WARE KWINKSLAE (14)

Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902

Samesteller: Elria Wessels

Lees reeks by Ware kwinkslae

R.W. Schikkerling, Hoe ry die boere, p. 113:

Onlangs het hier 'n man uit die Kaapkolonie aangekom vergesel deur sy agterryer, 'n bruinman, wat gedurig gekla het omdat hy in die peslike Transvaal moes bly. Terwyl hy besig was om 'n jong perd te leer, is hy afgegooi sodat hy op sy kop te lande gekom het... Hy het 'n paar oomblikke gesit en kyk na die duik wat hy in die grond gelaat het; toe gemompel: "Nei, Transvaal, ma' ek het jou darem hard gestamp, nê!"

Wilhelm Mangold: Vir Vaderland,  Vryheid en Eer, p. 61:

Die vlaktes by Lombardskop en Bulwana het 'n menigte dongas waar wilde akasia- en doringbome groei en hier het ons voorposte geskuil. Een van ons agterryers wat hout bymekaargemaak het, was skoon oorbluf toe 'n Kakie hom skielik vra: "Where is the road to Ladysmith?" Hy kon 'n bietjie Engels verstaan en het hom aangeraai om reguit aan te stap. Toe nael hy na die voorpos en roep: "Baas, ek het 'n Engelsman gevang!"

"Nou ja en waar is hy?"

"Daar kom hy aan!"

Die niksvermoedende Kakie was sprakeloos toe hy skielik in twee geweerlope vaskyk en hoor: "Yes and where are you going to?"

C.A. Vieweg, Herinneringe uit die Anglo-Boereoorlog:

Ons ry tot by bestemde plek, omtrent 'n halfuur te perd van Cronjése laer, agter 'n rantjie. As die Engelse ons wil aanval, sal hulle oor die rantjie moet kom wat helder teen die naglug afsteek. Lank lê ons en wag en kyk net na die rant. Dit begin later vervelig raak. Omdat ek jammer is vir my perd, Belle, haal ek die stang uit en sit 'n nosebag aan met 'n bietjie voer daarin. Ek lê voor haar met my teuels oor my arm. Van verveling raak ek naderhand op my rug aan die slaap, maar ek kan nog die rantjie duidelik sien as ek my oë oopmaak.

Meteens sien ek een van die grootste Engelsmanne wat ek in my lewe nog gesien het, teen die naglug afgeteken. Sy hande is so groot soos varkhamme en hy pyl reguit op my af. Ek is magteloos en kan nie eers roer om weg te kom rue. Hy kom al nader en tel sy groot hand op en sit dit op my gesig neer. Ek wil skree, maar kan nie.

Skielik hoor ek die geklingel van 'n kenketting. Dit bring my tot my volle bewussyn en toe ek my oë oopmaak, sien ek net 'n groot, ronde, swart ding bokant my gesig. Toe dit skielik beweeg, besef ek dat dit die onderkant van die nosebag is. Die perd het al die tyd die nosebag 'n paar keer op my gesig gedruk om die laaste paar pitjies by te kom.

Ek het in die hele oorlog nooit so benoud gevoel soos gedurende daardie paar oomblikke nie!

Vervolg...