Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Jan H. Meyer, Kommando-jare, p. 24:
Onder ons was daar 'n hele klompie burgers wat nog nooit op 'n perd gesit het nie. Hierdie burgers moes nou touwys gemaak word.
Onder andere was daar 'n Hollander met die naam van Klaas van Stootgare wat aan ons jong seuns baie pret verskaf het. Toe ek weer sien, het Van Stootgare sy perd agterstevoor opgeklim en sit hy ewe getroos met sy gesig na die dier se stertkant.
Toe ek met hom daaroor praat, klits hy met die verpletterende antwoord: "Maar, jonge" sê hy in 'n hoogs teregwysende toon, "je weet toch niet in welke richting ik wil gaan!"
Wilhelm Mangold, Vir Vaderland, Vryheid en Eer, p. 165:
Die aand het daar versterkings vir die Duitse kommando aangekom. Die manne wou soos alle goeie soldate eers hulle perde versorg en wou hulle dus dadelik aflaai. Ons Boere het hulle aangeraai om liewer tot vroeg te wag, maar die liewe mense het gereken dat die perde dadelik in die weiveld moes kom voordat hulle van honger sterwe.
Die perde was nog nie vir velddiens ingebreek nie; hulle was, inteendeel, nog wild. Gelukkig was die eerstes twee ou kommandoperde wat hul base ewe gehoorsaam uit die wa's gevolg het. Nommer drie het verkies om in die wa te bly en viervoet vasgesleek. Heinrich, sy ruiter, het met alle geweld aan die leiriem getrek, maar puur verniet. Hy roep toe Karl se hulp in en hulle span kragte saam, maar toe breek die riem en albei plof neer. Die skimmelperd het toe op sy eie uitgeklim en aan die twee wat in die stof lê, geruik. Ook nommer vier en vyf het uitgeklim en met onheilspellende instink 'n broodsak vol rogbrood uitgesnuffel.
Volgende aan die beurt was nommer ses, 'n pragtige, swart merrie met suiwer Arabierbloed, volgens Wilhelm. "Kom, Emma, kom, my skat” het hy haar gelok, seker met 'n tweebeen-Emma in gedagte. Sy het hom inderdaad met blink oë gehoorsaam, 'n oomblik rondgekyk en met 'n vaart weggespring.
Lank daama kon ons nog hoor hoe Wilhelm van agter die huise en tente verlangend na sy liewe Emma roep wat selfs op "Donnerwetter, so steh doch still!" nie wou reageer nie. Sy het klaarblyklik net Arabies verstaan!
Vervolg...