Debenham die geologiese monsters wat Atkinson se ondersteunende geselskap van die Beardmore gebring het, ondersoek het, was die geselskap baie ingenome, want tussen die monsters is ook die fossiele van plante en van klein seediertjies gevind.
Teen die einde van Mei het ys gevorm, maar in Junie het dit weer uitgewaai. Van die winter en die see het ’n fosforagtige tint gehad. Atkinson skrywe: "Die glimming op die see was wonderlik. Ons het gesien hoe ’n rob ’n skool vis jaag. Die visse was glimmend uitgeêts en die rob, met sy glimmende snoet en sy glinsterende liggaam het hulle in alleryl agterna gesit.”
Na die gewone feestelikhede om die middel van die winter te vier, het Atkinson sy manne bymekaar geroep en sy planne vir die komende seisoen geskets. Hy sê: "Daar was vir ons twee moontlikhede. Die een was om suidwaarts te gaan en te probeer om vas te stel wat van kaptein Scott se geselskap geword het. Ek het gedink dat hulle hul lewens heel moontlik in ’n ysskeur op die Beardmore-gletser verloor het. Of ons nou al daarin sou slaag om hul liggame te vind of nie, was dit nogtans uiters wenslik dat ons selfs tot by die opslagplek op die boonste deel van die gletser sou gaan. Dit was byna 600 myl van die basis. So kon ons miskien ’n briefie vind wat hulle by die een of ander opslagplek gelaat het, en waarin hulle dalk kon gemeld het of hulle hul doel bereik het, en wel of hulle moes omdraai voordat hulle die Pool bereik het. Uit algemene oorwegings was dit van die grootste belang om nie die verslag van die ekspedisie onvolledig, en een van die belangrikste hoofstukke daarin onbeskrewe te laat nie. Die ander moontlikheid was om wes en noord te gaan, en so te probeer om Campbell en sy geselskap te ontset, mits hulle natuurlik die winter oorlewe het. Indien hulle die winter oorlewe het, sou elke dag van die naderende somer hul kanse om in Terra Nova-baai te bly voortbestaan, verbeter. Terselfdertyd het ’n sterk moontlikheid bestaan dat hulle uiteindelik deur die skip afgehaal sou word — en dalk het die skip daar reeds in geslaag om hulle almal gedurende die lente op te laai. Wat ons betref, is dit heeltemal onmoontlik om, vanweë die abnormale toestand van die ys, met die kus op te reis.
In plaas van ’n vaste ysbank, het die hele see-engte ten noorde en weste van Inaccessible-eiland gedurende Julie uit oop water bestaan. Die besonder sterk en aanhoudende winde het die ys uitgedrywe en die kanse dat ’n vaste ysbaan gedurende die lente sou vorm, was maar skraal. Onder hierdie omstandighede het sowel die offisiere as die manskappe die besluit om suidwaarts te gaan, eenparig ondersteun.
’n Belangrike feit, wat toekomstige ekspedisies miskien van belang kan vind, word deur Atkinson gemeld: Die Terra Nova het ses nuwe slee van mnre. Hagen van Christiana saamgebring. Hulle het spits lopers gehad. Voor was die loper 4 duim breed en dan word dit smaller. Hierdie slee het baie gunstig vergelyk met ons oorspronklike 12 voet-slee. Die bedoeling is skynbaar dat die breë ysterdeel oor die oppervlakte moet loop en dit vir die agterste, spits deel moet glad maak.
Na ’n afwesigheid van vier maande het die son weer op 23 Augustus teruggekeer. Die klein geselskap was in uitstekende gesondheid en volmoed. Hulle het die muile en die honde versigtig afgerig, sodat hulle vir die suidelike reis gereed en geskik sou wees. Teen die helfte van Oktober het hulle ’n opslagplek 12 myl suid van Hoekkamp aangelê, en pas daarna is nog ’n opslagplek deur die drywers van die hondespan aangelê.
Op 29 Oktober het Wright, Nelson, Gran, Lashly, Crean, Williamson, Keohane en Hooper met ses muile, slee en ’n groot voedselvoorraad vertrek om na kaptein Scott en die Poolgeselskap te soek. Op 1 November het Atkinson met Cherry-Garrard en Dimitri gevolg. Hulle het die beste honde wat beskikbaar was in twee spanne geneem. Nadat hulle by die muilgeselskap aangesluit het, het hulle Een-ton-kamp sonder veel moeite op 10 November bereik. Atkinson meld dat hy hier — soos ook ons vroeër — ’n tekort aan olie aangetref het. Dit was te wyte aan lekke in die paraffienblikke. En tog kon hulle geen gate vind nie. As gevolg hiervan is ’n deel van die voorrade bederf. Op die môre van die 12de November het die geselskap die ding waarna hulle gesoek het, gevind: Scott se tent. Dit was toegesneeu en het soos ’n sneeubaken gelyk.
Die volgende is aan Gran se dagboek ontleen:
"Dit is volbreng — aaklige, weersinwekkende lot, slegs 11 myl van Een-ton-kamp. Scott, Wilson en Birdie. Afgryslik. My lewelank sal ek dit onthou: ’n Skrikaanjaende nagmerrie kon nie aakliger gewees het as hierdie 'Campo Santo’ nie. In ’n tent, wat tot bokant die deur met sneeu bedek was, het ons die drie liggame gevind. Scott was in die middel, halfpad uit sy slaapsak uit; regs van hom was Birdie, en links oom Bill, met sy kop na die deur. . . Dit het gelyk asof Bowers in ’n soort slaap beswyk het... Betreffende ons ongelukkige Poolgeselskap het ons verneem dat onderoffisier Evans by die opslagplek aan die laer deel van die gletser beswyk het. Hy was gedaan en terwyl hulle met die gletser afgedaal het, het hy geval. Die dood het as gevolg van harsingskudding ingetree. Op die Ysbank het hulle uiters lae temperature teëgekom. Snags het die temperatuur weke aaneen tot — 50° gedaal. Wind van voor.
" 'Ou Soldaat’ se voete het erg bevrore geraak en hy het geweldig gely. Hy het begryp dat die redding van die geselskap van sy dood sal afhang, maar omdat die dood hom nie wou verlos nie, het hy die tent in ’n sneeustorm verlaat. Met kos vir twee dae en brandstof vir een dag, het die ander drie op 21 Maart hier aangekom. ’n Vreeslike sneeustorm het as gevolg gehad dat hulle die opslagplek nie kon bereik nie, en op 29 Maart was hulle almal dood.
"Scott skrywe in sy dagboek: 'Daar is geen hoop meer nie, en mag God ons naastes behou... ’ En dit, terwyl hulle slegs ’n dagreis van volop kos was.... Ons het hulle vanoggend begrawe, ’n tragiese plegtigheid. Hoe vreemd was dit nie om manne met ontblote hoofde te sien, terwyl die wind gewaai en die termometer op —20° gestaan het nie. Ons gaan nou na 'ou Soldaat’ soek, en dan gaan ons terug om na Campbell te soek. Ons ekspedisie was nie juis besonder voorspoedig nie. ... In hierdie plek van die dood skyn die son mooi. Vanoggend het ’n duidelike kruis in die wolke bokant die landtong verrys.”
Die dagboek gaan voort:
"12 November, etenstyd:
Ons het ’n sneeumonument wat twaalf voet hoog is, gebou. Daarop het ons ’n kruis en ’n paar ski’s geplaas....” Later sê Gran, en dit is die moeite werd om hom aan te haal:
"Toe ek daardie arme drie nou die dag gesien het, het ek gevoel asof ek op hulle afgunstig is. Hulle het gesterwe nadat hulle iets groots tot stand gebring het. Hoe moeilik moet die dood nie wees vir diegene wat niks tot stand gebring het, en hom dan tegemoet moet gaan nie.”
In sy verslag sê Atkinson:
"Ons het al hul toerusting gered en het die slee met hul besittings uitgegrawe. Hieronder was 35 lb. baie belangrike geologiese monsters wat hulle op die gletserpuin van die Beardmore-gletser versamel het. Omdat dr. Wilson dit versoek het, het hulle die monsters tot die bittere einde by hulle gehou, selfs ook toe die ramp hulle bedreig het en hulle besef het dat die monsters die gewig wat hulle moes trek, vermeerder het. ...”
Hulle het die volgende gedenkskrif gelaat:
"12 November 1912, breedtegraad 79 grade, 50 minute suid.
Hierdie kruis en gedenkteken is opgerig oor die liggame van kaptein Scott, C.V.O., R.N., dokter E. A. Wilson,
M.B., B.C., Cantab., en luitenant H. R. Bowers, Koninklike Indiese Vloot — ’n geringe aandenking om hul suksesvolle en moedige poging om die Pool te bereik, te verewig. Dit het hulle op 17 Januarie 1912 gedoen, nadat die Noorweegse ekspedisie reeds die pool bereik het. Hulle dood is aan ongunstige weer en aan gebrek aan brandstof te wyte. Ook ter gedagtenis aan hule twee dapper kamerade, kaptein L. E. G. Oates van die Inniskilling-dragonders, wat omtrent agtien myl suid van hier in ’n sneeustorm uitgestap het om sy kamerade te red, en seeman Edgar Evans, wat aan die voet van die Beardmore-gletser gesterwe het. 'Die Here het gegee en die Here het geneem; loof die Naam van die Here’.
"Dit is deur al die lede van die geselskap onderteken.
"Toe het ek besluit om twintig myl suidwaarts met die hele ekspedisie te reis en om te probeer om die liggaam van kaptein Oates te vind. ’n Halwe dag lank het ons suidwaarts gereis en het ons probeer om sover moontlik in die rigting van die vorige seisoen se reis te hou. Op een van die ou poniemure, wat ons bloot aan ’n rand op die sneeu-oppervlakte herken het, het ons Oates se slaapsak gevind. Dit het hulle, nadat hy hulle verlaat het, met hulle saamgebring.
"Die volgende dag het ons dertien myl verder suid gereis en nog steeds gehoop dat ons sy liggaam, waarna ons bly soek het, sou vind. Toe ons die plek waar hy hulle verlaat het, bereik het, het ons besef dat ons sy liggaam nie sou vind nie. Die vriendelike sneeu het sy liggaam bedek en hom so op paslike wyse begrawe. Op die plek wat volgens ons mening die naaste aan die toneel van sy dood was, het ons nog ’n gedenkteken ter gedagtenis aan hom opgerig. Ons het ’n klein kruis en die volgende gedenkskrif daarop geplaas: 'Hier rond het ’n baie dapper man, kaptein L. E. G. Oates van die Inniskilling-dragonders gesterwe. Op die terugreis van die Pool het hy in Maart 1912, in ’n poging om sy kamerade, wat deur teëspoed oorval is, te red, sy dood tydens ’n sneeustorm gewilliglik tegemoet gegaan. Hierdie aantekening is deur die hulpekspedisie van 1912 gelaat.’ ”
Met verwysing na hul terugkeer nadat hulle na die arme Oates se liggaam gesoek het, skrywe Atkinson ook —en ons moet dit bepaald hierby insluit — "Op die tweede dag het ons weer die rusplek van die drie bereik en vir laas van hulle afskeid geneem. Alleen sal hulle daar in hul grootsheid lê, sonder enige verandering of liggaamlike ontbinding, met die paslikste van alle grafte bo hulle.”
Atkinson kon hom nie mooier uitgedruk het nie. My boek moet eintlik hier afgesluit word, maar dit het ’n epiloog, die interessante verhaal van Campbell en sy noordelike geselskap, asook ’n beknopte aanduiding van die doen en late elders van die lede van die ekspedisie.
Die terugreis is deur droefheid en twyfel gekenmerk, want Atkinson se klein broederbende moes nou ’n ander verantwoordelikheid aanvaar — om vas te stel wat van Campbell geword het.
Op 27 November 1912 skryf Gran in sy dagboek: "Weer groot nuus — groot, goeie nuus. Campbell en sy geselskap is veilig by Kaap Evans. Op ons heenreis het hulle ons net misgeloop. Hulle het die winter Eskimowyse, met ’n igloo, en des meer, deurgemaak en hulle sê dat hulle dit heeltemal gerieflik gehad het. Campbell sien daar baie goed uit. Hy voer nou die bevel en hy is van plan om slegs klein togte te onderneem — Erebus, en des meer....”
Atkinson het die bevel nou aan Campbell oorhandig, en hier moet ek die aandag vestig op die uitmuntende dienste wat dr. Atkinson gelewer het. Sy belangrikste hoedanighede was durf en getrouheid. Vir sy werk tydens die ekspedisie is hy later spesiaal tot bevelvoerende geneesheer bevorder.
SLOT VOLG...