Lees reeks by 'n Eeu van Onreg
Een Eeuw van Onrecht — A Century of Wrong, deur F. W. REITZ bied 'n helder beeld van Engeland se politiek van reeds voor die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika waar hulle die Boer se lewe hel gemaak het. Tans word ons volk weer net so verdruk, vermoor en ondergrawe en is hierdie geskrif weer baie aktueel. Dié weergawe is deur J.J. Blom in 1939 uit Nederlands in Afrikaans vertaal.
Jingoïsme vervolg...
Die heer Rhodes, met die verraderlike dubbelsinnigheid wat die blywende kenmerk van die Britse politiek in Suid-Afrika is, het openlik in die nouste verband met die Koloniale Afrikaners gewerk, terwyl hy in die geheim met die jingoïsme ’n komplot teen die Afrikaners en die Afrikaanse republikeine gesmee het. In die Kaapkolonie het hy die Afrikaners onder sy heerskappy gehad; hy sou nou probeer om dieselfde invloed — nie so seer vir hom persoonlik nie as vir die kapitalisme waarmee sy belange vereenselwig was — in die Suid-Afrikaanse Republiek met sy ryk goudmyne te verkry. Slaag hy daarin, dan het hy sy persoonlike doel bereik en dan was die kapitaal absoluut despoot in Suid-Afrika.
Met die oog op hierdie doel gevestig, het hy en ander kapitaliste in 1892 ’n politieke agitasie in Johannesburg teen die Republiek op tou gesit. In ’n plek soos Johannesburg, waar baie drank gebruik word, waar weens die hoë ligging en die besigheidsdrang die gemoedere steeds in ’n opgewonde toestand verkeer en waar juis die mate van griewe bestaan wat bestem is om die skyn van waarheid aan denkbeeldige griewe te gee, was dit maklik genoeg om deur die gebruik van geld binne ’n kort tydjie ’n politieke gisting teweeg te bring.
Sodanig dan was die omstandighede waarin die "Nasionale Uniebeweging” in 1892 in Johannesburg begin is, en die aanhangers waarvan uitsluitend bestaan het uit kreature en "oogsieners” van kapitaliste en ’n klein aantal eerlike domkoppe en entoesiaste wat natuurlik nie diep genoeg dink om die doel en strekking van sodanige huigelagtige beweging te deurgrond nie. Die kapitaliste het hulle op die agtergrond gehou, sodat die beweging die skyn van ’n volksbeweging kon hê. Die kapitaliste van Johannesburg was egter ’n teatrale boel, en die verlange om naam te maak was vir hulle te groot om steeds onderdruk te word. En so het dit dan in die loop van ’n paar jaar gekom dat hulle hul natuurlike plek aan die spits van die "opera-bouffè”-agitasie ingeneem het.
Hulle het met die laagste en vuilste middels die Boerepolitiek begin ondermyn om hulself sodoende meester te maak van alle mynwetgewing en administrasie. Hulle het hulself en die wêreld wysgemaak dat die Boere ’n bedorwe en omkoopbare boel is en het dus dadelik na die geldwapen gegryp om laasgenoemdes te oormeester.
So het Lionel Phillips op 16 Junie 1894 aan Beit in Londen geskryf:
"Ek mag hier sê dat, soos u natuurlik weet, ek geen verlange na politieke regte koester nie, en ek glo dat die bevolking in sy geheel geneem, in hierdie opsig nie eersugtig is nie.
"Die bewaarplase-vraagstuk sal, na ek meen, in ons guns beslis word, maar teen ’n uitgawe van sowat £25,000.
"Dit is die plan om ’n goeie som geld te bestee ten einde ’n beter Raad te verkry; maar ek moet hier meld dat die bestee van geld by verkiesings deur die laaste wet tot ’n kriminele misdaad gemaak is en dat die saak dus versigtig aangepak, moet word.”
En op 15 Julie 1894 skryf hy aan dieselfde persoon:
"Ons troefkaart is ’n fonds van £10,000—£15,000 om die Raad te verbeter. Ek moet ’n plan bedink. Ongelukkig het die maatskappye geen gelde vir geheime dienste nie. Ons verlang nie om die hand in die eie sak te steek nie.”
Hier kry ons ’n blik agter die skerms en sien hoe die kapitaliste in 1894 reeds probeer het om ons openbare lewe te verlaag en te verniel deur middels wat selfs vir die strafwette van die land, laat staan nog die elementêre sedelikheid, nie stuit nie.
En het hulle geslaag? Is die volk en die Volksraad so omkoopbaar as wat hulle gedink het en soos hulle die wêreld nog steeds wil diets maak? Hul mislukking is die beste en mees afdoende antwoord hierop.
As omkopery op groot skaal nie by magte was om die kapitalisme oor die gemeenskap te laat seëvier nie, dan het die ander troefkaart van die politieke jingoïsme nog oorgebly. Die Hoë Kommissaris is gepols deur mnr. Phillips. En wat was die antwoord van sir Henry Loch, Haar Majesteit se verteenwoordiger in Suid-Afrika? In daardie selfde geheime brieweboek vind ons d.d. 1 Julie die volgende brief aan Wernher, ’n ander lid van die reuse firma Wernher, Beit en Kie.:
"Sir Henry Loch (met wie ek twee lang gesprekke alleen gehad het) het my enkele besonder positiewe vrae gestel, soos byvoorbeeld hoeveel gewere ons in Johannesburg het, of die bevolking hulle ses dae lank kon verdedig totdat hulp sou opdaag, ens., ens., en hy het uitdruklik gesê dat as daar 3000 gewere en ammunisie hier was, hy seker hierheen sou gekom het,” en so voort in dieselfde trant.
Sir Henry Loch het die waarheid van hierdie bewering bevestig deur twee jaar later openlik in die Hoërhuis te spog oor sy planne tot die doen van ’n inval in die Suid-Afrikaanse Republiek.
En dit het alles geskied terwyl hy die gas van ons Regering was en besig was met vriendskaplike onderhandelinge insake die belange van Britse onderdane. Tot watter lae peil het die Britse politiek in Suid-Afrika toe nie reeds gedaal nie! Binne twee jaar egter sou daar nog ’n dieper afgrond oopgaan.
Die geheime komplot van die kapitaliste en jingo’s om die Suid-Afrikaanse Republiek te oorrompel, het nou sterk begin aangroei, want juis in hierdie ernstige tydperk is die heer Chamberlain aangestel tot Minister van Kolonies. In die geheime korrespondensie van die samesweerders word gedurig na die Ministerie van Kolonies in Downingstraat verwys op ’n wyse wat, as dit in verband gebring word met die latere onthullings en onderdrukking van die waarheid, by die publiek oor die hele wêreld heen die indruk gelaat het dat die Ministerie van Kolonies toegetree het tot, so nie medepligtig was aan, die snode aanval op die Suid-Afrikaanse Republiek.
Dit is onnodig om die Jameson-inval in al sy besonderhede uiteen te sit. Die hele wêreld het nog nie vergeet nie hoe die Administrateur van ’n Britse gebied, ter uitvoering van ’n komplot aan die hoof waarvan die Eerste Minister van die Kaapkolonie gestaan het, met ’n gewapende mag die Suid- Afrikaanse Republiek binnegeval het ten einde die kapitaliste opstand van Johannesburg te help om die Boere-regering omver te werp; hoe die inval en die opstand deur die waaksaamheid van die Boere verydel is; hoe Jameson en sy rowerbende aan Engeland oorhandig is om tereggestel te word, hoewel die Boere die mag en die reg gehad het om hulle as rowers dood te skiet; hoe die hele boel Johannesburgse kapitaliste skuldig geblyk het aan hoogverraad en oproer; hoe, in plaas van al hul eiendomme volgens wet te konfiskeer en sodoende vir ewig die kapitalis die nek in Suid-Afrika in te slaan, die Regering hul grasie verleen het (’n grootmoedigheid wat hulle beloon het deur drie jaar daarna ’n nog gevaarliker agitasie teen die Republiek op tou te sit); hoe op aandrang van die Afrikanerparty in die Kaapkolonie ’n ondersoek na die oorsaak van die botsing gehou is, hoe daardie ondersoek ontaard het in ’n laag-hartige aanval op die Regering van die diepbeledigde Sufd- Afrikaanse Republiek; en hoe eindelik, toe die waarheid op die punt gestaan het om geopenbaar en die komplot tot sy hoofbron in die Britse Kabinet nagespoor te word, die kommissie skielik besluit het om die kompromitterende stukke nie openbaar te maak nie.
Hier sien ons tot watter diepte die groot en ou tradisies van die Britse konstitusionalisme gesink het onder die steeds aangroeiende en alle ander dinge verswelgende geldgees en in die hande van ’n skerpsinnige groothandelaar wat, soos ’n Cleon van ouds, homself as ’n staatsman opgewerp het!
Verraad en geweld kon hul doel nie bereik nie en dus, soos die heer Rhodes openlik voor die gemelde kommissie van ondersoek gespog het, sou "konstitusionele middele” aangewend word om die kapitalistiese jingoïsme meester van die toestand in Suid- Afrika te maak.
KAPITALISTIESE JINGOïSME: TWEEDE PERIODE – Vervolg...