'n Lewenskets van President S.J.P. Kruger
Deur D.W. Kruger
Lees reeks by Paul Kruger
Herkoms en Jeugjare
Die dorp Sadenbeck lê langs die grootpad na Rostock omtrent 135 kilometer van die ou Pruisiese hoofstad Berlyn. Dit is ’n boeredorp op ’n groot sanderige gelykte, suid van ’n meer opwindende landskap wat deur woude en mere onderbreek word. In hierdie grensgebied wat hom tot aan Mecklenburg uitstrek, kweek die boere aartappels en suikerbeet en verder hou hulle varke en melkkoeie aan om in hulle eie onderhoud te voorsien.
Daar het die familie Kröger sedert jare gewoon en gewerk. Soos die naam aandui, was hulle bekermakers, waarskynlik silwersmede van herkoms. Die langdurige oorloë waaraan die markgrawe en keurvorste van Brandenburg deelgeneem het, het ’n gevoel van onveiligheid laat posvat en soms armoede en ontbering meegebring. Die boerderye was buitendien klein en geld om grond te koop, was daar nie. Vir die seuns was die vooruitsigte nie rooskleurig nie en die wat kon, het uit die ouerhuis padgegee en ’n heenkome elders gesoek.
Dit was ook die geval met Jacob, ’n seun van die jong egpaar Franz Kröger en sy vrou Elizabeth, gebore ’n nooi Hartwigs. Jacob is op 28 Julie 1690 gebore en drie dae later in die Lutherse kerkie aldaar gedoop. Franz Kröger is in 1710 oorlede toe hy nog glad nie ’n ou man was nie en sy weduwee het hom tot 1747 oorleef. Maar nie lank na sy vader se dood nie het Jacob, wat waarskynlik nie die oudste seun en erfgenaam van die grond was nie, sy ouerlike woning verlaat en, soos so baie ander Duitsers, hom as soldaat in diens van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie begeef. Dit was ’n groot waagstuk wat moed en durf vereis en op ’n sterk gevoel van onafhanklikheid gedui het. Die drang na die vreemde en avontuurlike en die hoop op ’n beter toekoms moes daarby ’n aansienlike rol gespeel het. Die Kompanjie het geleenthede gebied aan elke ondernemende jong man. Dit was die poort na die fabelagtige Ooste waar daar baie kanse was wat Europa nie meer kon bied nie. Wat die lotgevalle was van die jong Kruger, soos hy sy naam geskryf het, kan nie meer vasgestel word nie, behalwe dat hy as gevolg van ’n ongeluk een van sy hande kwytgeraak het. Hierdie ongeluk het plaasgevind in 1713, kort nadat hy met die skip Middelwout aan die Kaap geland het.
Hoewel hy nog ’n paar jaar lank soldaat gebly het, is hy van 1714 tot 1717 deur die Kaapse owerheid as boukneg aan die burger Willem ten Damme uitgeleen; daarna vir ’n tydjie aan Ernst Mostert van Stellenbosch. Reeds in 1716 het hy aansoek gedoen om burgerregte waarvoor hy moes wag tot 11 Januarie 1718. Van toe af was hy, reeds ouer as 27 jaar, ’n Kaapse vryburger met heelwat kennis van die boerdery. Op 1 Mei 1718 het hy getrou met Johanna Kemp, ’n dogter van Nicolas Kemp en Cecilia Swerisse. Johanna was ses jaar jonger as haar man.
Hulle, die Kaapse stamouers van Paul Kruger, het ’n eie boerdery begin, maar dit het nie so maklik gegaan nie, want sedert verskeie jare het die Kompanjie nie meer eiendomsgrond uitgegee nie. Die mark vir landbouprodukte was swak en die enigste uitkoms vir die meeste jong beginners was die veeboerdery. Die wêreld dieper na die binneland het nog oopgelê en die owerheid het geredelik verlof aan vryburgers gegee om hulle oorkant die grense van die Kaapse nedersetting te vestig. Weilisensies is aan hulle toegestaan, maar geen eiendomsregte nie.
Dit was die begin van die Trekboerbeweging, die groot faktor wat die uitbreiding van die kolonie in die 18de eeu veroorsaak het. Ook die Krugers in Suid-Afrika was van die begin af daarby. Hulle het veeboere geword en het in die loop van daardie eeu vinnig oor die groot binnelandse hoogvlakte versprei. As gevolg van ondertrouing met meisies van Hollandse of Franse herkoms het hulle lidmate van die Hollandse kerk sowel as Calviniste geword. Saam met baie ander immigrante uit Duitsland en elders is hulle deur die oorspronklike nedersetters geassimileer en het hulle Afrikaners geword. Hulle het hulle aangepas by die landstoestande en lewensomstandighede en ’n eie lewenstyl ontwikkel.
Anders as die oorspronklike vryburgers was dit asof niks hulle aan die omgewing van die Kaap of aan Nederland gebind het nie, behalwe hulle godsdiens en die kerk. Terwyl in Nederland self die Calvinisme in die loop van die 18de eeu verstar en onder die invloed van die heersende gedweep met rede of rasionalisme geraak het, het die Krugers, soos die meeste Kaapse trekboere, aan die ou Gereformeerde waarhede vasgehou. In daardie opsig het die Hollandse Statebybel saam met die preke en stigtelike werke van die Gereformeerde skrywers ’n groot rol gespeel. Dit was van groot betekenis as ’n beskawende invloed te midde van omstandighede wat maklik kon lei na vereensaming en bandeloosheid. Kerke en predikante was yl verspreid, daar was feitlik geen gereelde onderwys nie en die Kompanjie wat die wêreldlike gesag verteenwoordig het, was nie in staat om ’n behoorlike orde deur dwang te handhaaf nie. Die ouerlike huis was die middelpunt van die Christelike samelewing in die binneland, en op die ouers het die groot verantwoordelikheid gerus om hulle kinders in die voorvaderlike geloof te onderrig. Daarvoor was dit ook nodig om hulle terselfdertyd te leer lees en skryf. Dit was nie veel nie, maar voldoende om hulle te bewaar van ongeletterdheid. Die lewenstyl en lewenspatroon van die Trekboere het ’n tradisie geword wat met hulle saam oor die binnelandse hoogvlaktes van Suid-Afrika versprei is. Teen die begin van die laaste kwart van die 18de eeu het hierdie Afrikaners reeds deurgedring tot aan die Visrivier in die ooste en tot aan die Suurberge in die noorde, byna tot aan die Grootrivier. Hulle het steeds beweeglik gebly en op hulle eenvoudige wyse die draers geword van die blanke Christelike beskawing.
Ook die familie Kruger het sy aandeel hierin gehad. Terwyl stamvader Jacob nog in die Sandvlei noord van die Kaap geboer het, het sy seun Hendrik wat in 1725 gedoop is as die sesde van agt kinders, deur die Roggeveld getrek en reeds voor 1780 die omgewing van Graaff-Reinet bereik. Hy is in 1793 aldaar oorlede. Uit sy huwelik met Francina Cloete in 1748 is ’n talryke geslag gebore, tien seuns en agt dogters. Dit was kinderryke huisgesinne wat terselfdertyd steeds groter veebesitters geword het.
Hendrik Kruger se tweede seun Gert, gebore in 1750, het reeds 100 beeste en 1000 skape gehad. Hy was bedeeld met heelwat gesonde verstand en politieke vernuf, want in ’n tydperk toe die wilde Boesmans die lewe byna ondraaglik gemaak het deur hulle roof- en plundertogte en die woedende boere op hulle jag gemaak het, het hy gepleit dat daar eerder ’n beleid toegepas word om hulle te tem en te leer om vee nie as wild te beskou nie. In 1786, die jaar toe die nuwe drosdy, Graaff-Reinet, gestig is, het Gert Kruger reeds op die plaas Soutpansdrif aan die Brakrivier, noord van die latere Gradock geboer.
Sy vierde seun Stephanus Johannes, is in 1778 in dié omgewing gebore. Uit die huwelik van Stephanus met Sophia Margaretha Steenkamp in 1798 is gebore Casper Jan Hendrik Kruger, die vader van Paul Kruger. Hy, sowel as sy ouer broer Gerrit Johannes, was bestemd om leiersrolle gedurende die Groot Trek te speel. Dit was woelige jare, want in 1795 het die Engelse die Kaapkolonie in besit geneem en die boere van Graaff-Reinet het hulle nie maklik daarin berus nie en selfs in gewapende opstand gekom. Dit skyn nie of Stephanus Johannes daaraan deelgeneem het nie, want hulle soort was mense wat die owerheid wat oor hulle gestel was, as van God geordineer beskou het. Met die Slagtersnek-rebellie van 1815 was dit weer die geval. Stephanus Johannes was toe in die fleur van sy lewe, nog geen veertig jaar oud nie, en die twee seuns Gert en Casper was reeds weerbare jong kêrels. Hulle aandag was by hulle boerdery, te ver van die woelige Oosgrens van die kolonie om griewe teen die regering te hê.
Hulle het gewoon in ’n landstreek wat arm aan water was en wat periodiek geteister is deur droogtes, sprinkane en trekbokke wat die weiding verniel en hulle gedwing het om van tyd tot tyd na beter weivelde te trek. Die beste plase in die noordelike dele van Cradock was reeds besit en dit het steeds moeiliker gegaan vir jong beginners om op die been te kom. Dit was veral die geval met Casper wat van plaas tot plaas in die omgewing getrek het. Die rondtrekkery met die vee was ’n soort voorbereidingskool vir die latere groot landverhuising tydens die Groot Trek na die noorde. In 1818 het die jong Casper wat op 17-jarige ouderdom reeds as volwasse beskou is, hom op die plaas Rietfontein gevestig, in die wyk Brakrivier van Cradock, aan die suidelike uitlopers van die Suurberge. ’n Paar kilometer oos van hom het die Steyns op die plaas Bulhoek gewoon en daar het Casper kennis gemaak met en verlief geraak op die jong Elsie, dogter van Douw Steyn, ’n vermoënde veeboer.
Soos die Krugers het ook die Steyns uit ’n ou Kaapse geslag gestam. Hulle voorvader was Douw Gerbrand Steyn uit Leeu- warden, Gröningen, in die Nederlande, wat in 1668 na die Kaap gekom en daar getrou het. Sy kleinseun, Douw, wat in 1747 gedoop is, was ’n burger van Swellendam en sy naaste bloedverwante het ’n aansienlike rol gespeel in die stryd teen die Kompanjie in die laaste kwart van die 18de eeu. Hierdie Douw se seun, ook Douw Gerbrand, is in 1777 gedoop en toe hy grootgeword het, het hy na Graaff-Reinet verhuis waar hy in 1795 getroud is met Alida Barendina van der Walt. Hulle het veertien kinders gehad en gewoon op die plaas Gannavlakte aan die Visrivier, enkele kilometer suid van die latere Cradock. Daar is hul dogter Elsie Francina op 6 Mei 1806 gebore. Toe sy drie jaar oud was, het die gesin verhuis na die plaas Bulhoek. aan die voet van die Suurberg. sowat 24 kilometer van die latere dorp Steynsburg. Daar het Elsie grootgeword en kennis gemaak met die jong Casper Jan Hendrik Kruger wat sowat 14 kilometer wes daarvan geboer het.
Albei was nog onmondig, maar volgens die gebruik van die tyd het hulle jonk getrou. Op 3 September 1820 is die huweliksband op Cradock gelê deur ds. John Evans, en omdat Casper nog nie ’n selfstandige boer was nie, het die jong paartjie voorlopig hulle intrek geneem by Elsie se ouers op Bulhoek. Daar is hulle eerste kind, ’n dogter, op 21 Junie 1821 gebore. Kort daarna het hulle hul gevestig in die aangrensende wyk, Renosterberg, waar hulle tweede kind, Douw Gerbrand, in 1823 gebore is. Hulle het nog ’n keer verhuis, hierdie keer na Soutpansdrif, Casper se vader se plaas in dieselfde wyk, en daar gewoon tot die winter van 1825. Dit was die jaar van een van die periodieke groot droogtes wat die boere weer aan die trek gesit het.
Noord van die Suurbergreeks, in die wyk Agter-Suurberg, was dit ’n bietjie beter gesteld en die Krugers het daarheen versit. Vir Casper en Elsie was die tydstip van verhuising erg ongeleë. Sy het haar derde baba verwag en hulle het nie verder getrek nie as die gasvrye Bulhoek waar vader Douw Steyn hulle weer eens ’n onderdak gegee het. Daar, op 10 Qktober 1825 is die seun Stephanus Johannes Paulus Kruger gebore. Hy is vernoem na Casper se vader met die byvoeging van die naam Paulus, om ’n onbekende rede. Onder die vreemde naam, Paul, het hy opgegroei en wêreldberoemd geword.
Nadat hy op 19 Maart 1826 op Cradock gedoop is, het sy ouers met die hele gesin hulle ook in Agter-Suurberg gevestig. In daardie omgewing is nog vier kinders gebore en almal in die nader-geleë Colesberg gedoop. Die jongste kind was pas vyftien maande oud toe haar moeder Elsie oorlede is. Paul Kruger se moeder het slegs 27 jaar oud geword, maar sy het ’n seun nagelaat wat diep spore in die geskiedenis van die Afrikanerdom getrap het. Hy was bestem om die grootste van alle Afrikaners te word, nie slegs deur sy persoonlikheid en sy karakter nie, |maar omdat deur sy toedoen die lotgevalle van sy volk blywend en beslissend beïnvloed is.
Met sy broers en susters het die jong Paul sy onderrig in die groot Christelike waarhede van sy vader en moeder ontvang. In ’n tyd toe formele skoolonderrig in die buitedistrikte nie bestaan het nie, en selfs die kerklike bearbeiding weens die groot afstande slegs sporadies geskied het, het die ouers self die verantwoordelikheid gedra om hulle kinders ’n Christelike opvoeding te gee. Dit het die pioniers van die grensdistrikte van verwildering gered. Die vernaamste leesstof was die Hollandse Bybel met sy verklarende aantekenings en enkele Nederlandse godsdienstige boeke in die vorm van Skrifkommentare, predikasies en oordenkings waaruit Sondae gereeld gelees is. Die daaglikse huisgodsdiens is nougeset gehou en so is van geslag op geslag die voorvaderlike Calvinistiese geloof oorgedra.
So is Paul Kruger se lewensbeskouing gevorm met ’n geloof wat vas verankerd was in die Bybel. Dit is gevoed deur die lewensomstandighede van die tyd : die blootstelling aan die magte van die natuur en die afhanklikheid van die genade en almag van God. Die Bybel was daarby nie net die bron van die geloof nie, maar vir die eensame pioniertrekboere ook die Boek van alledaagse kennis en wysheid, die troue metgesel op die lang tog deur die woestyn van die lewe.
Paul Kruger het ook enkele maande bietjie skoolonderrig ontvang van ’n tydelike onderwvser, ’n sekere Tielman Roos. Soos die meeste kinders van sy omgewing kon hy redelik goed lees, hoewel sy handskrif nie van die beste was nie. Hy kon wel sy gedagtes duidelik op skrif stel.
Die jong Paul was sterk gebou, met breë skouers en lang bene, bruin oë en hare, en as jong kêrel rats en atleties. Soos die ander seuns moes hy help met die vee, en in die veld het hy ’n intieme kennis opgedoen van die plante en diere. Dit het hom liggaamlik hard gemaak, maar dit was ook ’n deel van die invloede wat sy persoonlikheid help vorm het.
In 1834 het sy vader hertrou met Heiletje Lavina Etresia du Plessis, by wie hy ’n hele paar kinders gehad het. Sy was ’n goeie moeder vir haar stiefkinders en Paul Kruger het in later jare steeds met lof van hierdie tweede moeder van hom gepraat.
Die volgende jaar het Casper met sy nuwe vrou en die hele gesin uit die Kolonie verhuis en hom in die gebied langs die Caledonrivier gevestig, oorkant die Grootrivier, waar daar veel beter weiding was. Dit was by die Trekboere ’n gewoonte om in tye van droogte daarheen te trek, hoewel hulle nog steeds die koloniale owerheid erken het. Hulle het gereeld na die Kolonie teruggekeer om hulle kinders te laat doop en die Nagmaal by te woon. Familie- en ander bande met die Kolonie was nog steeds sterk en hulle was mense wat weens hulle agtergrond en opvoeding ’n groot ontsag vir die wêreldlike owerheid gekoester het. Ver verwyderd van die onveilige Kaapse oosgrens het hulle geen persoonlike grief teen die Britse grensbeleid gehad nie. Die aard van hulle boerdery het hulle minder afhanklik van slawe-arbeid gemaak en in hulle afsondering het hulle weinig in aanraking gekom met die knelpunte van die Britse administrasie. Die tydelike en later die permanente verhuising van die Krugers uit die Kolonie het dus geen politieke betekenis gehad nie. Hulle was Trekboere wat deur omstandighede Voortrekkers geword het. As praktiese veeboere het die trekgees hulle sterk beïnvloed, en as gemeenskapsmense wou hulle nie in afsondering agterbly nie, maar met die groep saam beweeg.
Dit is die verklaring ook van die omvorming van Paul Kruger as trekboerkind na Voortrekkerkind. Saam met die familie het hy politiekbewus geword op ’n tydstip toe daar feitlik ’n politieke ontploffing tussen die Afrikaners plaasgevind het. Hulle kon net so min soos hulle tydgenote die gevolge daarvan vryspring. Juis gedurende ’n tydperk toe ’n groot deel van die Afrikanerdom in beweging gekom het in ’n algemene immigrasie uit die oostelike grensdistrikte in ’n noordelike rigting oor die Grootrivier, is Gasper Kruger, sy vader, sy broers en hulle gesinne meegesleur in die algemene uittog.
Vir hulle was dit nie so moeilik om hulle lot in te werp met die Voortrekkers nie, want onder die volgelinge van Andries Hendrik Potgieter wat in 1836 uit die omgewing van die Tarka getrek het, was daar baie ou kennisse, familie en vriende soos bv. die Du Plessis-gesinne uit Tarka. Jare later sou die bande met hulle verder verstewig word toe die jong Paul, met ’n dogter uit hulle midde getroud is.
Die ontmoeting met die Potgietertrek in die suidoostelike Vrystaat was ’n beslissende gebeurtenis in die lotgevalle van die Krugers en van Paul Kruger in die besonder. Hulle het besluit om die Kolonie vir goed te verlaat en hulle trou aan die Britse owerheid vaarwel te sê. Dit was die begin van ’n nuwe tydperk waarin die jong seun deelgenoot geword het van die lotgevalle van die Potgietertrek.
Paul Kruger, die Voortrekker – vervolg...