OU PRETORIA... (8)

...'n verhaal van die stad se Voortrekkerperiode

Dr. GUSTAV S. PRELLER

MAN WAT SY NAAM EN WAPEN AAN PRETORIA GEGEE HET (2)

Gebore in Graaff-Reinet op 27 November 1798, het Andries Pretorius die eerste keer in Tulbagh in die huwelik getree met Christina de Wit, onder die vroue van die trek een van die merkwaardigste figure. Die tweede keer is hy getroud met ’n niggie van die dappere Natalse kommandant, Hans de Lange.

Van Andries se jeug is weinig bekend. Hy het tot man opgegroei naby Graaff-Reinet waar hy skoolgegaan en geleer het om te lees en te skryf; en na sy huwelik het hy met sukses die algemene besigheid van boer voortgesit, maar hom in besonder op die vrugtekwekery toegespit, vandaar dat diegenes wat gedurende die stormagtige vyftiger jare in Transvaal teen hom gekant was en probeer het om hom te verkleineer, die held van Bloedrivier, Kongela en Boomplaats, as "appelverkoper” bestempel het.  Hy het kommandant geword in die oorloë op die Kaapse oostelike grens, met sukses geboer op Pretoriuskloof naby Graaff-Reinet, en was ’n welvarende man toe die Groot Trek die Oranje oorgegaan het.

Met twee van sy broers, Piet en Bart, het hy toe met ’n sesperdewa die Trekkers in die noordelike deel van die Vrystaat en aan Suikerbosrand besoek, en naderhand vir Uys en Potgieter vergesel op hulle tweede Matabele-veldtog.

Hulle het teruggekeer oor Natal waar Pretorius ’n plaas gekoop het, en toe hy terug is in Graaff-Reinet, het hy volgens ’n koerantberigte, die hele omgewing in beweging gebring om te trek. Hy was besig om sy plase, vee en gereedskap te verkoop toe die noodkreet hom bereik om die Trekkers te gaan help net na die Retief-moord en die ander wrede moorde langs Moordspruit en Boesmansrivier.

Die beroep op hom was dringend, en met die terugkerende boodskappers het Pretorius aan Kommandant Landman instruksies gestuur om sy perde te vermeerder, net soveel waens en spanne osse in gereedheid te bring as hy kon, en vir iedere wa twee "veghekke” te laat maak,—’n uitvinding van homself, wat tussen die buitewiele van die waens en by die aansluiting van een wa by die ander, vasgemaak moes word. By Vechtkop en ander vroeëre gevegte met die swartes het die Voortrekkers doringbome afgekap en tussen die wiele vasgemaak, maar Pretorius het gedink aan die verdediging van so’n laer op plekke waar daar geen doringhout is nie. En soos die geval met die slag van Bloedrivier, geveg in ’n boomlose wêreld, waar die veghekke 'n uitnemende doel gedien het.

Die volgende paar besonderhede mag dien as aanduiding van die snelheid van die man se besluite en bewegings. Tien dae na sy terugkeer uit Natal, adverteer hy sy plase en ander eiendom as te koop. ’n Week later, toe die Italenislag geveg en verlore was, bereik die versoek uit Natal hom om hulp. Dit was einde Augustus. Hy het sy instruksies aan Landman met die boodskappers teruggestuur, en op 22 November, nadat hy sy eie trek tot in die Vrystaat gebring het, gaan hy na Maritz se hooflaer aan die Klein Tugela, ’n "weltoegeruste, gesabelde ingepistoolde dragonder,” soos iemand in die laer hom beskryf het. Vyf dae later was hy in die veld met die Winkommando, en hoewel hy moes wag op die versterking van die kus af, lewer hy twee weke later die slag van Bloedrivier, meer as 'n honderd myl daarvandaan.

Uit hierdie bloedige en beslissende slag het Geloftedag van 16 Desember voortgespruit wat ’n nasionale feesdag van danksegging en gebed geword het. Pretorius het die Gelofte aan die hand gedoen.

Pretorius en sy manne het die Zoeloes agtervolg, en Dingane se hoofstat, Umkungunhlowo, ontruim en afgebrand gevind; maar hulle het die gebeente van die ongelukkige Retief en sy manne teruggevind sowel as die Traktaat van die oordrag van Natal aan die Boere, wat twee dae voor die moord onderteken was. Die dokument was heeltemaal onbeskadig, nieteenstaande die blootstelling daarvan aan wind en weer gedurende tien maande.

Daarop het gevolg die perdepatrollie van die Wit Umfiloos, een van die verbasendste aksies van hierdie kommando, en vervolgens die terugkeer van die seëvierende 460 man, met die verlies van slegs ses, om te vind dat die Engelse intussen besit geneem het van Natal. Hierdie besetting egter was slegs ‘n probeerslag van sir George Napier. Hy het geen gesag om dit te doen nie, en het Charters Natal toe gestuur slegs om die Boere te tempteer. Dit het kort daarop geëindig met die terugroeping van Jervis en sy manne.

Die Trekkers was beroof van ’n 40,000 beeste, behalwe nog die perde en skape; en Pretorius se eerste veldtog het hiervoor geen vergoeding gebring nie. Buitendien was Dingane wel verslaan maar nie heeltemal onderdruk nie, en daar was allerlei aanduidings dat hy hom klaarmaak het om die Voortrekkers weer aan te val, wat gevolglik voortdurende onsekerheid veroorsaak het.

Mpande, Dingane se jonger broer, het ondertussen uit vrees vir sy eie lewe met sy volk die Tugela oorgetrek en veillgheid gesoek onder die Boere; en Pretorius word deur die Volksraad gevra om ’n verdere kommando teen Dingane te onderneem. Dit het geskied in samewerking met Mpande, en in 1840 het die gekombineerde magte ’n vernietigende slag aan Dingane toegedien. Hy het noordwaarts weggevlug met enkele volgelinge, en word daar aan die Maputarivier deur ’n enkele Swazi-asgaai gedood, met Karel Trichardt uit die verre Abysinnië, as toeskouer.

Pretorius het Mpande as koning van die Zoeloes erken, en daar het 'n vredestoestand ontstaan wat voortgeduur het tot Mpande se dood in 1872.