WARE KWINKSLAE (18)

Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902

Samesteller: Elria Wessels

Lees reeks by Ware kwinkslae

HENDSOP EN UITSKUD

J.A. Smith, Ek rebelleer!, p. 28:

Die vyand moes vir alles sorg. Ons het altyd genoeg Kakies met hulle perde en uitrusting gevang sodat ons soms kieskeurig kon wees.

Ek het baie kere gesien dat die Kakies wat al gewoond daaraan geword het, gaan sit en skoene uittrek of hulle kamaste afhaal om dit te oorhandig, sodra hulle ontwapen word en nog voor hulle beveel word om dit te doen. Soms is die burger nogal ontevrede en teleurgesteld as die Kakie wat hy gevang het, nie by hom het wat die burger wou gehad het nie.

So dam oom Andries eendag 'n Kakie by om nuwe stewels te kry. Die ou soldaat sit reeds en begin dit los te maak.

"Boots, tommie, boots!" beveel oom Andries. "Pull out!"

Die ou soldaat spook om die swaar en stywe goed los te kry. Oom Andries buk om te help en bemerk meteens dat dit nie die soort is wat hy kan gebruik nie. Teleurgestel en kwaad snou hy die ou soldaat toe: "Keep dit, jou ou duiwel, dis no boots, dis newwies! Waarom dra julle sulke goed? I don't want it. Go!" Nadenkend voeg hy daarby: "Next time you bring better boots. Hoor jy?"

Die ou soldaat verstaan darem dat sy stewels nie aan oom Andries se standaarde voldoen nie. Hyself hou nie van hierdie "newwies" met hulle ysterbeslag nie, en begin by oom Andries oor die uitreiking van sulke swaar skoeisel aan die leer te kla.

"Yes, yes," stem oom Andries saam, "you must say to the old kwien she must give better boots. Newwies, no, dis no good!"

C.Hopkins, Maar een soos hy, p. 130:

KOMMANDANT PHILIP DE Vos vertel met groot smaak die volgende oor die gebruik van uitskud:
“'n Boer is eendag daar naby Potchefstroom besig om 'n Kakie uit te skud. Sommige van die Engelse was al te gewillig om uitgeskud te word. Dikwels kom ons by hulle en as jy 'Hendsopl' skree, spring Kakie van sy perd af en terwyl hy sy een hand in die lug hou, trek hy solank met die ander een sy broek uit. In ieder geval, so vinnig as wat die betrokke Kakie daar by Potchefstroom besig was om uit te trek, trek die Boer sy Kakieklere aan en die Engelsman die Boer se vertoiingde velbaadjie, sy ou hoed en ander klere. Eindelik eis die Boer ook die Kakie se knypbrilletjie, plaas dit ewe deftig op sy neus, kyk die Kakie meerderwaardig aan en gee hom so 'n goedige skop van agter met die woorde: "Get away, you dirty Boer!"

LJ. Fourie, Renier-versameling:

Eenkeer was daar tussen die gevange Engelse 'n reus van 'n sersant. Toevallig staan so 'n maer, skraal penkop naby hom. Hy tik die penkop op die skouer en sê: "Well, brother Boer, I suppose you are waiting to pinch my breeches? Here you are — get into them and let us see how they fit you!" Daar staan die penkop ewe verleë en verslae met die yslike rybroek in sy hand — groot genoeg vir hom om in weg te kruip!

Aangepas uit R.W. Sclukkerling, Hoe ry die Boere:

'n Kêrel genaamd Pienaar het onverwags op twee Engelse soldate afgekom en hulle beveel om oor te gee. Hy het nie baie Engels geken nie en in sy opgewondenheid kon hy nie dink aan "Hands up!" nie. Hy was egter bekend vir sy gasvryheid en in die hitte van die stryd skree hy toe maar: "Come in! Come in!" Die soldate het die uitnodiging geredelik aangeneem!

H C Hopkins Een soos hy p. 102:

Nege Engelse is dood en sestien gewond. Een het ons vanoggend gevang en daar anderkant hardloop een na sy perd toe om te vlug.

Dit is die enigste wegkomkans wat ons ook oor het en ek stuur ou Kollie om dieselfde perd waarop die Engelsman afpyl, te gaan vat. Hy en die Engelsman kom so saam-saam by die perd aan. Die Engelsman hou sy hande so in die lug en skree: "Don't shoot, Mister! Don't shoot me!"

"Don't want shoot. Want horse," is al wat Kollie kan uitkry en die perd is syne.

"En wat het jy met die Engelsman se geweer gemaak?" vra ek verbaas.

"O, die geweer," sê hy. "Nee, ek het hom by die Engelsman gelos!"

"Dink jy nie dit was dwaas van jou om die geweer in die man se hande te laat staan en weg te jaag nie? Op tien of twaalf tree kon hy jou mos doodgeskiet het en jy sou dit nie eers agtergekom het nie!"

Herinneringe van Pieter Hendrik Coetzee 3176/1:

Tydens 'n skermutseling was daar 'n jong Engelse seun van so omtrent vyftien jaar oud wat die Engelse generaal se beuelblaser was. Hy spring op sy perd en wil wegjaag. Onder die kommandolede was daar 'n sekere oom Snyman. Die betrokke oom het 'n lang baard gehad en 'n bleskop en hy het op 'n rooibont perd gery. Toe hy die Engelsman sien wegry, sien ou Snyman dis 'n jong seun. Hy wou nie die seun skiet nie, maar wou hom eerder vang. Toe hy naby die seun kom, skreeu hy: "Hendsop!"

Die seun, vas onder die indruk dat hy doodgeskiet sal word, antwoord terug: "You want to kill me!"

Ou Snyman, wie se Engels nie van die beste was nie, antwoord elke keer: "Yes!" Dan jaag hy al hoe harder. Ou Snyman moes hom nou van agter af injaag en hom met perd en al vat. As die seun nou omkyk, sien hy net hoe die ou se baard so weerskante oor sy skouers wapper. Met die gespartel het die ou kêrel alreeds sy hoed verloor. Al wat die seun nou in sy vervaardheid sien, is die ou se bleskop, die wilde baard en die rooibont perd. Vas onder die indruk dat dit 'n draak is wat hom jaag, jaag die seun al vinniger om van die groot gevaar weg te kom! Hy is uiteindelik gevang en vertel die aand tot die groot vermaak van sy medeprisoniers hoe 'n draak hom hier in Afrika gejaag het.

Vervolg...