Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.
Taf, die foksterriër
Kaptein D.A. Louw
Taf was die foksterriër van Myburg Roux van Klippoortjie, Witbank. Taf het die lief en leed van sy kommando meegemaak.
Op ’n dag word die kommando op die Transvaalse Hoëveld gevang. Te voet word hulle aangejaag na die naaste spoorwegstasie.
Vyf dae lank moes hulle voortstrompel voor ’n klompie Britse soldate. As ’n lid van die vyandelike wag miskien al te na aan Myburg kom, word ’n boosaardige knor gehoor, en as dit nie help nie, volg ’n vinnige hap daar op.
Eindelik is hulle by die stasie. Taf spring sonder aarseling in die treinwa by sy baas.
“Smyt daardie hond uit die trein,” kom die bevel van die Britse offisier aan sy soldate. Een van hulle wil gehoorsaam, maar Taf baklei hom los. Hulle waag dit nie ’n tweede keer nie, en Taf bly op die trein.
Sonder toestemming van die Britse owerheid is Taf as krygsgevangene saam - eers na die kamp in Pretoria, daarna Ladysmith.
Op Ladysmith se stasie het die Engelse Taf weer probeer agterhou. ’n Verwoede worsteling het plaasgevind. Taf hap links en regs en blaf skerp en dreigend, en met elke kans wat hy kry, spring hy na sy baas. Eindelik baklei hy hom los en weer is hy saam met die trein, hierdie keer na Durban.
Na enkele dae daar moes die burgers skeepgaan en vir die derde keer kom die bevel: “Vang daardie hond!”
Weer moet Taf veg op lewe en dood. Weer word hy, tussen sy baas se bene, op die klein bootjie saam met die burgers na die groot skip vervoer.
By die skip word die manne met ’n groot mandjie op die skip oorgelaai. Sewe word tegelyk in die mandjie saamgehok en daarna word dit toegemaak en opgehys.
Weer probeer ’n soldaat Taf agterhou toe sy baas in die mandjie klim. Styf hou ’n soldaat Taf vas. Sy baas kyk na hom om nou afskeid te neem. Maar een knor, ’n hap, ’n sprong - en Taf is binne-in die mandjie!
Die mandjie word opgehys. Bo word dit op die dek neergelaat - so vinnig en onverskillig dat dit omtuimel. Die gewig van die sewe is so groot dat dit die deur laat oopspring. Taf spring uit, en binne-in die arms van ’n Britse soldaat. Taf gee ’n paar happe aan die soldaat se arms, hy skop en woel en tjank, en dit lyk of hy weer gaan wen. Maar daar trek Taf deur die lug! Die soldaat gooi hom oorboord. Myburg kyk besorg en sien hoe Taf in ’n bootjie te lande kom. ’n Paar soldate gryp hom en maak hom vas. Die offisier neem hom in sy arms. Taf tjank nog ’n rukkie en is dan stil. Bo op die dek gewaar hy sy oubaas. Myburg kyk vas in die hondjie se oë en ’n knop kom in sy keel. Onder in die boot hou die hondjie sy koppie skeef.
“Nou is dit my hond!” skreeu die offisier uit die boot.
“Ja. Pas hom tog mooi op! Hy is dit werd!”
Myburg kan die woorde skaars uitkry, kyk vir laas na Taf, draai om en stap weg op die dek.
Die Huisgenoot, 16 Junie 1939.