WARE KWINKSLAE (27)

Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902

Samesteller: Elria Wessels

Lees reeks by Ware kwinkslae

Knapsak, Julie 91 Jaargang 3 Nr. 2:

Een van die Engelse wagte in Fort Govindgarh het 'n papegaai gehad wat heeldag met homself gesit en gesels het — in Engels natuurlik — tot groot vermaak van die wagte en die Boere. Kommandant Krause was so ingenome met die voël dat hy hom vir 'n aansienlike bedrag by die eienaar gekoop het. Krause het te kenne gegee dat hy darem die papegaai ook so 'n bietjie Afrikaans wou leer. So gesê, so gedaan. Die hok is in die krygsgevangenes se eetvertrek geplaas en die eerste les het min of meer so verloop:

Papegaai: "Three cheers for the King! Hip! Hip! Hurrah!"
Krause: "God behoede land en volk, weg met die Engelse. God behoede..."
Papegaai: "Pretty Polly, green all over, going to Blighty next October."
Krause: "God behoede..." Papegaai: "Say, mate, what about a beer? Three cheers for the King! Hip! Hip! Hurrah!"
Krause: "God behoede land...”
Papegaai: "Kiss me, darling!" gevolg deur 'n uittartende skaterlag.

Ten spyte van weke se swoeg en sweet het hulle nie daarin geslaag om die papegaai se getrouheid aan die Britse kroon te verbreek nie. Kommandant Krause het uiteindelik die stryd gewonne gegee en die papegaai teen halfprys aan sy vorige eienaar terugverkoop!

F.J. Cronje 5733/1:

Daar kom so 'n gesette tante aangestap. Alte gou is ons klomp om haar saamgedrom terwyl sy haar storie tot almal se groot vermaak, vertel.

"Die Kakies kom toe by my op die plaas aan. Sal die bogsnuiters my nie so ewe beveel om die huis te verlaat nie. Ek moes eers my goed verwyder. Toe ek weier, word die goed mos astrant. Maar waar vererg ek my. Ek gryp die knaap so voor sy bors en gooi hom dat hy soos 'n vrot vel trek. Toe ek my weer kom kry toe steek die vreksels die huis bo-oor my kop aan die brand. Ek gryp toe die verebed, 'n paar kussings en 'n sambreel. As die klomp julle moeite gee, kom sê net."

Later sou ons toe hoor dat die Engelse wat glo die petalje aanskou het net verslae hulle koppe geskud het en gemompel het: "The missus with the beard, she is very fierce!"

Prisoners at play:

’n Boerekrygsgevangene in Indië, het probeer om joga te beoefen in die dae toe hy gewag het om na Suid-Afrika terug te keer. In Amritsar het hy 'n boek oor joga bekom. Sy belangstelling is geprikkel veral omdat hy reeds gelees het oor die wonderlike dinge wat die jogi's doen en van die geesteskrag wat die volgelinge van die leer kan verkry, onder andere dat 'n jogi sy gees of ware self honderde myle van sy liggaam kan laat verhuis. Met sy geestesoog kan hy glo waarneem wat in die verte gebeur. Hy het nou sterk onder die indruk verkeer dat hy sy gees na Suid-Afrika kon stuur om vas te stel hoe dit met sy familie gaan. Vroeg in die oggend is hy na 'n dennebos toe in die omgewing van die kamp om die "proefneming" te gaan doen. Soos Boeddha van ouds het hy onder 'n boom gaan sit, oefeninge gedoen en ure lank gemediteer om hom in die regte stemming te bring. Na weke se intense oefening en konsentrasie kon hy egter nie daarin slaag om sy gees so ver te kry om sy liggaam te verlaat nie! Sy gevolgtrekking was dat joga nie vir hom was nie of miskien was hy te materialisties vir joga!

Vervolg...