OU PRETORIA... (10)

...'n verhaal van die stad se Voortrekkerperiode

Dr. GUSTAV S. PRELLER

Lees reeks by Ou Pretoria

GROOT GESANTE TREF MEKAAR OP GROOTPLAATS

Pretorius het ingesien dat, tensy dit voorkom word deur ander maatreëls, die Suid-Afrikaanse Republiek weldra dieselfde lot sal ervaar as die Vrystaat en Natal. Hy het vervolgens aan majoor Warden, en deur hom aan sir Harry Smith, voorgestel dat ’n onafhanklike ondersoek gehou moet word vir die wegruiming van alle bestaande dispute.

In die geskiedenis is dit nie soseer die bewuste arbeid van die individu, hoe kragtig en goed ook, wat koers gee aan die dinge nie, maar in veel groter mate die algemene loop van sake self, en die invloed van bykomende omstandighede wat die deurslag gee. Pretorius het vir sy voorstel die goeie oomblik  uitgekies en dit sou vrugdraend word. In die Vrystaat het die dinge teruggeval in 'n toestand wat gegrens het aan volslae regeringloosheid. Mshweshwe het die Engelse die oorlog aangesê en Warden by Viervoet verslaan.

Hy plunder toe die boere wat aan die kant van die Engelse bestuur staan in die suidoostelike distrikte. Warden het tevergeefs die een kommando na die ander opgeroep; die burgers het geweier om ’n staat van sake te handhaaf waarom hulle nie gevra het nie. Smith het sy hande vol gehad op die Kaap se oostelike grens, en kon geen enkele man mis nie.

Toe bied die geslepe Basoeto-hoofman sy dienste vir Pretorius aan of—aldus sy afgesante—as Pretorius dit verkies kon hy slegs ’n honderd, of selfs vyftig van sy manne stuur om deel te neem aan die stryd; of hulle kon net toekyk hoe hy, Mshweshwe, die Engelse daar uitjaag, en Pretorius sou deelgenoot wees in al die voordele wat verkry word.

Vervolgens verskyn daar onder die kameeldorings van Grootplaats se werf die boodskappers van Mzilagazi uit die verre Noorde; en hulle ontmoet daar die afgesante van Mpande uit Zoeloeland om aan hierdie voëlvryverklaarde man die leër aan te bied van hulle meesters teen die Engelse. En op las van Pretorius verenig hierdie voormalige vyande van mekaar hulle rondom dieselfde vuur, soos die kinders van een vader.

Mnombate en sy volgelinge het presente van Mzilagazi gebring: ivoor om "die hand” te vra van die verdelger van Dingane. Ook het hulle ’n boodskap gebring van vriendskap en welwillendheid.

In die naderende skemer weerklink die koninklike Zoeloegroet, "Bayete!” en Nongalaza, Mpande se bekende vegeneraal, wat saam met Pretorius teen Dingane geveg het, stap uit die skadu's tevoorskyn, en staan daar voor hulle met sy volgelinge. Dwarsoor die Hoëveld het hulle geloop, om aan Pretorius ’n boodskap te bring van Mpande, en sy woord terug te neem. Hier volg die inhoud van Nongalaza se boodskap:

Mpande, die groot olifant van Nogeza, laat sy vriend en vader, die vernietiger van Dingane, groet. Sedert vele mane slaap Mpande nie meer goed nie, want hy is nie meer heer en meester in die land wat hy en "Antelisi” (Andries Pretorius) ontruk het aan daardie verstoorder van die nasies Dingane. Die Engelse ry in die land rond net of dit hulle s'n is, en Pretorius wis goed hoe die Zoeloes op verskeie wyses aandadig was aan hulle teenwoordigheid in Natal. Maar nou het dit, twee mane gelede, tot Mpande se ore gekom, dat hulle in die toekoms soveel beeste sal moet betaal vir iedere hut in die land van hulle vaders! Dit was ongehoord. Mpande se impi's word kriewelrig; sy jongmanne kan hy nie langer weerhou nie; hulle asgaaie blink in die lig van die son en dors na bloed, en dié van die amakehla het laas aan die Maqonqi bloed geproe. Hulle wag net op die woord van "Antelisi om die Amangies uit te vee, in een nag, so,—en hy trek sy hand vinnig voor sy mond verby, terwyl hy die adem uitblaas.

Pretorius het hierdie boodskappe ernstig oorpeins want hy wis dat dit ernstig bedoel was. Aan majoor Warden het hy daarop sy tussenkoms aangebied met die Basoetoes, ’n aanbod wat hy van die hand gewys het, terwyl hy tegelykertyd aan sir Harry Smith erken hoe die lot van die Oranjerivier Soewereiniteit op daardie oomblik feitlik in die hande lê van hierdie voëlvryverklaarde man.

Aan Nongalaza, Mpande se vermaarde vegsman en afgesant, het hy ’n boodskap gestuur dat Mpande sy soldate moes weerhou van enige onbesonne daad tot dat hulle weer van hom, Pretorius, hoor.

Met die Matabele afgevaardigdes het hy 'n verdrag van vriendskap en vrede gesluit wat jare daarna gedy het in ’n kragtiger stuk, en die aanstelling aan die hof van Lobengula van Muthle, as die Republiek se konsulêre verteenwoordiger, en sy sluipmoord deur Khama, op aanhitsing van die Gecharterde kompanjie—dog, dit is nou weer 'n ander storie, daardie.

J. S. Christopher, ’n gematigde Nataller uit ’n ongematigde tyd, het geskryf aan Sir John Pakington, toenmalige Britse Sekretaris van Staat vir die kolonies, dat, ten spyte van die feit dat Pretorius ’n voëlvryverklaarde man was, hy tog al sy invloed gebruik het om die hand van Mshweshwe te weerhou, sowel as ander magtige naturellehoofde, om ’n aanval te maak op die Engelse.

"Mens kan derhalwe sê dat Pretorius ons gered het,” skryf hy, "en tog bly hy ’n voëlvryverklaarde . . .  En noudat ons in die nood verkeer het, het hy, inplaas van wraak, beskerming verleen. Indien Mpande met 20,000 troepe en Mshweshwe met 10,000 hulle op ’n wenk van Pretorius beweeg het, sou die koloniste, tot aan Algoabaai uitgeroei gewees het.”

Hy het daaraan ewe goed kon toevoeg : en Mzilagazi met 10,000 krygers! Maar, slegs weiniges het geweet van die sirene fluisterstemme uit die Noorde in Pretorius se oor, en Pretoria se peetvader het nooit die erkenning ontvang wat hy verdien het.

Pretorius se voorstel aan sir Harry Smith het op 'n goeie oomblik gekom en vrugte gedra. Die praatsieke Britse Hoëkommissaris het sy hande meer as vol gehad op die Kaapse oostelike grens, sodat hy Warden noodwendig aan homself moes oorlaat met die Basoetoes wat besig was om die oostelike Vrystaat te verwoes. Moeg geword van die ou Waterloo-veteraan se eienaardighede, het die Britse Goeverment twee assistent-kommissarisse aangestel, kaptein William Hogge en Charles Mostyn Owen, om vir sir Harry die sake te help regmaak, en die het Pretorius geantwoord dat sy voorstelle voorgelê sou word aan hierdie kommissarisse, wat ’n ondersoek sou instel sodra hulle Bloemfontein bereik.

Dit was heeltemal bevredigend sover as dit gestrek het maar Pretorius was aan alle kante omring deur ernstige moontlikhede. Die Ohrigstadse Volksraad het sy briefwisseling met die Engelse afgekeur —hulle het Potgieter alle kommunikasie suid van Vaalrivier belet, vergetende hoe hulle sowel as Potgieter op daardie einste oomblik in briefwisseling was met Johan Smellekamp om dié se advies te vra, nie slegs suid van die Vaalrivier nie maar in die vreemde gebied van Mosambiek. Potgieter het volgehou dat hy sy eie vrede met die Engelse gemaak het in 1848, en het Pretorius hand en tand beveg; so sterk dat laasgenoemde se grootste probleem eintlik was oor hoe om ’n behoorlik lasgewing van die volk te verkry om met die Engelse te onderhandel. Anders sou Potgieter of die Volksraad die Kommandant-generaal kon repudieer, en op dié wyse alles laat misluk. In Transvaal was Pretorius slegs een van vier sodanige amptenare hoewel sy eie Krygsraad, wat Kommandant Paul Kruger en sy oom Gert ingesluit het, dit volkome eens was met hom, en hulle volledige toestemming gegee het tot die onderhandelinge met die Engelse.

Dit was egter nie genoeg nie. Dit was gebiedend noodsaaklik om die gesag van die Volksraad te verkry, en soos die liggaam toentertyd saamgestel was het dit hopeloos gelyk. Pretorius was ewenwel nie sonder getroue vriende in Ohrigstad nie en het besluit om opelik sy planne bekend te maak en die Volksraad sowel as Potgieter te vra om hom te ondersteun. Hy het die Volksraadsitting in Ohrigstad bygewoon en al die Potchefstroomse lede saamgeneem. Enkele van die opposisie was afwesig en Pretorius het sy lasgewing verkry.

Voordat hulle na die Vrystaat toe vertrek het, het sir Harry Smith Pretorius en van sy manne wat ook voëlvry verklaar was, hiervan onthef.  Met 'n indrukwekkende gevolg het Pretorius na Sandrivier getrek, in die Soevereiniteit waar hy op 17 Januarie 1852 die beroemde Konvensie gesluit het, wat ten volle "waarborgen van de zijde van het Brits Gouvernement aan die Emigrante boeren ten noorden van de Vaalrivier, het recht om hunne eigene affaire te bestieren,  hunlieden te regeren volgens hare eigene wetten, zonder bemoeienis hoe ook genaamd van het Britse gouvernement en dat geen overschrijding ten noorden van de Vaalrivier zal gedaan worden door gemeld goevernement.”

Die Britse Goewerment ontken verder "alle bondgenootschappen, hoe ook genaamd, ten noorden van de Vaalrivier met gekleurde rassen.”

Die Britse Goewerment het die Konvensie wat vanself die kroon gespan het op ’n lewe wat geheel en al gewy was aan die diens van sy volk, bekragtig, en die Volksraad het dit weer eens goedgekeur.

‘n Dramatiese versoening het tegelykertyd plaasgevind tussen Pretorius en Potgieter, en dit het gelyk of alles in die toekoms goed sou gaan.

Vervolg...