WARE KWINKSLAE (29)

Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902

Samesteller: Elria Wessels

Lees reeks by Ware kwinkslae

Dagboek van Hugo H. van Niekerk, De Wet-annale 1, p. 57:

Vandag het G. Pryra 'n lekker kans gehad om te ontsnap. Hy staan alleen by die hek en sien hoe maklik dit is om op die nabystaande stoel te gaan sit en dan weg te stap na die tweede hek. Pryra was nog besig om daaroor te droom toe 'n offisier aangestap kom en aan hom vra: "You do not belong to this camp, do you? You are a prisoner of war, are you?"

Sonder om te dink, antwoord Pryra ewe gedweë en nog verdiep in sy ontsnappingsplanne: "Yes, I'm a prisoner!"

Humor in die Driejarige stryd:

In die hawe lê een van die skepe wat die krygsgevangenes oorsee moet neem, voor anker. Daar is 'n leer langs die skip en onder is die wag op die skuit, of liewer, die wag is besig om 'n uiltjie te knip. Die Boere sien wat aan die gang is en een van die waaghalse klim af en maak die tou los wat die skuit aan die leer verbind.

Die ander wagte kom gou agter dat daar iets is wat die Boere op dek baie amuseer. Teen daardie tyd het die wag reeds diep die see ingedryf nog steeds vas aan die slaap. 'n Ander boot moes toe agterna gestuur word om die slapende makker wakker te maak. Sy klagte daarna was: "I got seven days in the cell but die damned fool who was responsible for the mischief got off scot-free!"

J.E Celliers, Renier-versameling:

Oom Piet Hauptfleisch het in die krygsgevangenekamp vir die jong krygsgevangenes skoolgehou. Hy het aan hulle Engels geleer. Een van die leerlinge het eendag nie opgedaag nie. Die volgende dag vra oom Piet hom: "Where were you yesterday?"

"Sir," kom die antwoord, "I could not come, my poor was too very!"

Die leerling het geweet die vraag sal kom en het die Engels-Hollandse woordeboek geraadpleeg. Toe vertaal hy "arm" met "poor" en "zeer" met "very"!

Einde