UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (7)

Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog

Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.

Die kinders (2)

E.F. Rohm

2          DIE BAASSPIOEN THYS VAN TONDER

Thys van Tonder se grootste begeerte was om een van die lang verkykers te besit wat die Engelse offfisiere gebruik het. Op ’n dag toe drie van hulle gebuit is, het hy so gesoebat dat hy ene gekry het. Van dié dag af het hy verkenningswerk van geen geringe gehalte gedoen nie. Sy bruin mêrrietjie se stert het hy kort geknip sodat sy op ’n afstand soos ’n Engelse perd moes vertoon - en hy natuurlik as Engelsman. Hy het altyd ’n entjie van die kommando af gery en verkenningswerk op sy eie verrig.

As ’n Engelse konvooi aan die trek was, het hy hulle ure lank en soms dae lank agtervolg. Weë die twee of drie Tommies wat afdwaal na ’n plaas of stroois ... dit was sy kos. Ewe stil het hy weer by die kommando verskyn, voorsien van ’n nuwe saal, geweer, patroonband of skoene.

Een van sy meesterstukke het hy gelewer toe hy op ’n dag saam met twee ander brandwagte verkenningswerk op ’n koppie naby Springfontein moes doen. Na ’n tydjie merk hulle ’n muilwa met voer en 38 Tommies daarop wat uit Springfontein kom. So ’n wa met sy span van twaalf muile kan handig te pas kom op kommando en dus laat spat Thys die leegte af en versteek hom in ’n sloot langs die treinspoor. Net toe die wa verbykom, spring hy op en halt hulle. Hy het kwansuis bevele van sy kommandant dat, as hulle nie dadelik oorgee nie, die kanonne op hulle gestel sou word. Dit sê hy terwyl hy met swierige gebaar in die rigting van die koppies wys van waar hy so pas gekom het.

Hy laat die Tommies netjies in ’n ry inval en trek elkeen se geweerslot uit en gooi dit op die wa. Toe word die drade by die treinspoor geknip, en die gekleurde drywers moet die wa na die “Boeremagte” dryf terwyl die Tommies vooraan in gelid stap. Toe hulle by die twee brandwagte kom, word hulle plegtig aan die “mag” voorgestel en kry toe bevel om terug te stap Springfontein toe.

Kaptein Hendrik Pretorius het nog lank daarna die wa en muile gebruik, en die eersteklas gewere en ammunisie was baie welkom.

Die Huisgenoot, 22 Januarie 1943.