Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Robert Kersauson de Pennendreff, Ek en die Vierkleur, p. 52:
Dit is reeds elfuur die nag toe ons Brakfontein, waarvan die eienaar 'n Engelsman is, bereik. Generaal Maritz besluit ons moet die Engelsman 'n poets bak en sê aan my: "Robert, gaan klop aan die huis se deur en maak of jy lid is van Brabant's Horse wat op patrollie is met nege maats. Jy praat goed Engels en jy het 'n kakie-uniform — ek is seker jy sal hom om die bos kan lei."
Ek gaan dus na die huis toe terwyl die ander Boere in die donker by die buitegeboue wag. Nadat ek geklop het, word die voordeur versigtig oopgemaak deur 'n ou man wat reeds in sy slaapklere is. Hy vra: "Who are you? What do you want?"
"Good evening, Sir, I am Sergeant Jones of Brabant's Horse. I am here with nine men and thirty horses. I must put up at your farm for the night. Will you please give us a place to sleep and forage for our horses? I shall give you a receipt for the forage we used tomorrow."
"Sure, my boy, glad to help you. I shall call out my boys, they will help you."
Nadat ek hom bedank het, vra ek ewe onskuldig vir hom of hy gehoor het van die klompie Boere wat die spoorlyn 'n dag of twee gelede oorgegaan het en van wie dit gerapporteer is dat hulle in die rigting beweeg het.
"No, Sergeant," sê hy. "I've heard nothing of these scroundels who roam around the colony plundering our farms! I am glad that you are on their tracks!" En die oubaas—nadat hy een van sy werksmense geroep het en hom opdrag gegee het om ons te versorg — gaan slaap rustig, want sy eie mense was dan hier om hom teen die "scoundrels" te beskerm.
Ons bly die nag in 'n groot skuur gevul met bale wol wat vir ons heerlike slaapplekke bied, terwyl ons perde genoegsame voedsel kry. Net voor dagbreek klop ek aan die deur en toe die ou man uitkom, vertel ek aan hom wie ons werklik is en dat hy nou uit ondervinding weet dat Boere nie plase plunder en die inwoners molesteer nie. Ek groet hom met 'n vriendelike goeiedag, maar kan nie help om te lag vir die uitdrukking op sy gesig nie. Dit is asof hy maar net nie ons grap kan waardeer nie!
Uit Humor in die Driejarige stryd:
Dit is snaaks wat 'n mens onthou as daar 'n geveg aan die gang is. Tydens die bestorming van Tienie se berg dra Jan 'n velbroek. Hy is so veertien jaar oud. Die Engelse skiet elke keer net so voor hom dat die stof so staan. Dan kruip hy agteruit terwyl die velbroek so "gor-gor" maak. Val die koeël agter hom dan is dit weer "gor-gor" soos hy vorentoe beweeg!
Humor in die Driejarige stryd:
Bangheid sorg ook vir baie kwajongstreke. Die brandwag sien 'n figuur wat al sluipende na hom toe aankom in die nag. Hy weet nie dat dit eintlik die jongspan is wat 'n draad aan 'n stomp vasgemaak het nie. Vir die stomme wag beteken dit net een ding: dis 'n kruipende Engelsman. Nadat hy drie maal "Werda!" geroep het en die vyand nie antwoord nie, begin hy vuur. In 'n ommesientjie is die hele veldkornetskap in 'n geveg met 'n denkbeeldige vyand.
J.F. van Wyk, Die Mauser kml, p. 136:
Om die tyd te verwyl, het die jongklomp hulle toevlug geneem tot beesvelry, wat hulle so 'n paar uur se vermaak verskaf het. Die vel van 'n pasgeslagte bees is hiervoor gebruik. Met die haarkant boontoe is dit oopgesprei en ses langwerpige gate, groot genoeg om twee hande langs mekaar daar deur te steek, is aan elke kant gesny. 'n Stuk of twaalf mans het langs die beesvel stelling ingeneem, hulle hande deur die gate gesit en die vel styfgetrek. Wanneer die vel so 'n paar keer styfgetrek is, was dit gereed vir die slagoffer. Die gewillige ou het dan opgeklouter, en die helfte van die manne het dan die vel styfgetrek, terwyl die ander meegegee het. As dit vinnig genoeg gedoen is, het die ruiter om en om gerol. As die proses lank aangehou het, kon dit gebeur dat die velryer naar word. Wanneer die ruiter uitgestrek op sy rug gelê het met sy vingers saamgewig onder sy kop en homself stokstyf gehou het, het die manne die vel gelyktydig styfgetrek en die man in die lug ingeskiet. Hulle het hulle greep verslap en weer die vel styfgetrek om die vallende man te vang.
Qom Niklaas van Rensburg, die siener, moes ook boet! Hy het te veel kwaai bulle wat 'n gevaar vir ons kommando ingehou het, "gesien" en hulle het niks beteken nie, want ons kon hulle nie eens slag nie!
R.D. McDonald, Terugblik op my oorlogsjare, p. 23:
Die aand voor ons die dorp bereik het twee van ons 'n stel afgetrap wat ons lank sal onthou. Vier van ons geselskap het vooruit gery. Een van die vier het hom in die hoë gras langs die pad versteek en ons twee ingewag. Ek het die opmerking gemaak dat dit baie gewaagd van ons is om so ver van die ander in die donker te ry sonder ons gewere. Veronderstel, het ek gesê, dat 'n spioen van die Engelse ons in die gras sou voorlê en op ons sou losbrand. Nouliks het ek dit gesê of daar knal 'n skoot digby ons. Die vonke het die duisternis verlig en die koeël het oor ons hoofde gefluit. My gedagte was dat dit iemand was wat ons aangesien het vir twee Engelse spioene en ons sonder genade wou afmaak.
Storterend het ek uitgeroep: "Moenie skiet nie, ons is burgers!" Toe ons egter hoor dat hy weer sy geweer laai, het ons die spreekwoordelike rieme neergelê en die perde so hard laat loop soos moontlik. Ons was gou by die res van die geselskap, waar ons gou ontdek het wie ons die poets gebak het.
R.D. McDonald, 'n Terugblik op my oorlogsjare, p. 58:
Kommandant Louis Wessels het op 'n goeie dag sy manskappe op die proef gestel. Hy het in die geheim 'n aantal burgers gelas om in die stilte van die nag rondom die laer posisie in te neem. Teen dagbreek moes hulle 'n sarsie oor die laer vuur. Die burgers het hulle opdrag goed uitgevoer. Toe hulle begin skiet, was daar groot konsternasie in die laer. Een het na sy geweer en bandelier gesoek, 'n ander na sy saal en toom en 'n derde na sy perd. Een van die burgers het op 'n gespande perd gespring en daarmee gevlug sonder om die spanrieme los te maak. Sommige het weggekruip totdat die son op was en dit geblyk het dat dit 'n vals alarm was.
Humor in die Driejarige stryd
Dit is doodslil toe iemand skielik hard skree: "Wat is daardie liggie daarvoor? Dil lyk asof dit Engelse kan wees." Onmiddellik is die reaksie "Dis die vyand, burgers! Vuur!" Groot is die konsternasie toe die kommando besef dat hulle 'n stomme vuurvliegie met geweld die ewigheid ingehelp het. Die een wat die vals alarm gemaak het, is natuurlik teen daardie tyd lankal soek!
R.D. McDonald, 'n Terugblik op my oorlogsjare, p. 56
Die Boer op die plaas wat nie direk aan die oorlog deelgeneem het nie, het die burgers soms baie pret verskaf. Hy moes, sodra daar 'n kommando op sy plaas arriveer, dadelik 'n rapport na die naaste Engelse kamp stuur en aan die vyand alle besonderhede aangaande die kommando meedeel. Dit was 'n gevaarlike onderneming. Word so 'n rapport deur die burgers onderskep, dan moet die sender dit ontgeld. Stuur hy geen rapport nie, dan het die Engelse met hom op 'n jammerlike wyse afgereken. Hy was dus altyd tussen twee vure.
Die burgers het soms 'n plaasbewoner in groot verleentheid geplaas deur hulle as Engelse voor te doen. Op 'n sekere aand het veldkornet Pretorius 'n man wat al in die bed was, opgeklop. Toe die eienaar van die plaas sy verskyning maak, het Pretorius homself bekend gestel as ‘n kolonel van die Britse leër. Hy wou weet of daar Boere op die plaas was en of hy hulle reeds gerapporteer het.
Die man was dadelik in 'n penarie. Hy was nie seker of hy hier met Engelsman of Boer te doen gehad het nie. Voor hy op die gewaande kolonel se Vrae antwoord, het hy in gebroke Engels gevra: "Is jy regtig 'n Engelsman? Ek moet weet voordat ek iets kan meedeel." Nadat die onbekende besoeker hom verseker het dat hy nie 'n Boer is nie, het hy losgetrek op die so gehate Boere wat op sy plaas gekom het en nog daar is. "Do you see those rantjies?" het hy gevra. "They are full of Boers!" Hy was dan inderdaad ook van plan om so gou moonthk 'n rapport weg te stuur. Omdat sy woordeskat in Engels nie al te goed was nie, het hy sy seun geroep as tolk. Die seun het weldra onraad bemerk en het vermoed dat hy met 'n Boer, en nie met 'n Engelsman nie, praat. Die vader het tot sy ontsteltenis heeltemal sy mond verbygepraat. Nadat Pretorius genoeg verneem het, het hy sy rewolwer uitgepluk en aan die verbysterde man gesê: "Skaam jy jou nie om jou volk so te verraai nie? Wil jy sien dat ek jou harsings nou wegblaas? Jou ellendeling!"
Die arme man was so verskrik dat hy nie 'n woord kon uiter nie. Doodsbleek het hy na sy kamer gegaan en aan sy vrou gesê: "Ek het vanaand 'n lelike stel afgetrap. Wat nou van my sal word, weet die liewe Heer alleen."
Die veldkomet het hom egter met rus gelaat, maar die volgende dag het die plaasbewoner na die naaste dorp gevlug en van daar na Kaapstad waar hy vertoef het tot aan die einde van die oorlog.
Chris H. Muller, Oorlogsherinneringe, p. 136:
Op 'n dag het ek en 'n paar vriende by meneer J. Grobler se plaas in die Steenkampsberg aangekom. Sy bynaam was "Goewerneur". Dit was die allerliefste familie en almal het altyd daar iets te ete of te drinke gekry. Ouboet Viljoen was ook daar. Hy het 'n pragtige pak klere aangehad, heeltemal van gelooide vel gemaak tot die hoed toe. Hy het van die begin van die oorlog af nooit sy hare of baard gesny nie. Ouboet kon mooi op 'n trompet blaas en sy trompet het altyd om sy lyf gehang — dit was 'n baie ongewone gesig.
Daar was ook twee vriende daar, Blou Steenkamp en Lombaard. Laasgenoemde maak asof hy 'n baie dowe ou oom is. Die ander praat baie hard en vertel hom kastig die nuus.
Blou Steenkamp sê: "Oom, het Oom gehoor dat ons nou gaan vrede kry?"
"Hoekom dan?"
"Die generaal en die konsul is hier en hulle het 'n koerant opgetel." Dit was altyd 'n groot ding as 'n mens 'n koerant optel.
Die ou oom beduie in die rigting van Ouboet. "En wat het die konsul om sy lyf?"
"Dit is 'n meksim!"
"Maar hoe skiet 'n mens met die ding?"
"Jy sit hom in jou mond!"
Terwyl almal skater van die lag sit Ouboet Viljoen doodstil soos 'n standbeeld. Hy trek nie 'n spier nie. Dit het almal nog meer laat lag, maar hy was nie kwaad nie. Later het hy lekker saamgesels.
Vervolg...