OU PRETORIA... (4)

...'n verhaal van die stad se Voortrekkerperiode

Dr. GUSTAV S. PRELLER

Lees reeks by Ou Pretoria

"MOOIE HEUWELS, LAGGENDE VALLEIE, STROME EN BOSSE.”

Moffat trek verder, van Wolhuterskop in die rigting van Swartspruit:

"Die volgende dag vervolg ons ons koers oor ’n skilderagtige landstreek, en kruis menige mooie riviertjie. Teen die land bereik ons die Krokodilrivier, 'n taamlike grote stroom, waarin seekoeie en krokodille volop is. Op hierdie punt gaan die rivier deur 'n hoë heuwelreeks, loop N.N.O. en vertak in ander strome, waarna die Limpopo genoem word. Ons is die heuwelreeks by 'n pas oor en het uitgespan op die wal van die Krokodilrivier waar dit die reeks ingaan; die volgende dag is ons deur, en het uitgespan by ’n stat, waar ons moes wag op bevele in verband emt ons toekomstige koers.”

Blykbaar het Moffat die Krokodilrivier bereik net onderkant die teenwoordige Hartebeespoortdam, is vervolgens oor Magaliesberg by Kommandonek, en het toe weer aan die rivier gekom waar die dam nou lê, en waar verskei Matabele-krale was. Die verhaal gaan voort:

"Die volgende dag is ons verder, en bereik eindelik die koning se verblyf.” (Mzilagazi sal tydens hierdie besoek verblyf gehou het in die enDinaneni kraal, aan Swartspruit, of miskien in die uku-Hlasila, wat hy later in die nabyheid opgerig het). ..Ons is te perd vooruit, en gaan ’n grote, openbare beeskraal binne, waar ’n 800 krygers in volle mondering halfmaansgewyse opgestel was. Nog ’n 300 omtrent, sit verskuil in hinderlaag, miskien as voorsorg, of om ons moed op die proef te stel. Ons ry tot in die middel van die kraal, toe hulle ons wysk om van ons perde af te klim. Nouliks was ons op die grond of dies wat daar weggekruip het by die ingang, storm binne, skreeu en spring met die mees fantastiese gebare, sodat ons perde, ongewoon aan sulke spulletjies, probeer hande uitruk.

"Gedurende die volgende tien minute volg daar ’n diepe stilte, toe begin almal ’n oorlogslied, en stamp hul voete in tyd met die musiek. Niemand het ons genader nie, ofskoon alle oë op ons gerig was. Toe was alles stil, en Moselekatse stap van agter af uit met ’n tolk, en met bediendes wat vleis, bier en ander kos dra. Hy het ons hartlik gegroet en was blykbaar baie bly. Teen hierdie tyd kom die waens aan, en daar hy sulke dinge nog nooit gesien het nie, was dit nou sy begeerte om hulle te sien loop. Ons verlaat die kraal terwyl die krygers hulle houding in volkome stilte bewaar. Toe die waens naby kom skyn hy deur skrik oorweldig te word, loop terug, en sleep my saam. Toe hulle stilgehou, en die osse uitgespan was, kom hy versigtig nader terwyl hy met die een hand aan my vashou en die ander voor sy mond hou. Eers het hy weinig gepraat, maar alles noukeurig bekyk, veral die wiele, en toe hom meegedeel is uit hoeveel dele so’n wiel bestaan, het sy verbasing ’n hoogtepunt bereik. Hy is daarop terug na die kraal, waar sy krygers hom met uitbundige toejuiging ontvang het.”

Dit was die eerste waens wat die onmiddellike nabyheid van die teenwoordige Pretoria bereik het. Hulle was in Kaapland gebou, die agtien waens van die Trichardt trek ses jaar vooruit, en die van vandag 108 jaar.

Mzilagazi het waardering tekenne gegee vir die gasvryheid wat Moffat aan sy afgesante bewys het, en die sendeling het allerhande godsdienstige sake met die hoofman bespreek. Hy het nadruk gelê op die afgryslikhede van die oorlog, en het sy droefheid uitgedruk oor die ontvolkte toestand van die land, waarvoor Mzilagazi die Mantatees die sulkd gegee het. Die sendeling het agt dae gebly, en was dankbaar om huiswaarts te kon terugkeer.

"So kort soos my verblyf was”, sê hy, "het die verskillende voorbeelde van dwingelandy en afskuwelike wreedheid my laat voel of ek verblyf gehou het in die tente van Kedar. Alles wat ek sien of hoor het my met droefheid vervul. Nooit tevore het ek in aanraking gekom met sulke barbaarse en verlaagde siele.”

Moffat vertel nie hoe die maHurutsi hoofman, Makhalla, oor die dinge van sy buurman gedink het nie, en of hy daarin geslaag het om vriendskapsbetrekkings aan te knoop; maar dit wil mens voorkom of Makhalla net so dankbaar soos die sendeling was om daar weer weg te kom uit die tente van die barbaarse Kedarene, wat "die vrede haat,” en terug te keer na Mosega na ’n afwesigheid van noueliks ses weke.  Makhalla skyn geheel onbewus te gewees het van die feit dat sy eie beurt toe snel genader het.

Die een Matabele leër het uit die noorde teruggekeer, belaai met buit, en kort daarop het ’n ander deur Daspoort en Elandspoort uitgetrek, na die suide. In Maart 1831 bereik hulle daardie merkwaardige bergvesting in Basoetoland, Thaba Bosiho, waar die later ewe merkwaardige Basuto hoofman, Mshweshwe gehou het. Toe hulle hom die eerste keer ontmoet het Mshweshwe hulle hulp en bystand net so sterk begeer teen die aanvalle van Sjaka as sy Bapedi tydgenoot; maar hy was net soos Mzilagazi, ’n nasiebouer. Toe, in die huidige geval, die Matabele leër aan die voet van Thaba Bosiho verskyn, en daar laer opslaan, "langs ’n bekoorlike riviertije wat sy weg deur die wilkerbome slinger”, om uit te rus van die vermoeienisse van die lange mars, het Mshweshwe ’n magtiger teenstander geword, en die Matabele van sy bergspits betrag sonder om hom baie om hulle te bekommer. Hy het hulle sien speel in die mooi riviertije, en rond luier onder die koelte van die wilkerbome, in afwagting van die stryd die volgende dag.

Die Matabeles het die bestorming van twee teenoormekaar gestelde kante beproef, en dit het so ontsettend woes gegaan dat dit gelyk het of niks hulle sou stuit nie; maar nie te lank nie of daar rol yslike massas basalt van bo of tussen hulle aaneengeslote geledere. Dit het die Matabeles nog nie gestuit nie, maar toe dit gevolg word deur ’n aanhoudende gegooi van klippe en assegaaie, het hulle omgespring en gevlug. Tevergeefs het die aanvoerders probeer om hulle moed in te praat; die vlug was algemeen. Hulle het gesê dat hulle teen mense kon veg, maar nie teen rotsblokke nie.

Die volgende dag het hulle die terugmars aangepak, en net toe hulle die koelte van die wilkerbome langs die bekoorlike bergstroom verlaat, kom daar ’n Mosuto aan met ‘n aantal vet slagbeeste.

"Mshweshwe laat julle groet,” sê hy, "en in die onderhandelling dat die honger julle na sy land toe gedryf het, stuur hy julle hierdie beeste, sodat julle kan eet op die terugweg huistoe.”

Met sulke onaangename nabure, soos Dingane aan die eenkant, die diefagtige Korannas en Griekwas aan die ander, en die ongenaakbare Mshweshwe in die suide, het Mzilagazi tot die oortuiging geraak dat, hoe heilsaam en gesond ook die klimaat van Magaliesberg, ’n verwisseling van woonplaas nodig was. Sy gesante het hom vertel van 'n land na die weste toe, van goeie klimaat en vrugbare aarde, waarvan die bange inwoners nie bestand sou wees teen die Matabele nie. Hulle was buitendien ryk aan beeste en bokke. Hulle hoofman, Makhalla, het wel onlangs nog van Mzilagazi se vleis geëet, maar vir hom het dit geen verskil gemaak nie. Hierdie gedagtes het saamgeval met die belangrike besluit om ’n groter afstand te stel tussen hom en Dingane, en toe het Mzilagazi sy besluit bekendgemaak om te trek.

Ondertussen het, na Moffat se besoek van die vorige jaar, twee Franse sendelinge, Pellissier en Lemue, hulle verblyf by Makhalla van die ba-Harutsi, by Mosega geneem; en Makhalla was erg ontwrig toe in die begin van 1832 hierdie manne hom meedeel dat Mzilagazi hulle beveel het om hulle opwagting by hom te maak, ten einde redes aan te toon waarom hulle langer die geestelike belange van Makhalle sou behartig.

Eerw. Pellissier, wat dadelik na Mzilagazi gegaan het, was blykbaar nie instaat om hom te oortuig van die noodsaaklikheid van sy verdere aansyn te Mosega nie, daardie fraaie en vrugbare plein in die weste, omring deur 'n heuwelreeks wat die bronne van die Marikwarivier insluit. Mzilagizi het die hele Hurutsiland as sy eie beskou en hulle moes padgee. Pellisier het saam met Mosega teruggekeer en die kans waargeneem om met sy vriend Lemue te gaan na Litaku.

In Maart 1832  verskyn die Matabele leër voor Mosega en hulle dryf Mukhalla en sy mense hals oor kop  die woestyn in. Daarop het hulle ‘n groot krygskraal te Mosega opgerig, waar die Franse sending was; en Mzilagazi het, ten einde sy soldate tussen homself en Dingane te hou en nog ’n  lekkerder plekkie uitgesoek, ongeveer vyftig myl noord oos van Mosega, wat hy eGabenie genoem het (Harris  e.a. se "Kapain”). Die plek was geleë tussen ’n aantal met bome beklede spitskoppies, en mooi besproei deur ’n tak van die Marikwa.

Vier jaar het in hierdie nuwe landstreek verbygegaan, en toe was daar feitlik geen onoorwonne of onafhanklike stam meer oor tussen die Zambezi en die Oranjeriviere, en tussen Mozambiek ,en Sosjong nie. Mzilagazi het dit alles opgeruim op presies dieselfde ou manier, soos hy gedoen het rondom Pretoria.

Al die welvarende baNgwaketsi-statte het in rook verdwyn, en die bewoners daarvan, wat hulle nie deur die vlug kon red nie, was tot die laaste ou meid toe om die lewe gebring. Die ander het die woestyn ingevlug. Die bamaNgwato het hy op dieselfde wyse geheel onderwerp. Gedurende die halwe eeu wat daar gevolg het op hierdie verowering, en nadat Mzilagazi hom te Gubuluwayo gevestig het in Matabeleland, het die bamaNgwato weer teruggekeer na hulle ou land, en naderhand ’n talryke stam afgegee; maar Mzilagazi het hulle nooit anders as vasale beskou nie, en het nooit van Khama anders gepraat as van sy beeswagter.

Toe Potgieter die Matabeles noordwaarts weggedryf had, het hy aanspraak gemaak op al die land "so ver as die lem van Silkaats geregeer het,” en dit, in 1865 in kaart gebring, het die ganse Betsjoeanaland ingesluit tot aan die Ngami-meer, met suid Rhodesië, suid van Gubuluwayo noordwaarts, tot aan 'n punt anderkant die 19e graad suiderbreedte.

Vervolg...