'n Lewenskets van President S.J.P. Kruger
Deur D.W. Kruger
Lees reeks by Paul Kruger
Kruger, die Vryheidstryder
Die tydperk van 1877-1881 was ’n keerpunt in die geskiedenis van Suid-Afrika. Dit het begin met die anneksasie van die Suid-Afrikaanse Republiek in April 1877 en ten einde geloop met die Pretoriase Konvensie van Augustus 1881 waardeur die vryheid van die Transvaal herstel is. Daartussen het die lydelike verset en die vryheidstryd van die Transvalers gelê, gebeurtenisse wat ook vir die res van die Afrikanerdom bevrugtend en besielend en van onskatbare betekenis was.
Die suksesvolle weerstand teen die Britse oorheersing was hoofsaaklik die werk van een man, Paul Kruger. Gedurende daardie jare het hy ontwikkel tot ’n diplomaat en staatsman van formaat wat ook ver buite die grense van sy eie land gehuldig is. Dwarsdeur Suid-Afrika het nasionaalvoelende Afrikaners na hom as ’n voorvegter vir hulle regte opgesien. Terwyl die anneksasie van die Transvaal byna met swygende gelatenheid deur die meeste Transvalers aanskou is en daar weinig tekens van verset teen die hooghartige Britse optrede was, het Paul Kruger, vergesel deur dr. E. J. P. Jorissen, voorheen staatsprokureur van die Republiek, na Londen vertrek. As sekretaris van die deputasie het W. Eduard Bok opgetree.
Kruger se taak was uiters moeilik, want hy het geen geleentheid gehad om die volk te raadpleeg nie en hy het gevolglik nie geweet of sy sending om teen die anneksasie te protesteer, enige openbare steun geniet het nie. Daarby was hy as ongeleerde man onbekend met die vreemde wêreld daarbuite. Om sake te vererger, was sy metgesel, Jorissen, geensins geesdriftig vir die saak nie. Wesenlik moes hy alleen en eensaam die taak aandurf om in die hoofstad van Brittanje ervare Britse staatmanne te oorreed dat die anneksasie teen die wil van die volk was en om dit ongedaan gemaak te kry. Vir dié taak was hy swak toegerus, want hy het nie eens Engels geken nie. Tog het hy nie teruggedeins nie. In regeringskringe in Londen was hy bekend as die Ieier van slegs die "Dopperseksie”, die onversetlike republikeine, maar niks meer nie.
Die dag voor hulle vertrek, het Kruger en Jorissen ’n onderhoud met Shepstone in Pretoria gehad. Voorlopig was hulle nog lede van die regering, hoewel sonder funksie. Shepstone het van die onderhoud verslag gedoen aan die minister van koloniale sake, lord Carnarvon, en hom op hulle koms voorberei. Hy het die minister verseker dat hulle sending ’n blote formaliteit was, en dat albei in geval van ’n mislukking tog in die anneksasie sou berus. Shepstone het Paul Kruger egter heeltemal onderskat, hoewel sy brief aan die minister die taak van die deputasie vooraf tot mislukking gedoem het. Om te verseker dat die Britse regering die nuwe Transvaalse kolonie nie sou prysgee nie, het hy verder ook na Londen laat weet dat die volk tevrede was met die toestand soos geblyk het uit die verwelkoming wat hy persoonlik ondervind het tydens ’n rondreis deur die land kort daama.
Intussen het Kruger en Jorissen per poskoets na die suide vertrek, ’n lang en moeisame tog. Die spoorweg van Kaapstad na die noorde was destyds nog net tot by Worcester voltooi. In Kaapstad het die deputasie ook met die goewerneur, sir Bartle Frere, ‘n onderhoud gehad. Ook hy het per brief aan Londen daartoe bygedra om die afgevaardigdes in diskrediet te bring. Terselfdertyd was dit selfs vir die goewerneur duidelik dat Paul Kruger selfs in Kaapland en veral in die Boland ’n aansienlike mate van steun geniet het, veral in die kringe van die Eerste Taalbeweging. Die manne het ’n innerlike verbondenheid met die Transvaalse onafhanklikheidstrewe aangevoel. In hierdie verband was dit ds. S. J. du Toit wat steeds meer op die voorgrond getree het. Hier was ’n vroeë nasionale beweging in wording.
Reeds op 5 Julie 1877 het die deputasie sy eerste samespreking met lord Carnarvon in sy kantoor in Downingstraat gehad. Die goedgemanierde edelman het hulle beleef ontvang en aangehoor. Hulle het ’n skriftelike verklaring voorgelê waarin hulle die anneksasie verwerp as teen die wil van die volk, die stigters van die Republiek, die pioniers van die beskawing en die Christendom. Dit was strydig met die Sandrivierkonvensie en nie in belang van Suid-Afrika as geheel nie. Dit sou buitendien die verwesenliking van ’n gesamentlike inboorlingbeleid verydel. Carnarvon het geantwoord dat hy hulle gevoelens verstaan maar dat daar geen hoop bestaan dat die anneksasie ongedaan gemaak kon word nie. Hy was simpatiek teenoor Kruger wat aangedring het op die behoud van die Hollandse taal en die Boere se ou instellinge, hulle tradisies en hulle lewensgewoontes. Daar was geen rede waarom dit nie alles behoue kon bly nie, maar die anneksasie was finaal. Die Boere se belange sou ook onder die Britse kroon behartig word.
By ’n tweede onderhoud, agt dae later, het Jorissen sy mede- afgevaardigde in die steek gelaat en gekompromiteer deur aan die minister te verklaar dat hulle in die anneksasie berus. Paul Kruger het nou met ’n nuwe taktiek voor die dag gekom. Hy het verklaar dat slegs ’n tevrede volk tot daardie voorspoed wat die minister beoog, kon meehelp en deur ’n amptelike volkstemming kon die ontevrede minderheid tot ander insigte gebring word.
Carnarvon het egter besef dat ’n volkstemming gevare ingehou het vir die Britse bewind in die Transvaal en geweier om dit toe te staan. By ’n volgende onderhoud op 18 Julie het die minister ’n sterker houding ingeneem, want hy was nou in besit van inligting uit die Transvaal dat Paul Kruger glad nie ’n verteenwoordiger van die volk was nie, maar slegs van ’n kerklike groep. Met verbystering moes Kruger dit aanhoor, want dit het sy laaste hoop dat hy miskien iets kon bereik, vernietig.
Met die laaste onderhoud op 10 Augustus was Carnarvon vasberade om die anneksasie te handhaaf, maar hy was bereid om geldelike hulp vir die ontwikkeling van die land toe te staan, die belange van Blankes teenoor die Swartes te beskerm, en om die Hollandse taal te behou. Kruger het egter koppig bly aandring op ’n volkstemming, maar dit was duidelik dat die sending na Engeland sy doel nie bereik het nie. Andersins was die ontvangs hoflik en die minister het die deputasie selfs gasvry op sy landgoed, Highclere, onthaal. Voor hulle terugkoms het Kruger nog besoek afgelê aan Nederland waar hy o.a. kennis gemaak het met Gereformeerde kerklike kringe en sy kennis vermeerder en sy blik verbreed het. Sy persoonlikheid het daar, soos elders, ’n diep indruk gemaak.
Midde-November is die lang terugreis aanvaar en op 20 Desember 1877 was die deputasie terug in Pretoria. Paul Kruger het sy vaderland as ’n onervare politikus verlaat en in Europa het hy vir die eerste keer kennis gemaak met die weë van die wêreld en die diplomasie. Hy het teruggekeer met meer rypheid en selfvertroue. Dit was die eerste stap in sy ontwikkeling tot staatsman en dit het hom bekend gemaak en op die voorgrond gestel, in Suid-Afrika en ook in Brittanje. Van nou af moes hy rusteloos arbei om die lydelike verset van die volk wat besig was om ’n vaste patroon te vorm, te beheer. Vir die eerste keer was daar tekens dat die volk alles behalwe tevrede was en daar was ’n spontane weerstand teen die Shepstone-administrasie. Kruger was verras om op te merk dat Shepstone se optimisme op ’n misrekening gebaseer was. In sy eie Rustenburgse omgewing is Kruger gehuldig as leier en toe hy in Januarie 1878 in Pretoria aankom, is hy feestelik ontvang. Op ’n groot vergadering in die dorp het hy verslag van sy sending gedoen en die publiek het duidelik hul misnoeë laat blyk oor die swak houding wat Jorissen in Londen ingeneem het. Hy het inderdaad reeds die volgende dag die eed van trou as staatsprokureur onder die nuwe bewind afgelê. Eers veel later sou hy hom verbind met die vryheidsbeweging en waardevolle dienste bewys.
Inmiddels het die Pretoriase publiek ’n volkskomitee benoem wat as skakel moes dien tussen Kruger en die volk en op ’n openbare vergadering is sy voorstel aanvaar om ’n volkstemming te hou. Dit sou wel nie-amptelik wees, maar kon tog nuttig wees om aan die Britse Regering te toon dat die Republiek wel teen die sin van die volk geannekseer was. Shepstone was erg gesteurd oor die verloop van sake omdat hy besef het dat so ’n stemming sy bewind kon ondermyn. Hy het druk uitgeoefen op Kruger om sy agitasie te laat vaar, maar laasgenoemde het hom nie van stryk laat bring nie. Hy het sy oogmerke om hom vir die herstel van die Republiek te beywer, openhartig en skriftelik aan Shepstone uiteengesit en ook getuig van sy geloof in die regverdigheid van die Britse Regering wat aan die Boere reg sou laat geskied.
Met die volkstemming wat per ondertekende memori sou plaasvind, is voortgegaan.
Op ’n volkskongres te Doornfontein is vasgestel dat 659 stemme teen die anneksasie uitgebring is. Slegs 587 stemme het ten gunste daarvan gestem. Terselfdertyd is Kruger en Piet Joubert gekies om as ’n nuwe deputasie na Engeland te gaan om die uitslag van die volkstemming aan die Britse regering oor te dra. Hierdie keer was die deputasie se posisie veel sterker as tevore, gesien die oorweldigende meerderheid wat die anneksasie ongedaan wou maak. Onderwyl die deputasie op reis was, het Shepstone andermaal alles in sy vermoë gedoen om hulle sending te verongeluk. Intussen het Carnarvon as gevolg van ’n geskil oor die Britse beleid teenoor Turkye uit die kabinet bedank om plek te maak vir Michael Hicks-Beach, ’n koue, ongenaakbare en selfs onbeskofte politikus wat nog minder as sy voorganger geneë was om aan die beroep van die deputasie gehoor te gee.
Die 29ste Junie 1878 het Kruger en Joubert in Londen aangekom en op 10 Julie het hulle ’n onderhoud met die minister gehad, en ’n lang stuk wat deur Bok opgestel is, aan hom oorhandig. Hulle het daarin al die ou argumente ten gunste van die herstel van die onafhanklikheid van die Transvaal herhaal, maar Hicks-Beach het geweier om te onderhandel. Hy sou later skriftelik antwoord op hulle vertoë. Eers toe hulle hom weke later daaraan herinner, het hy hulle van ’n antwoord bedien. Andermaal het hy beweer dat hulle nie die hele volk verteenwoordig nie en geweier om die anneksasie te herroep.
Bitterlik teleurgesteld het Kruger en Joubert na Nederland gereis en daar vasgestel dat die Nederlandse regering reeds op die hoogte van sake gebring is deur die Hollandse gesant in Londen. Die regering, hoewel simpatiek, was egter nie by magte om iets vir die Transvalers te doen nie. Na ’n kort maar vrugtelose besoek aan Parys en Berlyn het hulle na die Britse hoofstad teruggekeer en ’n laaste afskeidskoot afgevuur deur aan Hicks-Beach te skryf dat enige vrywillige federasie van kolonies in Suid-Afrika voortaan tot mislukking gedoem was. In November 1878 was hulle terug in Suid-Afrika. Onderweg na Pretoria het hulle deur Natal gereis waar sir Bartle Frere juis vertoef het i.v.m. die dreigende Zoeloe-oorlog. In Pietermaritzburg het hulle ’n onderhoud met hom gehad. Frere het druk op Kruger en Joubert uitgeoefen om hulle met die Britse bewind te versoen en beloof dat hy die Transvaal sou besoek en ’n grondwet sou invoer waardeur die land plaaslike selfbestuur sou kry.
Kort na Paul Kruger se terugkeer in Pretoria het Shepstone hom op versoek van Frere genader om ’n Boere-kommando op die been te bring om die Britte teen die Zoeloes by te staan. Hy het geantwoord dat hy dit sou doen indien hy as beloning die vryheid van Transvaal sou kry. Intussen het hy en Joubert ’n heel ander stemming onder die volk aangetref as die jaar tevore. Die stemming teen die Britse administrasie was vrywel algemeen. Jorissen is uit sy pos as staatsprokureur ontslaan en De Volkstem, die vernaamste Hollandse koerant in die land, het openlik sy simpatie met die vryheidsbeweging laat blyk.
In ’n poging om die toestand te verbeter, het die Britse Regering Shepstone as administrateur vervang deur sir Owen Lanyon, ’n ongelukkige benoeming, want Lanyon se geaardheid en taktiek was nie daarop ingestel om die Boere met sy bewind te versoen nie. In Maart 1879 het hy die bewind aanvaar en van nou af het die ongeduld van die Boere steeds sterker gegroei. Terwyl die Britse owerheid oorhoop gelê het met die Swartes dwarsdeur Suid-Afrika, en oorloë moes voer teen die Xhosas, die Zoeloes en selfs die Bapedi van Sekoekoeni, het die Boere nie stilgesit nie.
In Januarie 1879 het die deputasie sy eerste verslag van sy sending op ’n volksbyeenkoms te Wonderfontein naby Potchefstroom gedoen. Daar het dit geblyk dat die eensgesindheid en vasberadenheid onder die burgers sterk aangewas het. Daar is selfs aangedring op gewapende verset, maar Paul Kruger het kalmerend opgetree en die gemoedere het bedaar. Sy taak as leier is vergemaklik deur die sterk daling van die Britse aansien in Suid-Afrika, die flaters van die administrasie in Pretoria en die onsimpatieke en ontaktvolle optrede van Lanyon.
Tevergeefs het Frere persoonlik na die Transvaal afgereis en langs die pad besoek gebring aan ’n groot nuwe volksbyeenkoms op die plaas Kleinfontein, naby Heidelberg. Frere was diep beïndruk deur die houding van die duisende burgers wat daar byeen was, en het op 12 April ’n persoonlike samespreking met die Boereleiers gehad. Hy het sy meegevoel met die Transvalers betuig en beloof dat hy die toedrag aan Londen sou rapporteer. Amptelik het hy egter daarna die moontlikheid van militêre optrede teen die Boere geopper en gewens dat hy die vergadering uitmekaar kon skiet. Intussen het Paul Kruger ’n ernstige beroep op die Goewerneur gedoen om te help om reg aan hulle te laat geskied, maar Frere wou hom nie laat bind nie. Op ’n dreigement van Frere dat hy die leiers verantwoordelik sou hou vir enige iets wat kon gebeur as hulle met hul verset volhard, het Paul Kruger geantwoord dat hy aan sy eie gewete verantwoordelik was. Hy sou sy verantwoordelikheid nie op die volk afskuif nie en hy het nog altyd probeer om die volk binne die perke van die wet te hou.
In ’n onderhoud ’n paar dae later te Pretoria, het die Goewerneur andermaal by Kruger gepleit vir samewerking, maar die Boere-leier het geweier, al sou die volk ook daarby baat. Hy het nog steeds geglo dat geregtigheid sou seëvier en dat die Britse Regering die Transvaal se onafhanklikheid sou herstel. Intussen het hy die jonger en opgewonde element in eie geledere in bedwang gehou, maar die Britse Regering in Londen het nie geantwoord op ’n nuwe beroep wat deur middel van Frere na Engeland gestuur, is nie.
In hierdie stadium, September 1879, het ’n belangrike administratiewe verandering plaasgevind toe Frere onthef is van verdere verantwoordelikheid vir die Transvaal. Sy funksies is tot die Kaap beperk terwyl genl. sir Garnet Wolseley as Goewerneur van Transvaal en Hoë Kommissaris vir daardie gebied so wel as vir Natal benoem is. Wolseley was geen diplomaat nie en anders as Frere wou hy deur strengheid Boere se weerstand breek. In ’n proklamasie na sy aankoms in Pretoria het hy verklaar dat die Britse Regering vasbeslote was dat die Transvaal vir altyd ’n integrale deel van Brits Suid-Afrika sou bly. ’n Aanbod aan Paul Kruger om in die nuwe regering te dien, is deur Kruger van die hand gewys, want samewerking met Wolseley op so ’n grondslag was vir hom ten ene male onmoontlik.
Hy het as leier van die lydelike versetbeweging nie gedink aan die verslapping van die veldtog nie en intussen het die volkskomitee, wat in 1878 in die lewe geroep is om die verset te organiseer, ’n verdere volksbyeenkoms belê, hierdie keer op die plaas Wonderfontein. Die duisende mense wat byeengekom het, het getuig van hulle vasberadenheid om hulle. nooit aan die Britse gesag te onderwerp nie en daar het stemme opgegaan dat die tyd aangebreek het om die wapens op te neem. Paul Kruger het egter tot versigtigheid gemaan. Op 15 Desember 1879 is eenparig besluit dat die regering van die Republiek so gou moontlik weer in funksie moet tree en die Volksraad byeengeroep moet word. Geweld sou nie gebruik word nie, maar die Britse administrasie in Pretoria sou geïgnoreer word. Die volgende byeenkoms is bepaal te Paardekraal op 6 April 1880.
Vir Paul Kruger was die byeenkoms te Wonderfontein ’n mylpaal in sy lewe. Daar is sy naam vir die eerste keer genoem as ’n moontlike President van die Republiek, hoewel hy geweier het om die amp te aanvaar. Daar kon geen verdere twyfel wees nie oor die hoë aansien wat hy verwerf het en wat bo alle partyskappe uitgestyg het. Intussen het die anti-anneksasiebeweging ’n breë Suid-Afrikaanse vraagstuk geword met aanhangers in alle dele van die land, selfs ook in die geledere van die Engelssprekendes. Morele steun het veral uit die Vrystaat en die Kaapkolonie gekom.
Die Transvaalse leiers het dan ook nie geaarsel om hulle deur middel van die pers tot die inwoners van die res van Suid-Afrika te wend nie. Die agitasie van Paul Kruger was besonder geslaag. Die Vrystaatse Volksraad het met ’n groot meerderheid ’n besluit geneem ten gunste van die herstel van die Transvaal se onafhanklikheid terwyl in die Kaap Jan Hendrik Hofmeyr en ander vooraanstaande koloniste ’n memorie ten gunste van die Transvalers aan die Goewerneur gestuur het vir voorlegging aan die koningin.
Die Kaaplanders was meer as ooit tevore gedetermineerd om Frere se federasie-beleid te verongeluk en met die oog daarop het Kruger en Joubert in April 1880 na die Kaap vertrek. Hulle is kort voor hulle vertrek versterk in hulle houding toe berig ontvang is dat die Disraeli-regering deur E. Gladstone se Liberale Party tot ’n val gebring is. Hulle het nou hulle verwagtings gestel op Gladstone se verkiesingsbelofte dat hy reg aan die Transvalers sou laat geskied. In afwagting van ’n beslissing deur die nuwe regering het hulle intussen in die Boland aangekom en daar gehelp om Frere se federasie-voorstel deur die Kaapse parlement verwerp te kry. Ongelukkig moes hulle daar verneem dat die nuwe Britse minister van kolonies nie bereid was om toe te stem tot die herstel van die Transvaal se onafhanklikheid nie, hoewel hy onderneem het om plaaslike selfbestuur aan daardie gebied te gee binne die raamwerk van ’n Suid-Afrikaanse federasie. Vir Paul Kruger en sy medestanders was dit ’n ontsaglike teleurstelling en op 10 Mei 1880 het Kruger en Joubert ’n laaste, vergeefse persoonlike beroep op Gladstone gedoen.
Terug in die Transvaal het Kruger en Joubert verslag van hulle sending gedoen en op ’n vergadering is besluit om die Paardekraal-byeenkoms tot 8 Januarie 1881 uit te stel. Terselfdertyd het die stemming van die mense dreigender geword en in die geheim het die volk hom voorberei vir ’n gewapende opstand. Paul Kruger, die man van vrede, moes hom steeds beywer om die mense te kalmeer, want hy was bewus van die mag van Brittanje. Tog het ook hy gedurende die tweede helfte van 1880 gevoel dat blote lydelike verset niks sou baat nie. Die Britse owerheid het hom nou eenmaal doof gehou vir die stem van die rede. Sake sou van nou af spoedig tot ’n punt loop waar selfs Paul Kruger sy mense nie langer kon teenhou nie.
Die vonk wat die kruitvat laat ontplof het, is voorsien toe ’n Potchefstroomse burger, Piet Bezuidenhout, saam met ander burgers geweier het om verder belastings te betaal aan die Lanyon-administrasie wat hulle nie as wettig erken het nie. Kommandant P. A. Cronje van Schoonspruit het hom aan die hoof van die plaaslike versetbeweging gestel, die dorp op 7 Oktober 1880 aan die hoof van ’n gewapende gevolg binnegery en die landdros skriftelik in kennis gestel van hulle voomeme om belastings voortaan slegs onder protes te betaal. Die Britse owerheid in Pretoria het egter opdrag gegee dat met die invordering voortgegaan moet word. Toe Bezuidenhout geweier het, het die balju beslag op sy wa gelê en dit op 11 November per openbare veiling probeer verkoop. Cronje en sy burgers het die verkoping verhinder en die wa verwyder. Dit was ’n openlike daad van verset teen die regering en lasbriewe is uitgereik vir die inhegtenisneming van Cronje, Bezuidenhout en ander leiers.
Paul Kruger het die erns van die toestand begryp en hom na die toneel gehaas. Die gevoelens het hoog geloop en die volkskomitee het besluit om in die nuwe omstandighede die volksbyeenkoms te Paardekraal te vervroeg. Die gewigtige vergadering wat finaal moes besluit watter weg om in te slaan, is bepaal vir Desember 188O —’n historiese oomblik vir die Afrikanerdom.
Daar, op Paardekraal, het binne enkele dae tussen 8 000 en 10 000 mense saamgestroom. Byna die hele gewapende burgery van die Transvaal was daar byeen, verenig en vasberade om die Republiek, desnoods met geweld, te herstel. Al die leiers van die volk met Kruger en Joubert aan die spits, asook gewese pres. Pretorius wat nog steeds ’n aanhang gehad het, was aanwesig. Ook dr. Jorissen het uit Pretoria opgedaag en sy dienste tot beskikking van die beweging gestel. Kruger het hom begroet met die woorde: "Dit is klaar” en verduidelik dat die volk nie meer te keer was nie. Gedurende die daaropvolgende dramatiese gebeurtenis het die samewerking van hierdie twee manne ’n groot rol gespeel in die suksesvolle verloop van die stryd teen Brittanje. Op 10 Desember het die volkskomitee vergader en met algemene stemme besluit tot die herstel van die Republiek. Kruger is as vise-president gelas om die Volksraad byeen te roep. Steeds is vasgehou aan die gedagte dat daardie liggaam nog steeds die wettige gesag uitgemaak het, dat die Republiek nog altyd bestaan het en dat die Britse administrasie in die land ’n geüsurpeerde gesag was wat nou openlik verwerp word. Dit was ook Kruger se standpunt, want as Calvinis het hy enige opstand teen die wettige gesag verwerp.
Tog was dit ’n geweldige beslissing wat Paul Kruger moes maak, want Brittanje sou die herstel van die ou republikeinse owerheid as rebellie beskou en daar volgens reageer. Dit sou oorlog beteken van ’n handvol mense teen die magtige Brittanje wat, na die mens gesproke, kon lei tot die ondergang van die Transvaalse volk. Kruger het al die implikasies begryp, maar sy vertroue gestel op die God van die vadere wat die regverdige sou steun. As realis het hy ook geweet dat die Transvalers nie alleen gestaan het nie en dat hulle kon staatmaak op die simpatie en steun van ’n ontwaakte Afrikanerdom dwarsdeur die land. Hy was buitendien goed op hoogte met die politieke toestand in Brittanje waar die Boere invloedryke ondersteuners gehad het en waar die Gladstone-bewind slegs met teensin ’n spontane vryheidsbeweging met geweld sou beveg, en maar alte graag ’n geleentheid sou aangryp om een of ander vreedsame oplossing te vind. Intussen sou die onmiddellike gevolg van ’n formele breuk met die Britse administrasie in Pretoria ongetwyfeld ’n gewapende kragmeting wees.
Op ’n groot volksvergadering die volgende dag is besluit om die volkskomitee te ontbind, die gewone regering soos van ouds te herstel en Joubert is aangewys as kommandant-generaal. Kruger het namens die herstelde regering onderneem om die volksbesluite uit te voer. Op 13 Desember het die Volksraad byeengekom en daar het Paul Kruger ’n kragtige woord gespreek en in een enkele sin sy hele politieke geloofsbelydenis bekend gemaak : "Ek staan hier voor u aangesig, geroep deur die volk; in die stem van die volk het ek die stem gehoor van God, die Koning van die volke.” Daarna het hy ’n uiteensetting gegee van die stappe wat tot dusver gedoen is. Die Volksraad het alles goedgekeur en die steun van die volk beloof. Kruger se voorstel om die regering in die hande van ’n driemanskap wat moet bestaan uit homself as vise-president, Joubert en Pretorius, is aanvaar.
Op dieselfde dag het Jorissen, andermaal staatsprokureur met W. E. Bok as staatsekretaris, ’n proklamasie namens die driemanskap opgestel waarin die herstel van die Republiek gemotiveerd aangekondig word. Die groot probleem was om die belangrike staatstuk wat die regverdiging van die opstand was, gedruk te kry. Daar is besluit dat ’n gewapende kommando onder aanvoering van P. A. Cronje na Potchefstroom sou opruk waar die goedgesinde drukker, T. P. Borrius. die taak onder gewapende beskerming sou verrig. Terselfdertyd is besluit dat Heidelberg, gunstig geleë in die middel van die land, die setel van die regering sou wees. Die Britse garnisoen in Potchefstroom, Pretoria, Lydenburg en elders sou geïsoleer word terwyl die Transvaalse hoofmag onder Joubert die Natalse grens sou bewaak ten einde die aankoms van Britse versterkings uit daardie rigting te verhinder.
Terwyl die groot byeenkoms uiteengegaan en die regering onder gewapende begeleiding na Heidelberg opgeruk het, het Cronje en sy kommando op 15 Desember 1880 Potchefstroom binnegery. Borrius het dadelik met die drukwerk begin. Op 16 Desember is ’n Boere-patrollie op die kerkplein met geweervuur begroet van die kant van ’n deel van die Engelse garnisoen wat hom daar verskans het. ’n Burger is gewond en die eerste bloed het gevloei. Die Vryheidsoorlog het begin.