WARE KWINKSLAE (21)

Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902

Samesteller: Elria Wessels

Lees reeks by Ware kwinkslae

Die dagboek van Hugo H. van Niekerk, De Wet-armale 1:

Hendrina Rabie-Van der Merwe is deur die Engelse op Jagersfontein as redelik gevaarlik beskou. Een aand word 'n paar soldate gehuur om haar na haar huis toe te vergesel waar sy die nag bewaak moos word.

Sy sê vir hulle: "Go back to your officer and tell him that it is beneath me to be seen walking with two common soldiers. If they want me to come they must send an officer to fetch me."

Een offisier word toe gestuur en hy is baie beleefd. Terwyl hy staan en wag, sê Hendrina aan 'n ander vrou wat ook in die huis is: "Give me my gown." Die twee wagte voor die huis hoor dit en verstaan dat sy sê: "Give me my gun!"

"O no!" sê die een vir die ander, "let us clear out, she is going to shoot!"

Ná die misverstand opgeklaar is en hulle op pad na die huis is, sê sy vir die offisier: "Look here, Sir, you are an Englishman, I am an Afrikaner woman. You are not to walk near me but at a distance of ten yards!"

Vertaal uit Memoirs of my life on commando, Diary of George Leversage:

Een van die burgers kom by die gewonde Gustav Trichardt aan en vra of hy in die rug gewond is. Hy vlieg orent ten spyte van sy pyn en antwoord: "In die rug... Nee... Nee!" en terwyl hy na die wond in sy bors wys: "Hier... hier voor, net soos dit 'n man betaam!" tot groot vermaak van sy vriende in die omtrek.

Oorgeneem uit 'n Biografiese lewenskets van ds. Hendrik Schalk Theron:

Die Engelse troepe wat in Hoopstad was, het skielik die dorp verlaat. Generaal C.J.J. Badenhorst van Boshof het kom ondersoek instel na wat nog in die winkels was. Van sy manne het toe kiste vol goed, veral klerasie en materiaal wat gebruik kon word, ingepak. Toe die vroue dit hoor, was hulle baie ontevrede, want hulle het geargumenteer dat die goed in die winkels die Hoopstadters toekom en nie die Boshoffers nie.

By ons was tant Jannetjie Strauss, die vrou van kommandant Strauss van Bloemhof. Veral sy was bitter gebelgd oor die vermetelheid van die Boshoffers wat beslag gelê het op die goed in die winkels.

Terwyl hulle nog besig was om goed te verwyder, roep sy al die vrouens bymekaar en sê: "Ons laat dit nie toe nie. Kom ons gaan kyk wat daar nog te krye is en dan neem ons dit vir ons." Sy was 'n sterk, frisgeboude tannie, met sulke dik, stewige arms, wat vir niks gestuit het nie. "Volg my!" het sy uitgeroep.

Die vrouens was ook nie links nie en hulle tou agter haar aan. Daar was vier winkels en voor elke winkel het generaal Badenhorst twee gewapende wagte geplaas om te keer dat die vrouens nie kon ingaan nie.

By die eerste winkel sê sy: "Ek sal dwars teen die deur druk en julle almal wat kan, druk so hard as wat julle kan teen my totdat die deure oop is."

Die wagte het sommer die hasepad gekies toe tant Jannetjie en haar gevolg om die hoek verskyn. Vir dié besigheid het hulle nie kans gesien nie. En toe tant Jannetjie sê: "Druk, susters, druk," hoor jy net planke kraak en hulle druk haar met deure en al die winkel in. Op dieselfde manier het sy met die vroue agter haar aan ook die ander winkels gaan "oopdruk" en kon hulle vat wat nog daar oor was.

Oorlogsherinneringe van Koos Kleijnhans:

Ons trek oor die grens en later oor die Oranjerivier. Toe ons deur die rivier is, bring een van die burgers met die naam Dik Karel van Heerden en nog 'n ander man 'n geheime besoek aan die polisiestasie in die omgewing. Die volgende dag kom hulle terug vergesel van die polisiemanne wat by die betrokke stasie gestasioneer was — nie net met hulle perde nie, maar ook met hulle gewere. Toe ek hulle groet — ek het die sersant geken — vra ek lag-lag hoe dit moontlik is dat hy hom so met koue hande laat vang het.

"Man," antwoord hy "die oubaas het ons lelik uitoorlê. Toe ons weer ons oë uitvee, kom hy met sy geweer in die hand by die deur ingeloop. Hy sê dat die kommandant hom met vyftig man gestuur het om ons te kom haal en dat ons onmiddellik moet oorgee.

"Op ons vraag waar die vyftig man dan is, antwoord hy ewe koel en kalm dat die mans agter die kraal versteek is en dat hulle buite ons sig is. Toe ons by die venster uitkyk, sien ons toe ook waarlik iemand by die kraal omloer. Dit laat ons geen ander keuse as om maar oor te gee nie.

"Jy kan jou net voorstel hoe simpel ons gevoel het toe ons agterkom dat daar slegs twee van hulle is en twaalf van ons!"

Vervolg...