Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Gasvryheid beloon
’n Paar maande ná die Jameson-inval in Transvaal [1895-1896] het daar een aand twee Engelse op my oupa se plaas aangekom. Hulle kon nie Afrikaans praat nie en die oumense nie Engels nie, maar Oupa kon darem verstaan dat die twee wandelaars op pad was na Mafeking [Mafikeng] en dat hulle graag herberg wou hê. Hulle is binnegenooi.
Van gesels was daar natuurlik geen sprake nie, maar die vreemdelinge het darem vir Ouma beduie dat hulle baie lekker geëet het en dankbaar is. My oupa het hulle daarna na ’n buitekamer gebring waar hulle die nag geslaap het. Na ontbyt die anderdagmôre is hulle daar weg met genoeg padkos om te hou tot op Mafeking.
Met die begin van die oorlog was my oupa reeds te oud om krygsdiens te doen, maar hy was nie te oud om die rantjies uit te klim en vir sy landgenote in die veld verkenningswerk te doen nie onder die voorwendsel dat hy skape oppas.
Hy het sy verkyker in ’n bos weggesteek en dit nooit huis toe geneem nie. Gedurig het hy die wêreld van die rantjies af sit en bekyk, en as hy iets verdags gewaar, huistoe gegaan om te gaan eet of sy kos te gaan haal. Ouma het dan ’n plan bedink om die inligting aan die Boere te besorg en Oupa het weer gaan “skaap oppas”.Op ’n aand teen skemerdonker het Oupa van die rantjies af teruggekeer. By die drif is skielik geroep om te halt, en rondom het dit meteens gewemel van die Kakies.
’n Offisier het hom kwaai aangespreek en wou weet waar hy vandaan kom. Oupa het beduie dat hy van die veld af kom waar hy sy skape opgepas het. “Sien, hulle is net oor daardie nekkie.”
“Wat sê jy?”
“Ja, en ek het hier by die driffie langs geloop om te kyk na ’n ou maer koei...”
Die offisier het Oupa nie verstaan nie en al hoe kwaaier geword. Oupa het gevoel dat Ceylon sy voorland is. Maar juis toe die nood op sy hoogste was, het daar twee soldate nader gekom en met die offisier gepraat. Een het sy hand na Oupa uitgesteek en gevra:
“Don’t you know me?”
Oupa skud sy kop. Nog iemand het vorentoe gekom. Dit was ’n tolk. En wat was Oupa se verbasing groot toe hy verneem dat die twee soldate wat met die offisier gepraat het, die twee mans was wat hy jare gelede so gasvry op sy plaas ontvang het.
Deur hul voorspraak het die offisier Oupa vrygelaat met ’n ernstige waarskuwing. Oupa het die waarskuwing op sy eie manier vertolk: Hy moes versigtiger spioeneer en sorg dat hy nie weer betrap word nie.
F. Schutte, Brakpan, in "By die Uitspanning", Die Huisgenoot, 14 Mei 1948.