OU PRETORIA... (7)

...'n verhaal van die stad se Voortrekkerperiode

Dr. GUSTAV S. PRELLER

Lees reeks by Ou Pretoria

MAN WAT SY NAAM EN WAPEN AAN PRETORIA GEGEE HET

Na Mzilagazi se skielike vertrek na die weste het die land langs Apiesrivier en in beide Moot-valleie weldra weer sy oer-stilte en iets van die oorspronklike skoonheid wat Moffat en Harris in sulke gloeiende bewoordinge beskryf, herkry.

Om een of ander rede skyn die Boesmans nie tot hierdie deel van die land deurgedring te hê nie, en die vroegste Bantoe-bewoners het die Mantatees en Matabele byna geheel uitgeroei. Van die Matabele het daar nog gedurende enige jare 'n paar verspreide veeposte oorgebly totdat hulle uiteindelik deur Potgieter verdryf is.

Die Trichardt-trek het in 1836 stil en snel na die Noorde toe deurgetrek, ver oos van die Apies verby, weldra gevolg deur Potgieter en elf ander te perd, met twee verewaentjies, uit op 'n algemene verkenning van die land noordwaarts.

Hierdie Potgieter-patrollie het eintlik uit twee afsonderlike geselskappe bestaan; aan die hoof van die een was J. G. S. Bronkhorst, en het bestaan uit vyf man met familie by die Van Rensburgs, en die ander, deur Potgieter self gelei, moes ’n bestelling met Trichardt hou en tegelykertyd die moontlikheid van die handel met die kus ondersoek.

Hulle het die Trichardt-trek onder Zoupansberg aangetref, maar het bevind dat Van Rensburg aangehou het met trek, waarskynlik met die doel om sy ivoor aan die Portugese te gaan verkoop, en dat hulle verdwyn het. Kort daarop het Trichardt verneem van hul verskriklike lot. Met die Van Rensburgers het daar twee broers van J. G. S. Bronkhorst gesterf langs die Pafuri. Twee van sy eie kinders is kort daarop aan die Vaalrivier deur die Matabeles weggevoer. Bronkhorst was een van die eerste blankes wat langs die Apiesrivier gaan woon het, maar het Potgieter die volgende jaar na Ohrigstad getrek waar hy dood is. In 1848 het sy dogter Maria, getroud met Philip Minnaar, met haar moeder teruggekeer na die ou plek, soos reeds vermeld.

Op sy terugkeer uit die noorde het Potgieter en sy patrollie op die moordtoneel langs Vaalrivier afgekom, en na die tyd is hy gedurende verskeie jare besig gehou deur die oorloë met die Matabele, tot 1838, toe hy opgetrek het na die Oorvaalse, wat toe amper geheel vry was van Matabele, en daar het hy Mooiriviersdorp aangelê, later Potchefstroom genoem.

Toe hy in Augustus 1836 uit Zoutpansberg teruggekeer het, was Potgieter se afspraak met Trichardt, dat laasgenoem die die koms van die Groot Trek daar sou afwag, en nieteenstaande allerlei moeilikhede en gevare, het Trichardt daar gewag tot Augustus 1837. Die Van Rensburgtrek was uitgemoor, en na Potgieter se vertrek het allerlei onheilspellende gerugte oor die lot van die Groot Trek, hom voortdurend deur naturellebronne bereik. Intussen het hy verbinding verkry met die Portugese in Delagoabaai; en toe, 'n jaar na Potgieter se vertrek, hy nog niks van hom verneem het nie, en twee Portugese naturellesoldate na hom gestuur is ten einde hom na Delagoabaai te begelei, het hy besluit om te trek.

Hy is suidwaarts terug, verby die teenwoordige Pietersburg, en het later oos gedraai, en die koers van die Olifantsrivier gevolg tot aan Drakensberg. Hy het die berg oorgetrek met al sy waens en vee, na een van die wanhopigste worstelinge wat daar bekend is, en Delagoabaai bereik in April 1838. Daar het hy aanstonds begryp dat dit geen land vir hulle was nie, en het sy seun Karel langs die Ooskus opgestuur om te gaan soek na ’n beter land.

Nadat Karel die Zambesi-waterval en die Zimbabwe bouvalle besoek het, het hy Djibuti in Abysinnie bereik, en in I 840 in Lourenco Marques teruggekeer, slegs om te ween op die grafte van sy moeder, vader, vrou en al die ou vriende van die lange trek. Die koorssiekte het hulle aangeval en al die manne na die graf gesleep totdat daar slegs 'n paar vroue en ’n klompie kinders oorgebly het, wat genl. Pretorius van Natal laat kom het.

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius, die man wat sowel sy naam as wapen aan die stad Pretoria gegee het, was sonder twyfel die merkwaardigste, mees onverskrokke en bekwaamste leier wat deur die Trek  en die vroegste geskiedenis van die Boerevolk te voorskyn getree het. Afkomstig van die beroemde van Egmond-familie van Holland, kom die Pretoriusse oorspronklik uit Duitsland.