UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (27)

Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog

Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas

'n "Tannie" hendsop die Skotte

H. van der Merwe (Rabie)

My man en ek is albei gebore Vrystaters van die distrik Fauresmith. Toe die oorlog uitbreek, het ons op ’n plaas naby Oos-Londen geboer. Ons het dadelik alles te gelde gemaak en terug na ons land laat vat. Al wat ons oorgehou het, was twee perde wat geskik was vir sowel trek as rywerk.

Op Springfonteinstasie is my man van die trein af met die twee perde om by die Fauresmithse kommando aan te sluit en ek is na my moeder in Bloemfontein. Daar het ek egter nie lank vertoef nie, want ek het verneem dat daar ’n groot behoefte was aan verpleegsters in die tydelike hospitaal op Jacobsdal, terwyl die meeste groot gevegte destyds plaasgevind het op Magersfontein en Belmont in die rigting van Kimberley.

Die reis van Bloemfontein na Jacobsdal op ’n oop wa was nie juis aangenaam nie. Bedags het die son ons gebak en snags het die koue windjie oor die vlaktes gesny.

Een aand was dit so koud dat ek dit nie op die wa kon uithou nie en toe het ek my komberse gevat en agter een van ons osse gaan skuil. Ek het my kooi onderkant die wind van teen sy rug opgemaak vir warmte.

Op Jacobsdal moes ons ons in die noodhospitaal so goed as moontlik help. Daar was nie genoeg dokters nie en geen opgeleide ver pleegsters nie. Meer as een dag het ek gevoel dat ek kon vlug as ek die dokters moes bystaan waar hulle bene of arms moes afsit of ernstige wonde bewerk. En intussen hoor jy maar aanhoudend die geknel van gewere en die gebulder van kanonne op ’n afstand en gedurig was daar nuwe vragte gewonde burgers.

Ons was nogal wonderlik gelukkig met ons pasiënte. Daar het werklik wonderbaarlike genesings plaasgevind. Ek herinner my dat een van die pasiënte agt wonde gehad het. Een skoot was deur die onderlyf. Sy regterbeen was af en ook sy linkerarm.  Bo-aan die been is ’n stuk vleis so groot soos sy vuis deur ’n stuk van ’n bom uitgeruk, ensovoorts. So oorkruiskreupel as wat hy was, het hy ’n paar honderd tree ver aangekruip na ’n dammetjie water en daar flou geword. Toe die Engelse ambulans by hom kom, het hy aan hulle gesê om hom tog maar te laat lê, omdat daar tog niks aan hom te doen was nie. Ons ambulans het later daarlangs gery en hom ingebring. Hy het heeltemal gesond geword.

’n Ander geval wat ’n diep indruk op my gemaak het, was dié van ’n man wat deur die gorrel geskiet is. As hy ’n mondjie vol water insluk, het dit weerskante uitgespuit. Maar nie te lank nie of hy het nog net oor ’n bietjie keelseer gekla.

Na ’n paar maande het daar ’n goed ingerigte ambulans uit Nederland opgedaag en kon ons die werk met dankbaarheid aan hulle oorgee. Toe het ek en my man saam op kommando gegaan om ons siek of gewonde burgers in ’n veldtent te verpleeg. Ek het te perd gery en was gewapen met ’n rewolwer, wat ek egter nooit nodig gehad het om te gebruik nie.

Te midde van al die ellende het ’n mens partykeer darem ook pret gehad. ’n Arme kêrel moes baie spot verduur omdat hy daar so kaal van afgekom het. Die vyand was kort agter hom en hy wou deur die Modderrivier probeer swem met sy klere in ’n bondel op sy kop en sy geldbeursie tussen sy tande. Toe hy omtrent in die middel van die rivier was, bars daar meteens ’n bom bokant sy kop. Van skrik maak hy sy mond oop en daar trek sy geld en die bondeltjie klere! In Adamsgewaad moes hy maar verder vlug, totdat een van die burgers hom ’n onderbroek gegee het en iemand anders ’n reënjas.

Toe die vyand die Vrystaat intrek, het die meeste van ons burgers die wapens neergelê in die vermoede dat die oorlog op ’n end is. Toe dit blyk dis nie so nie, het hulle op ’n streep weer die wapens opgeneem.

In ons distrik het die vyand lelik huisgehou. Hulle het ons plase verniel, vee doodgemaak of weggevoer en ons wonings afgebrand. So het hulle op ’n dag weer op Metz, die plaas van my man se ouers, verskyn en my man en sy broer Faan op ons kar gelaai om hulle na die tronk op Jagersfontein te vervoer. Ek wou graag ons perde red en het dus saamgery. Op Jagersfontein het hulle die twee in die gevangenis opgesluit op die aanklag dat hulle spioene is en my aangesê om te gaan. Ek het toe onderdak gevind in die huis van mnr. en mev. Willie Hertzog, broer van die Generaal. Intussen het ek opgelet wat die Engelse met ons twee perde aanvang.

Die aanklag teen Sarel en Faan was baie ernstig en dit net omdat hulle die klere van gesneuwelde Engelse offisiere aangehad het toe hulle gevang is. Klere het toe al begin skaars word onder die burgers. ’n Soort krygsraad is gehou deur ’n paar Engelse offisiere wat van Bloemfontein af moes oorkom en dus niks van die saak af geweet het nie, en hulle het albei ter dood veroordeel. Hulle moes die volgende Maandagoggend doodgeskiet word.

Gelukkig het ek byna al die burgers geken wat in die omtrek op kommando was en ek het met hulle in verbinding getree en hulle laat weet van die ellendige toestand waarin my man en sy broer verkeer het.

Ek het ook verlof gekry om elke dag vir die twee iets te ete te stuur en elke dag het ek ’n nuwe plan bedink om vir hulle tyding in te smokkel dat hulle moes moed hou en gereed moes wees as hulp opdaag. So was dit op ’n dag ’n onskuldige koek, aan die kant waarvan ek ’n gaatjie ingeboor het om ’n klein briefie daarin te druk wat styf opgerol was. Daarna is die gaatjie weer sorgvuldig toegemaak met ’n groot koekkrummel.

Eindelik het ek van ons kommando’s tyding ontvang dat hulle Maandagmôre voor dagbreek die dorp sou storm om die twee uit te haal. Aan die kant van Jagersfontein waar die burgers die inval sou doen, het my moeder se suster, tant Johanna de Klerk, gewoon. In haar agterplaas was ’n ry buitekamers waarin ’n klompie Skotte met hul kort rokkies hul intrek geneem het. Daar by my tante het ek die nag gaan deurbring.

Dit was nog donker toe ons gewaar dat ons burgers deur die koppies aangestorm kom. Terwyl ek hulle tegemoethardloop, dam my tante die Skotte by wat nog lê en slaap. Sy klop hard aan die deure en skree: “Hands up, julle ellendige goed! Hands up! Hier is die Boere!” En terwyl hulle nog half deur die slaap is, met die skrik op die lyf, geluk dit haar werklik om hul gewere en ammunisie in die hande te kry en dit aan die burgers oor te gee.

“Kom na die tronk toe, kom gou,” jaag ek ons burgers aan. “Dit is netnou lig.”

Die dorp was toe ook al in rep en roer. Baie van die vyand het die myn ingevlug omdat hulle nie geweet het wat aan die gang is en hoe sterk die Boerkommando was nie. Eintlik was dit maar net omtrent twintig Boere.

Uit die huise word van alle kante op ons geskiet. Ons vriende wou hê ek moes gaan skuiling soek, maar ek kon op daardie oomblik nie aan my eie veiligheid dink nie. Nog dieselfde oggend voor sonop sou Sarel en Faan tereggestel word.

Toe die wag voor die tronkdeur ons sien aankom, sluit hy die deur oop om na binne te vlug. Terselfdertyd spring my man en Faan uit. Dit was ’n bestiering dat ’n koeël wat die wag sy lewe ontneem het, hulle nie ook getref het nie.

Ek het skaars tyd gehad om hulle te groet, en het hulle amper ook nie herken nie, want in die veertien dae het hul baarde taamlik lank uitgegroei.

Faan wou opsluit eers gaan afreken met maj. King-Hall, ’n Engelse offisier wat baie kwaad in ons distrik aangerig het. Hoe ons ook al daarop aandring dat hy moet kom, en dat ek hulle sal gaan wys waar ons twee perde op stal staan, nee, King-Hall moes eers verbykom! En toe iemand hom die huis van die majoor wys, stap hy reguit daarheen. Hy klop aan die deur, maar niemand maak oop nie. Toe draai hy die slot en stap in. Daar was ’n lang gang en net met die inkom sien hy ’n lelike Engelsman van die ander kant af na hom aangestap kom.

Sonder versuim lig hy sy geweer op, want die Engelsman doen dieselfde en die man wat die eerste skiet, het die beste kans. Die vloer was glad, en toe die skoot val, gly Faan se voete onder hom uit en hy slaan neer op sy rug. Natuurlik was sy eerste gedagte dat hy gewond is, maar toe hoor hy hoe die spieël aan die end van die gang in duisend stukkies spat! Die lelike Engelsman met die wit uilbaard was nie King-Hall nie, maar Rooi Faan self!

Daardie selfde aand het soldate die huis van my vriende omsingel, my gevange geneem en in die tronk gestop. Daar het hulle my ses en dertig uur sonder kos en water laat sit sonder dat ek ’n lewende wese gesien het. Eindelik het ’n klomp soldate my kom uithaal, op die trein gesit en na Port Elizabeth gestuur. Ek was twee jaar in die tronk op sewe verskillende plekke.

Intussen is my man saam met my broer W.A. Rabie weer krygsgevange geneem en na Indië gestuur waar hy die tyding ontvang het dat ek dood en begrawe is. Dit moes hy glo totdat my suster, die latere “Tannie van Die Brandwag” in een van haar briewe aan ons broer terloops gemeld het dat ek in die konsentrasiekamp van Springfontein opgesluit is.

Die Huisgenoot, 12 November 1937.