WARE KWINKSLAE (12)

Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902

Samesteller: Elria Wessels

Lees reeks by Ware kwinkslae

Izak J.C. de Wet, Met generaal De Wet op kommando, p. 8:

Op pad na Magersfontein voer 'n klompie penkoppe die volgende gesprek: "Ek wonder," sê die een, "of die Engelse aan die wester-front ook so onverskillig is om reguit na 'n mens te skiet?"

"Ek is bevrees," sê 'n ander een, "daar sal nie een meer oor wees om na korrel te vat nie."

"Wat sê jy daar? Hulle sê dan ou 'Ou Viktorie' broei hulle sommer met 'n masjien in Engeland uit!"

"Maar dit is ook die rede," merk iemand weer op, "waarom hulle so ellendig onnosel is!"

"Jy is reg, boet," roep 'n vyfde een uit, "want onthou jy nog daardie ou op Klein-Amajuba wat so hittete sy ma vir 'n eendvoel aangesien het?"

"Ja," antwoord iemand weer, "dit hang af of sy ma 'n vroumens of 'n broeikas was!"

"Ag man," val iemand in, "ek glo hy was sommer so iets van albei!"

"Jy meen," laat 'n ander een volg, "hy is 'fifty-fifty', half ma, half broeikas!"

Andre Malan, Pretoria:

Een nag moes 'n jong penkop wagstaan. Hy het so pas by die kommando aangesluit en het nòg die prosedures nòg die offisiere eintlik geken. Hy moes gaan wagstaan tot 'n sekere tyd en dan iemand gaan wakker maak om by hom oor te neem. Na sy wagbeurt hier kort na twaalfuur verby is, stap hy na die eerste beste burger wat so halfpad onder 'n bossie lê en slaap. Om hom wakker te maak, skop hy hom so 'n paar maal met die voet. Toe die ou begin roer, deel hy hom plegtig mee dat dit nou sy beurt is om wag te staan. Wat was sy konstemasie groot toe die man so stadig orent begin kom en hy skielik besef dat dat dit nou die kommandant was wat hy so in die ribbes gekielie het om hom wakker te kry. Deur sy kop het die sto­ries geflits van hoe kwaai die kommandant nou eintlik is en hoe swaar 'n mens gestraf word as jy nie by die kommando se reëls hou nie. Toe hy nog stamelend begin met sy "J. . . ja .. . jammer, Kom­mandant" het diè so ewe geamuseerd aangebied om die fort te hou totdat hy die wag wat by hom moes oorneem, opgespoor het.

 

Izak J.C. de Wet, Met generaal De Wet op kommando, pp. 120-125:

Na wik en weeg besluit die generaal om die spoorlyn tussen Koppies en Vredefortweg by Leeuwspruit oor te steek.

"Buig of bars, ek moet oor die spoor“ sê die generaal.

"Goed, Generaal, ons gaan Kakie vaspen en verder sal hy vanaand sy ouma vir 'n eendvoel aansien," is Berrie se antwoord.

"Ja, en onthou ons is sonder sigarette” sê 'n ander penkop.

So gesê, so gedaan. Dit is agtuur en pikdonker. Generaal gee bevel: "Opsaal, kerels."

Nou voorwaarts met Berrie en nog een aan die voor punt, gevolg deur die generaal en die ander veertien, reguit na die spoorlyn. 'n Doodse stilte heers. Niemand mag praat, rook of vuurhoutjies trek nie...

Dis nou reeds ongeveer halftwaalf en nou is ons na aan die spoor.

Skielik duik daar iets in die donker op. Wat is dit? 'n Reuseblokhuis.

Steeds in doodse stilte voorwaarts. Elke oomblik kan ons nou die spoorlyn bereik wat moontlik dood en verderf vir ons kan beteken...

Wag, luister! Ja, voorwaar dit is die getril en die gesuis van die telegraafdrade sowat twintig tree van die spoorlyn af, maar alles is nog donker en stil. Onwillekeurig word 'n mens se gemoed geprikkel met die gedagte: nog honderd tree van die blokhuis vol Kakies! Hier is ons ook nou teen die spoorwegomheining, bestaande uit ses buitengewoon dik drade. En nou? Wag moet nie skrik nie. Alles is vooraf deur die generaal deeglik gereël. In 'n kits is twee van die penkoppe met forse en gespierde arms op die grond met net hul groot draadknippers en sonder om te praat, hoor jy net: klip-klip-klip . . . en ons is oor die treinspoor, maar weer teen 'n ander draadheining vas. Dieselfde proses word gevolg. Een, twee, drie en daar trek ons die bult uit en tot ons verwondering sonder dat een enkele skoot geskiet is en dit nieteenstaande die feit dat die omheinings behang is met allerhande soorte blikke as seine en geraasmakende alarmklokke.

Nou ja, ongeveer vyfhonderd treë die bult uit sê iemand skielik:

"Generaal!"

"Stilte!" se die generaal daarop.

Nog vyfhonderd tree verder. "Stop!" beveel die generaal en laat dadelik volg: "Ja, en wat wou jy netnou gesê het, Berrie?"

Hier volg die humoris Berrie, wat bry as hy praat, se versoek:

"Generraal ons rrookgoedjies is so te sê klaarr en ons verrrstaan daarr is baie in die blokhuis. Verrgun ons asseblief om dit te gaan haal, die Kakies kan maarr weerr anderr krry."

"Ja, asseblief tog, Generaal," volg die instemmende versoek van die ander kêrels.

Die generaal besef die gevaar van so 'n waaghalsige onderneming, dog rig hy hom op, trek sy breë skouers reg en daar staan hy terwyl ons ander sit en met die uitdrukking van 'n inspirerende gees sê hy: "Ja, gaan!" Soos jy sê mes is al sestien van ons in die saal.

"Wag eers," beveel die generaal. "Luister, dis nie nodig dat almal gaan nie. Agt is genoeg om hulle te gaan kafloop."

En was dit nie vir die donker nie sou die gewone glimlag op die generaal se gesig te sien gewees het. "Maar goed, twaalf kan gaan en vier bly hier by my, anders word ek dalk nog bang vir die spoke!"

Die saak van wie moet gaan en wie moet bly, word egter gou gereël, want die gedagte aan rookgoed is onweerstaanbaar. Toe laat Berrie weer sy stem hoor: "Kom, kêrrels, kom."

Die generaal sê: "Wag eers en luister! Wees versigtig, ry stadig en maak geen lawaai nie totdat julle opgemerk en daar op julle geskiet word. Antwoord dan met 'n sarsie skote en bestorm die blokhuis met alle geweld. Nou ja, alle sukses!"

"Goed, Generaal." Nou na die blokhuis waar die sigarette, en moet nie vergeet nie ook blouboontjies, moontlik op ons wag.

Ons ry twee, drie tree uitmekaar in gelid en in doodse stilte voorwaarts, met die oog op, of iewers in die rigting van, die blok­huis gerig.

Ongeveer een honderd en vyftig tree van die blokhuis. Nog eenhonderd en ja waarlik, die reus van 'n monster begin hom aan ons verraai. Nog vyf en twintig tree en ja, meteens hoor ons net een onheilspellende woord "Fire!" gevolg deur die geflits en die geknetter van die vyftien tommies se leemetfords met die "sjiep-sjiep" van bye om jou ore. Maar wie sê so, dadelik word die brutale uitdaging deur die twaalf mausers aanvaar.

"Storm kêrels!" weerklink die stem van Berrie. Een, twee, drie en ons is vas teen die blokhuis ('n klip een). En nou, ons is veilig buite die blokhuis en die Kakie se kind is nog veiliger binne-in. Wat nou gemaak?

"Surrender!" skree ons.

"Go to ... we won't surrender!" kom die antwoord van binne.

Daar staan ons radeloos. Nee wag, tog nie heeltemal radeloos nie. Per geluk kry een van die twaalf 'n stuk yster in die hande en daar en dan kry Boer se kind dadelik 'n plan.

"Surrender!" skree hy en begin te stamp aan die muur.

"We won't surrender!" kom die antwoord 'n tweede keer.

'n Ander skree weer, terwyl die gestamp aanhou teen die muur: "All right, we'll try a load of dynamite."

En die gevolg? Kakie bly 'n oomblik doodstil van skrik, ja eintlik vir koue pampoen, want ons het natuurlik geen dinamiet by ons nie. Maar hulle weet dit — gelukkig vir ons — natuurlik nie.

Toe hoor ons van binne: "Please wait and we'll surrender." Daarop laat Berrie hoor: "Don't delay, come out quickly".

Ons hoor die geraas van die groot staaldeur. Ja, gedoriewaar, die deur gaan oop en daar peul hulle drie-drie tegelykertyd uit, met die een hand in die lug as teken dat hulle oorgee en met die ander bied hulle hul gewere aan. Maar Berrie is weer soos gewoonlik voor en sê aan die eerste tommie: "D... the rifle, give me a cigarette." Verbysterd en verbouereerd se Kakie: "Oh, here you are."

Die slag is gelewer. Vyftien Kakies met blokhuis en al behoort aan die twaalf penkoppe, die sestiende een wat op die spoorlyn aan diens was, kry ons stewels in die lug en so dood soos 'n mossie ... Terwyl die drie van ons die Kakies oppas, spring die ander aan die werk en bring buit byeen. Nommer een is sigarette, tamaryntabak en alles wat lekker is vir die inwendige mens. Nommer twee is ammunisie. Maar altyd eers sigarette en daama ammunisie!

Vervolg...