...'n verhaal van die stad se Voortrekkerperiode
Dr. GUSTAV S. PRELLER
Lees reeks by Ou Pretoria
'N VOORTREKKERNOOIENTJIE BETRAG PRETORIA
IN 1844.
Nee, reggenoeg,—daar was geen Pretoria om negentig jaar gelede te betrag nie; maar, wat daarmee gesê wil wees is slegs hoe Maria Bronkhorst die ongerepte, maagdelike veld aanskou het waarop die Vesting van die Noorde hier tien jaar later verrys het, nadat die mense van die Trekwaens daar aangekom het, om dit hulle tuiste te maak.
Maria Minnaar vertel verder :
"Ds. Lindley, ’n Amerikaanse sendeling wat ons predikant geword het toe ons eie kerk ons nie wou of nie kon help aan 'n predikant nie, het my aangeneem in Pietermaritzburg, in die Voortrekkerkerkie; en ou Landdrost Hans Grobler van Potchefstroom, het my met Philip Karel Minnaar, ("Swart Flip”) in die huwelik bevestig. Hy was 'n gesiene man wat ’n vername aandeel geneem het in die gebeurtenisse te Ohrigstad, en later ook van Pretoria, waar hy lid geword het van die Volksraad. Van sy nasate woon vandag nog in die distrik.
Ons het mekaar in Lydenburg se wêreld ontmoet, en hiervandaan Potchefstroom toe gery, en toe ons besluit het om ook hier te kom woon, na die huwelik, het oom Lukas nog bo in Elandspoort gestaan, naby die Fonteine. Hy had toe nog nie gebou nie, omdat hy te besig was om die water op sy landerye te kry. My moeder in haar kliphuisie, onderkant oom Lukas, was die enigste in die omgewing."Gewoonlik het die Voortrekkers, voordat hulle bou, eers so’n bietjie rondgekyk, want dikwels ontdek mens anders later 'n verkiesliker woonplek. Op die uitspanning het ons dus eers tent opgeslaan, en die manne het gesorg vir ’n skerm om die vuurmaakplek. Dit het meestentyds bestaan uit 'n ronde werskaf van pale of riet, met klei of gras daarteen, om die wind van die kookplek af te hou. Soms het die skerm ook ’n afdakkie ontvang, teen son en reen.
"As ons dan ’n geskikte bouplek uitgesoek het,—en in die keuse daarvan het ons vroue, begrypelikerwyse heelwat te beduie gehad,—dan het die manne ’n eerste hartbeesthuisie gebou, wat die gedaante aangeneem het van ’n langwerpige vierkant in twee of drie vertrekke verdeel, waarvan soms al die mure ook van pale en klei, dikwels slegs van klei, onder grasdak, maar ook weleens van klip, as mens nie kans gesien het om gou genoeg 'n goeie huis te bou nie. Soms, al na die behoefte, het hulle daar ’n rondawel verrys, wat dan later ’n buitehuis geword het. Na verloop van ’n jaar of meer, kom die eintlike woonhuis eers totstand, wat ook meestal ’n langwerpige vierkant was, met mure van klip of baksteen.
"Oom Lukas het die geleentheid waargeneem om 'n bietjie graansaad in die grond te kry, sodat toe ons hier aankom sy woning nog maar uit 'n skerm bestaan het.
"Ons het uitgespan langs my moeder se ou huisie, en, omdat die saaityd verby was, het my man somaar ’n begin gemaak met ons eie huis, ’n sterk en gerieflike geboutjie, ’n weinig anderkant die van my moeder, op Elandspoort.
"Tussen oom Lukas se staanplek en waar ons toe bou, het die Apiesrivier sterk, en, op plekke vry diep geloop. Die bron was oop en omring van ’n wilde boskasie van varings en bome.
"Daspoort het toe aan my grootjie behoort, wat daar gewoon het tot die geseënde leeftyd van 95 jaar. Sy lê ook daar begrawe. Net soos Elandspoort en die omliggende plase, was ook Daspoort, toe ons ingetrek het, oordek met 'n verskeidenheid van hoë bome. Dit was destyds 'n boomryke lusoord langs die Apiesrivier, mooi van natuur en geseën met ’n lieflike klimaat en baie water. Daspoort was so eenkant, dat ons daar slegs te perd gekom het.
"Maar die rivier en die bult links, in die omgewing waar Burgerspark aangelê is, was tegelyk ook ’n leeunes. So erg was die leeus, en so groot die skade wat hulle aangerig het, dat die manne van ons kleine nedersetting gereeld jaggemaak het op die ongediertes. Woensdae en Saterdae was dit leeujag langs die rivier af, wat ruig begroei was met riet en geboomte, en goeie skuiling gebied het aan die ongedierte wat mens iedere nag kon hoor brul.
"Die bulte en vlaktes na die ooste en weste toe was net so ruig begroei met soet- en kameeldoring en ander bome. Die jagpartye langs die Apiesrivier het selde afgeloop sonder dat daar van een tot vyf, en soms meer leeus en hiënas doodgemaak is.
"Ons plaas het gelê op die regter oewer van die rivier, en ingesluit ’n deel van die teenwoordige Sunnyside. Later het veldkornet Andries van der Walt teenoor ons op die linkerwal van die rivier gaan woon, op grond wat hy weer aan President Pretorius verkoop het vir die dorp. Dit is heeltemal reg, dat die dorp genoem is na die President se vader, Generaal Andries Pretorius, hoewel die President hoofsaaklik verantwoordelik was vir die aanleg. Elandspoort het eindelik ook van eienaar verwissel, teneinde die dorpsgrond in die rigting uit te brei.
"In hierdie dae was die middelste gedeelte van die stad, d.w.s. van ou Pretoria, oordek met bome wat ons "bontveld” genoem het, klompies en groepe bome, met oop plekke tussenin, wat aan die geheel ’n parkagtige voorkoms gegee het, waar die wagenbietjie en die wit buffelpeer bloesems in die somer die lug oorlaai het met heerlike geure. Ongelukkig moes die bome weggekap word toe Andries du Toit met die opmeting begin het.
"Elandspoort en die teenwoordige Arcadia het daar min of meer net so uitgesien, met verspreide bos en bome, terwyl die grond langs die rivier dig begroei was, tot bo in die poort. Daar het die rivierwilgers en ander geboomte dig op mekaar gestaan, sodat toe later die pad deur die poort verbeter was, mens onder lange lanings deurgegaan het, met ’n blaredak wat die hemel soms heeltemaal uitgesluit het; en hier en daar gaan die pad deur kristalheldere waterstrome, snelvlietend soms, en dan weer gedam oor veelkleurige keisteentjies, so mooi dat ons daarvan uitgesoek het om in 'n bakkie op die voorkamertafel te sit.
"Oral het brame ruig gerank, en die kinders het mandjiesvol daarvan versamel wat in die huis die plek ingeneem het van vrugte, voordat ons ons eie had. Die wilde appelliefies, die soet blou nastergal, die heerlike sandappeltjie, stamvrugte en die verloklike maar danig sure wilde pruim wat, as dit ryp is amper deurskynend word, het volop teen die rante gegroei. As die bobbejane dit nie die eerste bykom nie, het die kinders ook grote hoeveelhede versamel van die meelagtige mispel, en die wilde rank appelkoos. Ek was in Natal en in die Lydenburgse berge gewees, maar nêrens het ek so ’n rykdom van wilde vrugte gesien as hier.
"Die rivier het sy naam gekry, natuurlik, van die duisende blouapies wat daar in die geboomte langs die rivier gehou het,— ratse diertjies, wat daar langs die toppe van die bome rondgeklouter het met die grootste gemak, en op dié wyse op en af gegaan het langs die rivier, van Daspoort tot in die Fonteine vallei, en grondtoe gekom het slegs op die stilste en veiligste plekke.
"Die rante en berge in die nabyheid het troppe bobbejane gehuisves, wie se skorre geskreeu mens heeldag kon hoor as hulle verstoor is, of saans na mekaar roep. Dikwels was daar 'n hele lawaai in die berge agter ons huis, 'n geskreeu en 'n gebabbel dat dit 'n aardigheid was, en dan wis ons dat die bobbejane op ’n slang of ander gedierte afgekom het, wat hulle tog so verfoei het.
"Soos te begrype is, het die lewe hier in die vallei en langs die rivier veral ook sy gevare geken. Mens moes maar heeldag op jou hoede wees daarteen, want die ganse dag en nag het dit aan alkante gedreig. Ons manne moes voortdurend oppas teen ’n menigte natuurlike sowel as mensevyande. Hulle moes ook in voortdurende voeling bly met mekaar, sodat een die ander kon bystaan in oomblikke van gevaar.
"Ons was ontdaan van die meeste gemakke en geriewe waaraan ons in Kaapland gewend geraak het, en dikwels moes ons in tye van siekte beproewings en ongeriewe verdra wat niemand teenswoordig sou dink om te verduur nie. En tog, toe die trek eemaal op ’n end was, en ons weer kon saai en plant, en groente kweek, het hierdie eensame, wilde lewe in die Apiesriviervallei ons ook sy bekoring nie weerhou nie. Daar was bevrediging in om mens se tuinery van jaar tot jaar te sien toeneem, en die dinge te sien opbring wat ons nodig had; om die vrugtebome te sien opskiet; of, deur eie arbeid of aankoop, van dag tot dag en jaar tot jaar die huislike geriewe te laat toeneem, wat onder ander omstandighede so onmisbaar geag word.
"Spoedig nadat ons huis gereed was, het my man daar ’n goeie bakoond bygebou, sodat ,ek met betreklike gemak ons eie brood kon bak. Ons het ons eie melkkoeie besit, en dit het nie lank geneem nie voordat ek al die botter gemaak het wat ons vir die huis nodig had, sodat ons ander ook nog kon help, want my man het vir my ’n baie doelmatige karring van boekenhout gemaak. Ons het hier gekom met omtrent ’n halfdosyn perde, maar in die somer het verskeie daarvan aan die perdesiekte gekrepeer voordat ons ons ryperde op stal kon hou, en ry net waar ons wou wees. Ek het my eie sysaal gehad, en kon goed perdry; en burebesoek was ons vernaamste ontspanning. Iedereen het daar behae in geskep. Dikwels denk ek dat ons beter bure vir mekaar was, en dat daar ook meer opregte liefde tot mekaar bestaan het; maar dan verseker die kinders my dat oumense maar altoos so denk! In ieder geval het daar geen onverdraagsaamheid bestaan nie; en ons ouers het gemeen dat mens ‘n goeie Christen kon wees sonder om op te hou om gelukkig te wees, sodat ons deelgeneem het aan al die kleine maatskaplike plesiertjies wat die lewe gebied het, vrolike samekomste onder mekaar met sang en dans en vioolbegeleiding, want dit was ’n instrument wat verskeie manne goed kon bespeel.”
En so het die Fourie-trek, net voor die somer van 1848, ’n aantal mense op die wal van Apiesrivier afgelaai, wat gekom het om hier te woon, en naderhand die kerkplaas gevorm het wat die kerk gebring het en daarna ook die smous en die dorp, om in die volheid van die tyd uit te bloei in die vername stad van vandag.
Bowestaande beskrywing van die allereerste begin daarvan, is ook die eerste aan skrywer bekende woordbeeld van die plek en die mense wat dit gemaak het.
Hulle was nie haastig om die kleine gemeenskap ’n naam te gee nie, en het eers 'n paar name probeer eer hulle ’n twaalftal jare later die naam van Pretoria aangeneem het. In die begin was dit 'n paar boereplasies, wat uitgegroei het tot kerkplaas, waar af en toe ds. van der Hoff van Potchefstroom dienste gehou, kinders gedoop en die Nagmaal bedien het.
Hierdie dienste het hulle meestal onder bokseile gehou, maar, as die weer mooi is ook wel onder die bome. Oral vanuit die omgewing het die mense dan in waens hierheen gekom, en hulle tente onder die doringbome opgeslaan; en die smous het sy verskyning gemaak, want hulle was net so goed op hoogte van so ’n kerkgeleentheid as enige gemeentelid, en het daar hulle besigheid vergeseld laat gaan van ’n sekere mate van vroomheid.
Op hierdie stadium het die plek bekend geword as Pretoriusdorp, want veral die Pretoriusse het hulle daarvoor ingespan, en die dorp is aangelê ter ere van ’n groot Pretorius. Die drie broers van generaal Pretorius het hulle plaas aan die Krokodilrivier die naam gegee van Broederstroom, en dit het ds. van der Hoff die naam van "Pretoria Philadelphia” (Pretorius broederskap) in die gedagte gegee.
Maar dit was asof die mense van die plek hulle die grotere bestemming van hul dorp bewus was, terwyl hulle later die mooier naam Pretoria daarvoor gekies het.
Vervolg...