Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Uit Holster, Renier-versameling:
Ou Fred was nou nie juis bekend vir sy dapperheid nie. Eintlik was die ou baie bang — veral as ons in 'n benarde situasie was. As dit goed gegaan het, was hy kaatjie van die baan. Ons was daardie dag weer in so 'n noute. Fred was so bang daardie betrokke dag dat hy vir hom so 'n kraaltjie van 6 duim hoog gebou het. 'n Flukse pikkewynwyfie sou trots daarop gewees het. Hieragter het hy gelê en huil en elke keer wanneer daar in sy rigting geskiet word.
Een van ons burgers — hy was so 'n eienaardige, onverskillige kêrel — het eenkeer so onder die bombardement van die Engelse aan die slaap geraak. Toe daar 'n liddietbom baie naby aan hom bars, het hy wakker geskrik en sy kort mausergeweer vuurwarm geskiet. Een van sy maats vra hom toe: "Jan, waarna skiet jy so geweldig?"
"O," sê hy, "ek skiet sommer so in die bosse en reken maar soos die Hollanders sê 'wat wij treffen, treffen wij!' "
Chris H. Muller, Oorlogsherinneringe, p. 97:
Louis Bothma het met sy heliograag stelling ingeneem langs 'n baie groot klip sodat hy beskut was teen koeëls. Generaal Viljoen het my daar ingewag sodat hy met my oor ons posisie kon praat. Terwyl ons nog so in gesprek was, het daar 'n bom op die klip gebars. Die volgende oomblik is ons met 'n dik rookwolk omhul.
Die generaal vra oor die heliograaf: "Ou Chris, lewe jy nog?"
Ek antwoord: "Ja, Generaal, 'n Engelsman mag my mos nie doodskiet nie!"
Die oorlogsherinnering van kommandant Japie Neser:
Nie ver anderkant die Vaalrivier nie, in die Heidelberg-distrik, kom ons by 'n plaashuis aan waar twee vosperde voor die huis in die tuin loop. Ek sê vir my maat: "Hier is ons man."
Ons klop aan die deur en die vrou van die huis maak die deur oop. Daar sit hy toe ook op 'n stoel net langs die deur. Sy geweer staan langs hom. Ek sê: "Haai, ou maat, ek is agter jou bloed!" Sy vrou is op daardie oomblik in die kombuis.
Ek vra aan hom: "Hoekom loop jy dan van weg?"
"Ja-nee, daar is tog nie nou vegtery nie en ek het maar besluit om huis toe te kom."
Op daardie oomblik kom sy vrou uit die kombuis met die koffie wat sy pas gemaak het. Sy kyk haar man so aan en vra: "En het jy tog nie weggeloop nie?"
Ek antwoord: "Ja, Mevrou, hy't weggeloop en ons het hom kom vang!"
Sy kyk hom aan en sê dadelik, sonder om hom 'n kans te gee om iets te sê: "Kyk hierso, jy moet dadelik klaarmaak en teruggaan. 'n Man kan ek aldae weer kry, maar nie 'n land nie!"
Chris H. Muller, Oorlogsherinneringe, p. 79:
Daar was ene Van Schalkwyk — eintlik die leier van die wapenneerleggers. Ons mense het hom gearresteer en na die tent van ge- neraal Viljoen toe gebring. Hy was 'n baie netjiese man en het 'n blou pak klere aangehad. Terwyl die kêrel daar gestaan en wag het, het een van die platjies in die kommando 'n graaf gegryp — hy was 'n flukse burger — en 'n gat begin grawe.
Iemand vra aan hom: "Wat maak jy daar?"
Hy sê: "Die meneer word netnou doodgeskiet en die generaal het gesê die een wat die graf grawe, kan die blou pak klere kry!"
Die arme ou man het sommer va-a-al van die skok geword, maar die generaal het natuurlik nooit so iets gesê nie!
J.A. Smith, Ek rebelleer! pp. 19-21:
Op 'n stap trek ons die aand van die plaas weg en vrolik sing die kêrels kommandoliedjies en volksliedere. Treffend klink die een wat ek nou vir die eerste maal hoor:
"Die Engelsman eet 'bully-beef' en ons eet mieliepap.
Daarom is hulle so styf en ons so lekker slap.
Ons kan maklik op ons perdjies spring ..."
En dan weergalm die refrein van voor tot agter die lang stoet uit:
"Hoera! Hoera! ons burgers veg getrou!
Hoera! Hoera! om ons land te behou!
Ons vaders het dit duur gekoop.
Die vierkleur daar geplant:
En ons sal dit daar laat waai."
"Jong, Kakie hoor ons sing. Vannag trap hy ons vas," sê een agter my vir sy maat.
"Wat! Kakie is laat! Hy kan maar hoor. Kaptein (Scheepers) met sy Witkoppe (burgers) sal Kakie gou laat stof eet as hy astrant wil word," kom die antwoord en met 'n nog luider stem val hy opnuut in "Hoera! Hoera! ons burgers veg getrou".
Laat in die nag word dit stil. Vaak en moeg beweeg die lang stoet op die kronkelende pas. Nog net die trip-trap, trip-trap van die hoewe oor die skurwe, kllpperige pad word gehoor. Ek is so vaak dat ek my oë nie meer kan oophou nie en sit en waggel in die saal. Die teuels hang oor die perd se nek. Die pad is steil afdraand. Onder in die driffie is 'n gladde klipplaat en eenskaps lê ek op die bodem.
Ek spring op, verskrik en skaam, en hoor die kêrel agter my spottend sê: "Maar kyk hoe val so 'n nuwe aansluiter. Hy wil mos sit en slaap!"
C.A. Vieweg, Herinneringe uit die Anglo-Boereoorlog:
Terug by die kommando hoor ek dat ons in die Brandwaterkom oorgegee het. Daar was 'n lang krygsraad gister en vandag is daar weer krygsraad. Toe die kommandant van die laaste terugkom, beveel hy dat al die papiere wat ek dra wat die kommando kwaad kan doen, vernietig moet word deur dit te verbrand. Ek gaan dadelik na die spruitjie toe en begin die papiere daar verbrand. Die middag begin 'n sterk wind waai en die stof is onuithoudbaar. Een van my maats is so diep getref deur die vernedering van oorgawe dat hy begin huil terwyl ons besig is om die papiere te verbrand. Met die stof en trane word sy gesig so vuil dat toe ek hom vir die eerste keer van naby bekyk, ek nie my lag kan hou nie. Ek vra toe vir hom: "Neef, en van watter kommando se mense is jy?"
Arme Willie kyk my ewe verdwaas aan en die ander wat nou ook sy gesig raaksien, druk nou 'n sakspieëltjie onder sy neus sodat hy homself kan beskou. En so verdrietig soos hy is, kan hy darem nie help om self uit te bars van die lag toe hy sy gesig sien nie.
J.A. Smith, Ek rebelleer!, pp. 79-80:
Die aand merk ons 'n hond wat sit en huil by 'n graf daar naby die plek waar ons gekamp het. By die vuur sit 'n paar kêrels die oorsaak van die hond se gehuil en bespreek. Hulle glo klaarblyklik aan spoke. Gou maak 'n paar van ons 'n plan. Van Heerden gaan leen 'n wit laken by die huis. Die veldkornet gaan staan by die onderste skuur en roep een van die klomp by die vuur. Om by die veldkornet te kom, moet hy naby 'n populierbos verbyloop waar Van Heerden met die laken stelling ingeneem het.
"Giel!" roep die veldkornet. "Kom gou hier!"
"Ja, Veldkornet, ek kom," antwoord hy en kom vinnig aangestap.
"Giel, maak gou!" roep Veldkornet weer.
Giel word nou haastig en kom op 'n draffie by ons verby. Meteens staan Van Heerden tussen die klein populierboompies aan die kant van die eendedammetjie op en steun: "G-i-e-1! G-i-e-1!"
Giel steek vas, roep benoud na boontoe en spring om. Met armgeswaai en bene wat lang hale probeer gee, maar nie kan nie, spartel hy terug en skree benoud: "Help! H-e-l-p!"
Op daardie tydstip kom een van die ander burgers net om die hoek van die buitegebou en Giel duik onder hom in met nog benouder uitroepe van "Help! Help!"
Die spook is toe by en roep weer in 'n diep basstem: "Giel! Giel!" Giel vlieg onder sy verskrikte slagoffer uit, loop so hard soos hy kan tussen sy maats in, trap die koffieketeltjie op die vuur om en die vleis val in die as. Een van sy maats slaan na hom en uitasem en doodverskrik val hy tussen hulle neer!
Vervolg...