WIE IS DIE SKULDIGES(1)

Harm Oost

"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".

GENL. LOUIS BOTHA IN 1900 EN IN 1902

Ons het posisie gehad op 'n kop by die punt van 'n rant wat van Spioenkop se kant afskiet langs die Tugela op. Agter ons, na die weste, staan ver en duidelik die hoë muur van die Drakensberge. Dit was in Januarie 1900, in die middel van daardie maand. Ons klompie van nege man het elf of twaalf dae in daardie koppe die leër van Buller beveg. Daar was ook kommando’s, maar ons was 'n los patrollie wat van Colenso af gestuur was. Ons het swaar en ook lekker geleef. Ons het honger gely, maar 'n veilige posisie gehad. En ons het die lewe daar nogal geniet, want ons was gelukkig.

Langs hierdie geel pad wat net hier agter ons na die beleerde Ladysmith loop, het die kommando van Rooi Daniël Opperman getrek tot by die Tugela en in die bekke van die Natal Carbineers se geweers vasgery. Die kommandant het doodsbleek maar ongeskonde uitgeja, maar 'n klompie van sy mense het dood of gewond of as gevangenes agtergebly.

Ons paartjies kon niks anders doen nie as om die gewondes te probeer help uithaal, maar dit het nie geslaag nie, want die vyand was baas van die slagveld.

Ons was gelukkiger as die Pretorianers van Opperman, want ons posisie was so oulik verskans, dat ons amper so veilig was soos in ma se kombuis. Maar daar was nie kos nie.

Ons nege burgers was onder bevel van genl. Fourie, 'n nie-forse man van Middelburg, maar baie getrou. Hy het altesame sowat 500 man onder hom gebad, en hulle het gelê in die rant aan ons linkerkant. Langs hulle, op 'n afstand, loop die geel pad na Lady­smith aan die westekant. Aan die oostekant is weer 'n rant wat deur die vyand beset is. Ons kommando’s sit dus tussen die Engelse en die pad na Ladysmith. Die hele stryd gaan oor daardie pad. Die Engelse wil dit hê en die Boere wil dit behou.

Die Boere is 500, die Engelse was omtrent vyftig keer so sterk. Die vyandelike magte teen ons het gestaan onder bevel van sir Charles Warren, wat beskik het oor negentienduisend man voetvolk, drie- duisend perderuiters en sestig kanonne, waaronder ses howitzers. Die leër onder Buller se opperbevel was, soos ons gehoor het, meer as veertigduisend sterk.

Die duik waardeur gestorm moes word was diep en breed, en die afstand wat die Tommies moes storm tus­sen 600 en 800 tree. Die swart banke kanonne voor ons braak bomme uit. Hulle byt stukke van ons rant weg en vreet die liggame van ons burgers op. Maar die Boer- mausers steek onder die stor- rnende so'date soos dodelike bye en dwing die vyand terug. Tot die dag van krisis aanbreek.

Op die more ry genl. Fourie net met sonop van Spioenkop af soos gesien cleur troepie aan. Sy perd is moeg. Die Lee koeëls, ofskoon in hul duisende, traak hom nie. Bekommerd vra hy of ons nog kan hou. Sy mense in die rant is klaar, sê hy. Ons posisie is te goed. Ons kan die vyand peper soveel as ons lus het, en hy kan baie min aan ons doen. As Buller maar net nie te slim geword het nie en agter ons om kom nie.

Die eerste storm van die dag was vrugteloos. Maar skaars het die vyand teruggeval, of ons sien dat genl. Fourie se kommando aan die anderkant van hul rant afsak, tussen die miljoene koeëls en bomme deurvleg en langs die pad na Ladysmith wegry, tot hul 'n paar myl hiervandaan by 'n spruit voorgekeer word.

Ons nege het toe maar ons mausers afgetrek, so vinnig as ons kon, en ofskoon ons weet dat ons koeëls nie baie kon uitrig nie, het die geraas wat ons geweers gemaak het, die vyand tog duidelik verkondig dat ons posisies nie leeg was nie.

Daar agter by die spruitjie lê die Boerekommando soos 'n donker vlek op die groen gras. Daar moet iemand wees wat hul keer. En na 'n ruk sien ons dat die Boere terugkom. Hulle ja teen die Engelse koeëls en bomme in, terug na hulle rant.

En toe die posisies weer beset was, bestorm die Engelse hulle vir die tweede keer, maar die 500 mausers was gereed vir hulle.

Daarna het dit nog 'n keer gebeur dat die kommando padgee terwyl ons nege mausers weer so vinnig moes skiet dat hulle die vuur van 500 kon verbeel. Ons duime skroei eintlik aan die lope van ons geweers.

Toe die burgers vir die derde keer opgedam is by die spruitjie, begin dit laat word en ons nege voel nou onrustig. Die son begin sak. Ons is net nege - net nege.

Maar ons word meer. Nie die kommando nie, maar net drie kêrels jaag vinnig teen die koeëls in na die rant. En hulle is ook nie alleen nie. Die Vierkleur is by hulle. En hulle steek hom bokant die klipbank uit. Hy klim hoër, en ons veerkrag klim saam met hom. Onverwoesbaar, daardie Vierkleur. Die vyand bestook hom met al hul batterye en kleinvuur, maar hy hou sy heldere kleure op. Hulle mag die posisie onder hom uitskiet, sodat hy effentjies wankel, tot hy weer net so fier regop staan. Wankel, nie sak nie. Die onbuigbare krag van die Vierkleur het die vyand moeg gemaak. Sy vuur het verswak.

Die son staan nou al laag en ons besef dat ons geesdrif vir die vlag die Engelse se geesdrif teen die vlag sal wakker maak, en ons soek weer na die kommando wat nog by die spruitjie saamgebondel is. Daar moet iemand wees met sterk invloed. Wie kan dit wees? Waarskynlik is dit net genl. Botha wat dit sal regkry. Vir ons nege is dit onmoontlik om die nag oor te bly. Ons sal moet ondersoek instel, en ek word aangestel om dit te doen. Ons nege perde staan agter die kop waar gras groei en ek moet daar uitkom.

Maar gaan net 'n endjie verder weg as waar ons nege is, dan steek jy jou lyf onder die swerms koeëls en bomme in want die vyand skiet oor ons posisies.

Ek en 'n maat het dit toe gemaak want twee het meer kanse as een.

Toe ons nader kom aan die spruit en die kommando wat daar lê was dit duidelik dat ons van ons rantjie af reg geraai het: die burgers is gekeer, en wel deur ons grootste generaal daar. Dit was Louis Botha self. Op 'n afstand van die massa burgers wat in die gras lê, moeg, honger, bleek, bang, sit hy op sy melkwit trotse dier: rustig, onwrikbaar. Regs van hom is De Jager, sy adjudant, fors en vierkantig. Aan die ander is die hoof van die veldtelegrafie, Van Rotsenburg, altwee op bruin perde.

Sonder om sy posisie of houding te verander, kyk hy na die 500 burgers wat in 'n houding van moedeloosheid sit. Genl. Fourie, nie groot van postuur nie, lyk klein in die lig. Genl. Botha praat deur hom met die kommando; hy beduie  dat die rant weer beset moet word nog voor donker. Dan neem hy 'n paar minute om 'n brief te bestudeer wat hom deur 'n haastige rapportganger oorhandig word. Oor die papier heen kyk hy na die burgers en beveel dat hulle nou dadelik moet optrek.

Genl. Fourie en die vyfhonderd burgers klim op hul perde, bleek, bang, honger, moeg, maar nie meer onwillig nie. Dit was vanselfsprekend dat hulle op bevel van genl. Botha terugry na die rant.

My maat en ek jaag terug, onder die koeëls en bomme in. En skuins voor ons staan nog die Vierkleur, hoog in die sonstrale wat oor die bergmuur skiet. Genl. Botha se drie verkenners bewaak hom. Ons storm toe maar in na ons maats om die Vlag en die Vryheid te help verdedig.

Die posisie is behou, en Buller het sy leërmagte nou teen Spioenkop gerig, waar die bloedigste slag van almal gelewer is, maar ook daar is die vyand teruggesmyt.

Die heliografiese noodgeroep van White in Ladysmith het aangehou, en sir Charles Warren se antwoord was: "We are coming. We are coming.” Maar hulle het nie gekom nie. Hulle kon nie.

Een maand en een week ná die bloedige gebeurtenis op en om Spioenkop gebeur die groot en beslissende gevegte op Pietersheuwel of soos die plek deur almal genoem is, Pietershill. Die Soutpansbergers, by wie ek was, het gelê by Onderbroekspruit, langs die grootpad van Colenso na Ladysmith, wat nog altyd deur ons kom­mando’s beleër was. Ons moes die eerste aanval deurstaan, dog dit was glo maar meer 'n afleiding en nie baie ernstig nie. Maar die groot slag was enkele myle verder na die ooste, anderkant die dorp Colenso. Die vyand het eindelik, na drie maande en na die slae van Colenso en Spioenkop, ontdek dat alleen deur 'n flankaanval op ons posisies hulle 'n pad kon oopmaak na Ladysmith. Dus het hulle met die bosrant afgekom en die Tugela bereik, waar hul deur die rivier gedruk het, en ten noorde daarvan het hulle met al hulle kragte (en hulle was geweldig) aangeval. Nege dae het ons kanonne gebulder. Toe kom die deurbraak.

Die son het al laag gesak toe ons bevel kry om met ons perderuiters versterking te bring. Die voetgangers moes in die posisies bly. Kort voor dit te donker word was ons by die koppe wat die vyand in besit geneem het. Die Krugersdorpers het met groot heldhaftigheid die stellinge verdedig, maar ons kry hulle toe hulle besig was om weg te trek, gewondes hier, wapenloses daar 'n ontmoedigende gesig.

Vervolg...