Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
GENL. LOUIS BOTHA IN 1900 EN IN 1902 (vervolg)
" ...met so 'n vasberadenheid dat Botha twaalf jaar later duisende van sy ou strydmakkers daaraan opgeoffer, die grootste Boerehelde in die dood gedryf het, of tot die dood toe gemartel en verneder het waardeur die bloed van honderde burgers geloop het."
Ons bevele was om voor ons perde te bly staan met die geweers gereed, want die oorwinnende vyand was naby. Ons mag nie Iê en slaap nie, maar moet staan en wag tot die bevel kom om ’n teenaanval te maak. Ons kanonne onder bevel van kapt. Lood Pretorius sou die posisies op die koppe links agter ons gebruik om die stryd te hervat.
Ondertussen, in die donker nag, het ons kommandant gaan soek na genl. Louis Botha, wat deur die skitterende oorwinnings van Colenso (15 Desember) en sy gedrag by Spioenkop beskou was as die offisier wat die posisie kon red. En hom sou die kommandant nou om besliste instruksies vra. Ons burgers het getrouelik voor ons rydiere gestaan en wag, maar ek herinner my dat die swart nag so erbarmlik lank was. Voor ons, waar die Engelse legioene Iê, is geen roering merkbaar nie. Net een Iiggie was sigbaar: dit was, soos ons hoor, die stasiemeester van Pietershill, wat dapper op sy pos gebly het. Met my regterarm om die nek van my geduldige perd het ek gestaan en slaap — en dit was nie teen die bevele nie tot uit die donker ons kommandant terugkom, verontwaardig, ontsteld, bitter ontevrede. "En weet jy waar kry ek hom?” vra hy nukkerig. En hy gee self die antwoord: "In ‘n tent, anderkant Ladysmith, waar hy vas aan die slaap Iê." En dit was genl. Botha.
Die dag het begin deurbreek, en ek kry bevel: jy moet na die posisies van Onderbroekspruit gaan om die voetgangers uit te haal. "Maar versigtig, sodat hul nie paniekerig word nie." So is ek dan weg in n westelike rigting, diep ongelukkig omdat dit duidelik is: Ladysmith is ontset; en wat gaan gebeur?
Ek het my werk gedoen. Die voetgangers het kalm op die waens geklim en is weswaarts verby Ladysmith na die Biggarsberge se kant. ‘n Klompie van ons moes die agterhoede vorm en die terugtog dek. Dit het ons 'n hele drie dae, met die nagte daarby, besiggehou in ‘n voortdurende reën en deur vol spruite sonder kos, maar met volop reënwater. Toe ons paartjies verby Ladysmith kom, brul die gejuig van die bevryde vyand ons tegemoet. BuIIer het eindelik sy doel bereik en ons is verslaan, maar het Biggarsberge bereik.
In ‘n dokument, wat majoor J. L. (Lood) Pretorius 'n hele ruk ná die gebeurtenis opgestel en aan my oorhandig het, gee hy verslag van sy ondervinding met genl. Botha in hierdie dae van neerlaag. Hy het die generaal ook besoek, maar al in die namiddag van 28 Februarie, ‘n hele paar uur voor ons kommandant by hom was.
"Omtrent middag", so rapporteer die artillerie-offisier (‘n seun van die stigter van ons Staatsartillerie, kol. Henning Pretorius, en ‘n kleinseun van die groot Voortrekker Andries) "kom ‘n rapportryer by my aan. Ek was by die kanonne agter die posisie van die burgers (by Pietershill). Hy sê vir my: die Standertonse kommando het padgegee en die vyand het aan ons Iinkervleuel deurgebreek. Die gevolge hiervan sal wees, dat ons ander kommando's op die dwarste sal geskiet en die hele posisie dus 'opgerol’ word.”
Dat dit gebeur het, was maar al te waar, soos ons, Soutpansbergers, so teen sononder moes waarneem.
"Ek het dadelik na genl. Botha gery,” vervolg majoor Pretorius, "en ek kry hom by sy tent, naby dié van genl. Lucas Meyer. Dit was sowat tweeduisend tree agter die posisies van die burgers. Ek het aan hom die rapport oorgebring.”
Die artillerie-offisier, ‘n man van groot dapperheid, het geskok gevoel soos iemand onder wie se voete ‘n bom bars, toe hy die reaksie verneem.
Genl. Botha se opmerking was naamlik, toe hy die tragiese nuus hoor:
"Dis Lucas Meyer se posisie. Ek wil nie n naam vir hom maak nie."
Op 31 Mei 1902 is die vrede van Vereeniging gesluit, wat die RepukIikeine tot gedwonge Britse onderdane gemaak het. Die vraag kan gevra word of ons die oorlog werklik so sou verloor as mense soos Botha lojaal teenoor sy mense was.
Genl. Botha het ná die val van Bloemfontein en Pretoria, die regeringsetels van die twee republieke, en die proklamasie van die Engelse wat die Vrystaat en Transvaal tot Britse kolonies verklaar het, die verlies van die onafhanklikheid as 'n feit maklik aanvaar en sy enigste hoop gevestig op, wat hy genoem het, die verkry van "terme” van die vyand. Die Vrystaatse Ieiers en genl. De la Rey het daarenteen die onafhanklikheid as die onverbiddelike eis vir ‘n beëindiging van die vyandelikhede gestel. Hier volg die verhaal van veldkornet J. J. Pienaar (in 1914 as rebel-generaal gekies) wat tiperend is van genl. Botha se mentaliteit:
"Dit was twee dae ná die slag van Dalmanutha (dus op 29 Augustus 1900) dat genl. Botha ‘n krygsraad bymekaar geroep het op ‘n koppie, omtrent 8 myl suidelik van Helvetia. Die offisiere was moeg, gedaan selfs, want party van hulle het 14 dae agtermekaar moet baklei teen oorweldigende oormagte van BuIIer en Roberts. Genl. Botha het sy offisiere toegespreek en gesê: 'Ons het ons onafhanklikheid verloor. Ons het ons land verloor. Daar is egter een ding, wat ons nie verloor het nie; dit is ons eer. Ek vra julle om nog twee maande getrou by my te staan. In die tyd sal daar moontlik Iig kom.’ Die 'Iig' waarop genl. Botha gehoop het, was dat ons 'terme' (dis sy woord) van die vyand sou kan afdwing. Die inspirasie wat van hom uitgegaan het was so deurdringend, dat die afgematte offisiere weer moed gegryp en hom verseker het: ons sal by jou staan. Die twee maande het amper twee jaar geword. Toe eers was dit moontlik om voorwaardes te kry, soos in die Traktaat van Vereeniging neergelê."
Botha het dus al twee jaar voor die einde van die oorlog sy land aan sy vyande oorgegee in die geloof dat sy verraad die oorlog nie langer as nog twee maande lank sou laat voortduur nie. Maar hy het toe nie rekening gehou met die uithouvermoë van menige van die Boere nie. 'n Mens wonder hoe lank of hoe kort die oorlog eintlik sou duur as daar nie sulke verraaiers in ons midde was nie.
Mnr. Piet Jooste, wat hoof van genl. Botha se staf was, het in Junie 1902 wapen afgelê saam met die Wakkerstroomse kommando. By daardie geleentheid het die kommandant-generaal van die nou vernietigde Zuid-Afrikaansche Republiek vir die eerste keer sy toekomsbeleid geopenbaar, wat tot 'n groot mate die lot van Suid-Afrika bepaal het.
Die burgers, omtrent sestienhonderd in getal, almal getroue bittereinders, het saam met genl. Botha in die bitterkoue aand in die oop veld rondom vure warmte gesoek. Genl. Botha, omring deur sy staf, het dieselfde ongeriewe as sy mense verduur. En die mense was droewig, baie het gehuil, en almal het deelgeneem aan aanddienste, waar hulle troos gesoek het vir die smart van die grootste swaar wat hulle opgelê kon word, naamlik die verlies van hul vryheid. Die volgende dag moes hulle hul wapens afgee.
Die dorp Wakkerstroom was ‘n myl en 'n half daarvandaan. Daar was ‘n afdeling Britse troepe versamel wat juig oor hulle oorwinning. Die geraas van hul uitbundigheid was duidelik hoorbaar en het die smarte van die burgers vermeerder. Mnr. Jooste vra vir genl. Botha of hy hom ‘n vraag mag stel. Die Generaal se antwoord was dat hy maar enige vraag kon vra.
Mnr. Jooste: "Ons is nou nog republikeinse burgers. More om elfuur sal ons Britse onderdane wees. Is dit omdat ek nie my plig gedoen het nie en daardeur Britse onderdaan moet word?”
Genl. Botha: "Jy het jou plig gedoen. Daar was nie ‘n dag so warm of ’n nag so koud, dat jy nie gedoen het wat ek jou opgedra het om te doen nie."
Mnr. Jooste: "ls die treurspel met die burgers, wat hier nou afgespeel word, die beloning vir die pligsgetrouheid wat hulle betoon het?”
Genl. Botha antwoord: "Nee. Maar daardie dag, wanneer jy en ek deur ons optrede, uit hierdie wenende burgers en daardie jubelende Engelse ‘n Suid-Afrikaanse nasie binne 'n verenigde Suid-Afrika tot stand gebring het, sal ons twee vir ons opofferings beloon wees."
Dit het geblyk dat Botha 'n groot deel van die oorlog deur in onderhandeling met ons vyand besig was om hierdie ideaal van vereniging tussen Boer en Brit te probeer verwesenlik.
Op die eerste openbare vergadering wat deur genl. Botha gehou is, naamlik op Heidelberg, het hy op daardie beleid klem gelê; dis opgeneem in die beginsels van die eerste politieke party (Het Volk ), wat die volgende jaar gestig is, en genl. Botha het daarvan nie afgewyk nie, maar daaraan vasgehou tot die dag van sy dood toe — met so 'n vasberadenheid dat hy twaalf jaar later duisende van sy ou strydmakkers daaraan opgeoffer, die grootste Boerehelde in die dood gedryf het, of tot die dood toe gemartel en verneder het waardeur die bloed van honderde burgers geloop het.